Die onderwys en intellektuele kapitaal

’n Blik op Afrikaans as taal en kultuur vanuit die oë van ’n Afrikaanse jong mens
Julie 4, 2012
Boekresensie: ’n Omstrede moet-lees vir vandag se konserwatiewes
Julie 4, 2012

Geskryf deur Pierre Edwards, hoof van Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria.

Dat die gehalte van onderwys in Suid-Afrika veel te wense oorlaat, is algemene kennis. Dit sou egter ’n fout wees om te veralgemeen deur alle skole in ons land  aan die hand van die negatiewe berigte in die media oor dieselfde kam te skeer.  Niks sal verder van die waarheid af wees nie.

Dit is ’n onweerlegbare feit dat Suid-Afrika steeds oor ’n groot aantal wêreldklasskole beskik (staatsinstellings én privaat ondernemings) wat by enige skool uit enige eerstewêreldland kan kers vashou. Verdere goeie nuus is dat veral die Afrikaanssprekende ’n keuse van wêreldklasskole het wat nie noodwendig die geval vir al die ander taalgroepe in Suid-Afrika is nie. Die groot vraag is egter of dit oor ’n dekade of twee nóg die geval sal wees?

Dit is duidelik dat daar nie op die onderwysdepartement gesteun kan word om die status van ons wêreldklasskole te handhaaf nie. Indien ’n mens kyk na die gebrek aan kundigheid en toewyding onder departementele amptenare, skyn die teendeel die geval te wees – om nie eers van die wanpraktyke en korrupsie te praat nie.

Navorsing wêreldwyd toon dat die beste onderwysstelsels en skole oor vier soorte kapitaal beskik, te wete intellektuele, sosiale, normatiewe en finansiële kapitaal. Weens ’n gebrek aan tyd gaan ek slegs na intellektuele kapitaal verwys, maar u kan gerus Why not the best schools? deur Brian Caldwell en Jessica Harris lees. Hierin word ’n volledige beskrywing van die vier soorte kapitaal gegee.

Intellektuele kapitaal verwys na die vlak van kennis en vaardighede van almal wat by die skool of in die onderwysstelsel werksaam is.  Almal van u onthou nog die ou inspekteurstelsel waar intellektuele kapitaal so ’n belangrike rol gespeel het.  Kennis en vaardighede het personeel se bevordering bepaal en elke pos in die onderwysstelsel het ’n sekere vlak van intellektuele vaardigheid vereis. Dit is tans nie meer die geval nie en beslis een van die redes waarom onderwys sukkel om die mas op te kom.

Gelukkig het Suid-Afrika se wêreldklasskole hierdie intellektuele verarming grootliks vrygespring. Veral die Afrikaanse skole het voordeel uit die transformasie van distrikskantore getrek deurdat kundige en ervare personeel vir die Afrikaanse skole behoue gebly het. Dit is die rede waarom die meeste Afrikaanse skole met ’n ervare en bekwame personeelkorps kan spog, terwyl die plaaslike distrikskantoor van die teendeel getuig.

Bogenoemde situasie kry nuwe betekenis in die lig van resultate van internasionale navorsing wat bewys dat die gehalte werk wat ’n skool of onderwysstelsel lewer, nooit beter kan wees as die gehalte onderwyser wat hy in diens het nie. Skole en gemeenskappe kan dus nie ’n fout begaan deur jaloers oor hul intellektuele kapitaal te waak en hul onderwysers te koester nie. Slegs dan sal Suid-Afrika oor die volgende paar dekades steeds met wêreldklasskole kan spog.

Comments are closed.

error: Content is protected !!