Profiel: C.F. Beyers
Maart 11, 2013
Profiel: Generaal JBM Hertzog
Maart 11, 2013

Inleiding

Dr. D.F. Malan was die eerste minister wat met die veelbesproke apartheid as beleid in 1948 aan bewind gekom het. Hy was op daardie stadium reeds 74 jaar oud en sou in die pos aanbly tot hy al 80 was. Dat Afrikanernasionalisme in die ekonomiese krisis van die 1930’s kon oorleef, was grootliks aan hom te danke. Sy slagspreuk was: “Bring bymekaar wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort.” Dit is ’n veelseggende spreuk, want aan die een kant verwerp dit kunsmatige eenheid, maar aan die ander kant sinnelose verdeeldheid. Dit is ’n opsomming van sy lewe.

Biografiese gegewens

Daniël Francois Malan is op 22 Mei 1874 in Riebeek-Wes in die Wes-Kaap gebore. Na hy skool voltooi het, het hy wetenskap, musiek en teologie aan die Victoria College (later Universiteit van Stellenbosch) gestudeer. Hy is in 1900 Nederland toe om verder teologie te studeer en het in 1905 teruggekeer, nadat hy ’n doktorsgraad van die Universiteit van Utrecht ontvang het.

Vir ongeveer tien jaar was dr. D.F. Malan ’n predikant in verskillende gemeentes van die NG Kerk, wat die kultuurlewe van Afrikaners ernstig opgeneem het. Hy was simpatiek teenoor die lot van rebelle van die 1914-Rebellie en het hom met die politiek van genl. J.B.M. Hertzog vereenselwig.

In 1915 is die Nasionale Pers in Kaapstad gestig om ’n koerant uit te gee wat die nuutgestigte “Nationale Party” van Hertzog sou steun. Malan het redakteur geword, maar ook Kaaplandse leier van die NP en sedert 1918 parlementslid vir Calvinia. Die NP het in 1924 saam met die Arbeiders Party die sogenaamde Pakt-regering gevorm. Malan het minister van binnelandse sake, onderwys en openbare gesondheid geword. Die poste het hy tot in 1933 beklee.

In 1933 het die NP van generaal Hertzog met die Suid-Afrikaanse Party (SAP) van generaal Smuts ’n koalisieregering gevorm. Malan het dit nie gesteun nie en ’n pos in die kabinet van die hand gewys. In die volgende jaar, toe die twee partye saamgesmelt het, het Malan en sy volgelinge die “Gesuiwerde” Nasionale Party gestig. Met ’n kort onderbreking in 1940 was Malan, as leier daarvan, ook leier van Suid-Afrika se parlementêre opposisie.

In 1948 het die NP, teen die verwagting in, die algemene verkiesing gewen. Malan was eerste minister, tot hy in 1954 uitgetree het. Hy is in 1959, toe hy byna 85 jaar oud was, oorlede.

Openbare lewe

Dr. D.F. Malan was die derde van drie seuns uit min of meer dieselfde omgewing in die Wes-Kaap wat mekaar as eerste ministers opgevolg het. Die oudste was J.B.M. Hertzog wat in 1866 naby Wellington gebore is, die tweede was J.C. Smuts wat in 1870 naby Malmesbury gebore is en die derde D.F. Malan wat in 1874 naby Riebeek-Wes gebore is. Al drie het aan die Victoria College studeer en daarna oorsee doktorsgrade verwerf; Smuts in Engeland, Hertzog en Malan in Nederland. Smuts en Hertzog was regsgeleerdes wat hulle na hulle studies in die Boererepublieke gevestig het en dadelik prominent geraak het, aanvoerders tydens die Tweede Vryheidsoorlog en politici daarna. Tydens die oorlog was Malan in Nederland en het tien jaar in die bediening as predikant gestaan, voor hy politiek toe is.

