Vegkop
Januarie 23, 2013
Een eerbetoon aan J.C. Kannemeyer
Februarie 1, 2013

Inleiding

Generaal Jan Smuts is die enigste Afrikaner (en Suid-Afrikaner) wat nog ’n leidende rol in die wêreldpolitiek gespeel het. Hoewel presidente Kruger en Mandela groot wêreldfigure was, het hulle nie, soos Smuts, aktief aan internasionale politiek deelgeneem nie. Hoewel hy as politikus bekend is, was hy ook ’n gerekende filosoof en plantkundige. Sy groot werk, Holism and evolution, word steeds wyd gelees. Tussen talle geboue, strate en ander bakens wat na hom vernoem is, is daar ook ’n gewilde gras vir aangeplante weidings wat Smutsvinger genoem word. Tydens plantkundige ekspedisies het hy die soort gras met al sy moontlikhede geïdentifiseer.

Hoewel Smuts ’n wêreldfiguur was, is sy regering twee keer in Suid-Afrika in verkiesings verslaan, in 1924 en in 1948. Hy was die soort persoonlikheid wat meer eerbiedig as bemin word. Verder het hy so in die wêreldpolitiek verdiep geraak, dat hy uit voeling met Suid-Afrika self geraak het. Verder het sy filosofie van holisme ingehou dat Afrikaners in die groter Engelssprekende wêreld moes opgaan, wat tydens die opkoms van Afrikanernasionalisme ongewild was.

In hierdie profiel sal ons probeer om meer van dié groot Afrikaner te wete te kom.

Biografiese gegewens

Jan Christiaan Smuts is op 24 Mei 1870 in die omgewing van Riebeek-Wes in die Swartland gebore. Dit is interessant dat drie eerste ministers van die Unie van Suid-Afrika, in dieselfde omgewing gebore is: Generaals Jan Smuts en J.B.M. Hertzog en dr. D.F. Malan. Hier het hy grootgeword, tot hy op 16-jarige ouderdom aan die Victoria College (later die Universiteit van Stellenbosch) gaan studeer het.

Die jong Smuts was ’n briljante student, wat sy regstudies aan die Universiteit van Cambridge in Engeland voortgesit het. Daar het hy weereens uitgeblink en is in 1895 ’n pos in regstudies aan dieselfde universiteit aangebied. Hy het daarteen besluit en liewer na Suid-Afrika teruggekeer. Kort na hy ’n regspraktyk in Kaapstad geopen het, is hy deur die De Beers-maatskappy as Cecil John Rhodes se persoonlike regsadviseur aangestel. Rhodes het op daardie stadium algemene steun onder Kaapse Afrikaners gehad. Met die Jameson-inval in die ZAR, wat deur Rhodes beplan en geborg is, het daardie steun verdwyn. Een van die ontnugterde Afrikaners wat sy bande met Rhodes verbreek het, was Jan Smuts.

Johannesburg was ’n stad van groeiende geleenthede. Terwyl Smuts daar begin werk het, is sy vermoëns deur president Paul Kruger raakgesien en is hy as prokureur-generaal van die republiek aangestel. Dit is in hierdie tyd, in 1897, wat hy met ’n studentevriendin, Isie Krige, getroud is.

Toe die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 uitbreek, het Smuts as ’n generaal daaraan deelgeneem. Tydens die oorlog het hy hom as ’n knap leier bewys en ’n belangrike rol in die na-oorlogse politiek van Transvaal gespeel. Toe Suid-Afrika in 1910 in ’n unie saamgesmelt het, was hy een van die vernaamste leiers daarvan.

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 word hy aanvoerder van die Britse magte in Oos-Afrika. In 1917 het hy lid van die Oorlogskabinet van die Britse Ryk geword. Met die einde van die oorlog in 1919 het ’n nuwe era ook in die lewe van Smuts aangebreek. Sy bondgenoot oor baie jare, generaal Louis Botha, is in die jaar oorlede. Smuts het hom as eerste minister opgevolg. Hy het kort daarna teen die gekombineerde kragte van blanke arbeidspolitiek en Afrikanernasionalisme te staan gekom en sy regering is in 1924 verslaan. Tot in 1933 was hy leier van die opposisie. In daardie jaar is ’n koalisie tussen sy Suid-Afrikaanse Party (SAP) en die Nasionale Party (NP) van generaal Hertzog gesluit. In die koalisie was Smuts die adjunk- eerste minister.

