Dwangideologieë en demokratiese weerstand: Die ervarings van Hongarye en Suid-Afrika

Tossie Lochner vereer
Julie 30, 2012
Watter ideologie heers in Suid-Afrika?
Augustus 7, 2012

Deon Geldenhuys is professor in Politiek aan die Universiteit van Johannesburg.

Die geboorte van die nuwe Suid-Afrika is 18 jaar gelede wyd en syd aangeprys; nie bloot omdat dit die einde van apartheid beteken het nie. ‘n Ander rede vir euforie was dat Suid-Afrika se splinternuwe liberale grondwet kwansuis al die bestanddele bevat het om ‘n model-demokrasie te vestig. Op die koop toe was daar Nelson Mandela se onkreukbare reputasie as vryheidstryder, ‘n leier wat volkome vertrou kon word om demokrasie in Suid-Afrika te laat gedy.

Enkele jare voor Suid-Afrika se demokratiese hergeboorte het Hongarye, soos verskeie ander Sentraal- en Oos-Europese state, die kommunistiese juk afgewerp ten gunste van liberale demokrasie en die vrye mark. Vir die eerste 20 jaar ná sy rewolusie van 1989 het die bevryde Hongarye inderdaad soos ‘n Westerse demokrasie gefunksioneer en sy politieke prestasies en ekonomiese rekord is met lidmaatskap van die Europese Unie beloon.

Sedert 2010, egter, neig Hongarye in ‘n outoritêre rigting. Die regsgesinde Fidesz-party van Viktor Orbán het in daardie jaar die algemene verkiesing gewen. Eerste Minister Orbán het onmiddellik nog ‘n ‘rewolusie’  begin om weer fundamentele politieke verandering teweeg te bring. In sy poging om die vermeende gebreke van die voorafgaande twee dekades reg te stel, lei Orbán sy land weg van ‘n liberale demokrasie na wat ‘n onliberale, nie-mededingende demokrasie genoem kan word. Die EU, waarvan Hongarye steeds lid is, hou hierdie verwikkeling met groot besorgdheid dop.

Toe ek onlangs by ‘n vakkonferensie oorsee geluister het na ‘n voordrag van prof. András Bozóki van Budapest oor Hongarye se ‘oorgang weg van liberale demokrasie’, kon ek nie help om Suid-Afrikaanse parallele te sien nie.
Terloops, Hongarye is nie die enigste oud-kommunistiese staat wat deesdae ‘de-demokratiseer’ nie. Rusland en die Oekraïne is al veel verder op pad na wat Bozóki ‘n ‘semi-demokrasie’ noem, maar anders as Hongarye, was hulle nie tot onlangs nog volwaardig liberaal-demokraties nie.

Hier is ‘n aantal grepe uit Bozóki se referaat, met moontlike Suid-Afrikaanse raakpunte:
Tydens Hongarye se oorgang van ‘n kommunistiese diktatuur na liberale demokrasie was magsdeling en konsensusbou basiese beginsels van regering. Fidesz het met albei weggedoen in die naam van ‘n meerderheidsdemokrasie. Deesdae ervaar Hongarye eerder wat Bozóki ‘n ‘tirannie van die meerderheid’ noem en volgens hom is dit net so onderdrukkend as ‘n diktatuur van die minderheid kan wees.

Ná 1994 het Suid-Afrika vir ‘n wyle ‘n regering van nasionale eenheid gehad wat ten minste pretensies van konsensus-besluitneming gehad het. Sedertdien is die land ‘n eenvoudige meerderheidsdemokrasie wat, in die oë van sommige minderhede, neig na ‘n tirannie van die meerderheid.

Orbán verseg om van politieke ‘hervorming’ te praat omdat hy dit vereenselwig met onsuksesvolle pogings sedert 1989 om noodsaaklike en ingrypende politieke verandering mee te bring. Hy verkies die begip ‘rewolusie’ omdat dit vir sy regering gaan om die fundamentele herstrukturering van Hongarye se politieke en sosio-ekonomiese bestel.

Die ANC praat dieselfde taal met sy nasionaal-demokratiese rewolusie en alles-omvattende transformasie van die samelewing.

As deel van sy rewolusie plaas Orbán groot klem op wat hy ‘nasionale unifikasie’ en ‘nasionale samewerking’ noem om die nalatenskap van Hongarye se kommunisitiese verlede en hedendaagse bedreigings soos globalisering die hoof te bied.

Die Suid-Afrikaanse ekwivalent van ‘unifikasie’ is stellig nasiebou, en die bedreiging wat die regerende elite sien is die nalatenskap van apartheid en werklike of vermeende manifestasies van (wit) rassisme.

Omdat die liberaal-demokratiese grondwet van 1989 uitgedien en ‘n struikelblok in die pad van Fidesz se ‘rewolusie’ was, is dit in 2011 vervang deur ‘n nuwe een meer na die regerende party se smaak.  Geen opposisieparty in die parlement het ten gunste van die nuwe grondwet gestem nie, maar Fidesz het ‘n voldoende meerderheid gehad om die nuwe grondwet aanvaar te kry. Bozóki verwys hierna as ‘n grondwetlike staatsgreep, want daar was geen nasionale konsensus oor die 2011-grondwet nie.

