FAK bederf die personeel van Hoërskool Hercules
Julie 5, 2012
Verslag besoek aan die Lae Lande
Julie 5, 2012

Deur Natasja le Roux

Unieke simbiose
Van al die studiereise waaruit studente deesdae kan kies, beklee die JongereProjek ’n unieke posisie. Vir al die studente wat deelgeneem het aan die JP in die afgelope 40 jaar, was dit ’n reis van herkenning. Die verbandhoudende geskiedenisse en die taalverwantskap tussen Suid-Afrika en die Lae Lande is ’n unieke ervaring. Die lande se simbiose is wat maak dat die JP baie meer is as net ’n toeristetoer.
Ook die verblyf by gasouers gee die reis ’n besonderse karakter. Juis deur by Suid-Afrikaners tuis te gaan, leer die studente die samelewing van binne ken.

Organisasie
Al van die jare sewentig van die vorige eeu af besoek sowat ‘n dosyn Afrikaanse topstudente Nederland en België  vier weke lank en die volgende jaar kom daardie lande se studente weer hierheen op besoek. In Nederland en Vlaandere is die program en reëlings in hande van die Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging (NZAV) en die Vlaams Zuid-Afrikaanse Cultuurstichting (VZACS). Die VZACS bied onder meer ’n week lange somerskool aan by die Universiteit van Hasselt en uit Zuid-Afrika Huis aan die Keizersgracht in Amsterdam tref die JP-kommissie al die voorbereidings om die studente ‘n unieke kennismaking met Nederland te bied.

Die organisasie van die JongereProjek was in Suid-Afrika onder beheer van die Erfenisstigting, maar is oorgeneem deur Solidariteit en van vanjaar af is dit onder beheer van die Stighting voor Afrikaans. Kobus Rossouw het die afgelope paar jaar opgetree as die nasionale koördineerder en dit is sy groot verdienste dat baie van die ouddeelnemers betrokke by die projek gebly het.

2012
Hierdie jaar ontvang ons weer ’n groep studente uit die Lae Lande. ’n Hele paar van die deelnemende studente het vanweë hul studie belangstelling in Suid-Afrika gekry. Daar is letterkundestudente wie se belangstelling gewek is deur die Afrikaanse romans en studente in internasionale betrekkinge wat navorsing gedoen het oor Suid-Afrika. Om hul kennis oor Suid-Afrika te verdiep, is daar ’n interessante program saamgestel. Natuurlik is meer toeriste-elemente soos  die besigtiging  vanTafelberg, Kaappunt en die Namibiese duine daarin opgeneem, maar die klem lê op in-dieptebesoeke aan organisasies en universiteite, waarby oop gesprekke gevoer word met die organisasies wat hulle ontvang. Die studente word blootgestel aan ’n wye spektrum idees en besoek die volgende stede/gebiede: Namibië, Potchefstroom, Orania, Bloemfontein, Wes-Kaap en Gauteng.

Oproep!
Om seker te maak dat Afrikaanse studente ook in die toekoms deel kan wees van hierdie wonderlike uitruilprogram, word daar in 2012 ’n onafhanklike JongereProjek-vereniging gestig. Die doel is om ’n selfstandige lidorganisasie van die FAK te word, wat die kontinuïteit en die karakter van die program waarborg. Die vereniging sal  gefinansier wees  deur die bydraes van alumni en ander betrokkenes en belangstellendes.
Die deelnemende studente betaal slegs hulle reiskoste; al die verblyf, etes, uitstappies en besoeke word deur belangstellende organisasies en private mense geborg. Vir die Suid-Afrikaanse studente sal daar enkele beurse beskikbaar gestel word.

Indien u belang stel om by te dra as gasouer, ’n geldelike bydrae wil gee of op ’n ander manier ’n waardevolle toevoeging aan die projek kan bied, kontak gerus Natasja le Roux by
nleroux@fak.org.za

0 Comments

  1. […] 14 Nederlandse en Vlaamse studente van verskillende universiteite ontvang: die JongereProjek (JP) http://www.fak.org.za/nuus/die-jongerenprojek/. Met twee begeleiers het hulle ’n maand lang deur Namibië en Suid-Afrika […]

error: Content is protected !!