AFRIKAANSTALIGEN STELLEN RICHTLIJNEN OP VOOR BEHOUD KWALITEITSONDERWIJS
April 4, 2012
NDR Program
April 10, 2012

Die Nasionaal Demokratiese Rewolusie – ’n Oorsig

1. Die aard, oorsprong en ontwikkeling

Eerstens kan die NDR omskryf word as “a process of struggle that seeks to transfer power to the people and transform society into a non-racial, non-sexist, united, democratic one and changes the manner in which wealth is shared, in order to benefit all the people” (ANC, 2007: Internetbron). Die NDR waartoe die ANC dit self verbind het, het sy wortels in Lenin se teorie van die Imperialisme (Cronjé, 2010: Internetbron). Volgens hierdie teorie het die Europese koloniale moondhede hul rykdom alleenlik te danke aan die ongenaakbare uitbuiting van die swart en bruin massas in hul kolonies. Gevolglik het die NDR as filosofiese en ideologiese denkrigting sy begronding in ’n groter tradisie van rewolusie en vorm die denke binne die denkraamwerk van die Nasionale Demokratiese Beweging (NDB) (in Engels: “the Broad Chruch”) (Duvenhage, 2009: 710). Die NDB bestaan hoofsaaklik uit die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party (SAKP), die vakverbond Cosatu en die ANC. Dit is daarom nie moeilik om te sien waar die konsep rewolusie vandaan kom nie, gegewe die linkse vennote van die ANC. Die NDR as die rigtinggewende stel beginsels moes dus nog altyd ’n wye reeks vennote saambind om ’n bepaalde doelwit te bereik.

Met armoede en werkloosheid wat steeds hemelhoog in Suid-Afrika is, is dit logies dat die ANC as regeerders ’n rewolusionêre strategie met vinnige resultate en sterk retoriek wil gebruik om die swart meerderheid polities te paai. Die party het die NDR in 1969 by die Morogoro-konferensie aangeneem deur dit in sy Strategy and Tactics-dokument op te neem (Butler, 2005: 725). Die stembus-oorwinning van 1994 was reeds ’n reuse-oorwinning vir die ANC, die drieparty-alliansie en uiteindelik ook die NDR omdat politieke mag vanaf die blanke minderheid na die swart meerderheid verskuif het. Die 1990’s is gekenmerk deur ’n betreklik groot hoeveelheid konsensus en versoening met die Grondwet wat aanvaar is en ’n regering van nasionale eenheid (RNE) wat tot stand gebring is. Terwyl politieke mag verkry is en die ANC toenemend dominant geword het, het die swart middelklas stadig gegroei en is die meerderheid swart mense vandag steeds brandarm. Vir die ANC en sy vennote – en ongetwyfeld die oorgrote meerheid van swart mense – is Suid-Afrika nog ver van gelyk af met die meeste van die ekonomiese mag wat in blanke hande is. Die staat moes derhalwe getransformeer word sodat elke aspek van die staat aan “die mense” teruggegee kan word (Butler, 2005: 727).

2. Doelstellings en middele

Die oorhoofse doelwit is om ’n nie-seksistiese, nie-rassige, verenigde, demokratiese samelewing te skep deur die opheffing van Afrikane in besonder, maar swart mense in die algemeen (Butler, 2005: 727). Verskeie kenners is dit egter eens dat die NDR slegs ’n voorloper vir volslae sosialisme en dan kommunisme is. RW Johnson (2011: Internetbron) voer aan dat “functionally, it appears to be substitute for socialism”. Hy wys daarop dat die NDR in volle swang beteken dat wydlopende grondhervormingsinisiatiewe ingestel gaan word om die land aan diegene wat dit bewerk, sonder vergoeding “terug te gee”. Daarbenewens word soortgelyke maatreëls vir die myne, banke en enige soort “monopolie-kapitaal” beplan. Volgens Southall (2004: 314-315) is die NDR as ’n rewolusionêre voorloper tot sosialisme geformuleer en bevorder dit die behoefte vir ’n intervensionistiese staat om die land radikaal te transformeer. Regstelling en gelykmaking het die sleutelwoorde in hierdie konteks geword.

