‘Groot terugslag vir Groot Trek’
Februarie 18, 2013
Mediaverklaring – Kraal Uitgewers
Februarie 19, 2013

Uit Volksblad – deur Maryke Swart

’n DAG van angs is hoe 17 Februarie 1838 vir altyd onthou sal word – die dag toe meer as 500 wit, bruin en swart Voortrekkers in die veld by Bloukrans vermoor gekry is.

Gister, presies 175 jaar later, is hulde by die Bloukrans-monument gebring aan die mense wat aan die hand van Zoeloe-impi’s dood is, maar veral aan die 185 kinders wat grusaam vermoor is.

Dié monument is die eerste en oudste monument vir slagoffers van geweld met die klem op geweld teen kinders.

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK en skrywer van die boek Trekkerkinders: Kom trek saam met dapper kinders van die Groot Trek, 1835-1838 wat gister hier bekend gestel is, het gesê Suid-Afrika se kinders verdien ’n beter toekoms.

“Kinders kry swaar in die land. Ons lees daagliks in die koerante van geweld teenoor kinders. Bloukrans staan teen geweld.”

Die boek vertel die verhale van dapper Trekkerkinders en ook van die wat die wrede aanval by Bloukrans oorleef het.

Biancé Skinner (17), ’n Voortrekker van Harrismith, het gesê dit is die eerste keer dat sy by die monument kom en dit was lekker om die geskiedenis daarvan beter te leer ken.

Die Bloukransmoorde het kort ná die moord op Piet Retief op 6 Februarie 1838 plaasgevind, waarna Dingaan van sy impi’s gestuur het om die Voortrekkerlaers wat toe naby die teenswoordige Estcourt, Weenen en Colenso laer getrek het, aan te val.

As deel van die gedenkjaar van die Groot Trek het ’n groepie mense die naweek te perd die pad van Kerkenberg tot by Bloukrans waar die moorde plaasgevind het, aangepak.

Ilze Nieuwoudt, publikasiebestuurder van Kraal Uitgewers, uitgewer van Trekkerkinders, het gesê: “Die idee was om in die voetspore van die Voortrekkers te loop en op die manier die wonder van ons land en sy geskiedenis weer te help ontdek.”

Die twee dae lange trek het Vrydag begin toe ruiters van Kerkenberg af na Bergville vertrek het.

Hulle het Saterdag verder gery en ’n draai by die graf van Martinus Oosthuizen, een van die groot helde van Bloukrans, gemaak voordat hulle hul reis gister by Bloukrans afgesluit het.

Oosthuizen het tydens die aanval as 18-jarige seun deur ’n groep impi’s gejaag om nog ammunisie te gaan haal. Dit het waarskynlik meer moorde gekeer.

Oosthuizen is in 1897 op 79 jaar oorlede en op hul destydse familieplaas, Enon, buite Winterton ter ruste gelê.

Riana Mulder van die Erfenisstigting het gesê Oosthuizen se beendere sal moontlik binnekort opgegrawe en elders herbegrawe word nadat sy graf al telke male gevandaliseer is.

Klippe is gister op ’n klipstapel gepak vir elkeen van die 49 gesinne wat in die Bloukrans-treurspel lede verloor het.

– Volksblad

Vir die Volledige artikel op Volksblad se webblad klik hier.

Comments are closed.

error: Content is protected !!