Watter ideologie heers in Suid-Afrika?

Dwangideologieë en demokratiese weerstand: Die ervarings van Hongarye en Suid-Afrika
Augustus 7, 2012
Boek gee eerlike blik op kerkkrisis
Augustus 7, 2012

deur Dr. Wynand Boshoff, ‘n historikus van Orania.

Van die frustrasies wat Afrikaners in Suid-Afrika beleef, begin by die verwagting dat Suid-Afrika ‘n gelyke speelveld is. Suid-Afrika het immers een van die mees liberale grondwette ter wêreld en daarom word liberale waardes veronderstel. Watter ideologie heers egter in Suid-Afrika?

Ideologie-loosheid bestaan nie. Net die Liberalisme dink die lewe kan volgens objektiewe, ewige en universele waardes gelei word. Ander denkraamwerke, soos Nasionalisme, Kommunisme en nog ‘n lang lys word van ideologie beskuldig; asof dit ‘n oortreding is. Die liberale ideologie sien net die indiwidu raak; ander lewensverbande, soos gesin, kerk, volk, staat en klas is bloot “diensverskaffers” aan die vrye indiwidu. Dit glo aan ‘n gelyke speelveld en word deur sterk spelers verkies, soos die Britse Ryk, die VSA, of hedendaagse Afrikaners.

Suid-Afrika is ‘n kruispunt van onversoenbare ideologieë. Die Suid-Afrikaanse staat is deur liberale imperialisme tot stand gebring, in teenstelling met Afrikaner-nasionalisme. In die liberale “empire” is almal gelyk voor die wet. Die wet is in Engeland gemaak en weerspieël Engelse waardes. Enigeen wat die standaarde van die wet kon haal (in werklikheid: wat ‘n Engelsman word) is by die “beskaafde” samelewing ingesluit. Vir voorstanders was dit volkome regverdig. Terwyl sommige Afrikaners bevoorreg gevoel het om Engelse te mag word, het ander hulle eie volkskap nagestreef, soms ten koste van ekonomiese belange en met baie moeite. Tog kon hulle hulself teenoor ‘n kulturele oormag tot moderne Afrikanerskap uitbou. Dit was die ideologie van Nasionalisme.
Vir Afrikaners was ‘n strewe om nasionale selfbehoud só vanselfsprekend, dat dit ook in verhouding tot swart Suid-Afrikaners toegepas is. Afsonderlike ontwikkeling was ‘n poging om dit waarvoor Afrikaners met opoffering moes stry, op ‘n skinkbord aan swart volke te gee – met die naïewe verwagting dat swart volke nie op die res van die land sou aanspraak maak nie.

Toenemend ontstamde swart mense het hulle eers tot die liberale ideologie gewend. Dit was die strewe van, onder meer, die ANC tot in die 1940’s. Toe het ‘n draaipunt gekom. Hulle het hulself as die regmatige inwoners van die land gesien. Volgens die Freedom Charter van 1955 het die land aan almal behoort wat daarin woon, met herverdeling van hulpbronne sodat die meerderheid sy volle plek kon innneem. Charterisme, soos dit bekend geword het, is verskeie dekades deur Kommunisme beïnvloed. Afrikaniste het hulle teen Charterisme versit en gesê Afrika behoort aan Afrikane, Europese en Asiatiese afstammelinge uitgesluit.

Die kompromie van 1994 was ‘n liberaal-demokratiese grondwet. Met ‘n oorweldigende meerderheid het Charteriste niks meer as liberale demokrasie nodig gehad nie. Dit beteken nie Charteriste en Afrikaniste het skielik Liberaliste geword nie, net dat hulle ‘n weg gevind het waarlangs hulle ideale vervul kon word.

Afrikaners moet besef dat nie een van die drie ideologieë vir afsonderlike volksbestaan ruimte maak nie. As Afrikanerskap die volgende dekades oorleef, sal dit in weerwil van die staat wees. Daarom moet die Afrikaner sy toekoms en vryheid toenemend van die Suid-Afrikaanse staat losmaak.

Comments are closed.

error: Content is protected !!