FAK Zangbundel in Zuid-Afrikahuis
Februarie 1, 2013
Lesings oor die Groot Trek
Februarie 5, 2013

Uit: Die Burger                                                                                                                                                                 2013-02-02 08:00

Artikelopsies Deel Kry Die Burger op
Vyf nuwe erfenisboeke wat in die afgelope somervakansie op Martiens van Bart se lessenaar beland het, word kortliks deur hom aan kultuurbewustes bekend gestel.

Op 16 Desember vind ’n groot saamtrek by die Nasionale Vrouemonument en die Oorlogsmuseum van die Boere­republieke in Bloemfontein plaas. Die geleentheid is die honderdjaar-herdenking van die oprigting van die monument, gewy aan die duisende vroue en kinders wat as burgerlike slagoffers van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) in die Britse konsentrasiekampe en heemloos in die veld weens honger, siekte, blootstelling en ontbering gesterf het.

By die geleentheid word op die museum­terrein die bronsbeeld Agterryer onthul.

Dit sal voortaan deel wees van die beeldeversameling Afskeid, Banneling en Bittereinder.

Agterryer gee erkenning aan die rol van die nagenoeg 12 000 swart en bruin mense wat saam met die Boere aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem het. Hulle was vernaamlik agterryers wat die perde versorg het, kokke, kampwerkers en verkenners. Op enkele uitsonderings na is hulle nie deur die Boere toegelaat om wapens teen die Britte op te neem nie. Talle is krygsgevange geneem en in oorsese bannelingkampe aangehou.

’n Lywige fotoboek en DVD met die titel An Illustrated History of Black South Africans in the Anglo-Boer War, 1899-1902 – A Forgotten History, deur Johan van Zijl, Rodney Constantine en Tokkie Pretorius, het pas by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke verskyn om nes die nuwe beeld erkenning te gee aan die verskillende kategorieë swart en bruin mense wat aan die oorlog deelgeneem het. Die medewerkers was Elmarie Malherbe, Etna Labuschagne en André van Deventer.

Die volgende statistieke oor swart en bruin mense se deelname aan die oorlog word daarin verskaf: In diens van die Britte was 165 000 swart en bruin mense. Onder hulle was 100 000 as gewapende soldate, van wie 15 000 spioene was, 25 000 blokhuiswagte en 60 000 dorpswagte. Minstens 65 000 was hulpwerkers in kampe en te velde. In die 65 swart konsentrasiekampe en 66 oorgangskampe en op die slagveld het 24 000 gesterf. Altesaam 140 000 swart mense is in die Britse kampe gevange gehou.

Die 700 foto’s wat swart en bruin mense in die ABO in die boek en op die DVD uitbeeld, kom uit die museum se unieke versameling glasplaat-fotonegatiewe. Talle word nou ná meer as ’n eeu vir die eerste keer gepubliseer. Die lywige hardebandboek van 400 bladsye glanspapier is ’n versamelstuk.

– Vir bestellings kan Jane Kok van die Oorlogsmuseum by 051 447 3447 gebel word, of stuur e-pos na rodneyc@anglo-boer.co.za of elmarie@anglo-boer.co.za.

Die FAK-Sangbundel Volume II wat verlede jaar deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge uitgegee is, word wyd deur Afrikaners en ander belangstellendes in die Afrikaanse volkskultuur verwelkom.

Die eerste uitgawe van die sangbundel het in 1937 verskyn as opvolger van dr. Nicolaas Mansvelt se Hollands-Afrikaanse Liederebundel van 1907 en Joan van Niekerk se Groot Afrikaanse-Hollandse Liederebundel van 1927. Daarna is die FAK-Sangbundel in 1961 heruitgegee nadat sekere wysigings aangebring en van die ou liedere wat nie meer gesing is nie, weggelaat is en nuwes bygevoeg is. Die bundel is allerweë as ’n verbetering beskou. In 1979 het ’n hersiene uitgawe die lig gesien.

Die huidige bundel is egter nie ’n hersiening van sy voorganger nie, maar ’n aanvulling deurdat nuwe liedere wat die afgelope 33 jaar versamel is, daarin opgeneem is. Onder die nuwes is dié van Koos du Plessis, Lucas Maree, Christa Steyn en ander moderne Afrikaanse woordkunstenaars wat met hul liedere in die volkshart ingekruip het.

Nie net is nuwe liedere opgeneem nie; ook die begeleidende musiek is toegankliker gemaak. Die bladmusiek is ook geskryf vir ander instrumente as die klavier, soos blaasinstrumente en die kitaar, wat omrede die mobiliteit daarvan veral om die kampvuur gewild is. Die akkoorde en melodielyn is so geskryf dat enigeen met net ’n basiese kennis van musiek die liedjies sal kan speel. Ook die lirieke word loslit pleks van in Standaardafrikaans aangegee soos die onderskeie kunstenaars dit verkies het.

Die 400 titels is oor ses rubrieke versprei, en die hardebandboek beslaan 800 bladsye. Agterin is ’n alfabetiese register.

Prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, sê in die voorwoord dat die nuwe bundel op oorweldigende wyse wys dat die Afrikaanse volksmusiek ’n lewende, dinamiese en skeppende werklikheid is.

– Die nuwe bundel kan regstreeks bestel word by 012 644 4329 of per e-pos by kraal@solidariteit.co.za. Dit kan ook by goeie boekwinkels aangevra word.

Trekkerkinders – Kom Trek Saam met Dapper Kinders van die Groot Trek 1835-1838, is deur Danie Langner; met volkleur-illustrasies deur Linda Malan en Retha Woodman. Dié sagtebandboek met 96 bladsye is deur Kraal Uitgewers uitgegee.

Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK en lid van die Voortrekkerbeweging, het die boekie vir sy vyf kinders, Anneke, Niël, Carike, Merie en Duane, almal jong Voortrekkers, geskryf omdat hy gevoel het daar is ’n behoefte aan kinderlektuur wat die roemryke verhale van die Afrikaanse pioniersvoorouers op gepaste wyse aan vandag se jeug oordra. Sy vrou, Marike, het hom daarin bygestaan. Die vakkundige medewerkers is Cecilia Kruger en Estelle Pretorius van die Erfenisstigting.

Langner volg daarmee in die voetspoor van skrywers soos J.D. Kestell, C.R. Swart, C. Louis Leipoldt, A.G. Visser, Eugène Marais, Gustav Preller, Totius, E.G. Jansen, Pieter W. Grobbelaar en ander om die nuwe geslagte met intieme kennis van hul eie voorouers te bemagtig. Hy het 14 verhale oor kinders en jong mense uit die Voortrekkertyd van 175 jaar gelede gekies.

Die Groot Trek-gebeure word kultuurhistories in die breë weerspieël, en belangrike datums word gegee. ’n Woordelys verhoog die begrip van die taalgebruik van daardie era. Gedigte in hul oorspronklike taalvorm word weergegee sodat dit die leser ’n idee kan gee van hoe die Afrikaanse taal sedertdien ontwikkel het.

– Trekkerkinders kan regstreeks van Kraal Uitgewers bestel word by ilze­@­solidariteit.­co.­za, kraal­@­solidariteit.­co.­za of 012 644 4329.

Die Boere-sirkus van St. Louis (1904) deur Floris van der Merwe is reeds in 1998 in Afrikaans bekend gestel. Die beperkte oplaag is gou uitverkoop, maar die vraag het bly styg. Die skrywer, ’n navorser in sportgeskiedenis, het die boek sedertdien hersien en bygewerk, in Engels vertaal en dit nou in albei tale in een hardebandboek heruitgegee.

Die werk handel oor die Amerikaanse sirkus met die Anglo-Boereoorlog, wat pas twee jaar tevore ten einde geloop het, as tema. Die sirkusbaas Frank Fillis, wat wêreldbekend was en voor die ABO ’n tyd lank sy rondreisende sirkus in Kaapstad gevestig het, was die meesterbrein agter die sirkus van St. Louis.

Oud-Boereleiers wat aan die sirkus deelgeneem het, was genl. Piet Cronjé en genl. Ben Viljoen. Ook was daar 550 oudstryders, naamlik 300 Boere en 250 Britte en Australiërs. Die uiteinde was een van die grootste opelug-skouspele tot nog toe. Dit het van 16 Junie tot 2 Desember 1904 geduur. Daarna het dit op reis deur Amerika gegaan en is dit oral deur duisende toeskouers – tot 30 000 per dag – bygewoon.

Vir die ABO-sirkus het Fillis, ’n meester-dierehanteerder, onder meer 600 perde laat inbreek. Hy het 50 artillerie-soldate én hul perde geleer hoe om onder knallende geweerskote te val en te maak of hulle dood is. Altesaam 600 spelers het aan die vertonings deelgeneem. Die amfiteater se arena het 4 ha beslaan.

Die boek is met talle oorspronklike foto’s van die karakters in die sirkus geïllustreer. Dit is ’n versamelstuk.

– Bestel die boek regstreeks van Floris van der Merwe by 021 886 9297 of 083 556 5155.

Omstrede Land – Die Historiese Ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse Grondvraagstuk, 1652-2011 deur Louis Changuion en Bertus Steenkamp, deur Protea Boekhuis uitgegee, is ’n tydige akademiese studie van ’n baie omstrede onderwerp, wat die afgelope paar jaar dawerende weerklank in die parlement gevind het, naamlik: Aan wie behoort die grond van Suid-Afrika?

Behoort dit aan die nasate van die inheemse mense, aan die nasate van die setlaars en ander immigrante wat goed en bloed vir hul nuwe burgerskap opgeoffer het, of aan almal wat Suid-Afrika as hul vaderland aanvaar, dit koester, dit tot volle potensiaal tot voordeel van almal wil ontwikkel en alle landgenote ’n plek in die son gun? Of behoort dit aan die ondersteuners van die magtige oorwinnaars in die politieke arena?

In 470 bladsye van hierdie hardebandboek, voorsien van ’n deeglike register, gee die skrywers die geskiedenis van grondbesit en ontwikkeling in 20 hoofstukke weer.

Soos die skrywers tereg opmerk, kan geen sinvolle debat oor grondhervorming gevoer word sonder die inagneming van die historiese verloop van grondverdeling in Suid-Afrika nie. Dit is ’n uiters komplekse onderwerp met ontelbare nuanses wat nie geïgnoreer mag word nie. Kortom, enige kortpadresep gaan onvermydelik op ’n vernietigende katastrofe vir die hele land uitloop.

Grondhervorming kan net slaag as dit regverdig en eerlik toegepas word, as by die voorskrifte van die Grondwet gehou word en nie afgewyk word van die neergelegde regulasies van die toepassing van dié wet nie, skryf die outeurs. Almal moet besef dat grondhervorming móét plaasvind, maar dat alle burgers van die land, ongeag ras, daarop geregtig is om grond te besit.

– Die boek is verkrygbaar by Protea Boekhuis se verskillende takke. Die internet-adres is www.proteaboekhuis.com.

Vir die oorspronklike artikel gaan na die volgende skakel: http://goo.gl/Bb6Mv

Comments are closed.

error: Content is protected !!