Malan se keuse vir die politiek was nogal waaghalsig. Predikante het op daardie stadium ’n hoë status en veilige posisie in die samelewing gehad. Die NP was ’n nuwe party en daar was geen waarborg dat dit suksesvol sou wees nie. Boonop is hy nie ’n posisie in die parlement aangebied nie, maar die redakteurskap van ’n koerant, waarvan die sukses nog minder verseker was. Dit het teen gevestigde koerante, wat almal die regering gesteun het, te staan gekom. Niemand sou toe kon raai dat dit die begin van ’n mediagroep sou wees wat jare later op verskeie vastelande besigheid doen nie – die huidige Naspers-groep.

Die koerant het Malan geleentheid gegee om al die sake wat naby aan sy hart was, te bevorder. Hy het aangedui dat Afrikaners op hulle eie inisiatief moes staatmaak om uit die dubbele moeras van armoede en verslaenheid op te staan. Afrikanernasionalisme was vir hom nie ’n manier om mag in die hande te kry nie, maar om Afrikaners se selfrespek te herwin. Daarsonder sou armes verder in ellende verval het en welvarendes by die Engelssprekende elite ingeval het. Hy het ook besef hoe belangrik Afrikaans, liewer as Nederlands, was om trots op hulle eie identiteit by Afrikaners aan te kweek.

Die oorwinning van die NP-Arbeiders Party koalisie (die sogenaamde Pakt) in die verkiesing van 1924, het Malan ’n pos in die kabinet besorg. As minister van binnelandse sake, onderwys en openbare gesondheid was hy in ’n posisie om verskeie sake wat vir hom belangrik was, deur te voer. Afrikaans is as amptelike taal in die plek van Nederlands erken. Die status van Afrikaans is verder verhoog deur die bevordering van die taal in onderwys en die staatsdiens. Malan het besef dat die taal op alle vlakke van die samelewing gebruik moes word, anders sou erkenning in die grondwet waardeloos wees.

Vir die grootste deel van die 1920’s was Malan in die middel van ’n vlagstryd. Die NP het volgens hulle eerste minister, generaal Hertzog, se leuse van “Suid-Afrika Eerste” regeer. Die land het op formele en informele maniere al meer onafhanklik van Engeland geword. Volgens die regering, in besonder dr. Malan, het dit beteken dat Suid-Afrika ook sy eie vlag moes hê. Engelssprekende Suid-Afrikaners was hewig hierteen gekant. Wat dit nog ingewikkelder gemaak het, is dat die Arbeiders Party se ondersteuners oorwegend Engelssprekend was en die NP kon nie bekostig om hulle te vervreem nie.

Afrikaners het op ’n “skoon” vlag aangedring, wat ’n simbool van Suid-Afrika se selfstandigheid sou wees. Engelse wou onder geen ander vlag as die Britse Union Jack staan nie. Gemoedere het so hoog geloop, dat sommige waarnemers ’n burgeroorlog gevrees het. Die kompromie wat op die end aanvaar is, het behels dat die Unievlag op die ou Nederlandse Oranje Wit en Blou gegrond sou wees, met die twee Boererepublieke en die Union Jack in miniatuurgrootte in die middel van die wit baan. Boonop sou die Unievlag nooit alleen gehys word nie, maar altyd saam met die Union Jack.

Die NP het die verkiesing van 1929 op sy eie gewen, maar in 1933 het ’n ekonomiese krisis Hertzog daartoe gebring om ’n koalisie met die Suid-Afrikaanse Party (SAP) van generaal Smuts aan te gaan. Malan was glad nie daaroor geesdriftig nie, omdat hy vas geglo het dat so ’n regering Britse belange bo Suid-Afrika se eie sou stel en Engelssprekende Suid-Afrikaners bo Afrikaners. Hy het ook daarop gewys dat Smuts en Hertzog verskillend gedink het oor hoe belangrik die Britse Gemenebes van Nasies vir Suid-Afrika was. Hierdie koalisie het volgens hom bymekaar gebring wat nie uit innerlike oortuiging bymekaar gehoort het nie.

Malan het nie sy teenstand teen die koalisie op die spits gedryf nie, maar toe hy na die verkiesing weer ’n pos in die kabinet aangebied is, het hy dit van die hand gewys. Toe die twee partye in 1934 besluit het om in die Verenigde Party (ook “Smelters” genoem) saam te smelt, het Malan en nog 18 parlementslede onttrek en die Nasionale Party voortgesit. Hulle is dikwels die “Gesuiwerdes” genoem.

