Nuwe denkruimtes oor selfstandige instellings in Europa

FAK Sangbundel in Zuid-Afrikahuis in Amsterdam
Februarie 7, 2013
Sê vir my wat is ‘n Afrikaner
Februarie 7, 2013

Deur Heinrich Matthee | 7 Februarie 2013 |

Veldtogte rakende gebiedsgebonde selfstandigheid in Europa vlam weer op onder die Skotte, Vlaminge, en Katalane. Gebiedsoutonomie vir kultuurgroepe kan egter ook taai weerstand van ’n regering ontlok. Daarby woon talle kleiner groepe, soos in Suid-Afrika, verspreid in die multikulturele state van Europa.

Daar is dus ook ‘n nuwe belangstelling in Europese politieke wetenskappe vir die gebiedsongebonde selfstandigheid van kultuurgroepe. By sulke sogenaamde “nie-territoriale outonomie” of “(regs)persoonlike outonomie” word ’n groep verteenwoordig deur ’n openbare regspersoon: ’n genootskap of ander instellings wat die groep self gestig het.

’n Nasionale regering se wetgewende, regsprekende of uitvoerende bevoegdhede oor ’n groep se eie sake word in so ‘n geval getransformeer: nie in verhouding tot ’n grondgebied nie, maar in verhouding tot die bepaalde groep en sy instellings.
Prof. Tove Malloy, hoof van die  Europese Sentrum vir Minderheidsake (European Centre for Minority Issues), meen die idees oor gebiedsongebonde outonomie moet nog baie verfyn word. Die wye term dek immers deesdae alles van parallelle regstelstelsels vir Moslem-minderhede in Europa, instellings wat ’n staat binne ’n staat vorm, soos Hisbolla in Libanon, tot kultuurrade met belastingbevoegdheid in Estland.

Eintlik is hier sprake van ’n denktradisie wat herleef. Binne die diverse Oostenryks-Hongaarse Ryk was daar in die middel 1800’s byvoorbeeld talle klein kultuurgroepe. Die meeste mense in die klein Oostenryks-Joodse burgerstand het destyds gekies vir ’n gesentraliseerde staat waarin verworwe individuele regte beskerm sou word.

Adolf Fischhof, ’n Oostenryks-Joodse politikus, was egter wantrouig. Hy was oortuig dat ’n gesentraliseerde stelsel uiteindelik tog tot Duitse of Russiese oorheersing oor die klein nasionaliteite in Sentraal-Europa sou lei.

Fischhof se voorkeur was ‘n soort federalisme met baie outonomie vir minderhede. Dit sou volgens hom  verhoed dat die minderhede assimileer of die Ryk in state volgens elke identiteitsgroep opbreek. Die gebiedsongebonde selfstandigheid sou egter elke minderheid se eie vryhede kon verseker.

Die meeste mense in die Oostenryks-Joodse burgerstand het hulle egter by die groot Duitse etniese groep geskaar en die  gesentraliseerde model gekies. Teen die begin van die 20ste eeu sou daardie sentrale staat die ruimte word van anti-Joodse sentimente en nasionalistiese radikalisering onder die Duitsers in Oostenryk.

Sulke probleme is helaas nie iets van die verlede nie. Rita Izsak, die VN se Onafhanklike Kundige oor Minderheidsake, het op 6 November by die VN se Algemene Vergadering in New York gepraat. Iszak, wie se pa se familie self met geweld uit Slovakye verdryf is omdat hulle aan ‘n Hongaarse minderheid behoort het, het ’n toename in anti-minderheidsentimente in talle wêrelddele gerapporteer.
Oorhoofs maak die nie-territoriale benadering dalk in Suid-Afrika met sy 52 miljoen inwoners sin. Die 2.5 miljoen Afrikaners woon versprei oor die gebied, en 15-20% selfs buite Suid-Afrika. Nuwe instellings en bevoegdhede sou meer aksievryheid oor ‘n groep se eie sake kon gee, maar nie ’n staat se voortbestaan bedreig nie.

Selfstandige instellings sal wel soms ’n gebiedsdimensie hê. Afrikaners woon immers in sekere gebiede in groter konsentrasies. Eiendomskenners noem ook dat stede byna vanselfsprekend rondom universiteite ontstaan, ongeag wat in die sakesiklus of politiek gebeur. Sou ’n Afrikaanse stad byvoorbeeld vorm rondom ’n Afrikaanse universiteit, met vele Afrikaners en Afrikaanssprekendes wat elders verspreid woon?

Dalk skep die denke oor instellings in Europa nuwe denkruimtes vir Afrikaners.

Comments are closed.

error: Content is protected !!