Profiel: Staatspresident S.J.P. (Oom Paul) Kruger

Profiel: M.T. Steyn
Desember 10, 2012
Zomerse kerstvakantie
Desember 13, 2012

Inleiding

Oom Paul, soos die laaste president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) bekend was, was ’n eeu gelede ’n wêreldfiguur. Die kalm en onverstoorbare manier waarop hy op hoë ouderdom sy volk se vryheid verdedig het, het oral respek afgedwing. Hy is in Switserland oorlede en vir verskeie jare wou die Britse owerheid nie toestemming gee dat hy in Suid-Afrika herbegrawe word nie. Hulle was bang dit sou tot ’n herlewing van Afrikanernasionalisme lei.

Biografiese gegewens

Stephanus Johannes Paulus Kruger is op 10 Oktober 1825 op die plaas Bulhoek naby Steynsburg gebore. Hulle gesin was een van vele wat in 1836 onder leiding van Andries Hendrik Potgieter die Groot Trek aangepak het. Verskeie redes vir die Groot Trek het vir hulle gegeld: Sy pa kon na baie jare nie ’n plaas van sy eie kry nie, hulle het gefrustreerd gevoel met die onveiligheid aan die Kaapse Oosgrens en was ontevrede oor die toenemend Engelse karakter van die kolonie.

Reeds in 1836 het hy met die onsekerheid van die Trekpad te doen gekry, toe hy deel van die laer by Vegkop, naby vandag se Heilbron, was, wat deur die Matabeles aangeval is. Die Krugers was, saam met Potgieter, oortuig dat die Trek noord van die Vaalrivier moes eindig. Na die terugslae in Natal, vroeg in 1838, het hulle dus Transvaal toe getrek.

As jongman het Paul Kruger in die omgewing van Rustenburg gevestig. Hoewel hy ’n kort tyd in die Lydenburg-Ohrigstad omgewing gewoon het, was sy plaas Waterkloof tot aan die einde van sy lewe sy tuiste.

Paul Kruger was oraloor bekend as ’n buitengewoon sterk en dapper man. Daar is baie stories oor hom in omloop, maar dis nie moontlik om vas te stel of alles waar is nie. Die een gebeurtenis waarvan ons seker is, is dat hy sy eie duim na ’n skietongeluk met ’n knipmes geamputeer het. Dit het moontlik sy lewe gered. Nog ’n storie speel tydens ’n leeujag af. Een lid van die geselskap was baie grootpraterig, maar toe die leeu naby was, was hy nêrens te sien nie. Na alles verby was, het hy so grootpraterig soos voor die tyd, die leeu se tande gemeet. Paul het ’n aanloop geneem, op die leeu gespring en die leeu se wind met sy knieë uitforseer. Die lug het oor die stembande beweeg en die dooie leeu het vir oulaas “gebrul”. Die grootprater het hom natuurlik byna dood geskrik.

Soos die gewoonte was, is Paul Kruger reeds op 17 getroud. Hy was erg verlief op sy jong bruid en boonop ekstaties oor die geboorte van hulle eersteling. Mense naby aan hom was verbaas oor hoe spelerig en vrolik hy in dié tyd was. Moeder en kind het egter siek geword en gesterf. Kruger was byna ontroosbaar en het vir ’n tyd “soos ’n dier van die veld” in die berge gaan bly. Tog het hy sy greep op die lewe herwin. Hy is weer getroud, met ’n familielid van sy eerste vrou. Haar naam was Gezina. Daar is ’n voorstad van Pretoria wat na haar vernoem is. Saam het hulle 16 kinders gehad, hoewel almal nie oorleef het nie. Sy is kort voor hom in Switserland oorlede.

Paul Kruger was van jongs af in die openbare lewe betrokke. As gevolg daarvan kon hy nie die nodige aandag aan sy boerdery bestee nie, en was tot laat in die 1880’s knaend finansieel in die knyp.

Nadat Kruger in 1882 staatspresident van die ZAR geword het, het hy meeste van die tyd in die hoofstad, Pretoria gewoon. Hoewel hy deftig aangetrek het en waardigheid aan sy amp verleen het, het hy diep in sy hart ’n gewone boeremens gebly. In sy groot erf in Kerkstraat is groente gekweek en ’n melkkoei of twee is elke dag deur mevrou Kruger gemelk. Soggens het hy vroeg opgestaan en pyp op die stoep gerook. Watter verbyganger ook al die behoefte gehad het, kon by die president aansluit. Selfs sy kantoor was op die onderste verdieping van die regeringsgebou op Kerkplein, sodat verbygangers soms deur die venster met hom gesels het.

