Kom raak weer VROLIK saam met die FAK-sangbundel II

Sien ons jou by Aardklop?
September 11, 2012
Fak-sangbundel gevier
September 13, 2012

Deur Ilze NIeuwoudt

Meer as 75 jaar nadat die eerste FAK-sangbundel homself vir die eerste keer tuisgemaak het in die klaskamers, huise en harte van Suid-Afrikaners met liedjies soos “Sarie Marais”, “Aanstap Rooies” en “My hartjie my liefie” raak almal wéér plesierig. Hierdie keer doen hulle dit met die nuwe FAK-sangbundel: Volume II.

Dié bundel wat vir generasies reeds geliefde musiek uit die Afrikaanse musiekskatkis versamel, trek ʼn nuwe baadjie aan met 600 van die beste Afrikaanse liedjies van die afgelope sowat 30 jaar. Die musiek van legendes soos Steve Hofmeyr, Mimi Coertse, Chris Chameleon en Anton Goosen is in hierdie bundel vervat en sal dié musiek sing-sing laat voortleef vir nóg ʼn generasie.

Die bundel word op Saterdag, 6 Oktober by die Boeke-oase by die Aardklop-kunstefees bekendgestel. Toegang is gratis.

Die FAK-sangbundel II kos R450 (R50-posgeld uitgesluit).

FAK-sangbundel raak FEESTELIK by Aardklop
Die Sangbundel word amptelik tydens vanjaar se Aardklop-kunstefees, wat tussen 2 en 6 Oktober in Potchefstroom aangebied word, bekendgestel. Die bekendstelling word gevier met die FAK Fantasties-konsert op Vrydag, 5 Oktober om 20:00. Hierdie eenmalige vertoning sluit optredes met bekendes soos Theuns Jordaan, Jak de Priester, Anna Davel en Pieter Smith in. Besoek www.cloveraardklop.co.za vir meer inligting oor die konsert.

Bestel nou!
Bestel jou nuwe FAK-sangbundel. Plaas jou bestelling so: SMS “FAK” na 34388 (SMS’e kos R2), skakel 012 644 4329 of stuur ʼn e-pos na kraal@solidariteit.co.za. (Die normale prys van R450, R50-posgeld uitgesluit)

Sewe redes waarom jy kan VROLIK raak oor die nuwe Sangbundel
•    Dit het 600 nuwe liedjies wat die afgelope 30 jaar by die skatkis van Afrikaanse musiek gevoeg is.
•    Dit is gemik op die volgende generasie van musiekliefhebbers en bevat net musiek wat in die afgelope sowat 35 jaar uitgereik is. (Dus vorm geen liedjies van die vorige bundel deel van dié versameling liedjies nie.)
•    Liedjies in die immergroen- en kleinkunskategorieë het ook kitaardrukke.
•    Die melodielyne is eenvoudig uitgelê.
•    Dit bevat ure en ure se lekker saamsingliedjies vir die hele gesin.
•    Dit bewaar die musiek van legendes soos Christa Steyn, Lucas Maree en Koos du Plessis.
•    Die handige indeks is volgens titels en eerste reëls ingedeel.

Wat bied FAK-sangbundel: Volume II?

Ses verskillende musiekkategorieë is in die bundel ingesluit om sodoende die volle spektrum van Afrikaanse musiek in te sluit. Die kategorieë is:
•    Immergroen populêre musiek (soos “Agter elke man” en “De la Rey”)
•    Kleinkuns (soos “Vier seisoene kind” en “Kruidjie-roer-my-nie”)
•    Koorwerke (soos “Die Alibama” en “Gebed” deur Koos du Plessis)
•    Geestelike musiek (soos “Houtkruis” en Hy hou die hele wêreld in Sy hand”)
•    Kinderliedjies (soos “Die lappop” en “Morsjors”)
•    Kunsliedere (soos “O boereplaas” en “Kom dans Klaradyn”)

Comments are closed.

error: Content is protected !!