Lyding van 1838 se kinders in Pta gedenk
Februarie 12, 2013
Elke jaar klim honderde feesgangers Majubaberg uit om die Slag van Majuba te herdenk
Februarie 12, 2013

deur Alet Rademeyer in Beeld 2 Februarie 2013

Susanna, ’n skeepskanon van die 19de eeu, is gister presies om 12:00 by Fort Schanskop op die Voortrekkermonument-terrein buite Pretoria afgevuur ter viering van die Groot Trek 175 jaar gelede.

Dit is een van verskeie optredes wat vir vanjaar beplan word om die Groot Trek te vier. Susanna sal nou tot einde Desember op elke eerste Vrydag van die maand om 12:00 afgevuur word.

Rolf Deffur, ’n kanonnier en lid van die kanonvereniging van Suid-Afrika, het gister sowat 1 pond buskruit, wat tussen R200 en R300 kos, gebruik om die skoot af te vuur.

Sonja Lombard, uitvoerende hoof van die monument, het gesê die fort is gebou om Pretoria te beskerm, maar nie ’n enkele skoot is gevuur nie. “Die stil fort het vandag ’n stem gekry waarmee ons die geskiedenis en ons kultuur wil onthou.”

Susanna is in die 1970’s tydens opknappingswerk by die Cape Town High School opgegrawe. Daarna het dit 35 jaar in die skool se voorportaal gestaan.

In 2002 het die monument na ’n kanon begin soek om te gebruik by spesiale geleenthede.

M.C. Heunis, ’n vrywilliger verbonde aan die monument, het oud-vlootkommandeur Gerry de Vries genader om na ’n geskikte kanon te soek.

Susanna is toe geïdentifiseer as ’n Britse sespond-skeepskanon wat dateer van 1820. Tydens die Groot Trek het baie van die Trekkers van hierdie kanonne met hulle saamgeneem die binneland in.

Die skool het Susanna aan die monument geskenk omdat dit ’n historiese rusplek sou kry.

De Vries het die kanon gere¬stoureer en nuwe toebehore soos ’n laaistok, spons en kruitskeppie daarvoor gemaak.

Heunis en nog ’n vrywilliger, Johan Wolvaardt, het vir die kanon ’n wa gemaak van onderdele wat hulle van ’n ou transportwa geneem het. Prof. Erik Holm, bekende wamaker, het die oorspronklike wiele vir die kanonwa versien.

Die monument het die kanonwa in 2003 in ontvangs geneem.

Die publiek is welkom om die volgende geleenthede waar kanonskote afgevuur sal word by te woon. Die toegangsgeld is R10.

 

 

 

 

Susanna, ’n sespond-skeepskanon wat van 1820 dateer, is gister by Fort Schanskop buite Pretoria afgevuur ter herdenking van die Groot Trek. Foto: Theana Breugem

Vir die oorspronklike artikel op Beeld se webwerf klik hier.

Comments are closed.

error: Content is protected !!