Van afgestofte FAK-liedjies tot marimba en Barok

Gerrit Komrij en Zuid-Afrika
Julie 9, 2012
Tossie Lochner vereer
Julie 30, 2012

2012/07/25 09:29:41 PM –  Beeld
Die nuwe FAK-sangbundel, wat vanjaar uitgereik word, kry plek in die kollig op die Clover Aardklop-kunstefees met die produksie FAK Fantasties, saamgestel Janine Neethling.

Die nuwe bundel bevat 400 liedjies wat baie hedendaagse treffers insluit. Dit sal deur onder meer Theuns Jordaan en Pieter Smith uitgevoer word.

Aardspel word vanjaar weer aangebied met onder andere Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis en Lianie May.

Op die laaste dag van die fees is daar iets vir die meer klassieke smaak: Viva Italia: Grand Opera Gala met Richard Cock as dirigent, die Johannesburg-feesorkes, soliste van die NWU en ’n saamgestelde koor van 160 stemme.

Aan die kabaret- en musiekproduksiefront is Chris Vorster te sien in die hardebaard-musiekspel Die geval van die mal huisvrou; Vagina Dentata – ’n Kabarett.

Ander produksies sluit in Liesl Marx se Die VET-faktor; Lizz Meiring en CH2 met Ping! en die duo Marcato, wat hulde aan Simon & Garfunkel bring.

Andra sal te sien wees in haar produksie 27, waarin sy die magiese eienskappe van hierdie getal ondersoek.

Feesgangers kan vanjaar na Gert Vlok Nel luister, wat ’n nuwe album bekend stel.

Ander kunstenaars wat optree, is Mathys Roets, Jak de Priester, Blackie Swart, Jannie Moolman, Rocco de Villiers en Chris Chameleon, wat saam met die Drakensbergse Seunskoor te sien sal wees.

Aan die klassieke front is die Duitse tjellis Wolfgang Schmidt se uitvoering saam met Bryan Wallick (klavier) en die orrelis Winand Grundling se 14 stasies van die kruis een van die hoogtepunte.

Daar is ook ’n konsert deur die pianis Benjamin Fourie; en Magda de Vries sal met MarimBach wys wat met ’n konsertmarimba vermag kan word.

De Vries is ook saam met die vibrafoonspeler Frank Mallows deel van Duo FourIVTwo in Concert.

In twee Barok-konserte word gefokus op die komposisies van Biber en Fux, terwyl Ave ¬Maria/¬Halleluja bestaan uit liede¬re waarin “Ave Maria” en “Halleluja” as titel voorkom – van klassiek tot kontemporêr.

Die Dismotief-uitvoering is splinternuwe Suid-Afrikaanse komposisies wat uitgevoer word ter ondersteuning van die gelyknamige uitstalling.

Drie uiteenlopende trio’s is deel van vanjaar se musiekaanbod.

Trio Gloriosa – Camelia Onea (viool), Berthine van Schoor (tjello) en Annalien Ball (klavier) – speel geliefde klaviertrio’s.

In Shanghai Brunch gee Charl du Plessis (klavier), Hugo Radyn (tromme) en Werner Spies (basinstrumente) bekende klassieke werke ’n jazz-aanslag.

Janine Neethling speel klavier in Trio met ’n twist saam met Bridget Rennie-Salonen (fluit) en Elizabeth Furtner (altviool).

Meer besonderhede by www.cloveraardklop.co.za
kliek hier om die res van die storie te lees…

Comments are closed.

error: Content is protected !!