Die kat se baas kry piering FAK-room
November 5, 2012
Tim du Plessis: Toespraak by FAK prestige aand 2012
November 15, 2012

Nuwe FAK Sangbundel ’n monument vir Afrikaanse musiek

Met die viering van 75 jaar sedert die eerste FAK Sangbundel in 1937 sy verskyning gemaak het, word Afrikaanse musiek nou met ’n nuwe bundel vereer. Die nuwe FAK Sangbundel volume II, wat nou deur Kraal Uitgewers beskikbaar is, kan beskou word as ’n monument vir Afrikaanse musiek.

Dié geliefde bundel, wat reeds ’n instelling in derduisende klaskamers, huise en kerke geword het, trek vanjaar ’n totaal nuwe baadjie aan en staan daarom as die FAK Sangbundel volume II bekend. Liedjies soos “Aanstap Rooies” en “Sarie Marais” maak in dié bundel plek vir musiek wat hoofsaaklik sedert 1979 die lig gesien het. Werke van bekende Afrikaanse sangers soos Koos Kombuis, Anton Goosen, Laurika Rauch en Karin Zoid is in dié bundel ingesluit.

Volgens dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, is dié bundel ’n herdenking van Afrikaanse musiek van die afgelope sowat 33 jaar. “Afrikaanse musiek het in dié tyd ongekende groei beleef en wonderlike musiek is geskryf. Dié musiek mag nie verlore gaan nie en sal daarom deur die FAK Sangbundel as monument bly voortleef,” verduidelik hy.

Prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, bevestig die waarde van Afrikaanse musiek met sy bydrae in die voorwoord en skryf: “Die FAK Sangbundel volume II bewys op ’n oorweldigende wyse dat Afrikaanse volksmusiek ’n lewende, dinamiese en skeppende werklikheid is.” Hy hou vol dat dit vir enige lewende taal- en kultuurgemeenskap noodsaaklik is om tradisies te hê, maar ook om nuwe dinge te skep. “Die merkwaardige is dat albei hierdie dinge vandag in die Afrikaanssprekende taalgemeenskap gebeur.”

Medianavrae oor die bundel kan gerig word aan:
Lindie van Zyl
Kommunikasiebeampte
Sel: 084 421 0000

Die nuwe FAK Sangbundel volume II – in ’n neutedop
•    Dit bevat die lirieke en bladmusiek van sowat 400 nuwe liedjies wat die afgelope 30 jaar by die skatkis van Afrikaanse musiek gevoeg is.
•    Dit is gemik op die volgende generasie van musiekliefhebbers. (Dus vorm geen liedjies van die vorige bundel deel van dié versameling liedjies nie.)
•    Liedjies in die immergroen- en die kleinkunskategorie het ook kitaardrukke.
•    Die melodielyne is eenvoudig uitgelê.
•    Dit bevat ure en ure se lekker saamsingliedjies vir die hele gesin.
•    Dit bewaar die musiek van legendes soos Christa Steyn, Lucas Maree en Koos du Plessis.
•    Die nuttige indeks is volgens titels en eerste reëls ingedeel.

’n Kort geskiedenis van die FAK Sangbundel
•    Die eerste FAK Sangbundel het in 1937 verskyn en het 314 liedjies bevat.
•    ’n Hersiene uitgawe het in 1961 verskyn en het hierdie keer 400 liedjies bevat. Slegs sowat 160 liedjies van die oorspronklike bundel is weer in hierdie hersiene uitgawe ingesluit.
•    Die derde uitgawe is in 1979 tydens die FAK se 25ste bestaansvieringe uitgereik. Die liedjies in dié uitgawe is aansienlik aangepas om makliker speel- en singbaar te wees. Daar is selfs aan die taal in dié bundel geskaaf, aangesien talle woorde en frases wat nog uit die 1937-bundel kom, intussen verouderd geraak en in onbruik verval het.
•    In 2009 het die idee van ’n nuwe bundel ontstaan. Hierdie bundel word in 2012, op die 75ste verjaardag van die eerste bundel, uitgereik Dié keer is besluit om nie net ’n volgende uitgawe saam te stel nie, maar om ’n volledige nuwe bundel die lig te laat sien en sodoende die skatkis van Afrikaanse musiek wat sedert 1979 aansienlik uitgebrei het, te besing.

