Fak-afvaardiging: verrassings in Namibië
Maart 5, 2013
De koningin is klaar, leve de koning!
Maart 5, 2013

Deur Eugene Brink, senior navorser by die FAK se N.P. van Wyk Louw Sentrum 

Niall Ferguson se nuutste boek, “The Great Degeneration”, is ʼn prikkelende kragtoer wat die kreeftegang van die Weste treffend dog eenvoudig opsom. Die boek wys in ʼn neutedop daarop dat die Weste, deur middel van die agteruitgang van sy politieke, ekonomiese, regs- en sosiale instellings, ook sy eie agteruitgang bewerkstellig het. Die demokrasie, vryemark en regsoewereiniteit kom onder meer onder die loep.

Die mees insigryke hoofstuk het Ferguson vir laaste gehou, naamlik die verswakking van die burgerlike samelewing in Westerse state. Omdat dit nie ʼn “hoofstroom-onderwerp” in die akademie is nie, is dié oor die algemeen ʼn swak nagevorste onderwerp en een wat beslis, vergeleke met die res van die onderwerpe in die boek, heelwat verdere navorsing van ook ander akademici en belanghebbendes verg. Ferguson het gelukkig die aanvoorwerk daarvoor afgehandel met hierdie boek. Hy begin dié hoofstuk met ʼn staaltjie van hoe hy ʼn groep vrywilligers bymekaargemaak het om ʼn strand in Wallis skoon te maak. Die mense is nie betaal om dit te doen nie, en die staat het nie ʼn rol daarin gespeel nie. Hy vra dan tereg die vraag: Hoeveel ander probleme kan nie ook op hierdie wyse opgelos word nie?

Met die verbrokkeling van Westerse nasionalisme in die era ná die Tweede Wêreldoorlog het die Weste se sosiale weefsel gepaardgaande agteruitgang getoon. Politieke korrektheid en die gewaarwording van die wreedheid van Nazisme, kolonialisme en Fascisme (wat almal Westerse skeppings was) het geen klein rol hierin gespeel nie, en die verbruikerskultuur en ekonomiese indiwidualisme het hierdie agteruitgang verder laat voortstu. Sodoende het belangstelling in die kerk en Christenskap getaan, en patriotisme is toenemend ten beste vir sportwedstryde gereserveer. Europa se demografiese probleme kan regstreeks toegeskryf word aan die indiwidualisering van Westerse samelewings met hul klem op die bevrediging van die indiwidu, en met die huwelik en gesin wat as “laste” en “outyds” beskou word.

Die keersy van groter ekonomiese welvaart in die Weste is die toenemende vereensaming en onbetrokkenheid van Westerlinge by hul samelewings. Hierdie probleem lei op sy beurt tot ander sosiale probleme soos drank- en dwelmmisbruik. Dit word dan weer aan die afsydige en ondoeltreffende staat of vryemark oorgelaat om hierdie probleme op te los omdat sub-staat gemeenskappe (hoe ook al omskryf) te ondoeltreffend en swak geraak het om alternatiewe norme daar te stel en self probleme in hul midde op te los. Dit alles lei tot ʼn identiteitloosheid en selfs ʼn afkeer in ʼn waardering van die eie.

Ferguson vermeld dat Amerika, wat histories ʼn lewenskragtige burgerlike samelewing gehad het, ʼn aansienlike verslegting op hierdie gebied beleef. Hy haal gegewens uit Bowling Alone deur Robert Putnam aan, wat onomstootlik daarop dui dat burgerlike aktiwiteit tussen die jare 60 en die laat-1990’s sterk getaan het in die VSA. Bywoning van ʼn openbare vergadering oor ʼn dorp of skool se aangeleenthede het byvoorbeeld landwyd met 35% gedaal; diens op ʼn komitee vir ʼn omringende organisasie het met 42% verminder; en selfs deelname aan ʼn plaaslike organisasie het met 39% gedaal.

