Profiel: J.H. de la Rey
Desember 10, 2012
Profiel: Staatspresident S.J.P. (Oom Paul) Kruger
Desember 10, 2012

 

Inleiding

Marthinus Theunis Steyn was president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 uitgebreek het. In sekere opsigte was hy die teenoorgestelde van Paul Kruger, president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) of Transvaal. Steyn was nog redelik jonk, in die Vrystaat gebore toe die Groot Trek al iets van die verlede was, fyn afgerond, wel belese met ’n Europese graad in die regte agter sy naam en getroud met die dogter van ’n vooraanstaande Engelse predikant in die NG Kerk. In ’n sin kan mens sê M.T. Steyn was die eerste moderne Afrikanerleier.

Steyn het regdeur die oorlog in die veld gebly en was ’n reuse inspirasie vir die burgers van albei republieke. Sy gesondheid is ernstig deur die oorlog geknou. Daarom kon hy nie na die oorlog by die regering van sy land betrokke raak nie. Tog was hy aktief betrokke by verskeie programme in die heropbou van die platgeslane Afrikanervolk.

’n Volk se kollektiewe geheue is nie altyd regverdig teenoor historiese karakters nie. As dit was, sou M.T. Steyn ’n baie meer prominente plek daarin gehad het.

Biografiese gegewens

M.T. Steyn is in 1857 in die Winburg-distrik gebore. Sy pa was ’n lid van die Vrystaatse volksraad en welvarend genoeg om hierdie seun te laat studeer – iets wat destyds in die Boererepublieke nie volop was nie. Hy het eers aan die Grey Kollege in Bloemfontein skoolgegaan en daarna regte in Leiden, Nederland en in Engeland studeer.

Toe Steyn in 1882 tot die Britse balie toegelaat is (die reg verkry het om as advokaat te praktiseer) kon hy die kans gebruik het om ’n regsloopbaan in die magtigste land van sy tyd te volg. Tog besluit hy om na die Vrystaat terug te keer, wat destyds maar ’n onbenullige landjie met bykans geen rykdom was nie. Tot 1989 was hy prokureur in Bloemfontein.

Die jong M.T. Steyn trou met Tibbie (Rachel Isabella) Fraser. Haar pa was een van die Engelssprekende predikante van die NG Kerk, wat deur die Kaapse owerheid na Suid-Afrika gelok is om Afrikaners te verengels. Hoewel dominee Fraser Engelssprekend gebly het, het hy met sy Afrikanergemeente van Philippolis vereenselwig. Hulle het vyf kinders gehad en hulle nageslag speel tot vandag toe ’n belangrike rol in Bloemfontein.

In 1889 word Steyn prokureur-generaal van die Oranje-Vrystaat en later in dieselfde jaar regter. Na ’n suksesvolle verkiesingsveldtog word hy in 1896 as president van die Oranje Vrystaat ingehuldig. In hierdie pos het hy aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem en telkens daarin geslaag om die Britse magte te ontglip.

Toe die oorlog verby was, was president Steyn se gesondheid geknak. Hy het tot in 1904 behandeling in Europa ontvang, waarna hy na die Vrystaat teruggekeer het. Hoewel hy weer aktief aan die openbare lewe deelgeneem het, was dit nooit weer met die energie wat sy presidentskap gekenmerk het nie.

Tydens en na die Rebellie van 1914 het Steyn sy bes gedoen om die belange van die Afrikanervolk te dien. Dit was juis by so ’n geleentheid, toe hy die Oranje Vroue Vereniging in Bloemfontein toegespreek het, wat hy op 58 jaar aan ’n hartaanval dood is. Hy is aan die voet van die Vrouemonument in die stad begrawe.

Openbare lewe

M.T. Steyn se openbare lewe het in 1889 begin, toe hy prokureur-generaal van die Oranje-Vrystaat geword het.

Die Vrystaat is dikwels as ’n modelrepubliek beskryf. Die rede is dat dit ’n redelik kompakte land met (in Suid-Afrikaanse terme) ’n betroubare klimaat en goeie landbougrond. Toe diamante in 1866 by die huidige Kimberley ontdek is, het die Vrystaat geglo dat dit binne hulle grense val. President Jan Brand het die dispuut daaroor wys hanteer. Hoewel die Vrystaat die diamantvelde verloor het, kon hy Brittanje oorreed om ’n aansienlike som geld aan die republiek as skadevergoeding te betaal. Hy het die fondse gebruik om ’n doeltreffende staatsdiens tot stand te bring. Nog ’n voordeel was dat daar ’n mark vir Vrystaatse landbouprodukte was, sonder die probleme wat dit sou inhou om so ’n delwersgebied met mense van oral oor die wêreld te regeer.

