Ons vir Jou terug op die planke!

Die Sentrum brei uit . . . en uit . . . en uit
Julie 4, 2012
Kom sing weer in jou taal met die nuwe FAK Sangbundel Volume II
Julie 4, 2012

Die Boereoorlog-musiekspel, Ons Vir Jou, is terug en val vanjaar saam met Solidariteit se 110-jarige feesvieringe, skryf Nico Strydom.

Solidariteit is trots om vanjaar weer die Hertzogpryswenner, Deon Opperman, se Ons vir Jou-musiekspel te ondersteun. Ons vir Jou is die grootste Afrikaanse musiekspel in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse teater. Vanjaar se speelvlak val saam met die 110-jarige feesvieringe van die Solidariteit Beweging. Die ontstaan van die vakbond as die Transvaal Miners’ Association was deels in reaksie op die industrialisering ná die Anglo-Boereoorlog. In 1913 verander die vakbond sy naam na die bekende Mynwerkersunie en vanjaar is die Solidariteit Beweging 110 jaar jonk.

Solidariteit-lede kan vanjaar weer hierdie besondere verhoogstuk teen 15% afslag gaan kyk (Sien blokkie). Ons vir jou is vanaf 7 tot 29 Julie 2012 in die Operateater van die Staatsteater in Pretoria te sien. Die vertonings is van Woensdae tot Vrydae en twee vertonings op Saterdae en Sondae.

Gesoek! 1 200 nasate van ABO-konsentrasiekampe
Die grootste byeenkoms van afstammelinge van inwoners van die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog (ABO) word vir 7 Julie beplan ter herdenking aan die 110de jaar sedert die einde van die oorlog. Vir dié projek snoer die Solidariteit Beweging se uitgewersmaatskappy, Kraal-Uitgewers, wat pas ʼn nuwe boek oor die konsentrasiekampe van die oorlog uitgereik het, kragte saam met Maroela Media (die nuwe mediahuis van die Solidariteit Beweging) en Deon Opperman se Packed House Productions.

Om die einde van die ABO, 110 jaar gelede te herdenk, word mense wat afstammelinge van inwoners van die kampe is, uitgenooi om hul nasate op te soek op ʼn databasis met die name van duisende kampinwoners wat deur die navorser Elizabeth van Heyningen van die Universiteit van Kaapstad saamgestel is. Afstammelinge wat inskryf kan dan twee gratis kaartjies ontvang om die herdenkingsfunksie met die vertoning van Deon Opperman se treffende musiekspel oor die ABO, Ons Vir Jou, op Saterdag, 7 Julie om 20:00 by te woon. Tydens die geleentheid sal ʼn foto-uitstalling met unieke foto’s wat vir die eerste keer in Kraal se nuwe boek Onthou! Kronieke van vroue- en kinderlyding, 1899-1902 gepubliseer is, uitgestal word. Die geleentheid is oop vir 1 200 afstammelinge.

“Elkeen van ons wat op die een of ander manier afstammelinge van inwoners van die konsentrasiekampe van die ABO is, is verbind aan hierdie hartseer en gesamentlike geskiedenis. Dit is ons verantwoordelikheid om dit wat gedurende die oorlog en in spesifiek in die konsentrasiekampe plaasgevind het, te gedenk,” verduidelik dr Dirk Hermann, voorsitter van Kraal-Uitgewers se direksie.

Meer oor die musiekspel
Die stuk vertel die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog en beeld met deernis en passie die impak van die oorlog op die wording van die Afrikanervolk uit. Die musiekspel is in samewerking met Sean Else geskryf en met musiek deur Johan Vorster. Ons Vir Jou is in 2008 vir die eerste keer aangebied in die Staatsteater en het in 2009 teruggekeer, op publieke aanvraag. Altesaam 45 000 mense het hierdie treffer musiekspel gesien.

Deon Opperman oor Ons vir jou:
“Sedert die Grieke en Aristoteles was dit nog altyd duidelik: daar is klein stories en daar is groot stories. Generaal Delarey se storie is ʼn groot storie, en die mens hou van ʼn groot storie. Daarom was ek nie verbaas deur die vele navrae wat ek oor die afgelope drie jaar gekry het oor die moontlike terugkeer van my en Sean Else se musiekspel Ons Vir Jou nie. Delarey se storie gedurende die Anglo-Boereoorlog van 1899 – 1901 is ʼn groot storie.

Dis mos ʼn ou waarheid – goed begin is half gewin. Dit geld vir skrywers ook. Klein stories maak vir klein dramas, en groot stories…wel, dan kry jy Ons Vir Jou. My en Sean se werk met hierdie mylpaal in die Afrikaanse teaterbedryf was nie om ʼn storie “uit te dink” nie, maar eerder “hoe om hierdie bestaande storie tot aangrypende musiekspel te verwerk”?

Dat meer as 45 000 mense in 2008 en 2009 die musiekspel kom kyk het, en dat so baie mense my sedertdien gevra het wanneer ek die stuk weer gaan opvoer, bevestig vir my dat ek en Sean hierdie baie belangrike hoofstuk van die Afrikaners se geskiedenis met die nodige vaardigheid, waardigheid en respek geëer het.

As dramaturg wat nou al 25 jaar lank Afrikaanse dramas skryf, is Ons Vir Jou ʼn persoonlike hoogtepunt. Dit staan vir my langs my ander persoonlike skryfhoogtepunte Kruispad, Hartland, Donkerland, Stille Nag, Kaburu en TREE AAN! – ook almal verhale oor die wording en wese van die Afrikaner volk.

Ek sien verskriklik daarna uit om weer in die Operahuis se portaal te staan en die mense te ontmoet wat Ons Vir Jou vir die eerste keer sien, en veral die wat dit tydens ʼn vorige speelvak gesien het, maar weer gekom het om saam in die manjifieke Operahuis hierdie groot-storie-broodjie te breek.”

Comments are closed.

error: Content is protected !!