Protea Boekhuis: literêre vertalings uit Nederlands

Gerrit Komrij sterf: reaksies
Augustus 7, 2012
Nederlandse plekname in Suid-Afrika
Augustus 7, 2012

’n Nuwe boekwinkel het in 1992 in Hatfield, Pretoria se universiteitsbuurt, die lig gesien. Twintig jaar later het Protea Boekhuis ontwikkel tot ‘n groep akademiese boekwinkels met takke in Potchefstroom, Stellenbosch, Nelspruit, Bloemfontein en Kaapstad. Protea het sy ’n eie uitgewery, wat op die oomblik die derde grootste Afrikaanse uitgewer is.
Die boekhuis bevat twee groot afdelings: historiese werke waaronder Karel Schoeman se boeke, én vertalings.

In ’n e-posonderhoud noem stigter en direkteur Nicol Stassen dit “‘n besondere roeping om ’n  groot verskeidenheid Afrikaanse boeke aan die publiek beskikbaar te stel, te meer nog omdat die grootste kettinggroep-boekwinkels in Suid-Afrika ’n geweldig beperkte aantal Afrikaanse boeke aanhou.”
Protea is van die belangrikste Suid-Afrikaaanse skrywers se uitgewer, maar gee veral talle vertalings uit. Hoewel daar vertalings uit onder meer Latyn, Chinees, Japannees, Frans en Duits verskyn het, is Nederlandse vertalings bo-aan die lys.

Enige Nederlander of Vlaming wat in een van die takke se winkels rondstap, sal omring word deur herkenbare titels soos Vos en Haas, Minoes en Tikkop. Onder die groot suksesse reken Stassen Die Agterhuis van Anne Frank waarvoor vertaler Lina Spies die Akademieprys vir vertaalde werk , wat driejaarliks toegeken word, ontvang het, die boeke van Rien Poortvliet wat die prys vir vertaalde jeugboeke in Afrikaans ontvang het, die tydlose Koning van Katoren van Jan Terlouw en die gewilde Sprakeloos van Tom Lanoye.

Stassen wys daarop dat: “Oor die afgelope tien jaar het Protea Boekhuis se vertalings die meeste plaaslike pryse vir vertalings in Afrikaans gewen.” Nie net die toekennings wys op die sukses van die vertalings nie, ook die groot aantal vertalings. Boeke van die gewilde jeugboekeskrywer Annie M.G. Schmidt asook adolesenteromans van Anne Provoost is in Afrikaans vertaal.

Op die vraag hoe die keuse vir vertalings tot stand kom antwoord Stassen: “Dit word in ’n mate deur persoonlike voorkeure bepaal, maar oor die algemeen probeer ons die heel beste skrywers uit Nederlands in Afrikaans te vertaal. As die skrywer reeds in Suid-Afrika bekend is of Suid-Afrika dikwels besoek, is dit ’n bonus, want dit is makliker om die boeke van ’n bekende skrywer aan die publiek te bemark.”

So het Lina Spies na aanleiding van Arnon Grunberg se besoek aan die US Woordfees in 2011, begin om sy blitsverkoper Tirza te vertaal. Hierdie boek, wat twee belangrike Nederlandse pryse ingepalm het; die ‘Gouden Uil’ en die ‘Libris Literatuur Prijs’, is onder meer in Turks, Grieks en Hebreeus vertaal.

Daar is ’n hele paar Afrikaanssprekendes wat dit sal verkies om die oorspronklike Nederlands te lees. Ondanks die taalverwantskap tussen Afrikaans en Nederlands kan Afrikaanse lesers partykeer sukkel om die Nederlands te lees en sukkel van die Nederlandstalige lesers om die Afrikaans te verstaan, veral by ’n eerste kennismaking. Literêre vertalings bied ‘n oplossing. Waar vertalings in Nederlands Etienne van Heerden, Antjie Krog en Marlene van Niekerk se boeke aan Nederlanders en Vlaminge ’n blik op Suid-Afrika bied, bied die Afrikaanse vertalings van boeke uit Nederland en Vlaandere ’n venster op die Lae Lande.

error: Content is protected !!