Ons grondwet van 1996 is nog ongeskonde, maar botsende uitsprake in ANC-geledere skep twyfel oor die volgehoue onskendbaarheid van die grondwet. Daar is duidelik ‘n oortuiging onder lede van die regerende party dat die grondwet in die weg staan van transformasie en ‘n kompromis van ‘n vergange era verteenwoordig.

‘Die politieke sfeer verkry al hoe meer mag oor verskeie segmente van die gemeenskap, van die media tot die ekonomie, van onderwys tot die sosiale sektore,’ aldus Bozóki.

Dis presies waarna die ANC ook streef en al grootliks reggekry het.

Alle vlakke van openbare administrasie asook private instellings in Hongarye het hoogs verpolitiseer geraak weens die aanstelling van ‘Fidesz-kaders’. Selfs die regbank word met al hoe meer Fidesz-kaders gepak.

Ditto Suid-Afrika met die ANC se grootskaalse kaderontplooiing (dikwels met katastrofiese gevolge vir openbare dienslewering).

Die magte van Hongarye se Konstitusionele Hof is beduidend ingeperk sodat die regering minder deur die hof aan bande gelê word.

Die ANC maak dieselfde aanklag teen ons Konstitusionele Hof.

Hongarye se dominante eenpartystelsel tesame met kaderontplooiïng werk  korrupsie in die hand.

Hiervan kan Suid-Afrika Hongarye ‘n ding of twee leer.

‘Die finansiële sekuriteit van talle mense hang nie af van professionele meriete en werkverrigting nie, maar eerder van die heersende politieke omstandighede en die vermoë van mense om hulself te posisioneer’.

So beleef ons dit ook in Suid-Afrika.

Persvryheid word toenemend deur die Hongaarse regering beperk.

Die ANC se onlangse voorstelle vir media-regulering kan op ‘n soortgelyke tendens dui.

Hongarye se private pensioenfondse is deur die regering genasionaliseer.

Het ons nie al sulke geluide uit ANC-geledere gehoor nie? Of wil die regering bloot aan pensioenfondse dikteer waar om hul geld te belê?

Orbán is ‘n ‘opportunistiese populis wat linkse retoriek en regse ekonomiese beleide vermeng met nasionalisme’. Vir sover die eerste minister ‘n ideologie aanhang, is dit anti-kommunisme en anti-sosialisme.

Viktor Orbán en Jacob Zuma lyk na voëls van eenderse vere wanneer dit kom by populisme en die vermenging van ideologieë (alhoewel hul ideologiese voor- en afkeure verskil).

Al demoniseer Fidesz die voormalige Kommunistiese Party wat Hongarye dekades lank regeer het, is lede van daardie einste party in die Fidesz-regering opgeneem.

So, Hongarye het sy eie kortbroek-brigade. 

Hongarye se opposisiepartye is verdeeld en hou geen ernstige bedreiging vir Fidesz in nie.

Die ANC geniet soortgelyke oorheersing.

Sedert (en weens) die aanvaarding van die 2011-grondwet het nuwe elemente van opposisie na vore getree in die vorm van onafhanklike vakbonde en ander burgerlike organisasies. Hulle oorskadu reeds Hongarye se verdeelde en impotente politieke partye wat die parlementêre opposisie vorm.

By ons het demokratisering tot ’n enorme opbloei in burgerlike organisasies gelei. Hulle slaag in menige opsigte beter as die parlementêre opposisie  daarin om die regering tot verantwoording te roep.

As Hongarye sy ‘outoritêre uitdagings’ suksesvol oorkom, sal dit aan weerstand uit veral twee oorde te danke wees, sê Bozóki: die burgerlike samelewing en die EU.

Ons kan nie bra op die Afrika-unie staatmaak om die Suid-Afrikanse regering tot orde te roep as hy outoritêr sou optree nie, maar ons burgerlike samelewing het reeds sy staal getoon. 

Volgens onlangse meningspeilings wil sowat 20% van professionele persone tydelik in die buiteland gaan werk; sowat 7% verkies om Hongarye permanent te verlaat.

By ons is die uittog van kundige persone (veral blankes) waarskynlik ‘n veel ernstiger problem as in Hongarye.

Ons moenie die parallele tussen Suid-Afrika en Hongarye oordryf nie, want daar is ook wesenlike verskille tussen die twee lande. Die state is ook nie aan die heup verbind nie; so Hongarye se lot is nie noodwendig ons s’n nie en omgekeerd.

Hongarye bevestig egter opnuut dat die voortbestaan van ‘n liberale demokrasie nie gewaarborg is nie en dat so ‘n bestel van binne ondermyn kan word, ook in die naam van meerderheidsdemokrasie. Daarom dat Suid-Afrikaners voortdurend herinner moet word dat die prys van vryheid  ewigdurende waaksaamheid van die burger is. Ons goed georganiseerde en aktivistiese burgerlike samelewing is ‘n onmisbare beskermer van ons vryheid teen outoritêre neigings van owerheidskant. In hierdie opsig is ons Hongarye een voor.

Comments are closed.

error: Content is protected !!