Resensie: Coming Apart: The State of White America, 1960-2010 deur Charles Murray

Stichting voor Afrikaans: ’n Inleiding
Junie 13, 2012
Nasionale Demokratiese Revolusie
Junie 13, 2012

Deur Eugene Brink

In Amerika is dit deedae moeilik om te definieer wat ‘n Amerikaner is ¬ – ¬ nie in ‘n anekdotiese sin soos “wat beteken dit vir my of jou nie?”, maar meer konkreet in die vorm van watter praktyke en geloofstelsels Amerikaners sedert die koloniale periode tot vandag kenmerk. Sulke vrae is toenemend moeilik om te beantwoord sedert die jare sestig van die vorige eeu, toe lede van die teenkultuur (counterculture) die universiteitskampusse meer divers wou begin maak het en hulle geprobeer het om Amerikaners in kategorieë te verdeel en hulle dan vyandig teenoor mekaar te maak.

En in hierdie scenario het Charles Murray se mees onlangse boek, Coming Apart: The State of White America, 1960-2010, bewys dit is ‘n aanwins vir die nuuskierige brein wat die besonderhede wil verstaan van hoe Amerikaners hier beland het en terselfdertyd wonder oor wat van die bindende bande geword het.

Ter aanvang moet daar net opgemerk word dat Murray se klem op wit Amerika pragmaties van aard is. Hy stel sy lesers in kennis dat indien hy op alle rasse en etniese groepe sou klem lê, elke grafiek oor wit armoede gebalanseer moes word deur ‘n grafiek oor swart armoede, en elke grafiek oor Latyns-Amerikaners se afstudering naas ‘n grafiek oor ander groepe se afstudering moes staan. Die punt van die boek sou derhalwe verlore gaan in al die kategorieë wat die teenkultuur gebruik het om die land te verdeel.

Murray se punt is dat ‘n evolusie in die Amerikaanse samelewing plaasgevind het sedert die vroeë jare sestig, ‘n evolusie waarin Amerikaners hul verwysingspunt verloor het oor wat dit beteken om Amerikaans te wees. Dus rafel hulle nou lelik uit. Die groot poging wat by die VSA se stigting begin is “om te demonstreer dat mense as individue en gesinne uitgelos moet word om hul lewens te leef soos hulle wil en kragte saam te span op ‘n vrywillige wyse om hul gesamentlike probleme op te los”, is nou in groot gevaar.

Murray bereik sy doelwit deur te wys dat Amerikaners mettertyd verdeel is in sosio-ekonomiese klasse, wat hulle nie net van mekaar verwyder nie, maar hulle ook losmaak van wat Amerikaners tradisioneel en metafisies aan Amerika verbind het. In hierdie proses gebruik hy tallose grafieke en tabelle in die boek om syfers uit die 1960’s met dié van die vroeë 21ste eeu te vergelyk. Hierdie syfers wissel van die persentasie mense met ‘n universiteitsgraad tot die aantal mense wat getroud is tot die persentasie wat kerk bywoon, en so meer. Dit vervat egter ook syfers wat waardes aanraak, soos sieninge oor voorhuwelikse seks, egskeidings en om aalmoese van die regering te ontvang.

Die mense agter die syfers is sowel die elite as blouboordjie-werkers uit onderskeidelik die mees elite- en werkersklas-woonbuurte (eersgenoemde noem Murray die “Superzip”).

Een van Murray se doelwitte is om te bewys dat ‘n nuwe elite-klas in Amerika ontwikkel het wat homself as’t ware van die res van die land geskei het. Hierdie klas bestaan uit mense wat as “bleeksiele” en andersdenkendes in die jare sestig beskryf kon word. Hulle het superryk geword, want hul sterk punte is wiskunde of ‘n spesifieke soort wetenskap. Hierdie groep se sleutel tot sukses was onder meer om laat in die 20ste eeu en vroeg 21ste eeu rekenaarprogrammeringsondernemings (startups) te begin, deurbrake in selfoontegnologie te ontdek, of gevorderde grade in esoteriese dele van die reg te verwerf. Om Murray aan te haal: “These increasingly constitute a class. They are . . . increasingly isolated. The new isolation involves spatial, economic, educational, cultural, and, to some degree, political isolation.”

Terwyl sommige sal aanvoer dat die rykes altyd geïsoleerd van die res van die land geleef het, beskryf Murray dié skeiding nie net as een wat hom in terme van fisieke verwydering en assosiasie manifesteer nie, maar een wat ook verband hou met historiese kennis. “(Their) growing isolation has been accompanied by growing ignorance about the country over which they have so much power,” skryf Murray.

Die probleem word vererger deur die feit dat die waardes van die jare sestig, wat volgens Murray deur die laer klasse tot hul eie nadeel opgesê is, deur die nuwe elite bevorder word, maar nie deur hulle beoefen word nie. Hierdie elite leef grotendeels bourgeois lewens gekenmerk deur stabiele gesinne, gereelde kerkbywoning en openbare deelname. Hulle voel egter nie dat hierdie waardes deel hoef te wees van ‘n gedeelde kultuur of as aspirasies hoef te dien vir diegene aan die onderkant van die ekonomiese skaal nie.

