Nederlandse plekname in Suid-Afrika

Protea Boekhuis: literêre vertalings uit Nederlands
Augustus 7, 2012
Taalkonferensie: Jy is genooi!
Augustus 7, 2012

Resensie van die onlangse uitgawe van 1599 Km tussen Amsterdam en Gouda, Een ontdekkingstocht langs Nederlandse plaatsnamen in Zuid-Afrika deur Bart de Graaff.

Deur Natasja le Roux

Talle Afrikaanssprekendes sal weet dat die Suid-Afrikaanse dorpe Middelburg, Utrecht, Gouda en Amsterdam Nederlandse ekwivalente het. Min Nederlanders sal egter die Suid-Afrikaanse ekwivalente ken. Bart de Graaff verander dit met sy  1599 Km tussen Amsterdam en Gouda, Een ontdekkingstocht langs Nederlandse plaatsnamen in Zuid-Afrika, wat pas uitgegee is. Die gebruiklike assosiasie wat Nederlanders met sulke plekname het – eeue oue stadsmure, gragte en kerke – word nou verruim met die assosiasie van klein plattelandse dorpies in Suid-Afrika.

De Graaff se boek is ’n reisverslag van sy toer deur Suid-Afrika, waarin hy plekke met Nederlandse name aangedoen het, en ’n verhalebundel. Sy soektog na die herkoms van Nederlandse plekname het talle stories opgelewer, deur die plaaslike bevolking aan hom vertel. Hy skryf dat die dorpe hul name dikwels op ’n onverwagte wyse verkry het:

“Het ligt voor de hand te denken dat Zuid-Afrikaanse plaatsen als Gouda en Marken hun naam te danken hebben aan Nederlandse immigranten die zich daar vestigden en hun nieuwe woonplaats vernoemden naar hun oude. Maar dat is vrijwel nergens het geval. Achter veruit de meeste Nederlandse plaatsnamen zit een ander, veel verrassender verhaal. Soms is zo ’n verhaal nog terug te vinden in bijna vergeten gedenk- en jubileumboekjes. Maar vaak kennen alleen de plaatselijke storievertellers het. Zeggen ze.” (p.6)

Dat hierdie stories nie altyd die waarheid vertel nie en dus min wetenskaplike gehalte besit, maak in hierdie boek nie saak nie. Dit wil mos nie voorgee om die waarheid te vertel nie, maar om op onderhoudende wyse ’n gedeelte van Suid-Afrika se geskiedenis weer te gee.

Dit sou tot De Graaff se nadeel kon wees dat hy ’n buitestander is. Sy krag is egter dat hy weet hoe om die buitestanderskap tot sy voordeel te gebruik. Mense is geneig om hom as toeskouer te sien en hul stories te vertel. Dan kan hy ’n objektiewe houding inneem. Die gevaar om jouself te verskuil agter jou buitestanderskap is wel aanwesig. Diegene wat egter De Graaff se kommentare as hoofredakteur van die Maandblad Zuid-Afrika ken, sal weet dat hy nie huiwerig is om politieke kommentaar te lewer nie. Ons kan dus aanvaar dat hy hierdie boek nie as die regte medium daarvoor beskou het nie.

“Ze klinkt bitter als ze zegt dat het allemaal de schuld van de politiek is.
Van politici die een gemors maken van het land.
Maar wat kan ons maak?
Wat kunnen we eraan doen?
Ik schud mijn hoofd. Ik ben maar een buitenlander.
Een toeschouwer.” (p.31)

Die boek eindig met die hoofstuk ‘Nawoord: jammer of niet?’ waarin hy ingaan op die pleknaamveranderinge wat in Suid-Afrika al vir jare opspraakwekkend is. Self is hy van mening dat die Nederlanders of die Nederlandse politiek hulle nie hierby moet inmeng nie. Op ’n persoonlike noot vind hy dit wel sleg dat die stories wat hy nou opgeteken het, ná naamsverandering oor een of twee geslagte uit die kollektiewe geheue sal verdwyn.

1599 Km tussen Amsterdam en Gouda word gekenmerk deur ’n gemaklike styl. Dit en die rubriekagtige samestelling – die afsonderlike dorpe word in kort hoofstukke beskryf – leen die boek uitstekend daartoe om gelees te word tydens ’n toer deur Suid-Afrika. Jy kan dit ook by die huis op ’n koue wintersdag voor die kaggelvuur met ’n glas Kaapse wyn byderhand geniet.

Comments are closed.

error: Content is protected !!