Malan se optrede was ’n keuse vir die politieke woestyn, want die oorweldigende meerderheid Afrikaners het die samesmelting gesteun. Die meeste van sy steun was in die Kaapprovinsie, waar hy sterk persoonlike steun gehad het. In Stellenbosch het moderne Afrikanernasionalisme, in teenstelling met heimwee na die Boererepublieke, al sterker geword. Jong akademici soos N.P. van Wyk Louw en H.F. Verwoerd het dit gesteun. Jong aktiviste soos die enigste Transvaalse NP-parlementslid, Hans Strydom van Waterberg, Paul Sauer van die Kaapprovinsie en C.R. Swart van die Vrystaat, het uiters hard gewerk. Hoewel die party nie sulke sterk steun gehad het nie, het dit intellektuele diepgang en ’n duidelike, republikeinse toekomsvisie gehad. In 1938 kon die NP 27 setels verower, maar het in Transvaal, byvoorbeeld, steeds net een setel gehad. Niks het op daardie stadium daarop gedui dat die party tien jaar later die land sou regeer nie.

In 1939 het ’n politieke krisis opgeduik toe oorlog tussen Engeland en Duitsland uitgebreek het. Generaal Hertzog, wat neutraal wou bly, is deur generaal Smuts in die parlement verslaan. Hertzog het as eerste minister bedank en hom skielik in die opposisiebanke bevind. Hy het die Volksparty gestig, maar druk was sterk dat dié party met die “Gesuiwerdes” moes verenig. Die vraag oor leierskap was belangrik, want nie een van die twee se ondersteuners wou die ander se leier aanvaar nie. Malan het weereens besluit dat eiebelang vir die groter saak moes terugstaan en hom bereid verklaar om onder Hertzog te dien. Die Herenigde Nasionale Party is gestig.

Die sterk republikeine het swaar aan Hertzog se leiding gesluk. Hy was teen die nastrewing van ’n republiek as praktiese politiek, en het hom sterk vir die belange van Engelssprekendes uitgespreek. Malan het tussen die republikeine en Hertzog probeer bemiddel, maar dit het op ’n breekspul uitgeloop. Hertzog het uit die politiek getree, maar een van sy sterkste ondersteuners, N.C. Havenga, het die Afrikaner Party gestig. Nog in 1940 was Malan weer leier van die Nasionale Party, wat spoedig met ’n volgende probleem te doen gekry het: Buite parlementêre politiek.

Die Groot Trek se eeufeesviering in 1938 het sterk geesdrif onder Afrikaners geskep. ’n Nuwe organisasie, die Ossewa Brandwag (OB) is gestig om die geesdrif voort te sit. Dit het een van die grootste organisasies in die Afrikaners se geskiedenis geword. Aanvanklik was die meeste NP’s ook lede van die OB, maar die OB het mettertyd ’n antiparlementêre politieke karakter ontwikkel. Hulle het onder die invloed van Adolf Hitler se Nasionaal-Sosialisme gekom en demokrasie toenemend verwerp.

Vir Malan en die NP het die OB ’n groot probleem ingehou. Hulle kon hulle nie met die pro-Duitse karakter van dié beweging vereenselwig nie, maar met Duitse oorlogsuksesse het dit vinnig steun gewen. Om hulle teen die OB uit te spreek, kon die NP geweldige steun kos. Om dit nié te doen nie, sou teen hulle eie beginsels wees. Na verskeie pogings om ’n aanvaarbare ooreenkoms met die OB te bereik, het Malan voor die 1943-verkiesing standpunt ingeneem: Geen lid van die NP sou toegelaat word om ook lid van die OB te wees nie. Dit het die party heelwat steun gekos, maar na die Duitse nederlaag van 1943 het die OB van die toneel verdwyn. Die beginselstandpunt van Malan was klaarblyklik die regte een.