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 het generaal Smuts weer eerste minister geword. Ons sal in die volgende afdeling kyk hoe dit gebeur het. In hierdie hoedanigheid sou hy gedurende die hele Tweede Wêreldoorlog dien, tot hy enkele jare daarna, in 1948, weer by die stembus verslaan is. Tydens die oorlog het hy ’n belangrike internasionale rol gespeel, wat ook in die volgende afdeling bespreek word.

Na Smuts se nederlaag van 1948 was hy vir ’n kort rukkie leier van die opposisie. Hy het egter kort daarna uit die politiek getree, reeds ’n man van byna 80 jaar oud. Op 29 Mei 1950, enkele dae na sy tagtigste verjaardag, is hy op sy plaas buite Pretoria oorlede. Hy is veras en die as is op sy plaas gestrooi.

Openbare lewe

Generaal Jan Smuts het seker een van die langste loopbane in die Suid-Afrikaanse openbare lewe gehad. Hy was reeds voor sy aanstelling as staatsprokureur van die ZAR in 1896 ’n prominente persoon en was tot met sy dood in 1950 altyd in die kollig. Toe Smuts van sy studies in Engeland teruggekeer het, was hy reeds bekend as ’n briljante regsgeleerde. Tog was hy ’n eenkantmens wat moeilik vriende gemaak het. Hierdie twee kenmerke sou tot die hoogtepunte en laagtepunte van sy lewe lei.

Cecil John Rhodes was teen 1890 een van die rykste mense ter wêreld, met geld wat hy uit Suid-Afrikaanse diamante gemaak het. Vir Smuts, as ’n bloedjong regsgeleerde, was dit ’n groot eer om as Rhodes se persoonlike regsverteenwoordiger aangestel te word. Hy was hoogs beïndruk met die prestasies van die Britse Ryk. Daarom het hy, soos meeste Afrikaners, Rhodes se droom van ’n Suid-Afrika wat onder die Britse vlag verenig word, gedeel. Voor hy nog vir Rhodes van waarde kon wees, het die mislukte Jameson-inval plaasgevind. Smuts, soos meeste Afrikaners, was ontnugter met Rhodes en het sy rug op hom gedraai.

Sy loopbaan het na die ZAR verskuif, waar hy selfs meer beïndruk met president Paul Kruger was, as tevore met Rhodes. As gewone prokureur het hy Kruger in geskrifte en toesprake ondersteun en teen aanvalle verdedig. Dit was nie ’n verrassing toe hy as staatsprokureur aangestel is nie. Hy was ’n belangrike lid van Kruger se onderhandelingspan toe gesprekke met Milner op ’n dooie punt uitgeloop het.

Tydens die Tweede Vryheidsoorlog was Smuts ’n generaal, onder bevel van generaal Koos de la Rey. Hy was ’n knap aanvoerder en het onder andere ’n redelik suksesvolle inval in die Kaapkolonie gelei. Tog was hy ’n sterk voorstander daarvan dat die Boere in 1902 liewers hulle vryheid moes prysgee as om toe te laat dat die volk deur oorlog uitgewis word. Op hierdie stadium het sy denke sterk met die van generaal Louis Botha ooreengestem. Dié bondgenootskap sou tot in 1919 ’n belangrike deel van die Suid-Afrikaanse politiek bly.

Na die oorlog het Botha en Smuts, saam met ander generaals, aan die heropbou van die verslane Afrikanervolk gewerk, onder andere deur die Het Volk party te stig. Dié twee het al meer van die ander Boeregeneraals verskil omdat hulle meer Engelsgesind was. Dit het nog nie tot skeuring gelei nie, maar wel tot ernstige meningsverskil.

Die stigting van die Unie van Suid-Afrika was vir Smuts ’n droom wat waar geword het. Volgens hom was dit vir Afrikaners die ideale geleentheid om in die groter eenheid van die Britse Ryk op te gaan. Hy het nie sy Afrikanerskap verwerp nie, vir hom was dit net ondergeskik aan deelwees van die ryk. Daarom wou hy byvoorbeeld sien dat alle skole slegs Engels as voertaal gebruik. Dit het geweldige teenkanting ontlok.

