‘n Vars en nuwe opvoering soos jy nog nie gesien het nie – Ken jy tant mossie
Junie 15, 2012
Afrikaanstaligen stellen richtlijnen op voor behoud kwaliteitsonderwijs
Junie 29, 2012

“Om iets te kry wat jy nog nooit gehad het nie, moet jy doen wat jy nog nooit gedoen het nie.
Om te bereik wat ander nie bereik het nie, moet jy doen wat ander nie doen nie en werk op tye wanneer ander nie werk nie.”

Hierdie aanhaling is op ʼn besonderse wyse waar van Mimi Coertse en Christa Steyn. Die FAK bring vandeesmaand hulde aan twee baie spesiale Afrikanervroue. Mimi en Christa verteenwoordig in hulle sang- en musiekloopbane dit wat NP van Wyk Louw die aristokratiese ideaal van Afrikaans noem. Louw vergelyk die ideaal met ʼn eensame tafelkop wat bo die Vrystaatse vlaktes uittroon. Op die vlaktes van die kulturele landskap is dit van ver af sigbaar.

Wanneer jy naderkom aan die tafelkop van groot kuns, sien jy dat dit nie net uitstyg na die hoogtes van die mens se gees nie, maar ook dat dit afsteek na die dieptes van jou siel. Wanneer jy die tafelkop bestyg, word ‘n mens na siel en gees gevoed. Die beeld is op ʼn besonderse wyse ook waar van Mimi en Christa se loopbane. In die Afrikaanse musiekwêreld het albei ʼn reuse-bydrae gelewer tot die ontwikkeling van die Afrikaanse kunslied.

Om die draer te wees van ʼn aristokratiese ideaal is meestal ʼn eensame pad. Louw noem dit die pad van die enkeling tussen die massa. Dit is die enkeling wat die vlammetjie van die ideaal moet brandend hou te midde van massawaardes, -kultuur en -musiek. Tog wanneer die kulturele droogtes oor die vlaktes aanbreek, kyk die massa na die vlammetjie en word daardeur geïnspireer om nuut te kan skep.

Mimi en Christa het deur hulle loopbane die vlammetjie van die aristokratiese ideaal laat voortleef.

Mimi wat die heel eerste FAK-musiekbeurs ontvang het om verder in Europa sang te gaan studeer het later jare ook ʼn Mimi Coertse-sangbeurs gestig vir belowende Afrikaanse sangstudente wat deur die FAK bestuur word. Met die vyftigste verjaarsdag van die FAK het Mimi ʼn spesiale dubbelalbum uitgegee – MIMI EN DIE AFRIKAANSE LIED. Dit is een van die enigste opnames waar sy Die Stem van Suid-Afrika sing.

Mimi en Christa het ook ‘n reuse-aandeel gehad in die ontwikkeling van die nuwe FAK-sangbundel wat Oktober vrygestel word. Spesiale vermelding moet gemaak word van Christa wat ondanks haar siekte die Kleinkunsrubriek gehanteer het. Eers in Meimaand vanjaar het haar jare lange vriend Jannie du Toit haar werk oorgeneem.

Christa het op 11 Junie gesterf en Mimi het op 12 Junie haar tagtigste verjaardag gevier.

Die twee dae was ʼn dieptepunt en ʼn hoogtepunt vir die FAK. Albei Afrikanervroue se monumentale bydraes inspireer ons om hulle nalatenskap vir die volgende geslag Afrikaanse kinders te laat voortleef.

Comments are closed.

error: Content is protected !!