DE POSITIE VAN HET AFRIKAANS IN ZUID-AFRIKA
Desember 3, 2012
Profiel: J.H. de la Rey
Desember 10, 2012

Inleiding

Andries Pretorius kan as die belangrikste leier in die Voortrekkergeskiedenis gereken word. Buiten vir sy leiding tydens die trek, het hy dit ook beëindig deur Britse erkenning vir die Voortrekkers se onafhanklikheid te bewerkstellig. Die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR of latere Transvaal) en Republiek van die Oranje Vrystaat (OVS) is deel van Pretorius se erfenis.

Biografiese gegewens

Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius is op 17 November 1798 in die Graaff-Reinet-distrik tydens die eerste Britse besetting van die Kaap gebore. Graaff-Reinet was die mees oostelike distrik van die kolonie en die omgewing waar kontak tussen pionier veeboere (latere Afrikaners) en Xhosasprekende stamme somtyds vyandig geraak het. Ons weet nie veel van sy vroeëre lewe nie, behalwe dat hy ‘n welvarende boer en ‘n leiersfiguur in sy omgewing geword het.

In 1818 is Andries Pretorius met Christina Petronella de Wit getroud. Hulle het sewe dogters en drie seuns gehad. In 1848, toe Pretorius met ‘n militêre veldtog besig was, is sy vrou oorlede. In die volgende jaar is hy met die negentienjarige Petronella de Lange getroud.

Tydens 1838 het Pretorius met sy geselskap die Kaapkolonie verlaat om by die Voortrekkers in Natal aan te sluit. Nog voor sy aankoms het al die erkende leiers weggeval, met Piet Retief wat vroeg die jaar in opdrag van Dingaan, koning van die Zoeloes, vermoor is, Piet Uys wat tydens ‘n skermutseling met die Zoeloes gesneuwel het, Gerrit Maritz wat aan siekte oorlede is en Hendrik Potgieter wat Natal verlaat en na die latere Transvaal vertrek het.

Met sy aankoms is Pretorius dadelik as leier aanvaar en het ‘n suksesvolle veldtog teen die Zoeloes geloods. Meer besonderhede daaroor volg in die volgende afdeling. Hy het ook leiding in die oprigting van die Republiek van Natalia geneem, hoewel die grondwet nie vir die amp van president voorsiening gemaak het nie. Die Britse oorname van hierdie republiek word ook in die volgende afdeling bespreek. Die belangrikste is om in hierdie afdeling te noem, is dat Pretorius teen 1842 deur Boere, Britte en swart stamme as ‘n politieke en militêre leier gerespekteer is.

Van 1842 tot 1848 het Pretorius as ‘n Britse onderdaan in Natal aangebly. In daardie jaar is Britse gesag tot aan die Vaalrivier uitgebrei en Pretorius het besluit om noord daarvan, in die omgewing van die Magaliesberg te vestig. Hoewel alle inwoners van die gebied nie sy leiding aanvaar het nie, het hy tog namens hulle met die Britse owerhede onderhandel. Daardeur het hy erkenning vir die Boererepublieke se onafhanklikheid beding.

Die vete wat tussen Pretorius se volgelinge en die van Andries Hendrik Potgieter geheers het, is in 1852 besleg toe die twee leiers naby Rustenburg ontmoet het.

Op 23 Julie 1853 is Andries Pretorius op 54-jarige ouderdom in sy huis oorlede. Twee jaar later is die nuwe hoofstad van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR en later Transvaal), na Andries Pretorius vernoem, naamlik Pretoria. Sy seun, Marthinus Wessel, was ook bestem om ‘n belangrike rol in die republiek se geskiedenis te speel.

Openbare lewe

Andries Pretorius se openbare loopbaan het begin toe hy met die Sesde Grensoorlog in 1836 as ‘n aanvoerder oor 800 burgers in die burgermag aangestel is. Dit sou nie moontlik wees as hy nie die vertroue van sowel sy mede-boere as die Britse owerhede gehad het nie. Hy was nie onder diegene wat direk na die vredesluiting die kolonie verlaat het nie.