Die feit dat Oom Paul so plat op die aarde was, het hom nie minderwaardig in die geselskap van wêreldleiers laat voel nie. Dit was juis die kenmerk wat die wêreld se verbeelding aangegryp het: ’n Man met geen formele onderwys nie en duidelik van boere-agtergrond, wat die insig en intelligensie gehad het om van die slinksste onderhandelaars op hulle neuse te laat kyk. ’n Man wat nederig oor homself was, maar vreesloos op die eer van sy land en volk aangedring het.

Toe die Britse magte in 1900 stelselmatig eers die Republiek van die Oranje Vrystaat en toe die ZAR verower het, moes die bejaarde president in die rigting van die Portugese hawe, Lourenco Marques (vandag Maputo) terugval. Uiteindelik het hy aan boord die Nederlandse skip, die Gelderland, gegaan, om die stryd op diplomatieke vlak in Europa voort te sit.

Na ’n reis deur verskeie Europese lande het hy eers in Nederland en toe in Switserland, in die dorp Clarens gaan bly. Sy gesondheid het agteruit gegaan, tot hy op 14 Julie 1904 oorlede is. Hy is wêreldwyd as ’n held geëer.

Openbare lewe

Die openbare lewe van Paul Kruger het op jong ouderdom begin, toe hy veldkornet vir sy wyk geword het. Sy ywer, toewyding en bekwaamheid het veroorsaak dat hy ’n al groter leiersrol vervul het.

Om die ZAR te regeer, was ’n baie moeilike taak. Daar was drie groepe: Die Soutpansbergers, die Lydenburgers en die Potchefstromers. Hierdie groepe het elkeen ’n regering verkies wat óf die volle gesag oor hulleself opgeëis het, óf aanspraak op gesag oor al drie groep gemaak het. Boonop was die staat geweldig uitgestrek en yl bevolk. Verskeie swart stamme het in die ooste, noorde en weste voorgekom, wat nie bereid was om die Boere se gesag te erken nie.

Na die dood van die Voortrekkerleier, Andries Pretorius, was daar nie ’n erkende leier in Transvaal nie. Dit het die wanorde verhoog en byna tot burgeroorlog gelei. Kruger het besef hoe belangrik ’n regering, wat deur alle burgers erken word, vir die voortbestaan van die ZAR was. Daarvoor het hy hom beywer en met al die groepe in gesprek gebly.

In 1872 is T.F. Burgers teen Kruger se sin tot president verkies, maar hy het aan die nuwe regering getrou gebly. Meer as een maal het hy militêre veldtogte gelei. Teen die einde van Burgers se regering was Kruger egter een van sy mees uitgesproke kritici. As konserwatiewe Gereformeerde seun van die veld, was hy gekant teen aspekte van Burgers se onderwysbeleid en sy liberale teologiese opvattings.

Tot met die anneksasie van die ZAR in 1877 was Kruger se gewildheid tot mede-Gereformeerdes beperk. Ander Transvalers het hom dikwels as onafgerond en kru beskou. Na die anneksasie het hy die eerste keer as ’n leier van die hele volk na vore getree. Dit is grootliks aan sy onvermoeide ywer en diplomasie te danke dat Transvalers in groot getalle teen die Britse besetting opgestaan het.

Na die slag van Majuba het Kruger besef dat sy volk nie teen ’n volskaalse Britse oorlogspoging sou bly staan nie. Hy moes dus vrede bewerkstellig op ’n manier wat die ZAR se vryheid herstel het, maar Brittanje nie sou verneder nie. Met die Konvensies van Pretoria in 1882 en Londen in 1884 het hy daarin geslaag. Dit het tot sy verkiesing as president in 1883 gelei.

Terwyl president Kruger hard geswoeg het om ekonomiese groei te bewerkstellig, is ryk goudvelde in 1886 aan die Witwatersrand ontdek. Dit sou die ZAR se ekonomiese probleme oplos, maar politieke probleme skep.

Kruger was nie bereid om stemreg aan die sogenaamde Uitlanders toe te ken nie. Sy dilemma was dat hy nie sonder hulle ekonomiese bydrae kon klaarkom nie, maar nie vir die politieke gevolge daarvan kans gesien het nie. Sy sterkste opponent was ook die ZAR se kommandant-generaal, Piet Joubert. Hy was ten gunste van ’n meer buigsame benadering tot die Uitlanders. Ander bekende teenstanders van Kruger was Danie Theron en generaal Koos de la Rey.

