Beraad wys nuwe ruimtes is nodig vir Afrikaans

Kulturele kapitaal se waarde vir sakelui
September 11, 2012
Op die boekrak: Rigtingbedonnerd. Op die spoor van die Afrikaner post-’94 – Fred de Vries
September 11, 2012

Deur Eugene Brink, ‘n senior navorser by die FAK se N.P. van Wyk Louw-Sentrum

Die onlangse FAK-taalberaad in Pretoria het net weer gewys hoe veelkantig en kompleks die stryd om die oorlewing en bevordering van Afrikaans is. Hoewel die sprekers nie ‘n wonderresep vir die taal se handhawing aangebied het nie, was daar algehele konsensus dat bestaande ruimtes uitgebrei en benut moet word terwyl nuwes  gevestig moet word.

Prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, het sterk klem gelê op die rol van gemeenskappe in die krag van ‘n taal. Gemeenskappe as instellings is immers die draers van ‘n bepaalde taal. Die lede van hierdie gemeenskappe gebruik ‘n taal op talle maniere en benut die beskikbare ruimtes om dit te praat, skryf, lees en daarin te filosofeer, planne te maak, te droom en te stry. Goosen het gebiedend aangevoer dat die stand van ‘n taal regstreeks aan die gesondheid van die gemeenskap gekoppel is. ‘n Klein taaltjie kan nie oorleef as die sprekers as vryswewende individue opereer nie. ‘n Sterk gemeenskap intensifiseer ook die gebruik van ‘n taal omdat daar nouer deur middel van, en binne, onder meer blogs, bepaalde media soos koerante, werksverhoudinge, konferensies, kultuurfeeste en interpersoonlike verhoudings gekommunikeer word.

Goosen se pleidooi om ‘n meer aktiewe gemeenskapslewe en gepaardgaande ruimtes bly egter nie daar nie. Hoewel hy voorspraak gemaak het vir ‘n breër, inklusiewe benadering tot gemeenskap, het hy desgelyks die skakerings van gemeenskappe binne die groter taalgemeenskap beklemtoon. Hy glo verskillende kultuurgemeenskappe word onderlê deur helde, terugslae, oorwinnings en ‘n gedeelde geskiedenis. Hierdie gedeelde betekenisse bind volgens hom ‘n gemeenskap en sy intellings saam. Hiermee erken hy dat Afrikaans deur verskillende gemeenskappe op hul eie manier gebesig word en in hul eie ruimtes terwyl dit eweneens ‘n gemene deler tussen ‘n klomp Afrikaanse kultuurgemeenskappe is.

Anastacia de Vries, senior joernalis by Rapport, het juis klem hierop in haar bydrae gelewer. Sy begin haar toespraak as volg: “My Afrikaans is die somtotaal én draer van al die kulture en subkulture in my gemeenskap, en van al die verskillende variante, waaronder die gestandaardiseerde vorm, waarmee ek te doen kry.” As Afrikaanse joernalis en draer van Kaapse Afrikaans, het sy talle ontwikkelinge vir die taal geïdentifiseer. Haar feite oor die kuberruim en veral die sosiale media is insiggewend. Hier kan die Afrikaanse gemeenskap elke dag en ongeag afstand met mekaar kommunikeer. Afrikaanse joernalistise twiet hul boodskappe en plaas dit op Facebook en só lewer die gemeenskap verder kommentaar. Rapport het byvoorbeeld byna dubbel soveel volgelinge op Twitter soos die koerant self! Met YouTube betree Afrikaans ook ‘n visuele sfeer, wat nuwe moontlikhede vir video-vervaardiging en die hoor en sien van die taal oopmaak. Met die drukmedia (en veral die Afrikaanse koerante) onder druk en jong mense wat toenemend na die nuwe media migreer, sal hierdie ruimte ten volle ontgin moet word vir Afrikaans om nie net ‘n gesproke taal te word nie ,maar ‘n lojale gemeenskap rondom die taal te gegenereer.

Die wetlike ruimtes is vir ‘n heterogene land en Afrikaans as minderheidstaal binne só ‘n land, van allergrootste belang. Prof. Steve Cornelius, hoogleraar in die regte aan die Universiteit van Pretoria (UP), het hier die Grondwet en ‘n hele boel ander wette te berde gebring om ten gunste van Afrikaans ingespan te word. Hy het eerstens benadruk dat die Grondwet enkelmediumskole en taalverenigings toelaat en dat hierdie ruimtes uitgebou moet word.

