Kulturele kapitaal se waarde vir sakelui

Boekresensie: Boek wys op foute met politieke korrektheid
September 11, 2012
Beraad wys nuwe ruimtes is nodig vir Afrikaans
September 11, 2012

Deur Dr. Heinrich Matthee, hoof van die Pionier-Instituut in Nederland en navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy skryf hier in sy persoonlike hoedanigheid.

Hoe kan kultuurorganisasies hulle toegevoegde waarde aantoon vir moontlike sakevennote? Dit is ’n uitdaging vir kulturele organisasies in Suid-Afrika, maar ook in Europa tydens die ekonomiese krisis. Byna alle owerhede sny kultuursubsidies, skenkers werk suiniger met hul geld en beleggers is skepties.

Sakelui wat kultuur afskeep, is egter soos ’n boer wat sy plaas se watervoorraad laat wegsyfer. Dit blyk uit talle nuwe studies. Die Duitse ekonoom Gunnar Heinsohn en die Britse ekonomiese historikus Niall Ferguson skryf oor die invloed van kultuur op innovasie, werksetiek en ondernemingsgees. Ekonomiese antropoloë bevestig dat ‘n ekonomie nie net berus op sake-organisasies nie, maar ingebed is binne kulturele praktyke en instellings.

Sommige sakelui redeneer dat dit voordeliger is om net die wins af te skep solank dit moontlik is. Hulle stuur hulle nie aan die ekonomie se kulturele watervoorraad nie. Maar om die Spaanse filosoof Manuel Castells se uitspraak aan te pas: As ‘n mens dink dit is duur om kulturele kapitaal te versorg, probeer dan kulturele droogte.

Die kulturele sektor is dinamies: dit sluit benewens die kunste en erfenissake ook die massamedia, die mode- en ontwerpnywerheid, argitektuur en toerisme in. Dit oorvleuel selfs met plaaslike ontwikkeling en internasionale kultuurdiplomasie. Die FAK se idee van ’n Afrikaanse stad of die uitreik na Nederlandse Vriende van Afrikaans sluit naatloos hierby aan.

’n Kulturele sektor kan aansienlike lewensgehalte toevoeg: spirituele betekenis, estetiese gehalte en sosiale binding. Ook simboliese belangrikheid, historiese betekenis en uniekheid. Die kultuursektor in ’n stad is dus een van die kernoorwegings waarvolgens mense en organisasies  besluit om hulle in ’n plek te vestig. Daarom soek etlike sakelui in Den Haag byvoorbeeld steeds na goeie vennote onder kulturele ondernemers.

Die kulturele sektor in ‘n treffende landskap kan ook ’n unieke bemarkingswaarde en impuls vir ‘n plaaslike ekonomie skep: vra maar vir die Katalane in Barcelona en die dorpe van hulle Wildekus. Afrikaanssprekendes in die Wes-Kaap, Bosveld, Oos-Vrystaat en vele ander streke hoef geensins hiervoor terug te staan nie.

Sakelui is wel gewoond om sake-aktiwiteite te meet en dit bly moeilik om die waarde van kulturele goedere duidelik te meet. Die Australiese ekonoom David Throsby werk egter met begrippe wat die gesprek tussen kultuurorganisasies en sulke sake-vennote vergemaklik: kulturele kapitaal, wat kulturele goedere en dienste, kulturele waarde en -waardekettings, maar ook die kulturele ekostelsel van ’n gemeenskapslewe insluit.

Throsby meen dat kultuurgoedere ekonomiese kapitaalgoedere is, eerder as ekonomiese verbruikersgoedere. Hulle word verskillend waardeer in verskillende tydperke en daardie waardering berus op die kulturele ekostelsel: die kulturele netwerke en verhoudings wat menslike aktiwiteit ondersteun en die wisselwerking tussen lede van daardie gemeenskap. Dink maar hoe die lied oor generaal Koos de la Rey en die toneelstuk Ons vir jou beoordeel is.

Soms is die kommersiële waarde van produkte en dienste duidelik. Hoe kan ’n mens egter die volle kulturele waarde verstaanbaar maak vir moontlike beleggers en skenkers? Daar is immers nie ’n duidelike mark waar die regte op sulke goedere verwissel kan word nie.

Vyf dimensies van kulturele waarde wat Throsby wel noem is die bestaanswaarde, opsiewaarde, opvoedingswaarde, aansienwaarde, en erfeniswaarde.

Afrikaners heg byvoorbeeld onder meer ’n bestaanswaarde aan die Voortrekkermonument of Westerse wetenskapslaboratoria omdat hulle reeds bestaan. Dit is nie iets gerings nie: dit verg besonderse bydraes en geleentheidskoste om enigiets betekenisvol te skep of op te rig. Afrikaanssprekendes wil ook die opsie van ’n eie Akademia hê, want hulle mag vorentoe daarvan gebruik wil maak.

Opvoedingswaarde dui daarop dat Afrikaners weet die beskikbaarheid van byvoorbeeld kultuurfeeste dra by tot hulle of andere se belewing van hul kultuur. Mense weet ook sekere kulturele goedere en dienste geniet aansien by andere. Hulle sal byvoorbeeld operahuise ondersteun, al is dit soos die Koning van Napels op voorwaarde dat hulle nooit daar vertonings hoef by te woon nie!

Laastens, en waarskynlik die belangrikste, mense heg ’n erfeniswaarde aan Afrikaans en die denkers daarin, soos NP van Wyk Louw en vele ander. Dit is wat hulle van hulle voorgeslagte ontvang het en wat hulle as trustees aan hulle kinders wil nalaat.

Volgens Anton Rupert is die beste definisie van ’n onderneming dat dit ’n instansie is wat ‘n gemeenskap eerbaar dien, met ’n wins. Hopelik kan kultuurorganisasies daarin slaag om ook in saketaal sterk ondernemings te oortuig van die meerwaarde van samewerking.

Comments are closed.

error: Content is protected !!