Kruger se binnelandse beleid is oorheers deur pogings om die land ekonomies te laat ontwikkel. Om fabriekstigting te bevorder, is konsessies (alleenreg) in sekere bedrywe aan ondernemers verkoop. ’n Spoorlyn van Pretoria na Lourenco Marques is gebou; een van Burgers se projekte waarteen Kruger jare gelede gekant was.

Onderwys is uitgebrei, ’n staatsdiens gevestig en ’n permanente weermag opgebou. Daar was bitter min Transvalers met die kundigheid en ervaring om hierdie soort poste te vul. Engeland was bereid om mense te voorsien, maar Kruger het besef dat die ZAR se vryheid verlore sou gaan. Heelwat Kaapse Afrikaners is aangestel, hoewel Kruger hulle dikwels as te Engelsgesind beskou het. Daarom is talle Nederlanders ingevoer om sleutelposisies te beklee.

Die regering van Paul Kruger was nie altyd ewe gewild nie. Die Uitlanders was hewig daarteen gekant en party Transvalers ook. Die invoer van kundigheid deur “Kruger se Hollanders” het party “landseuns” laat voel dat hulle oor die hoof gesien is. Daar was ook bewerings dat korrupsie ’n rol in die toekenning van konsessies gespeel het. In 1893 het Joubert byna vir Kruger as president verslaan, maar in 1898 het Kruger weer oorweldigende steun ontvang.

Kruger se verreikendste besluit was die uitreik van ’n ultimatum op 9 Oktober 1899 dat Brittanje sy troepe aan die ZAR se grense moes onttrek, of die risiko loop om aangeval te word. Dit het direk tot die uitbreek van die bloedigste oorlog in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, die Anglo-Boereoorlog, gelei. Toe dié besluit geneem is, het hy eendragtige steun van sy burgers gehad. Ook sy politieke teenstanders het besef dat Brittanje op oorlog afstuur en dat die ZAR so gou moontlik moes optree, voor die oormag te groot sou word. Teen die tyd weet almal dat Brittanje vasbeslote was om die land te verower en dat dit teen hoë koste vir albei lande gedoen is.

Die laaste deel van Paul Kruger se openbare lewe was sy pogings om steun vir die ZAR in Europa in te win. Hoewel hy as ’n held ontvang is en reuse skares getrek het, kon hy geen regering oorreed om in te gryp nie. Toestande in Europa was reeds gespanne en geen land het kans gesien om die kruitvat te laat ontplof, ter wille van die afgeleë ZAR nie. Hierdie mislukking was vir Kruger ’n reuse teleurstelling.

Besondere bydrae

Die grootste bydrae van Paul Kruger was om die ZAR tot ’n eenheid saam te snoer. Hy het dit reggekry deur die weerstand teen Britse anneksasie in 1877 tot 1881. Transvalers het met ’n skok besef dat hulle vryheid nie vanselfsprekend was nie. Om dit te herstel moes hulle leer dat daar ’n tyd is om te debatteer en van mekaar te verskil, maar dat daar ook ’n tyd was om die verskille opsy te skuif en ’n gesamentlike doel na te streef.

Kruger se volgende toets was of hy ook in vredestyd sy volk kon saamsnoer. Tydens ’n oorlog word almal deur die gemeenskaplike vyand saamgesnoer, maar dan spat hulle maklik na die tyd in vyandige groepe uitmekaar. Hierdie toets het Kruger ook geslaag.

Sy twee voorgangers was M.W. Pretorius en Burgers. Pretorius was ’n man van die volk, maar kon nie teen die listigheid van Britse diplomasie stand hou nie. Burgers was hoogs intelligent en het groot planne vir die staat gehad, maar kon nie die volk se steun daarvoor behou nie. Kruger het die positiewe eienskappe van sy voorgangers gekombineer en werklik sukses behaal.

Een van die mees merkwaardige insigte, was dat hy in die 1890’s reeds besef het dat die natuur stadig maar seker besig was om onder “beskawing” te swig. Daarom het hy dele van die Oos-Transvaalse laeveld vir natuurbewaring uitgehou. Dit sou later tot die Nasionale Krugerwildtuin uitgebrei word. Dit is steeds een van die wêreld se voorste bewaringsgebiede.

Slot

Al is Paul Kruger al langer as ’n eeu gelede dood, is dit met goeie rede dat baie mense hom vandag nog as die grootste Afrikaner van alle tye sien.

Comments are closed.

error: Content is protected !!