Fak-afvaardiging: verrassings in Namibië

Mediaverklaring – Kraal Uitgewers
Februarie 19, 2013
Boekresensie: Die lesse uit die Weste
Maart 5, 2013

Deur prof. Jacques van der Elst, ondervoorsitter FAK

ʼn Afvaardiging van die FAK, bestaande uit Danie Goosen, Danie Langner, Flip Buys en Zieg van Huyssteen (die FAK se operasionele bestuurder) en ondergetekende, het onlangs ons buurland Namibië besoek. Ons gashere was NETWERK, ʼn klein organisasie van Afrikaners wat hulle daarop toespits om Afrikanerbelange en –tradisies sowel as die Afrikaanse taal in Namibië in stand te hou. Dit was die FAK se eerste skakeling met Namibiese Afrikaners in dekades, sedert verteenwoordigers van Namibië (vroeër Suidwes-Afrika) in die verlede op die direksie van die FAK gedien het. Die FAK-afvaardiging wou hom vergewis van die wel en weë van  Afrikaans en Afrikaners in Namibië, en het daar die volgende verrassende dinge beleef en gehoor:

• Voor die Parlementsgebou in Windhoek, het die klompie van ons ʼn hooggeplaaste  persoon, waarskynlik ʼn parlementslid, begelei deur lyfwagte, raakgeloop. Hy het aangedring om ons as toeriste te groet en toe hy hoor dat ons van Suid-Afrika kom, het hy ons in Afrikaans aangespreek. Ons weet tot vandag toe nie wie hy is nie.
• In ons plaaslike gesprekke het ons verneem dat die leier van die SWAPO-Jeugliga Afrikaans praat.
• Die Eerste Minister lees die Republikein, die plaaslike Afrikaanse koerant, met die Afrikaans-Engelse woordeboek langs hom.
• Van die Namibiese ministers woon soms Afrikaanse eredienste by.
• Bovermelde Afrikanergroep  NETWERK het verlede jaar ʼn pragtige nuwe kultuursentrum met die naam Ons Erfdeel in Windhoek, ʼn hanetree van die Turnhallegebou en die Parlementsgebou geleë, in gebruik geneem. Dit dien tewens as argiefsentrum met pragtige vergadersale en ander geriewe.
• Die Voortrekkerbeweging in Namibië groei. Daar is nege kommando’s in Namibië wat nog sterk bande met die Voortrekkerbeweging in die RSA onderhou, maar wat ook die Namibiese vlag gebruik. Daar is ook kinders uit die Bastergroep wat Voortrekkertjies is.
• Deur private inisiatief het ʼn florerende Afrikaanse private skool met besielde Afrikaanstalige personeellede 18 jaar gelede tot stand gekom. Daar is nou meer as 1000 kinders wat deur medium van Afrikaans onderrig daar ontvang. Die betrokke minister het die skool op uitnodiging besoek en gesorg dat die skool ʼn groot ad hoc-staatstoekenning kry.
• Twee Afrikaanse gemeenskapradiostasies, Kosmos en Kanaal 7, funksioneer uitstekend in Windhoek.
• Afrikaans is ʼn omgangstaal wat oral in Windhoek, maar ook elders in die land, verstaan en gepraat word

Hoewel ʼn mens binne die bestek van drie dae slegs ʼn voëlvlugervaring beleef het, het ʼn mens die gevoel gekry dat daar onderlinge verdraagsaamheid tussen staat en burgery in Namibië bestaan. Die nosie van Afrikaans as “taal van die onderdrukker”  leef klaarblyklik nie in Namibië nie. Tog is Afrikaans nie ʼn amptelike taal in Namibië is nie; daar is net een amptelike taal: Engels.  Dít is origens ʼn taal wat swak gepraat word, en sommige Namibiërs praat skertsend van Namlish.