Die groot skeiding het in 1914 plaasgevind. Politieke skeiding wat tot die stigting van die Nasionale Party (NP) gelei het, is teen die einde van die jaar deur ’n gewapende rebellie oorskadu. Toe die Eerste Wêreldoorlog tussen Duitsland en Brittanje uitgebreek het, was dit vir Smuts vanselfsprekend dat Suid-Afrika aan Britse kant sou deelneem. Hy het geglo dat Suid-Afrika kort na ’n groot oorlog selfstandige regering gekry het en aan Brittanje lojaal moes wees. Duisende Afrikaners het anders geglo en dit was waarom ’n rebellie uitgebreek het.

Smuts was genadeloos in sy onderdrukking van die Rebellie. Hy was minister van verdediging en het van die belangrikste besluite in die verband geneem. Daar was uiteindelik kwytskelding vir gewone rebelle en selfs aanvoerders is betreklik lig gestraf, maar dit was eers na die Rebellie deeglik onderdruk is. Jopie Fourie, ’n kommandant in die Verdedigingsmag wat gerebelleer het sonder om sy amp neer te lê, is binne enkele dae deur ’n krygsraad verhoor en tereggestel. Predikante en politici het vergeefs probeer om met Smuts oor begenadiging te praat. Die voorval het bitterheid gekweek waarvoor Smuts in sekere kringe nooit vergeef is nie.

Na die Rebellie in Suid-Afrika onderdruk is, het Smuts bevel oor die Geallieerde magte in Oos-Afrika oorgeneem. Die lojaliteit wat in die Suid-Afrikaanse magte, sowel as die res van die Britse Ryk teenoor hom gekweek is, het ook lewenslank geduur. Vir sy bekwame diens is hy beloon deur in die Britse oorlogskabinet opgeneem te word.

Tot op hierdie stadium was Smuts die teruggetrokke, maar briljante man wat agter die skerms uiters invloedryk was, maar nie openbare aandag op homself gevestig het nie. Dit het hy oorgelaat aan die sjarmante en gewilde generaal Botha. Toe Botha egter in 1919 oorlede is, het Smuts eerste minister geword. Dit was boonop ’n moeilike tyd, want na ’n oorlog volg daar gewoonlik ’n tyd van ekonomiese insinking. Smuts moes die ontevredenheid van blanke mynwerkers, wie se posisie deur goedkoop swart arbeiders bedreig is, algemene ontevredenheid met ’n stadige ekonomie en groeiende Afrikanernasionalisme die hoof bied.

Opstandigheid in verskillende dele van die land is met geweld onderdruk. Daar was opstande by Bulhoek in die Oos-Kaap en onder die Bondelswarts in die destydse Suidwes-Afrika, wat met oormatige geweld onderdruk is. Aan die Witwatersrandse goudvelde was daar verskeie stakings, maar die ernstigste was in 1922, toe stakers ’n werkersrepubliek uitgeroep het. Dit is selfs met lugaanvalle en groot lewensverlies onderdruk, wat Engelssprekende werkers van Smuts vervreem het. Hulle politieke party het met die NP ’n “pakt” aangegaan en met die parlementêre verkiesing van 1924 deel van ’n nuwe regering geword. Dit is die eerste keer wat Smuts, onlangs nog oorlaai met eerbewyse in die buiteland, deur Suid-Afrikaanse kiesers verwerp is. Hy was uit voeling met Suid-Afrikaanse kiesers se behoeftes en sy mening dat Suid-Afrikaanse belange altyd in diens van die Britse Ryk moes staan, het steun verloor.

As leier van die opposisie het Smuts meer tyd gehad om aan natuurwetenskappe en filosofie aandag te skenk. Sy werk in dié rigting het hom as een van die grootste geeste van sy tyd gevestig. Tog het hy die politiek nie verwaarloos nie en in 1933 ’n geleentheid gesien om weer deel van die regering te word.

Met die Groot Depressie en boonop die ergste droogte in mense heugenis, het die NP-regering in ’n krisis beland. ’n Simboliese saak was die weiering om van die goudstandaard af te stap. Die goudstandaard het beteken dat die waarde van ’n land se geldeenheid, gekoppel was aan die hoeveelheid goud wat die sentrale belang gehad het. Elke muntstuk of noot kon teoreties vir ’n stukkie goud van daardie waarde omgeruil word. Dit is ’n baie veilige manier om teen inflasie en hoë rentekoerse te waak. In hierdie krisis het Engeland van die goudstandaard afgestap, sodat die staat kunsmatig geld in die ekonomie kon inpomp. Die NP-regering in Suid-Afrika het dit nie gedoen nie, deels omdat hulle konserwatiewe ekonomiese beleid wou volg en deels om te wys dat Suid-Afrika onafhanklik van Engeland was. As gevolg van hierdie weiering kon beleggers deur spekulasie in ander lande meer geld maak en het hulle beleggings uit Suid-Afrika onttrek. Dit het die bestaande krisis vererger.

