Watter ideologie heers in Suid-Afrika?
Augustus 7, 2012
Gerrit Komrij sterf: reaksies
Augustus 7, 2012

deur Eugene Brink is ‘n senior navorser by die FAK se N.P. van Wyk Louw-sentrum.

Ek besef dit is ’n vreeslike stelling om te maak, maar daar is waarskynlik min boeke wat so relevant vir die hedendaagse kerk is as die nuwe werk van Ross Douthat, Bad Religion: How We Became a Nation of Heretics (New York: Free Press, 2012). Dit behoort deur elkeen gelees te word wat die belange van die kerk op die hart dra, van die geleerde predikant tot en met die gewone kerkganger. Hoewel die boek vir ’n Amerikaanse gehoor geskryf is, is bykans elke bladsy daarvan ook vir die Afrikaanse leser belangrik. Tendense onder die Amerikaners kom ook onder ons eie mense voor.

Soos weinig ander werke van ons tyd verwoord Bad Religion die ‘krisis’ waarin die kerk homself vandag bevind op ’n uitnemende wyse. In die eerste deel van die werk, Christianity in Crisis, beskryf Douthat die vreemde agteruitgang van die gevestigde sentrum-kerke van die jare vyftig van die vorige eeu. Tydens laasgenoemde dekade het die sentrum-kerke nog ’n geweldige toeloop van lidmate gehad, met kerke wat letterlik uit hul nate gebars het. Tegelykertyd het Amerikaanse teoloë op intellektuele gebied dikwels die pas aangegee en met hulle onverskrokke denke selfs die agting by die mees geharde ateïstiese denkers ontlok. Vir ’n kort oomblik het dit ook gelyk asof die kerke verstaan wat dit beteken om ’n invloed op die politieke gebeure uit te oefen, sonder om self verpolitiseer te raak.

Van die jare sestig van die vorige eeu het ’n geleidelike en bykans onkeerbare stroom egter die sentrum-kerke verlaat. Volgens Douthat kan nie daaruit afgelei word dat groot getalle skielik die Christendom as sodanig vaarwel toegeroep het nie. Inteendeel, sê Douthat, alles dui daarop dat daar tydens die jare van agteruitgang eintlik net soveel ‘gelowiges’ as voorheen was. Trouens, die tydperk van agteruitgang gaan eintlik met ’n groeiende belangstelling in godsdienstige kwessies gepaard!

Laasgenoemde bring die skrywer egter by die kern van sy boek. Ons kan dit so formuleer: As die Christendom vandag in ’n krisis is, is dit volgens Douthat nie omdat daar vandag te veel godsdiens is nie (soos wat die ateïstiese kritici veral met betrekking tot die fundamentalistiese strominge sê). Tegelykertyd is die Christendom ook nie in ’n krisis omdat daar te min godsdiens is nie (soos wat die fundamentaliste met betrekking tot die prominente rol van byvoorbeeld die sogenaamde ‘Nuwe Ateïsme’ sê). Nee, die Christendom is in ’n krisis omdat die verkeerde soort godsdiens vandag die botoon voer.

In die tweede afdeling, The Age of Heresy, bespreek Douthat in vier uitstaande hoofstukke die belangrikste eienskappe van laasgenoemde. In die hart van sy argument staan die beskuldiging dat die ‘verkeerde’ of ‘slegte’ godsdiens gekenmerk word deur die poging om telkens ’n bepaalde aspek van die Christelike geloof uit die groter samehang met die tradisionele leerstellinge te isoleer en dit dan as dié waarheid aan te bied. Die gevolg is niks minder nie as die vermenigvuldiging van wat hy as ‘afvalligheid’ beskryf.

Douthat se werk word deurgaans onderlê deur uitstekende ontleding van die hedendaagse materialistiese kultuur – en watter implikasie dit vir ons verstaan van die ou geloofswaarhede het. In die proses huiwer hy nie om die samehang tussen die hiper-kapitalistiese orde en die sogenaamde ‘geestelike waardes’ van hedendaagse godsdienstige tendense bloot te lê nie. Van die welvaartpredikers, die verkopers van geestelike sameswerings, die Nasionaliste wat God se seën op Amerika se utopiese oorloë vra en die terapeutiese teologieë van Oprah en kie – dit alles onderwerp hy aan ’n vernietigende kritiek. Tegelyk word ernstige vrae gerig aan die historiese Jesus-navorsing deur die sogenaamde Jesus-Seminaar en die talle hedendaagse populêre vertolkers daarvan (onder meer Dan Brown se The Da Vinci Code).

Luidens die jongste sensusopnames in Amerika is die sogenaamde nie-tradisionele vorme van Christelike aanbidding vandag die derde grootste godsdiens-kategorie in die VSA. Dit word slegs deur die Katolieke Kerk en Suidelike Baptistekonvensie getroef. Die groei van Christelike kerke vind vandag feitlik slegs in die nondenominasie- en Mormoonse kringe plaas, terwyl die tradisionele Protestantse en Katolieke kerke steeds aan die taan is. Hoewel Christenskap vandag so sterk soos altyd is, is daar tegelykertyd ’n duidelike verskuiwing weg van die tradisionele sentrum-kerke na wat as die ‘afvallige’ beskryf kan word. Douthat stel sy visier vierkant in op hierdie alternatiewe Christelike kerke, omdat hulle volgens hom Christenskap verskraal tot ’n sagte en gerusstellende “gevoel”, ’n kru vorm van materialisme en indiwiduele bevrediging. Die doen-dit-jouself Jesus, wat deur hierdie strominge geskep word, is helaas slegs so groot soos ons verbeelding – en soms selfs kleiner as dit.

Laastens het hierdie vorme van Christenskap volgens Douthat ook negatiewe implikasies vir die gemeenskapslewe: Hulle is nie in staat om gemeenskappe saam te bind en stabiele gesinne aan te moedig soos wat die geval met meer tradisionele kerke was nie. Trouens, hierdie vorme van Christenskap is by uitstek daarop bedag om slegs die begeertes en verlangens van die indiwidu te dien.
Hierdie tendense is ook onder Afrikaners aanwesig. Tradisionele kerke maak toenemend plek vir ‘n à la carte-vorm van Christenskap. Dit is ’n godsdiens waarin die indiwidu se voorkeure (genot, gemak, en so meer) bo tradisionele deugde soos onthouding, selfopoffering en diens gestel word. Kortom, alhoewel Bad Religion vir die Amerikaanse leser geskryf is, is talle van die tendense wat hy daarin beskryf en kritiseer, ook onder ons mense aanwesig.

Comments are closed.

error: Content is protected !!