Die Vrystaat het daarin geslaag om sy onafhanklikheid te behou, maar tog goeie verhoudings met Engeland en die Kaapkolonie te handhaaf. Hoewel die meerderheid van die bevolking Afrikaners was, was daar ’n sterk Engelse element, veral in Bloemfontein. Die Vrystaat sou mettertyd moes kies tussen vriendskap met die ZAR of met Engeland.

President Brand is deur nog ’n bekwame president, F.W. Reitz, opgevolg. Toe Reitz in 1895 bedank het, het die nasionaalgesindes vir Steyn as president benoem. Sy opponent was sy vrou se oom, Colin Fraser. Steyn het egter met ’n groot meerderheid gewen.

As president het Steyn goeie verhoudings met al die Suider-Afrikaanse state probeer handhaaf. Met die dreigende botsing tussen die ZAR en die Britse Ryk was dit al moeiliker. Hy het president Paul Kruger van die ZAR probeer beïnvloed om meer toegeeflik teenoor die “Uitlanders” op die Transvaalse goudvelde te wees. Hy het ook herhaaldelik as bemiddelaar tussen Kruger en die Britse Hoë Kommissaris, lord Alfred Milner, en Kruger opgetree. Die laaste keer was in 1899 by die sogenaamde Bloemfonteinse Konferensie, waar hy die twee partye vergeefs tot ’n ooreenkoms probeer bring het.

Die konferensie het Steyn by ’n kruispad gebring. Dit sou vir die Vrystaat moontlik wees om hom van die konflik te distansieer. Steyn was egter oortuig dat dit ’n eerlose weg sou wees om te volg. Dit was vir hom duidelik dat Milner oorlog wou hê en dat geen toegewings van die ZAR dit sou voorkom nie. Boonop wou hy die hele Suider-Afrika onder die Britse vlag hê en Vrystaatse neutraliteit sou nie sy onafhanklikheid waarborg nie. Dit sou eerder vir Brittanje makliker wees om die republieke een-een te verower.

President Steyn het die moeilike weg gevolg en die Vrystaat vir oorlog voorberei. Toe die ZAR op 11 Oktober 1899 oorlog teen die Britse Ryk verklaar het, was die Vrystaat deel daarvan. Steyn het die Vrystaatse oorlogspoging vanuit Bloemfontein gekoördineer, totdat die hoofstad in 1900 ingeneem is. Van die mees noodsaaklike benodigdhede is op ’n wa gelaai en Steyn het in generaal Christiaan de Wet se kommando ’n “reisende hoofstad” gevorm.

As reisende president het Steyn ’n deurslaggewende rol gespeel om die oorlog voort te sit. Hy het met aanvoerders van die Vrystaat en Transvaal beraadslaag en belangrike strategiese besluite geneem. Toe Pretoria etlike weke later ingeneem is, was die Transvaalse leiers, president Kruger ingesluit, moedeloos. In briewe aan Steyn het hulle die vraag gevra of die oorlog nog die moeite werd was. Steyn het glad nie vriendelik daarop gereageer nie. Hy het gesê dat sy republiek alles op die altaar geplaas het vir ’n oorlog wat eintlik die Transvalers s’n was. As hulle dan so maklik van stryk gebring kon word, hy en die Vrystaters kon nie. Hy het verklaar dat die Vrystaat nooit sou oorgee nie.

In die twee jaar wat gevolg het, was die dapperheid en vernuf van De Wet as militêre aanvoerder en die waardigheid en wysheid van Steyn as politieke leier vir alle Boere ’n inspirasie. Tot met die finale onderhandelings in 1902 was Steyn teen oorgawe gekant. Toe die Vrede van Vereeniging op 31 Mei in Pretoria geteken moes word, was Steyn siek. De Wet het in sy plek die verdrag geteken. So het ’n belofte dat hy nooit sy hand op papier sou sit om sy land se vryheid weg te teken nie, waar geword.