Wat is dit dan wat die Namibiërs taal- en volkeregewys oënskynlik meer in vrede laat lewe as hier in Suid-Afrika? ‘n Groot persentasie Namibiërs praat Afrikaans, so word gesê.  Afrikaans is daar egter baie minder ʼn politieke speelbal  as in die RSA. Afrikaners as groep is trouens deesdae so ʼn klein minderheid in die land dat hulle hoegenaamd nie ʼn bedreiging vir ander se kulturele bestaan sou kon wees nie. Verregse elemente onder Afrikaners het die land glo verlaat. Afrikaners het nie politieke inspraak by ’n enkele setel in die Namibiese parlement nie.

Verdraagsaamheid word dalk ook gevoed deur die feit dat, hoewel Namibië soos die RSA ʼn sekulêre staat is, daar tog ʼn Christelike sentiment aanwesig is: Een van die Lutherse kerk se groeperings met nagenoeg 500 000 lede vorm naamlik ʼn sterk element binne SWAPO.

Wat sê die Namibiërs van Suid-Afrika? Suid-Afrika se politieke oorgang was te skielik – binne ʼn paar jaar. Hulle, daarteenoor, het die geleentheid gehad om geleidelik aan te pas by nuwe omstandighede oor dekades (met die trauma van oorlog) van 1978 tot onafhanklikheid. Afrikaans in Namibië is nie noodwendig geassosieer met die vorige politieke maghebbers nie, omdat die taal wyd gebesig is en soms selfs onderhandelingstaal was.

Lesse te leer:  Namibië met sy nagenoeg 2.2 miljoen inwoners is ʼn mini-voorbeeld van politieke, kulturele en taalverdraagsaamheid. Daar is ʼn gemaklike verhouding tussen die regering en burgery. Dit is iets om jaloers op te wees: Die toegang tot  regeringstrukture in Suid-Afrika is daarenteen moeilik en kommunikasie is stroef. Swart ekonomiese bemagtiging is blykbaar nie ʼn swaard wat bo die blanke Namibiërs se koppe hang nie. As die Namibiese owerheid amptelik sou besluit om SEB te laat vaar, sou dit mooi ʼn voorbeeld vir die ANC kon stel. Afrikaanstaliges word toegelaat om hulle eie skole te stig, en Afrikaans word nog geëerbied as onderrigtaal.

Alles is natuurlik nie rosegeur en maneskyn in Namibië nie. Nieteenstaande allerlei gunstige verwikkelinge ten opsigte van Afrikaans, is daar waarskynlik nie ʼn kans dat Afrikaans daar ooit ʼn amptelike taal sal word nie – en dit laat rooi ligte flikker vir die langtermyn – op amptelike vlak speel Afrikaans ʼn mindere rol. Die ontstaan van private Afrikaanse skole op verskillende plekke in die land is ʼn ligpunt, maar private skole is duur en onbekostigbaar vir ʼn breë laag van die Afrikaanstalige bevolking. Kinders moet soms noodgedwonge die Afrikaanse skool verlaat en na Engelstalige  staatskole gaan, omdat ouers nie die hoë skoolgeld (tussen R2000 en R3000 per maand) van private skole kan bekostig nie. Ook in Suid-Afrika sal die Afrikaanse privaatskole slegs die welgesteldes se kinders kan bevoordeel.

Kortom: Die Namibiese situasie, waar amptelike wrokkigheid rondom Afrikaans en Afrikaners oënskynlik afwesig is, gee stof tot nadenke. Die FAK-direksie het besluit om weer nouer bande aan te knoop – ʼn ooreenkoms met NETWERK is in voorbereiding. ʼn Amptelike bekendstelling van die FAK-sangbundel gaan later vanjaar in Windhoek plaasvind. Trouens, ook die Afrikaanse Taalraad is van plan om betrokke te raak. ʼn Besoek van die ATR-voorsitter, Michael le Cordeur, word in die vooruitsig gestel.

Comments are closed.

error: Content is protected !!