Van afgestofte FAK-liedjies tot marimba en Barok
Julie 30, 2012
Dwangideologieë en demokratiese weerstand: Die ervarings van Hongarye en Suid-Afrika
Augustus 7, 2012

Deur Alet Rademeyer, Volksblad
PRETORIA. – Die FAK het die oud-radiojoernalis Tossie Lochner gister op haar 75ste verjaardag met ’n spesiale kultuurtoekenning in Pretoria vereer.
Lochner, wat aan die SAUK verbonde was, is veral bekend om die nuusbydraes wat sy in die tagtigerjare uit Italië vir die oggendprogram Monitor gelewer het.
Vriende en oudkollegas soos Magdaleen Kruger, hoof van RSG, en Heinrich Marnitz, oud-sportkommentator by die SAUK, het die geselligheid by die Voortrekkermonument bygewoon.
Kruger het gesê hulle het altyd na Lochner as “Mamma Tossie” verwys.
Haar verjaardag val ook saam met die herdenking van die eerste Afrikaanse radio-uitsending 75 jaar gelede.
Kruger het gepraat oor hoe die radiowese en uitsaaistyle oor die jare heen verander het.
Kruger het gesê RSG wil ook soveel moontlik variëteite van Afrikaans weerspieël omdat hulle uiteenlopende luisteraars het en nie ’n ou wit stasie is nie.
Sy het gesê RSG is een van die drie topstasies by die nasionale uitsaaier met sowat 1,9 miljoen luisteraars.
Oor Lochner het sy grappenderwys gesê hulle moes baie keer die vloekwoorde in haar stories redigeer en dat hulle ook dikwels verstom was oor die “Suid-Afrikaanse hoek” wat sy vir haar stories gekry het.
Haar bydrae oor die pous Johannes Paulus II wat in Mei 1981 deur ’n Turk geskiet is, is gister ook uitgesaai.
Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, het gesê sy generasie het saam met hul oggendpap, koffie en “Tossie Lochner uit Italië” grootgeword.
Hy het gesê sy het ’n groot invloed op Afrikaanssprekendes gehad en het met haar bydraes vir hulle ’n groter venster op die wêreld gegee lank voordat sanksies teen die land gelig is.
“Jy was vir ons ’n taalambassadeur wat Europa vir ons toeganklik gemaak het.”
Lochner is ook geloof dat sy in die 40 jaar wat sy in Italië gewoon het, aan haar Afrikaanse wortels vasgeklou het en haar twee kinders, Leonardo en Sara, Afrikaans geleer het. Hulle woon ook in Suid-Afrika.

Comments are closed.

error: Content is protected !!