Waar is die bundel beskikbaar?
Die FAK Sangbundel volume II is beskikbaar by Kraal Uitgewers teen R450 (R50-posgeld uitgesluit). Die bundel kan op een van die volgende maniere bestel word:
–    SMS: Stuur die woord “FAK” na 34388 en ’n Kraal-verteenwoordiger sal jou skakel. (’n SMS kos R2.)
–    Faks: 086 714 1100
–    Tel: 012 644 4329
–    E-pos: kraal@solidariteit.co.za

Wat sê die sangers?
Wat is die mening van ’n paar van die sangers toe hulle die nuus kry dat van hul musiek in die nuwe bundel ingesluit gaan word?:
•    Koos Kombuis: “Dit is wonderlike nuus! Ek is ’n groot fan van die FAK.”
•    Chris Chameleon: “Dit is ’n groot eer om hiervoor in aanmerking te kom. Ek het self as kind uit die FAK gesing en het nooit kon droom ek sal self ooit my werk daarin gewaar nie!”
•    Elizabeth Fourie: “Toe ek die nuus gekry het dat my liedjies in die nuwe FAK Sangbundel gaan wees, kon ek nie trotser gewees het nie. Ek kan nie wag vir die nuwe bundel nie.”
•    Johan C Venter (van die groep Flip a Coin): “Wat ’n ongelooflike voorreg! Ek is uit my vel!”

Wat bied die FAK Sangbundel volume II?
Ses verskillende musiekkategorieë is in die bundel ingesluit om sodoende die volle spektrum van Afrikaanse musiek te dek. Die kategorieë is soos volg:

•    Immergroen en populêr (soos “Agter elke man” en “De la Rey”)
Die bekendste Afrikaanse liedjies is by dié kategorie ingesluit en het ’n streng keurings- en eliminasieproses ondergaan. Die gewilde televisieprogram, Noot vir Noot, se liedjielys is ook as riglyn vir die samestelling van dié kategorie se inhoud gebruik.

•    Kleinkuns (soos “Vier seisoene kind” en “Kruidjie-roer-my-nie”)
Liedjies in hierdie kategorie is gekies vir hul artistieke bydrae. Dus is dit kuns wat ter wille van die artistieke geskep is, eerder as die kwessies van gewildheid of winsbejag. Eenvoud, musikale integriteit en respek vir taalelemente (soos korrekte taalgebruik) is hier in ag geneem. Christa Steyn, Jannie du Toit en Katrien Holm was nou by die samestelling van dié kategorie betrokke.

•    Kuns (soos “O Boereplaas” en “Kom dans, Klaradyn”)
Dié kategorie bring veral hulde aan komponiste wat die wonder van Afrikaanse digkuns in treffende musiek omskep. Dié kuns, wat sy oorsprong in Europa het, ontwikkel steeds in Suid-Afrika en van die mooiste Afrikaanse gedigte, met roerende melodieë en aangrypende klavierbegeleidings, is al op dié manier vasgevang en verewig. Mimi Coertse en Wessel van Wyk het die samestelling van die rubriek hanteer. Dit sluit onder meer kunsliedere deur bekende komponiste soos S. le Roux Marais, Rosa Nepgen en Pieter de Villiers en jonger komponiste soos Hendrik Hofmeyr en Niel van der Watt in.

•    Koor (soos “Die Alibama” en “Gebed” deur Koos du Plessis)
Die musiek in die koorkategorie is gekies sodat dit singbaar en gebruikersvriendelik is vir enige tipe koor. Daarbenewens is daar besluit op ’n balans tussen sekulêre en geestelike werke wat reeds hulself as goeie koorstukke bewys het. Musiekstukke van verskillende moeilikheidsvlakke is in die kategorie ingesluit en deur kenners Niel van der Watt, Renette Bouwer, Petru Gräbe en Johann van der Sandt aanbeveel.

•    Geestelik (soos “Houtkruis” en “Hy hou die hele wêreld in Sy[sy] hand”)
Bekende en tydlose geestelike liedere is in dié kategorie ingesluit. ’n Breedvoerige lys is oorspronklik saamgestel en na aanleiding van ’n intensiewe keuringsproses is uiteindelik op die liedere in die kategorie besluit. Colin Campbell en Cassie Carstens het as rubriekleiers opgetree.

•    Kindermusiek (soos “Die lappop” en “Morsjors”)
Rubriekleiers Elsbeth Hugo en Renea van Tonder het die liedjies in dié kategorie gekies op grond van temas wat in onder meer kleuterskole gebruik word, wat gemaklik sing, geliefd is en sedert 1979 ontstaan het. Daar is ook besluit op korter liedjies waarvan die begeleiding nie te ingewikkeld is nie en wat ’n eenvoudige melodiese en ritmiese struktuur het. Die rubriek is in twee dele gedeel (die eerste bevat eenvoudige, kort liedjies met temas oor onder meer familie en diere terwyl die tweede deel se liedjies effens langer is en veral ook geskik is vir konsertitems).

Comments are closed.

error: Content is protected !!