Na Steyn se terugkeer na die Vrystaat in 1904 was hy weer in die openbare lewe betrokke. Politieke, ekonomiese en sosiale herstel van sy verslane volksgenote was vir hom uiters belangrik. Hy was by byna elke aksie wat daarmee te doen gehad het, betrokke, veral in die onderwys. In die Unie van Suid-Afrika wat in 1910 gestig is, het hy egter nie ’n aktiewe politieke rol gespeel nie.

Die jaar 1914 was vir Steyn moeilik. Hy het steeds die herstel van sy volk se vryheid nagestreef, maar sy kamerade in die Anglo-Boereoorlog was verdeeld daaroor. Generaals Louis Botha (Eerste Minister) en Jan Smuts het versoening met Brittanje aktief nagestreef. Ander generaals, soos Hertzog, De Wet, De la Rey en Beyers wou Afrikanerskap handhaaf, en indien moontlik, vryheid herstel. Hertzog en Smuts was ministers in Botha se kabinet, De la Rey ’n senator en Beyers hoof van die nuutgestigte Suid-Afrikaanse Weermag. Al hierdie mense het Steyn se oordeel hoog geag en dikwels sy advies gevra.

Gedurende 1914 is Hertzog uit die kabinet weggelaat en het ’n nuwe party, die Nasionale Party, gestig. Steyn was dit goedgesind. Intussen het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek. Smuts en Botha was van plan om Brittanje teen Duitsland by te staan, onder ander deur Namibië (destyds Duitswes-Afrika) te verower. De Wet, De la Rey, Beyers en verskeie ander leiers was só sterk daarteen gekant, dat hulle tot gewapende protes en selfs rebellie oorgegaan het Steyn het sy bes gedoen om tussen die leiers te bemiddel, maar kon nie daarin slaag nie. Sy plaas, “Onze Rust”, was ’n miernes van bedrywighede soos almal Steyn se leiding gesoek het. Die Rebellie was onsuksesvol. De la Rey en Beyers is dood en De Wet is gevang. Hy is ’n groot boete opgelê, maar die geld is onder simpatieke Afrikaners ingesamel.

Hoewel die verloop van sake vir Steyn ’n groot teleurstelling was, het hy nie moed verloor nie. Pogings om verarmde Afrikaners te help om hulleself op te hef, het voortgegaan. Terwyl hy hiermee besig was, het hy in 1916 gesterf.

Besondere bydrae

Ons het genoem dat M.T. Steyn as die eerste moderne Afrikanerleier gesien kan word. Baie Engelse het geglo dat blootstelling aan die wyer wêreld talentvolle Boere sou beweeg om liewer deel van die Britse Ryk te word en hulle eie “agterlike” republieke agter te laat. Hulle het dikwels met Paul Kruger se growwe maniere gespot, asof dit tekens van ’n dom “takhaar” was, die soort wat aan hulle eie republiek sou vasklou. Steyn het hierdie opvatting verkeerd bewys.

Steyn was ’n voorbeeld vir ander jong Afrikaners. Hertzog en Smuts, byvoorbeeld, was Kaapse Afrikaners wat ook oorsee studeer het en akademies uiters suksesvol was. Hulle het nie in die buiteland gebly of selfs na die meer gerekende Kaapkolonie teruggekeer nie, maar liewer hulle talente aan onderskeidelik die Oranje-Vrystaat en ZAR beskikbaar gestel.

Beide republieke het voordeel uit Steyn se deeglike kennis van die reg getrek. Die invloed wat Steyn op Kruger uitgeoefen het, het daartoe bygedra dat die Boere se oorlogspoging wêreldwyd met simpatie beskou is. Verder het Steyn se dapperheid om, as president, al die swaarkry van die oorlog soos ’n gewone burger te beleef, sy volk besiel.

Na die oorlog het Steyn ’n groot bydrae gelewer dat Afrikaners nie in moedeloosheid en ellende verval het nie. Miskien is dit sy bydrae wat die mees permanente invloed gehad het.

Slot

Op die monument wat in Vereeniging vir die vredesonderhandelings opgerig is, staan die woorde: “Gewond, maar onoorwonne.” Marthinus Theunis Steyn het dit vergestalt.

Comments are closed.

error: Content is protected !!