’n Opportunistiese oudpolitikus wat vroeër NP-leier in Transvaal was, advokaat Tielman Roos, het vir homself ’n geleentheid gesien. Hy het ’n “eenheidsregering” voorgestel, wat uit alle partye sou bestaan en waarin hy verwag het om die leiding te neem. Al twee leiers (Smuts en Hertzog) het dit verwerp, maar ’n saadjie is tog geplant. Hulle het direk met mekaar onderhandel en op ’n koalisie tussen hulle partye besluit. Generaal Hertzog sou eerste minister bly en generaal Smuts sou sy adjunk word. Die koalisieverkiesing van 1933 was so ’n groot sukses, dat die partye in 1934 besluit het om saam te smelt. In albei partye was daar ’n afsplitsing, maar die Verenigde Suid-Afrikaanse Nasionale Party, kortweg die Verenigde Party of VP het Suid-Afrika met ’n geweldige meerderheid regeer.

Hoewel dit sekerlik nie vir Smuts maklik was om tweede viool te speel nie, het hy sy werk met oorgawe gedoen. Hy het van Hertzog verskil oor hoe onafhanklik Suid-Afrika nou juis van Brittanje was, maar so lank daar nie ’n krisis was nie, het dit nie saak gemaak nie. Die sogenaamde Smeltersregering kon ekonomiese ontwikkeling met oorgawe aanpak, omdat daar nie gevaar was dat die regering tot ’n val sou kom nie. In die verkiesing van 1938 is die oorweldigende meerderheid behou.

Soos in 1914 was die krisis in 1939 toe oorlog tussen Duitsland en Engeland uitgebreek het. Die eerste minister (Hertzog) het voorgestel dat Suid-Afrika neutraal sou bly. Die adjunk- eerste minister het voorgestel dat Suid-Afrika aan Britse kant aan die oorlog deelneem. Die parlement het met ’n meerderheid van 13 stemme besluit om deel te neem. Hertzog het sy bedanking aan die goewerneur-generaal, Patrick Duncan, aangebied en hom gevra om ’n verkiesing uit te skryf. In plaas daarvan het Duncan egter vir Smuts gevra om ’n regering saam te stel. Eensklaps was generaal Smuts weer die regeerder van Suid-Afrika.

Smuts wat bitterlik gekant teen die bepalings van die Vrede van Versailles waarmee die Eerste Wêreldoorlog beëindig is. Hy het geglo dat die kiem van ’n volgende oorlog in dié vernederende bepalings gelê het. Toe die oorlog in 1939 uitbreek, het hy egter geen simpatie vir Duitsland gehad nie en hom hart en siel in die oorlogspoging ingewerp.

Binnelands was daar weereens sterk teenstand teen Suid-Afrika se deelname. Dit is deur die Ossewa Brandwag (OB), ’n massa-organisasie onder Afrikaners, gelei. Daar was ook kleiner militante groepe soos die OB se eie Stormjaers, die Gryshemde en die Nuwe Orde, wat die oorlogspoging deur sabotasie ondermyn het. Waar skuldiges vasgetrek is, is hulle swaar gestraf. Party is die doodstraf opgelê, hoewel dit in geen geval uitgevoer is nie. Na die oorlog is die meeste van hulle kwytgeskeld. Optrede wat meer van ’n bitter smaak gelaat het, was die internering van mense wat van ondermynende bedrywighede verdink is. Dit het beteken dat die polisie sulke mense sonder bewys in hegtenis kon neem en dat hulle vir ’n onbepaalde tyd by ’n kamp buite Koffiefontein aangehou is.

’n Belangrike gevolg van generaal Smuts se beleid om met oorgawe aan die oorlog deel te neem, het met ekonomiese ontwikkeling te doen. Die volle industriële vermoë van die land is vir oorlogspoging opsy gesit. Dit het beteken dat petrol en sekere voedselsoorte gerantsoeneer is, wat heelwat ongerief veroorsaak het. Tog het dit ook beteken dat pryse van landbouprodukte hoog gebly het en dat industriële ontwikkeling toegeneem het. Verstedeliking het versnel, wat tot ernstige probleme met krotbuurte en sosiale verval gelei het. Die netto effek was dat Suid-Afrika na die oorlog ekonomies sterk gestaan het, maar heelwat sosiale probleme gehad het om op te los. Smuts is deur sy teenstanders verwyt dat hy soveel aandag aan buitelandse sake gegee het, dat sy eie land verwaarloos is.