Hy vra dan die vraag: As die situasie só benard in die VSA is, watter hoop is daar vir Europeërs? Die syfers lyk inderdaad selfs meer droewig as in die VSA. Die Registrateur van Vriendelike Verenigings in Brittanje, wat vanaf 1875 tot 2001 bestaan het, se rekords het getoon dat die aantal burgerlike verenigings hul hoogtepunt in 1914 bereik het (36,010), en algehele lidmaatskap aan sulke verenigings was die hoogste in 1908 (33.8 miljoen). In daardie tydperk het die Britse bevolking op 44 miljoen gestaan. Daarenteen was daar slegs 12,000 sulke verenigings in 2001, en die algehele lidmaatskap was 10.5 miljoen – en hierdie syfers toe die Britse bevolking bykans 60 miljoen was. Daarby was slegs 18% van alle Britte in 2005  aktiewe lede van ʼn kerk of godsdienstige organisasie, en 62% het geen affiliasie met sulke instellings gehad nie. Die syfers vir politieke partye lyk selfs meer beroerd, met 84% van die Britse bevolking wat nie  lede van ʼn politieke party is nie, en slegs 3% wat wel aktiewe deelneem.

Terwyl ek reeds my eie politieke en sosiale redes vir hierdie burgerlike retrogressie vroeër genoem het, verkwalik Ferguson die staat vir hierdie toedrag van sake (en stem in die proses saam met die Alexis de Tocqueville), en Putnam blameer tegnologie en sosiale media. Ferguson voer aan dat die Weste hul hoop op ʼn staatlike entiteit geplaas het om alles vanaf geboorte tot die dood aan hulle te verskaf en te onderhou. Dit sluit kultuur, of die tekort daaraan, in, omdat die staat “neutraal” moet voorkom en ook identiteitloos moet wees.

Andersyds het tegnologie soos die TV en die Internet mense meer afgesonderd van mekaar gemaak, aldus Putnam. Hulle hoef dus nie meer fisies bymekaar te kom nie, want Facebook en Twitter het virtuele gemeenskappe gevorm en dus hoef ‘n mens nie meer jou kantoor, huis of gemaksone te verlaat om te kommunikeer nie. Hierdie is egter ʼn tweeledige swaard, omdat geografies verspreide gemeenskappe ook nader aan mekaar gebring word danksy moderne tegnologie.

Nes Ferguson ʼn vergelyking tussen die VSA en Brittanje getref het, wil ek vervolgens die vraag vra: As dit so in die Weste gaan, hoe vaar die Afrikaners op hierdie gebied? Dit is geen geheim dat die meeste Afrikaanse taal- en kultuurorganisasies sedert 1994 hul eie kreeftegang geloop het nie. Assosiasie met die meeste van bogenoemde organisasies het in die nadraai van Apartheid na rassemeerderwaardigheid gelyk.  Afrikaners se stempatrone, hul grootskaalse verheerliking van rugby en geldelike sukses eerder as van kultuur, hul indiwidualisme in die sakewêreld en in ander sektore, en les bes, hul groeiende afsydigheid jeens die openbare posisie van Afrikaans, is slegs enkele tekens dat Afrikaners nie hierdie tendens vrygespring het nie. Alles is egter nie hoegenaamd verlore nie; daar is Afrikaanse ouers wat nou betrokke is by die behoud van Afrikaanse skole, baie Afrikaanse kerke (gereformeerd en andere) wat blom en ʼn besondere lewenskragtigheid toon, Afrikaanse boeke en musiek wat goed verkoop, en jonk en oud wat hul kultuur op talle maniere ondersteun en uitleef.

Nietemin is dit belangrik dat Afrikaners wyd ag slaan op die waarskuwingstekens in Ferguson se boek. Dit bied egter slegs ʼn uiters kort blik op die patologieë wat die burgerlike samelewing in die Weste en die Afrikaanse gemeenskap teister. Hierdie proesel moet nou gevolg word deur ʼn veel meer omvattende en intense debat vir die hergenerering van sosiale kapitaal om ʼn prioriteit gemaak te word.

Comments are closed.

error: Content is protected !!