Dus, terwyl die nuwe hoër klas aan’t ontwikkel is, het nuwe waardes en praktyke onder die blouboordjie-segment begin posvat. Wat Murray wys, is dat terwyl die elite hulself op ‘n intellektuele grondslag van hul mede-Amerikaners en land verwyder het, het die werkersklas eweneens begin afstand doen van die gemeenskaplike kulturele aannames oor byvoorbeeld misdaad, verlaagde arbeidsetiek, gesinne en die heiligheid van die huwelik. Die bande wat gemeenskappe skep en onderhou, is bloot aan die verdwyn weens dekades se mediaboodskappe wat die skaamte verminder om aalmoese van die welsynstaat te ontvang asook veranderende kulturele veronderstellings wat bestendige gesinne en godsdiens as onderhandelbaar beskou.

As voorbeeld haal Murray syfers aan dat gevangenes per 100 000 werkersklas-burgers gestyg het van sowat 200 in 1974 na naastenby 1000 in 2004. Hy toon ook aan dat werkloosheid onder blouboordjies aansienlik toegeneem het. (Hy probeer hard om te bewys dat dit nie slegs weens die afgelope paar jaar se ekonomiese probleme in die VSA is nie.) Daarbenewens word hierdie werk nie as bevredigend beskou nie en is waarskynlik nie eens voltydse werk nie. Hy wys byvoorbeeld uit dat die persentasie manlike blouboordjie-werkers wat minder as 40 uur per week werk, gestyg het van 10% in 1960 tot 20% in 1980.
‘n Kommerwekkende stuk statistiek rakende die toestand van die gesin is die dalende aantal kinders wat by albei biologiese ouers woon teen die tyd wat die ma 40 is. Volgens Murray se syfers het hierdie persentasie in blouboordjie-huishoudings drasties gedaal van 95% in 1962 tot 30% in 2004. Die prentjie is radikaal anders in die elite-huishoudings wat aan die peilings deelgeneem het, met dié syfer wat in dieselfde tydperk van 98% tot 90% geval het. Insgelyks is lede van die nuwe elite in die top 20% in die land wat aangedui hulle is “baie gelukkig” in hul huwelike, terwyl diegene in die bloukraag-segment van die Amerikaanse samelewing hulself in die onderste 20% bevind.

Dit vat Murray nie lank om ‘n gesaghebbende gevolgtrekking te maak dat twee verskillende Amerikas aan die ontwikkel is nie – wel, ten minste twee. Die verskille kan ook nie verduidelik word nie bloot op grond van die hoeveelheid geld wat een huishouding inbring in vergelyking met ‘n ander. Murray maak dit duidelik dat die soort opnames waarop sy boek gegrond is, nie geredelik deur geldsake verander nie.

Dit word bewys deur die verskeie afnames in gedeelde praktyke en waardes in die hele Amerika. Om te stem is byvoorbeeld nie duur nie, tog is mense in die nuwe hoër klas in die top 20% wat seker maak dat hulle stem in die presidensiële verkiesing, terwyl die werkersklas die onderste 20% uitmaak. Kerkdienste is ook nie duur nie, maar die elite is weer onder die boonste 20% wat weeklikse kerkdiens-bywoning betref, terwyl die blouboordjie-deel in die onderste deel van die laagste 30% is.

Soos jy Murray se boek deurblaai, blyk dit dat daar net té veel verskille tussen Amerika se verlede en hede – sowel as tussen Amerikaners self – is vir hierdie eksperiment om geslaag uit te draai. Terwyl Murray self erken dat hy deur hierdie swartgalligheid verlei word, benadruk hy in die slothoofstuk dat dit gelyk het asof Groot Brittanje op haar sterfbed gelê het in die 1700’s, maar vandag steeds voortbestaan en floreer danksy vernuftige aanpassings vir ‘n nuwe toekoms en ‘n gewilligheid om die lewe binne daardie perke te aanvaar. Hy voer aan daar moet desgelyks vir die VSA só ‘n alternatiewe toekoms wees wat Amerikaners as ‘n volk sal laat voortleef – al is dit dalk nie die prestigeryke toekoms wat die stigtingsvaders in gedagte gehad het nie.

Murray begeer egter nie ‘n toekoms wat selfs effens afwyk van die een wat oorspronklik beoog is nie. Nietemin beëindig hy die boek op ‘n realistiese noot deur te erken dat die pad wat die verskeie klasse in Amerika nou loop, een is wat hulle verder van mekaar verwyder.

Dr. A.W.R. Hawkins is senior meningsredakteur van die Alliance Defense Fund en het onlangs hierdie boekresensie vir die Russell Kirk Center for Cultural Renewal geskryf

Comments are closed.

error: Content is protected !!