Ken jy tant Mossie
Junie 11, 2012
Hervormingen en Europa: voor of tegen? De actuele politieke stand van zaken in Nederland
Junie 13, 2012

Begin 2012 het die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere as ledeorganisasie aangesluit by die FAK. Die sentrum se bestuurshoof, Eureka Barnard, stel die Sentrum graag aan u voor:

Bestaansrede

Die hoofdoel van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV, voorheen bekend as die Huis der Nederlanden) is die bevordering van kennis van en belangstelling in die twee Nederlandssprekende gebiede in Europa, naamlik Nederland en Vlaandere. SASNEV is geleë in Pinelands, Kaapstad, Suid-Afrika.

Die rede vir SASNEV se bestaan is die ontwikkeling en uitbou van die SASNEV- inligtingsgemeenskap, primêr ter wille van bogenoemde twee groepe, deur te bemark, te netwerk en saam te werk aan aanvraaggedrewe projekte. SASNEV streef dus daarna om ʼn dinamiese, onafhanklike inligtingsnetwerk oor Nederland en Vlaandere te wees, primêr vir Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners, met as doel die bewusmaking en bevordering van gedeelde kulturele ervarings.
Sedert 2008 is SASNEV besig om meer projekgeoriënteer te word, en daarom is dit nodig om realisties te wees by die opstel van teikens, en eerlik by die meet van uitkomste. Die uitvoer van elke jaar se strategiese plan sluit in gereelde oorsig en evaluering van vordering en resultate, sodat stappe ter verbetering gedoen kan word waar en indien nodig. Die meeste van die projekte word ontwikkel in noue samewerking met een of meer van ons vennote. Indien nodig word daar per projek professionele medewerkers uit Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika aangestel. Navraag kan gedoen word oor SASNEV se projekte en die mees aktuele inligting oor ons kort- en langtermyn lopende projekte kan op aanvraag beskikbaar gestel word.

SASNEV se projekte opgesom

Projek 1: INFOTEEK
Díe projek se doel is om deur middel van tegnologie SASNEV se doelwitte, gebeure en projekte beter en vinniger na ʼn wyer teikenmark te kommunikeer.
Die vestiging van SASNEV as ʼn moderne elektroniese inligtinggedrewe organisasie deur middel van elektroniese kommunikasie.

Projek 2: LEESKRINGSEMINAAR EN LEESKRINGDAE
Bestudering van ʼn vertaalde werk Afrikaans/Nederlands tydens ʼn een/twee-dag-seminaar.

Projek 3: NEDERLANDSE LESPAKKET VIR SKOLE
Bevordering van Nederlandstalige en Afrikaanse letterkunde by Afrikaanse hoërskoolleerders.
Nederlandse Biblioteek
SASNEV huisves die Nederlandse Bibliotheek Kaapstad met ’n groeiende versameling van meer as 27 000 Nederlandstalige boeke, CD’s, DVD’s, tydskrifte en koerante. Dit is ook die grootste versameling Nederlandse boeke in die Suidelike Halfrond. Die biblioteek beheer ’n klein maar waardevolle en hoogs aangeskrewe versameling Afrikaanse fiksie en nie-fiksie (insluitend die Rykie van Reenen-versameling). Openingstye: Dinsdae, Donderdae en Saterdae – 10:00 tot 13:00

Struktuur

SASNEV word bestuur en beheer deur die Stichting Huis der Nederlanden, wat deur die Kuratorium van die Nederlands gevestigde Stichting Willem de Zwijger opgerig is.
Die Stichting Huis der Nederlanden funksioneer onder die leiding en toesig van ʼn trusteeraad. Die Stichting hou die sentrum in stand en laasgenoemde word deur ʼn bestuurshoof bestuur.
Die eerste voorsitter van die Stichting Huis der Nederlanden se raad van trustees was Anneke van Niekerk, die huidige voorsitter is prof. Dorothea van Zyl, direkteur van die US Woordfees. Die eerste direkteur van die Huis der Nederlanden was Zirkëa Ellis en die laaste direkteur Daniel Hugo. By sy uittrede is die titel direkteur vervang deur bestuurshoof en die sentrum se naam het verander. Die huidige bestuurshoof van die sentrum en projekbestuurder vir die SASNEV projekte sedert September 2009 is Eureka Barnard.

Kontak SASNEV

Vir meer inligting of om ’n afspraak te maak om die SASNEV in Pinelands te besoek (ook vir ons mooi konferensieruimtes), skakel 021 531-5831 tydens kantoorure: Maandag tot Vrydag – 10:00 tot 14:00. ʼn E-pos kan gestuur word aan: info@sasnev.co.za. Via die webwerf www.sasnev.co.za of die SASNEV Facebook bladsy www.facebook.com/sasnev, teken in op ons nuusbrief en bly op hoogte met ons jongste gebeure en nuwe byvoegings in die biblioteek.

Comments are closed.

error: Content is protected !!