Oor ons – N.P. van Wyk Louw Navorsingsentrum
Die N.P. van Wyk Louw Sentrum is ‘n navorsingsdenkskrum wat daarop gerig is om idees en oplossings vir die uitdagings van die Afrikaanse gemeenskap te genereer. Die vernaamste vertrekpunt is die gemeenskap, maar terselfdertyd die gemeenskap wat die indiwidu die ruimte vir selfverwesenliking bied. N.P. van Wyk Louw was immers een van daardie indiwidue wat daartoe in staat was om kontrasterende konsepte soos die ‘liberale’ (slegs gerig op die indiwidu) en die ‘nasionale’ (met ‘n klem op die gemeenskap) byeen te bring. ‘n Lewenskragtige gemeenskap het skeppende indiwidue nodig, terwyl die skeppende indiwidu ook ‘n lewenskragtige gemeenskap nodig het om hoegenaamd indiwidu te kan wees. ‘n Indiwidu kan nie ‘n taal praat en daarin studeer, sy erfenis bewaar of sy kultuur geniet sonder gemeenskapsinstellings en ander om dit saam mee te geniet nie.
Die sentrum werk hoofsaaklik en breedweg op die gebiede van taal, onderwys, politiek, minderheidskwessies, godsdiens, die ekonomie, en maatskaplike welstand. Die sentrum se uitsette sluit in resensies van toepaslike boeke, studiestukke met ontledings van politieke en sosiale gebeure asook teenargumente vanuit ‘n gemeenskapshoek, in-diepte studies van oorsese gemeenskappe en minderhede, die instandhouding van ‘n akademiese portaal op Maroela Media genaamd ‘Standpunte’, werkswinkels en seminare oor relevante gebeure, die aanbied van ‘n diploma-kursus in Kulturele Vryheid, en die onderneming van ‘n jaarlikse welstandsoudit oor die Afrikaanse gemeenskap. Die idee is ook dat die Sentrum deur navorsing leiding en bystand aan die FAK se Afrikaanse lede-organisasies en vennote sal gee om die gemeenskap se uitdagings te verstaan en die hoof te bied.















Volg ons