Hierdie begrippe verkry sterk geldigheid in die sosio-ekonomiese doelwitte van die NDR en drieparty-alliansie. Onder die vaandel van die NDR het die ANC homself weer eens kort voor die 2009-verkiesing tot armoedeverligting, werkskepping en groter sosiale en ekonomiese gelykheid verbind (Duvenhage, 2009: 708). Hierdie doelwitte vind historiese neerslag met soortgelyke doelwitte wat by die Mafikeng-konferensie in 1997, die Stellenbosch-konferensie in 2002 en die Polokwane-konferensie in 2007 uitgestippel is (Cronjé, 2010: Internetbron). Die goue doelwit-draad wat deur hierdie konferensies geloop het, is om eerstens “Apartheid-eiendomsverhoudinge” uit te skakel deur die herverspreiding van rykdom en inkomstes asook om tweedens die staat en samelewing te “demokratiseer” deur middel van demografiese verteenwoordiging in alle sfere. Uitvloeisels van hierdie doelwitte is onder meer regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en ander rasgegronde wetgewing oor grond. Dit is juis daarop gemik om die ekonomiese ongelykheid te probeer aanspreek deur politieke (en wetgewende) kanale.

3. Gevolge en implikasies

Hoewel die NDR dalk nog nie ten volle voltrek is in die Suid-Afrikaanse samelewing nie, is baie aspekte daarvan reeds in werking gestel en het katastrofiese gevolge tot gevolg gehad. Niemand kan stry dat die werkskeppings- en opheffingsdoelwitte in die NDR edel is nie. ’n Stygende golf tel tog alle skepe op en ’n groter koek is in almal se belang. Maar die taal van die NDR is in vyandige en wraaksugtige terme gegiet. Dit is ’n regstellingsideologie wat weer ’n rassehiërargie teweeg wil bring met sogenaamde “Afrikane” wat heel bo ressorteer weens hul getalle en politieke mag, met die bruin, Indiër en veral wit minderhede wat aan die agterspeen suig. Die NDR dikteer weer eens aan almal wat hulle mag besit, hoe ver hulle in die lewe opgang mag maak, en hoe hulle moet optree. Nes Apartheid, minag dit grotendeels die Godgegewe talente, vermoëns en bydraes van ’n groot groep mense in Suid-Afrika terwyl die staat hom doelbewus voorrang aan ander groepe gee en hulle in die proses van die staat afhanklik maak. Bevoorregting, met regstelling as eufemistiese beskrywing, staan dus sentraal.

Die NDR is ’n resep vir diktatorskap en was aanvanklik ook so bedoel deur die SAKP. Toe die party sy program getiteld “The Road to South African freedom” in 1962 uitgereik het, het dit gevra vir ’n nasionaal demokratiese rewolusie om wit oorheersing uit te wis (Cronjé, 2010: Internetbron). Die party het daarbenewens ’n oproep op die nuwe, demokratiese staat gedoen om rewolusionêre vordering deur ’n “kragdadige en waaksame diktatuur” te beskerm. Hierdie diktatuur sal deur die “mense” teen die voormalige heersersklasse opgestel word (Cronjé, 2010: Internetbron). Hierdie taal word vandag steeds gebruik en die struggle teen Apartheid word tans voortgesit in die vorm van ’n struggle teen veral wittes. In ’n 2011 ANC-besprekingsdokument getiteld Tasks of the NDR and the Mobilisation of the Motive Forces word daar gepraat van die mobilisering van die massas en dat die “mense sal regeer”. Op die keper beskou, is hierdie taal gelaai met betekenis en terme uit die Sowjet-era en die proletariaat-diktatuur wat daarmee gepaard gegaan het. Vryheid is gewoonlik die eerste waarde wat sneuwel ingevolge so ’n ideologie.