Teen die einde van 1837 het Pretorius na die Voortrekkers vertrek om ondersoek na die verloop van die Trek in te stel. Hy het by verskillende trekgeselskappe aangedoen en selfs aan enkele militêre veldtogte deelgeneem. Die ondersoek het hy namens ‘n hele groep oosgrens-bewoners gedoen, want sy gunstige verslag het daartoe gelei dat ‘n hele geselskap hulle plase in die mark gesit en voorbereidings vir die Trek getref het.

Pretorius en sy geselskap het van die Voortrekkers se teenspoed in Natal gedurende 1838 kennis geneem, sonder dat dit hulle verbintenis tot die Trek gebreek het. Tog het dit hulle planne gewysig, want die Trekkers in Natal het dringend ‘n aanvoerder vir hulle strafkommando teen Dingaan nodig gehad. Pretorius se reputasie as militêre aanvoerder was sterk en hy is gevra om by hulle aan te sluit. Dit was nie moontlik om met sy hele geselskap betyds in Natal aan te kom nie, waarop hy besluit het om sy geselskap in die latere Vrystaat agter te laat en hom te perd Natal toe te haas.

By die Voortrekkerlaer aangekom het hy mense aangetref wat aan die een kant moedeloos na aanleiding van die rampspoedige jaar was, maar aan die ander kant ook goed voorbereid. Gerrit Maritz het naamlik voor sy dood ‘n strafkommando beplan en voorbereidings op tou gesit. Volgens sy ervaring sou die Voortrekkers met ‘n walaer slaag, maar nie met ‘n perdekommando nie. Die kommando moes slegs uit weerbare mans bestaan en beweeglik wees. Hy het opdrag gegee dat veghekke gemaak moes word, sodat die waens as ‘n beskermende laer getrek word en die openinge binne minute met voorafvervaardigde hekke gesluit moes word. Tevore was die gebruik om elke dag takke vir dié doel te kap.

Andries Pretorius se sterk persoonlikheid en selfversekerdheid het die gemoedere gelig en die voorbereidings is afgehandel. Hy het goed by die gemeenskap ingeskakel en volle gebruik van gevestigde leiersfigure soos Karel Landman en Sarel Cilliers gemaak. Hoewel daar nie sekerheid oor is nie, is aanduidings sterk dat die gedagte van ‘n Gelofte aan God van Pretorius gekom het. Hy het dit aan Cilliers, die geestelike leier, genoem, wat eers baie huiwerig was.

Die slag van Bloedrivier is die bekendste prestasie van Pretorius se loopbaan. Sonder om volledige besonderhede van die slag te gee, kan ‘n mens noem dat sy strategiese en taktiese besluite ‘n groot rol in die Voortrekkers se oorwinning gespeel het. Dit het nog meer as ‘n jaar geneem om die mag van Dingaan finaal te breek.

Dit was vir Pretorius duidelik dat hy Dingaan se mag moes breek, maar nie die mag van die Zoeloevolk nie. Met die Voortrekkers se beperkte mag sou hulle dit nie kon regkry nie, maar hy het besef dat dit ook nie in hulle belang sou wees nie. Hy wou ‘n koning in Dingaan se plek hê wat die Voortrekkers goedgesind sou wees en die grondtransaksie tussen Retief en Dingaan sou respekteer. Hy het so ‘n persoon in Dingaan en Shaka se ander halfbroer, Mpande, gevind. Met Voortrekkerhulp het Mpande die oorhand in die Zoeloes se interne magstryd gekry en was van 1840 tot met sy dood in 1872 die Zoeloekoning.

Pretorius het ‘n belangrike rol in die vestiging van die Republiek van Natalia gespeel, veral as kommandant-generaal (militêre aanvoerder). Aanvanklik was hulle grootste probleem dat baie Zoeloes nie die grensreëlings eerbiedig het nie. In 1842 het ‘n veel groter probleem opgedoem toe ‘n Britse mag per see Natal toe gevaar en in Port Natal (latere Durban) aan wal wou gaan.

