’n Blik op Afrikaans as taal en kultuur vanuit die oë van ’n Afrikaanse jong mens

Het nieuwe NP van Wyk Louw Centrum voor Culturele Vrijheid
Junie 29, 2012
Die onderwys en intellektuele kapitaal
Julie 4, 2012

Deur dr. Ernst Marais

Dr. Ernst Marais is ’n nagraadse navorser by die Universiteit van  Stellenbosch se regsfakulteit. Hy was die voorsitter van die Adam Tas-studentevereniging vir Afrikaans en dien nou in die FAK-direksie.

Hy het die Orde van den Prince se Kaapse tak op Saterdag 2 Junie toegespreek. Voorsitter Tia Hugo het hom genooi om ’n jong perspektief te gee op Afrikaans.  Lees ’n verkorte weergawe van sy lesing:

Hierdie kort skrywe is bedoel om ’n (bondige) blik te probeer gee oor hoe Afrikaanse jong mense aan die Universiteit van Stellenbosch (US) Afrikaans as taal en kultuur beskou. So ’n poging word egter bemoeilik deur die era van apatie waarin ons leef. Min studente stel belang om betrokke te raak op die kampus. Hulle verkies eerder om te beweeg in die omgewing waar hulle woon, klasloop, eet en sosialiseer. Derhalwe is dit moeilik om ’n goeie begrip te vorm wat die huidige Afrikaanse jong mens op Stellenbosch se persepsie oor Afrikaans is, aangesien daardie studente bloot afwesig is by inisiatiewe wat op die taal en kultuur gerig is.

Tog is daar sekere kulturele aktiwiteite wat goed deur Afrikaanse studente ondersteun word. Nog nooit tevore in die geskiedenis nie was daar soveel mense wat in Afrikaans geskryf, gedig en gesing het. Boeke en digbundels se verkope het deur die dak geskiet en Afrikaanse bands (dink net aan Van Coke Kartel en Zinkplaat) en sangers (soos Valiant Swart en Jack Parow) se optredes word deur massas Afrikaanse jong mense bygewoon. Verder word Afrikaanse feeste soos die KKNK, Aardklop en Raka ook jaarliks deur hordes Afrikaanssprekendes bygewoon.

Oor Afrikaans as taal wissel die gevoel. Aan die een kant is dit werklik verblydend om te sien dat daar die afgelope 10 jaar op Stellenbosch soveel spontane studente-inisiatiewe ten gunste van Afrikaans was. In 2005 byvoorbeeld teken 3500 studente en personeellede binne enkele dae ’n petisie teen die verdere uitbreiding van die T-opsie op kampus. Die T-opsie behels dat dosente afwisselend in die klas in Engels en Afrikaans doseer en het weens swak monitering tot ’n geweldige daling van Afrikaans in talle lesingsale gelei.

Die tweede inisiatief was die stigting van die Adam Tas-studentevereniging vir die bevordering van transformasie met Afrikaans in 2007. Dieselfde geld die stigting van die Tygerbergers vir die Behoud van Afrikaans in die Klaskamer (TBAK) in 2010. Hierdie verenigings is gestig om die toenemende verengelsing aan die US te stuit, om die stigmas rakende Afrikaans af te breek en om Afrikaans as ’n inklusiewe (dit wil sê nie-rassige) en versoenende taal te bevorder. Adam Tas is byvoorbeeld met ope arms deur studente ontvang en binne die eerste week het bykans 500 lede hulle hierby aangesluit.

Stories soos dié skets ’n rooskleurige prentjie van Afrikaans as kultuur en taal, veral aan die US. Hierdie stelling is wel gedeeltelik waar, maar ’n fyner ondersoek toon dat daar tog ’n huiwerigheid onder studente is om vir Afrikaans op te staan. Ondanks die feit dat Afrikaanse studente die meeste op kampus is en ongeag dit wat Adam Tas alles vermag het, word aktiwiteite rakende die taal op kampus baie sleg bygewoon. Dit is asof Afrikaanse studente hierdie platforms vermy ten einde nie as “taalbulle” of as “konserwatief” gebrandmerk te word nie. Daar kleef ongelukkig nog heelwat stigmas aan Afrikaans weens die verlede en hierdie slegte beeld veroorsaak dat sprekers daarvan skaam en/of te bang is om daarvoor op te staan. Diegene wat vir die afskaling van Afrikaans op kampus is, word gewoonlik beskou as “verlig”, “liberaal” en “vrydenkend”, terwyl dié wat opstaan vir Afrikaans gereken word as “ouderwets”, “engdenkend” en selfs “regs”. Die onwilligheid van studente om betrokke te raak by inisiatiewe wat daadwerklik Afrikaans bevorder, is ook te bespeur op die kultuurfront. Talle van die FAK se lidorganisasies, wat in die vroeë jare negentig nog sterk gestaan het, se ledetalle het drasties gedaal en sommige bestaan selfs nie eens meer nie. Bitter weinig studente sluit hulle by hierdie organisasies aan nadat hulle Stellenbosch verlaat het.

Die groot vraag is dus wat daar gedoen kan word om die Afrikaanse jeug weer betrokke te kry, veral gesien teen die agtergrond dat baie Afrikaanssprekendes huiwerig of bloot onwillig is om by inisiatiewe betrokke te raak wat die taal en kultuur bevorder. In hierdie opsig sal ons ons denke moet vernuwe indien ons die jong mense betrokke wil kry.

Die “ouer” lidorganisasies van die FAK lê nog grotendeels klem op die behoeftes van huidige en dus ouer lede. As hierdie organisasies verseker wil wees van hulle en Afrikaans se voorbestaan, sal daar iets gedoen moet word om in die behoeftes van die nuwe generasie te voorsien. In ’n era van verbruikerskultuur is dit uiters belangrik dat enige produk (Afrikaans as taal en kultuur is ook produkte in hierdie opsig) nuut verpak en bemark word ten einde dit aantreklik te maak en dit so te “verkoop” aan die sprekers daarvan.

So bied “nuwe” organisasies soos Adam Tas en TBAK goeie voorbeelde van hoe Afrikaans op ’n “nuwe”, dit wil sê inklusiewe en versoenende wyse, bevry en bevorder kan word vir al die sprekers daarvan. Deur die gesellighede wat hierdie verenigings organiseer, dra hulle die boodskap oor dat hul lede nie terughunker na verlore “dae van ouds” nie, maar dat hulle sowel trots Afrikaans as Suid-Afrikaans is en ’n positiewe verskil in ons land wil maak. In hierdie konteks behoort die FAK kennis te neem van hierdie organisasies se projekte en doelwitte, aangesien die FAK as sambreelliggaam van die meeste Afrikaanse organisasies in Suid-Afrika in ’n ideale posisie is om die rigting waarin sy lidorganisasies beweeg te kan beïnvloed.

Comments are closed.

error: Content is protected !!