Die Amerikaanse presidentsverkiesing – ’n FAK-perspektief

N.P.van Wyk Louw-Sentrum se mediaruimte binnekort bekend gestel
Oktober 10, 2012
OPROEP: hulpbron vir saaklike-formele Nederlands word ontwikkel
Oktober 10, 2012

Deur prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK

Watter betekenis het die Amerikaanse presidentsverkiesing vir Afrikaners? Het Afrikaners enige rede om in die verkiesing hulle – simboliese – steun aan byvoorbeeld Mitt Romney van die Republikeinse Party eerder as aan Barack Obama van die Demokratiese Party te gee?

Hieronder word ’n mening daaroor gewaag. Die mening is gegrond op ’n voorkeur vir die sogenaamde ‘konserwatiewe gedagte’. Beoordeel aan die hand daarvan is die vraag eenvoudig: Watter presidentskandidaat is die aangewese kandidaat om te steun, Obama of Romney?

Indien ’n mens die gangbare mening oor die aard van die konserwatiewe gedagte as maatstaf gebruik, sal die meeste lesers waarskynlik die afleiding maak dat hieronder steun vir Romney uitgespreek word. Laasgenoemde word immers in die gemoed van die media as ‘konserwatief’ eerder as ‘liberaal’ beskou.

Dit sou egter ’n verkeerde afleiding wees. Om vandag aansluiting by die konserwatiewe gedagte (soos onder meer verwoord deur Edmund Burke in die 18de eeu en Alexis de Tocqueville in die 19de eeu) te vind, beteken nog hoegenaamd nie om ’n keuse ten gunste van Romney uit te oefen nie.

Waarom nie? Die antwoord lê opgesluit in die toestand waarin die konserwatiewe gedagte hom vandag in die VSA bevind en in die besonder in die feit dat dié gedagte vir alle praktiese doeleindes nie deur enigeen van die twee kandidate vertolk word nie. Ook nie deur Mitt Romney, die sogenaamde konserwatiewe kandidaat nie.

Sam Tanenhaus, redakteur van die New York Times Book Review, is een van talle kommentators wat die afgelope tyd ’n saak daarvoor uitgemaak het dat die konserwatiewe gedagte vandag in ’n krisis is. In sy onlangse boek, The Death of Conservatism, skryf Tanenhaus dat dié gedagte sedert die era van George W. Bush en die heerskappy van die sogenaamde neo-konserwatiewes uit die Republikeinse Party gemigreer en só sterk aan invloed ingeboet het.

En laat daar geen twyfel daaroor wees nie, skryf Tanenhaus, die konserwatiewe gedagte verskil op ’n wesenlike wyse van Bush se neo-konserwatisme. As daar nog van die konserwatiewe gedagte in die Amerikaanse politiek sprake is, is spore daarvan – ironie der ironieë – eerder in die Demokratiese Party op te spoor! Die Republikeinse Party van die afgelope jare het, in weerwil van enkele gebare tot die teendeel, sy rug daarop gedraai.

Maar presies waar lê die verskil tussen die konserwatiewe gedagte en die neo-konserwatisme uit die Bush-era?

Hoewel hieroor boekdele geskryf kan word, blyk die verskil reeds uit die feit dat die neo-konserwatiewes aangevuur word deur die geloof in die abstrakte kultuur van universele menseregte en die arrogante wil om dit (selfs militêr) aan die ganse mensdom, ongeag godsdiens, kultuur of taal, op te dwing.

Daarenteen word die konserwatiewe gedagte van Burke en Tocqueville gekenmerk deur ’n sin vir tradisie eerder as ’n voorkeur vir abstrakte skemas; deur ’n diepliggende afkeer van universele missies (by wyse van onder meer militêre mag); deur ’n sin vir die feit dat die politieke lewe rondom die tradisionele opvattinge van die ‘goeie lewe’ en demokratiese deelname aan eie instellings eerder as die beroep op universele ‘regte’ draai; deur die gedagte dat die mens nie slegs ’n individu met regte is nie, maar in die eerste plek ’n gemeenskapswese met pligte en verantwoordelikhede teenoor die eie tradisie, kultuur en gemeenskap; en deur ’n politiek van nederigheid en nie ’n politiek van hubris met betrekking tot die buiteland nie.

Kortom, terwyl die neo-konserwatisme deur ’n grenslose optimisme in die Amerikaanse regte-kultuur gekenmerk word, word die konserwatiewe gedagte deur die idee van begrensing gestempel. ‘Grense’ is die wagwoord van die konserwatiewe gedagte, eerder as onbeperkte uitbreiding.

Terug na die Amerikaanse presidentsverkiesing. ’n Mens het goeie rede om te dink dat die huidige Republikeinse Party nog sterk deur die neo-konserwatisme uit die Bush-era beïnvloed word. Romney se buitelandse beleid steun daarom ook deurgaans op die ou neo-konserwatiewe gedagte om die Amerikaanse idee – as dit moet, met geweld – na buite uit te dra. Daarom ook die twyfel in die gemoed van diegene wat deur die konserwatiewe gedagte gemotiveer word om hoegenaamd hulle gewig agter Romney in te gooi.

En die Demokratiese Party? Verskil die neo-konserwatisme van die Republikeine werklik op ’n wesenlike wyse van die liberale uitgangspunte van die Demokratiese Party?

In weerwil van Tanenhaus se uitlating hierbo oor die konserwatiewe gedagte binne die Demokratiese Party moet dit ten sterkste betwyfel word. ‘Neo-konserwatief’ en ‘liberaal’ lê binne die Amerikaanse konteks bitter naby aan mekaar, in so ‘n mate dat dit teoreties dikwels moeilik is om tussen hulle te onderskei. Ten diepste is hulle spieëlbeelde van mekaar.

Albei berus op ’n tipiese liberale – individualistiese – beeld op die mens; albei word aangevuur deur die kultuur van universele menseregte en die gelyktydige afkeer van die idee dat die politieke lewe rondom die strewe na die ‘goeie’ en deelname aan eie sake draai; albei glo aan aansluiting by die liberale tradisie, aan die sogenaamde wonderwerking van die vrye mark, ensovoorts. As hier van verskille sprake is, is dit aksentverskille (minder of meer belasting, minder of meer staatsbetrokkenheid, ensovoorts) binne ’n gedeelte denkraamwerk.

Waar laat dit die konserwatiewe gedagte? Die allermeeste wat hieroor gesê kan word, is dat die komende verkiesing na alle waarskynlikheid die (hopelik tydelike) afwesigheid daarvan as ’n betekenisvolle krag in die Amerikaanse politiek gaan bevestig.

Comments are closed.

error: Content is protected !!