Pretorius en sy mag het die Britse mag in die slag van Congella verras. Hulle het die Britse mag verhinder om aan wal te stap en ook om weer by die baai se noue ingang uit te vaar. Die enigste veiligheid was in die middel van die baai, buite bereik van die voorlaaiervuur. Daar kon hulle egter nie onbepaald bly nie, want kos en vars water was beperk. Die Britse uitkoms is deur ‘n Engelsman in Port Natal, Dick King, bewerkstellig. Hy het te perd Grahamstad toe gejaag, sodat die Britte met versterkings opgedaag het.

Pretorius, wat intussen kontak met die Voortrekkers in die latere Vrystaat en Transvaal opgebou het, moes op die beste optrede besluit. Die verenigde republiek van Winburg-Natalia het alle Voortrekkers verenig, al was dit net in naam. Die Natalia dbesluit. Die verenigde republiek van Winburg-Natalia het alle Voortrekkers verenig, al was dit net in naam. Die Natalia deel van dié selfverklaarde republiek was nou in Britse hande en Pretorius moes daar aanbly of by die ander Voortrekkers aansluit.

Die ekonomiese voordele van Natal se ligging het vir Pretorius steeds swaar geweeg. Volgens beloftes sou die Voortrekkers steeds ‘n belangrike rol in die bestuur van die kolonie speel en Pretorius het dit as ‘n verbetering bo die Kaapkolonie, waar hulle toe bitter min seggenskap gehad het, beskou. Hy het die meeste van sy mense daarom oortuig om in Natal aan te bly.

Die beloftes is nie bewaarheid nie en die Britse owerheid het deur die nuwe goewerneur aan die Kaap, sir Harry Smith, sy gesag selfs oor die deel tussen die Oranje- en Vaalriviere uitgebrei. Pretorius het besef dat die Voortrekkers buite bereik van die Britse owerheid moes wees, as hulle enigsins onafhanklik wou wees. Daarom het hy en ‘n groot deel van sy volgelinge in 1848 na die gebied noord van die Vaalrivier getrek.

In die “Overvaal” was daar geen eensgesindheid onder die Voortrekkers nie. Een groep, met Potchefstroom as sentrale plek, het die verkose Volksraad, wat die ooreenkoms met Natalia gesluit het, gesteun. Nog ‘n groep het in die verre noorde aan die voet van die Soutpansberg gewoon. Hulle was volgelinge van Hendrik Potgieter en het nie die gesag van die Volksraad erken nie. Nog ‘n groep het rondom Lydenburg in die ooste gewoon. Pretorius wou graag sien dat al hierdie groepe met mekaar versoen. Hyself het in die Magaliesberge, wes van die huidige Pretoria, gaan woon.

Pretorius was nog nie goed gevestig nie, toe Voortrekkers uit die gebied tussen die Oranje- en Vaalriviere hom versoek het om hulle in ‘n militêre veldtog teen Britse oorheersing te lei. Hy het dit gedoen en by die slag van Boomplaats byna ‘n Britse mag wat die “opstand” moes onderdruk, in ‘n hinderlaag gelei. ‘n Geweerskoot aan Boerekant het te vroeg afgegaag en die Engelse gewaarsku voor hulle behoorlik in die hinderlaag was. Die uitslag was onbeslis, maar die Britte was woedend dat Pretorius bereid was om hulle militêr teen te staan. ‘n Groot bedrag is as beloning vir enigeen wat Pretorius lewend of dood kon uitlewer, uitgeloof. Pretorius het na sy plaas in die Magaliesberge teruggekeer.

Hoewel Pretorius voortvlugtig was, het hy besef dat die Voortrekkers een of ander tyd met die Britse owerheid moes onderhandel. ‘n Ordelike staats sou nie tot stand kom voor Brittanje nie die Voortrekkers se onafhanklikheid erken het nie. Volgens die Britse regering was al die Voortrekkers nog Britse burgers wat onwettig buite die grense van die Kaapkolonie gewoon het. Die Trek het ‘n kultuur van tydelikheid laat posvat, wat maklik tot geestelike verwildering kon lei. Vir Pretorius was dit noodsaaklik dat ‘n orde tot stand moes kom, waarin gesonde kerklewe, regering en onderwys gevvestig moes word. Daarvoor was Britse erkenning noodsaaklik.