Die einde van die oorlog het punte wat Afrikaners verdeel het, verminder. Die OB en al die kleiner strydlustige organisasies was nie meer lewensvatbaar nie, maar bitterheid het hulle en die NP uitmekaar gehou. Sommige het by Havenga se Afrikaner Party aangesluit, terwyl ander van dié party se ondersteuners juis nie groot republikeine was nie. Die geweldige verstedeliking tydens die Tweede Wêreldoorlog het die stede se vermoë om mense te akkommodeer, oorskrei. Afrikaners, wat oor byna drie eeue ’n afkeer in rasvermenging ontwikkel het, het met kommer gesien hoe blank en nie-blank in die krotbuurte tussen mekaar gewoon het.

Die NP, wat tradisioneel op Afrikaners se regte en ’n republiek gefokus het, het die oproep om “apartheid” daarby gevoeg. Dit was aanvanklik ’n neutrale woord om die tradisionele beleid van rasseskeiding te beskryf, wat tot op daardie stadium deur alle parlementêre partye voorgestaan is. Die negatiewe konnotasie het eers later ontwikkel.

Dr. Malan was al meer oortuig dat dit wat Afrikaners uitmekaar gedryf het, verdwyn het. Hulle het in ’n nuwe wêreld gefunksioneer en sou mag nodig hê as hulle nie in Smuts se Engelstalige Suid-Afrika wou verdwyn nie. Daarom was dit nodig om minder klem te lê op dinge wat Afrikaners verdeel het en meer op dit wat hulle verenig. In ’n poging om ’n breër ondersteuningsbasis te ontwikkel, het hy al minder klem op ’n republiek gelê. Hy het ook gesprekke met Havenga aangeknoop om te keer dat hulle partye mekaar sou opponeer en so kiesafdelings aan die VP oorhandig. Hulle het ooreenkoms bereik en die verkiesing as ’n eenheid tegemoet gegaan.

Ondersteuners van albei partye het verwag dat die NP vordering ten koste van die VP sou maak, maar almal was stomverbaas toe die NP die verkiesing met vyf setels gewen het. Dr. Malan was eerste minister en moes die land ooreenkomstig die verkiesingsbeloftes regeer. Die eerste taak waaraan heelwat aandag gegee is, was die skepping van ’n wetlike raamwerk vir apartheid.

Een van Malan se Kaapse vertrouelinge, dr. T.E. Dönges, het minister van binnelandse sake geword. Hy het bestaande segregasiewette deeglik hersien en ’n raamwerk geskep wat Suid-Afrikaanse rasse in betreklik waterdigte kompartemente geskei het. ’n Beoordeling daarvan is ’n onderwerp op sy eie.

Teen 1954 het Malan gevoel dat die nuwe regering tot so ’n mate gevestig was dat hy kon uittree. Op bykans 80 was hy een van die oudste regeringshoofde in die wêreld. Hy was egter huiwerig om uit te tree, want die vurige Transvaalse NP-leier, advokaat Hans Strydom was die sterkste kandidaat om hom op te volg. Strydom was sterk republikeinsgesind en het nie dieselfde rustige aard as Malan gehad nie. Voor die oorwinning van 1948 was daar al spanning tussen die twee manne.

Met sy uittrede het Malan die buitengewone stap geneem om die NP-koukus te vra om mnr. N.C. Havenga in sy plek as leier aan te stel. Dit was moontlik, omdat die NP en die Afrikanerparty van Havenga in 1951 saamgesmelt het. Die koukus het egter die versoek van die hand gewys en aangedring om self ’n nuwe leier te verkies. Strydom het eerste minister geword en Malan het in Stellenbosch afgetree. Uiteindelik het hy langer as Strydom geleef, wat in 1958 oorlede is. Malan het in 1959 gesterf.

Slot

Dr. D.F. Malan was die eerste Suid-Afrikaanse regeringshoof wat nie ’n oorlogsheld van die Anglo-Boereoorlog was nie. In daardie opsig het hy ’n nuwe era begin. Hy was reeds te oud met bewindsaanvaarding om ’n definitiewe stempel op die amp af te druk. Sy grootste bydrae het hy in die lang jare as leier van die amptelike opposisie gespeel. Dit is moeilik om die opkoms en modernisering van Afrikanernasionalisme sonder sy bydrae in te dink.

Comments are closed.

error: Content is protected !!