Hierdie struggle, in die vorm van die NDR, neem ook ’n Messiaanse karakter aan met die ANC as die spreekwoordelike redder en saligmaker (Duvenhage, 2009: 708). Die ANC en sy vennote gaan dus ’n rewolusie loods wat die politiek, ekonomie en samelewing drasties gaan verander en die swart meerderheid se verskeie probleme gaan “genees”. Dit impliseer dat die ANC beheer oor soveel moontlik instellings wil verkry deur “sendelinge” (kaders) oral te ontplooi, en “ledemate” (lojale ondersteuners, oftewel die “massas”) te werf. Talmon in Duvenhage (2009: 713) stel hierdie terminologie in perspektief: “The encounter between a Messianic political creed and the massas revives phenomena, precedents for which could only be found in the religious social movements of the past, and carrying with them terrible possibilities for mass tyranny.”

Die NDR kan derhalwe beskou word as ’n ideologie wat die rol van godsdiens wil speel in ’n samelewing, die huidige heersers se posisie legitimeer en versterk, alle verskille van opinie uitwis, van sekeres vat om vir ander te gee, en alternatiewe groepe en sieninge uitskuif. Dit lei tot ’n sentralisering van mag, ’n verskraling van die demokrasie en los die deur oop vir grootskaalse staatsmislukking en korrupsie. Johnson vermeld dit is nie juis moeilik om te sien dat die inwerkingstelling van die NDR na ’n Zimbabwe-situasie kan lei nie. “It would be a shortcut to the country’s complete destruction, nothing less.” Cronjé (2010: Internetbron) lys ’n hele paar regeringskwale wat met die NDR verband hou. Eerstens beskou die ANC homself by wyse van die NDR as verhewe bo die howe, parlement en Grondwet en het nie ooghare vir ’n onafhanklike regbank, eiendomsregte, opposisiepartye, die burgerlike samelewing of die vrye media nie. Kaderontplooiing en -bevoordeling het reeds tot grootskaalse tenderkorrupsie en swak dienslewering gelei – met die swart armes wat strykdeur aan die kortste ent trek omdat hulle die afhanklikste van die staat is.

Les bes kan daar vermeld word dat rasseversoening ook in die wiele gery word omdat een groep moet boete doen, ongeag hoeveel die individuele lede aandadig aan die vergrype van die verlede was. Dit is boonop ’n ekonomies-onwerkbare teorie omdat die maatreëls daarin vervat nie naastenby die opleidingstekortkominge, swart werkloosheid, en maatskaplike probleme gaan oplos nie. Die blankes is eintlik net slegs op sekere vlakke verteenwoordig en al word hulle almal eensklaps verwyder en met swartes vervang, sal daar steeds miljoene swart werkloses en armes wees. Dit laat die vraag ontstaan: Is dit nie bloot ’n strategie deur die ANC om die massas armes en werkloses te gebruik om sodoende die laaste deel van die land in te palm à la die Zimbabwe-scenario nie?

Die tyd sal moet leer . . .

Bronne

ANC, 2011. Tasks of the NDR and the Mobilisation of the Motive Forces. www.anc.org.za. Toegang: 12 Maart 2012.

Butler, A., 2005. “How democratic is the African National Congress?” Journal of Southern African Studies, Vol. 31(4).

Cronje, F., 2010. Research and Policy Brief: NDR: the cornerstone of any policy analysis of South Africa – 27th August 2010. www.sairr.org.za. Toegang: 12 Maart 2012.

Duvenhage, A., 2009. “Die ANC en die nasionale demokratiese rewolusie: Polities strategiese perspektiewe”, Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Vol. 49(4).

Johnson, R.W., 2011. The denilaism of the NDR. www.politicsweb.co.za. Toegang: 12 Maart 2012.

Southall, R., 2004. “The ANC & Black Capitalism in South Africa”, Review of African Political Economy, Vol. 31(100).

Comments are closed.

error: Content is protected !!