Op die internasionale arena het Smuts geskitter. Hy is as veldmaarskalk in die Britse Weermag aangestel, die hoogste rang wat ’n mens kan beklee. Daar was ook ’n geheime ooreenkoms dat hy eerste minister van Brittanje sou word as sir Winston Churchill iets sou oorkom. Hy is deur al die Geallieerde leiers as ’n leiersfiguur erken. Hy het hom vir ’n soort internasionale liggaam, wat genoeg mag sou hê om geskille te besleg, beywer. Hy wou die foute wat in 1919 met die stigting van die Volkebond gemaak is, vermy. Dit het onder andere daartoe gelei dat hy die handves van die Verenigde Nasies geskryf het en in die eerste jare heelwat invloed in die liggaam gehad het.

Smuts het regdeur sy lewe eerbewyse ontvang, maar na die oorlog het dit net meer geword. Na vrede in 1945 gesluit is, het dit dringend tyd geword om Suid-Afrika se eie probleme op te los. Een van die grootste was dat die groeiende ekonomie al meer swart arbeid betrek het. Smuts het die tradisionele beleid van segregasie (sosiale skeiding) tussen rassegroepe gesteun. Met die groeiende ekonomiese integrasie het dié beleid onder druk gekom. Verstedelikte swart mense het op gelyke regte aangedring, terwyl minder gegoede blankes (veral Afrikaners) op strenger skeiding aangedring het. Rassevooroordele was ook onder gegoede blankes algemeen, maar hulle het veilig in hulle welvaart gevoel.

Smuts se reaksie op hierdie teenstellende eise was dat die rasseprobleem van Suid-Afrika aan ’n meer talentvolle volgende geslag oorgelaat moes word. Intussen het ’n internasionale klimaat van bevryding onder voormalige kolonies posgevat. Dit was vir Smuts ’n bitter pil dat “nuwe” lande, soos Indië, sy binnelandse beleid striemend in die VN aangeval het.

Met die algemene verkiesing van 1948 is algemeen aanvaar dat Smuts se VP swakker sou vaar, maar weer sou wen. In teenstelling daarmee het die NP gewen en Smuts het sy eie setel, Standerton, ook verloor. Hy was reeds ’n man van 78 en was erg teleurgesteld oor die uitslag. Internasionale eerbetonings het steeds ingestroom, soos dat hy as kanselier van die Universiteit van Cambridge aangewys is. Hy is nogtans as ’n baie teleurgestelde man in 1950 oorlede.

Besondere bydrae

Generaal Jan Smuts was ’n man oor wie mense sterk gevoelens gehad het. Sommige het byna die grond aanbid waarop hy geloop het, terwyl nasionalistiese Afrikaners hom as ’n handlanger van die Britse Ryk bestempel het. Tog is daar niemand wat ontken dat hy ’n briljante man was nie.

Hoewel Smuts net aan Suid-Afrika kon dink as ’n deel van die Britse Ryk, het hy oneindig bygedra om dit ’n sterk en trotse deel van die ryk te maak. Dit het ’n staatkundige en ekonomiese grondslag gelê wat mense met ander oortuigings later kon gebruik om hulle eie ideale na te streef. Hy het ook bewys dat Afrikaners op verskillende terreine ’n bydrae van wêreldgehalte kon maak. Dit was belangrik in ’n tyd wat sommige mense gedink het dat Afrikaners geneties minderwaardig was.

Die blywendste bydrae wat Smuts gelewer het, was nie die gevolg van sy Suid-Afrikaanse politieke loopbaan nie. Die grondslae van die Verenigde Nasies, wat hy help lê het, was ’n groot prestasie. Hoewel die VN al baie gekritiseer is, kon state sewentig jaar later nog nie op ’n beter grondslag vir samewerking ooreenkom nie. Sy werk in natuurwetenskap en filosofie word steeds met groot belangstelling gelees.

Slot

Generaal Smuts is tot op datum die Suid-Afrikaanse leier en Afrikaner wat die grootste internasionale invloed gehad het. Sy lojaliteit aan die Britse Ryk is welbekend, maar hy is steeds as ’n Afrikaner dood.

Comments are closed.

error: Content is protected !!