In Brittanje self het die klimaat ongunstig vir groot gronduitbreidings geword. Die geweldige koste om uitgestrekte stukke grond met min (indien enige) ekonomiese voordele te verdedig, het ongewild geraak. Die owerheid aan die Kaap is opdrag gegee om uitbreiding te staak en hulleself tot die Kaapkolonie en Natal te beperk. Pretorius, as enigste leier wat ook deur die Engelse hoog geag is, is genooi om met hulle in gesprek te tree. Die losprys op sy kop is vir die doel opgehef.

Pretorius het nie besef wat die Britse planne was nie en hulle besoek sonder om ‘n mandaat van die Volksraad vir enige belangrike besluite te kry. In die omgewing van die huidige Ventersburg in die Vrystaat, het die twee afvaardigings mekaar ontmoet. Toe Pretorius besef dat Britse erkenning vir Voortrekker-onafhanklikheid moontlik was, het hy besluit om die yster te smee terwyl dit warm was. Hy het die sogenaamde Sandrivier Konvensie gesluit, waarvolgens die gebied noord van die Vaalrivier as die Zuid-Afrikaansche Republiek tot stand gebring is. As die kans deur die vingers glip, het hy geweet, sou politiek in Engeland weer verander en so ‘n ooreenkoms sou nie weer moontlik wees nie.

Dit was ‘n omgekrapte Volksraad wat Pretorius in Potchefstroom ingewag het, om nie van die Potgieter-mense verder noord te praat nie. Hy het ‘n ooreenkoms gesluit wat hulle almal betrek het, sonder enige opdrag om dit te doen. Pretorius se verweer was eenvoudig, dat hy nie geweet het wat die doel met die byeenkoms was nie en dat dit maande sou neem om goedkeuring van die Volksraad te kry en weer met die Britse owerhede ‘n ooreenkoms te bereik. Die Volksraad het sy optrede terugwerkend goedgekeur, sodat dit voortaan die status van wetgewende vergadering van ‘n onafhanklike republiek gehad het.

Potgieter en sy volgelinge was moeiliker om tevrede te stel. Ondersteuners van die twee leiers het hulle na samesprekings vergesel. Hulle was gewapen en die atmosfeer was plofbaar. Potgieter en Pretorius het alleen ‘n tent binnegegaan en ure met mekaar beraadslaag. Toe hulle uitkom, het hulle voor almal mekaar die hand gegee, as simbool dat hulle verskille uitgestryk was. Ongelukkig is albei leiers kort daarna dood, voor die ooreenkoms tasbare resultate kon hê. Verdeeldheid tussen die groepe het nog vir etlike jare die ZAR ontsier en byna tot burgeroorlog gelei.

In die kort tyd wat Pretorius ‘n leier in die ZAR was, het hy ook op ‘n veldtog teen Tswana-stamme in die weste gegaan, wat nie ZAR-gesag wou aanvaar nie.

In 1853 is Pretorius oorlede. Sy ouderdom van 54 klink vandag jonk, maar in daardie tyd was dit ‘n gevorderde leeftyd. Dit was uitsonderlik vir mense om ouer as 60 te word. Sy erfenis is na sy dood deur sy seun, Marthinus Wessel, voortgesit. Hy het hard gewerk om eenheid onder republikeinse Afrikaners te bewerkstellig, maar was nie so ‘n sterk leier soos sy pa nie. Hy het wel ‘n nuwe hoofstad gestig, wat na Andries Pretorius vernoem is – Pretoria.

Slot

Andries Pretorius was die eerste Afrikaner wat as ‘n staatsman beskryf kan word. Dit is onmoontlik om te bereken hoe die Afrikaner se geskiedenis sou verloop het as hy nie onafhanklikheid vir die Voortrekkers beding het nie. Omdat hy ‘n groot visie gehad het, saam met die geleentheid om veel daarvan te verwerklik, kan hy die grootste van die Trekleiers genoem word.

Comments are closed.

error: Content is protected !!