Daarna het hy verwys na ‘n hele boel ander wetgewing, wat onderontwikkelde ruimtes vir Afrikaans is. Die Nasionale Kredietwet magtig verbruikers om in hul taal – met inagneming van sekere faktore – inligting te ontvang en kredietverskaffers moet ‘n plan by die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) indien om ten minste twee amptelike tale te gebruik. Daar is geen rede hoekom Afrikaanse verbruikers in oorwegend Afrikaanse gebiede in Suid-Afrika nie in Afrikaans hul inligting kan ontvang nie. Gegewe Afrikaans se ekonomiese waarde en sy posisie as gevestigde handelstaal, moet die Afrikaanse gemeenskap daarop aandring dat ondernemings dit as taal naas Engels gebruik.

Nie net word daar sekere vereistes aan die private sektor gestel nie, maar die staat het ook spesifieke taalverpligtinge. Ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting kan ‘n staatsrekord slegs in die bestaande taal verskaf word (gewoonlik Engels) indien dit nie in die taal van die versoeker bestaan nie. Daarnaas moet die poskantoor in ‘n bepaalde gebied Engels asook die dominante taal gebruik. Hoewel hierdie wetgewing nie absolute en ongekwalifiseerde verpligtinge aan bestaande regerings- en private instellings ten gunste van Afrikaans opdwing nie, is daar duidelik heelwat ruimtes wat benut kan word. “Kan” is egter die operasionale woord omdat dit grotendeels eers deur ‘n bepaalde gemeenskap opgeëis moet word. Daar moet aangedring word op Afrikaans, anders gaan die meeste van hierdie ruimte onbenut bly.

Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, het daarna klem gelê op die waarde van Afrikaanse opleiding. Hy het gesê toe Solidariteit in 2006 begin het met sy Afrikaanse tegniese kollege, Sol-Tech, was die bedoeling nie om Afrikaans te bevorder nie, maar om gehalte-onderrig te lewer. “Maar dit is al bewys dat gehalte-onderrig die beste in jou moedertaal geskied,” het hy gesê. Volgens hom stem Afrikaanse studente ook met hul voete en gaan in groot getalle na instellings waar Afrikaans ‘n vaste staanplek het, soos byvoorbeeld die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus. Die volle reeks ruimtes binne die onderwyssektor is nog nie naastenby uitgeput in die strewe om Afrikaans te laat oorleef nie. Solidariteit se nuwe Afrikaanse telematiese tersiêre instelling, Akademia, bied reeds ‘n aantal kursusse aan en brei toenemend uit soos wat die vraag na sekere rigtings groei. ‘n Afrikaanse universiteit, genaamd Die Kampus, sal ook in die volgende paar jaar die lig sien. Hierdie feite spreek vanself. Soos wat die tradisionele Afrikaanse onderrigsinstellings soos skole, universiteite, universiteite van tegnologie en kolleges onder druk kom om te transformeer en in die proses Afrikaans af te skaal, los dit ou leemtes om nuwe ruimtes te laat verwesenlik.

Al hierdie besprekings rondom individuele Afrikaanse ruimtes, het gekulmineer in prof. Koos Malan, professor in Publiekreg aan die UP, se pleidooi om ‘n Afrikaanse stad. Hierdie stad bied ‘n metaruimte om die kleiner ruimtes saam te vat. Dit voltooi ook die Afrikaanse sirkel deurdat die Afrikaanse gemeenskap volgens hom ‘n onbelemmerde keuse vír Afrikaans kan maak omdat hulle dan ook hul arbeid daar kan aanwend in Afrikaans. In hierdie ruimte kan Afrikaans as ekonomiese en werkstaal tot sy reg kom. Hoewel die konseptualisering van só ‘n stad nie deur Malan behandel is nie, bied dit stof tot nadenke vir diegene wat Afrikaans wil lééf in alle dimensies van ‘n samelewing – veral in die werksomgewing waar ‘n mens so baie van jou tyd deurbring en waar Afrikaans ‘n groot kreeftegang beleef het.

Ofskoon hierdie ruimtes nog heelwat dinkwerk verg, bied dit reeds ‘n hele klomp idees wat die uitbou van Afrikaans betref. Kritiek belangrik is die lede van die Afrikaanse gemeenskap se onderlinge samewerking en debat oor die pad vorentoe. Die taalberaad was daarom ‘n belangrike stap in die regte rigting om Afikaans in al sy kontekste nuwe stukrag te gee en nuwe holtes vir sy voet(e) te skep.

Comments are closed.

error: Content is protected !!