Profiel: Dr DF Malan
Maart 11, 2013
Profiel: Piet Joubert
Maart 12, 2013

Inleiding

Generaal J.B.M. Hertzog is die regeringshoof wat die langste in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gedien het, van 1924 tot 1939. Sy slagspreuk was “Suid Afrika Eerste” en dit is ook ’n opsomming van sy politieke loopbaan. Vir Generaal Hertzog was politiek nie ’n doel op sigself nie, maar ’n manier om die Afrikaner, wat deur oorlog en armoede platgeslaan is, weer op te bou. Die Voortrekkerbeweging het grotendeels deur sy inspirasie tot stand gekom. Wie na sy loopbaan kyk, besef dat die geskiedenis van Suid-Afrika en die Afrikanervolk sonder hom heel anders sou lyk.

Biografiese gegewens

James Barry Munnik Hertzog is in 1866 op ’n plaas naby Wellington in die Boland van die Kaapkolonie gebore. Na skool is hy na die Victoria Kollege (later die Universiteit van Stellenbosch) waar hy regte gestudeer het. Daarna het hy aan die Universiteit van Amsterdam in Nederland gaan studeer, waar hy ’n doktorsgraad verwerf het.

Die jong Dr. Hertzog wys geleenthede in die akademie en regsberoep in Nederland van die hand en begin sy loopbaan in 1892 as advokaat in Pretoria. Hy trou in hierdie tyd met ’n studentevriendin van Stellenbosch, Mynie Neethling. In 1895 word hy as regter in die Hooggeregshof van die Republiek van die Oranje-Vrystaat aangestel en verhuis na Bloemfontein. Toe die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 uitbreek, het Hertzog met die rang van kommandant en die taak van regsverteenwoordiger-te-velde op kommando gegaan. Deur die loop van die oorlog het hy ’n suksesvolle guerilla-aanvoerder geword. Teen die einde van die oorlog was hy tweede in bevel van die Vrystaatse magte. Omdat president Steyn siek was, het generaal de Wet die Vrede van Vereeniging as waarnemende president geteken en generaal Hertzog as waarnemende militêre bevelvoerder.

Hertzog was prokureur-generaal van die nuutgestigte Oranjerivier Kolonie. Met die instelling van selfregering was hy medestigter van ’n Afrikanerparty, die sogenaamde Orangia Unie. Hy het ook minister van justisie geword. Met onderhandelings vir uniewording, was Hertzog een van die Vrystaatse leiers wat ’n belangrike rol gespeel het.

In die Unie van Suid-Afrika is Hertzog deur die eerste minister, generaal Louis Botha, as minister van justisie en naturellesake aangestel. Afrikanerpartye van al vier provinsies het in die Suid-Afrikaanse Party (SAP) saamgesmelt en Hertzog was ’n prominente lid daarvan. Hy het egter toenemend van Botha verskil oor sake wat in die volgende afdeling bespreek word. Daarom is hy in 1914 uit die kabinet gelaat en het later die jaar sy eie party, die Nationale Party (later Nasionale Party) gestig. Afrikaners was van toe af tussen die sogenaamde Sappe en Natte verdeel.

Kort na partystigting, met die verkiesing van 1915, verower die NP reeds 21 setels. Die groot verrassing was in 1921, toe die NP met 44 setels[1] die grootste party geword het. Met steun van die Engelsoorheersde Unioniste Party kon Smuts wel aan bewind bly.

Die dramatiese verloop van 1921 tot 1924 word in die volgende afdeling bespreek. Hier is dit voldoende om te sê dat Hertzog die verkiesing van 1924 gewen het en eerste minister van Suid-Afrika geword het. Sy posisie is die eerste keer in 1933 met die ekonomiese krisis van ernstige droogte en wêreldwye depressie uitgedaag. Die NP en SAP het as koalisie in die verkiesing deelgeneem en in 1934 as die Verenigde Party (VP) saamgesmelt. Hertzog was steeds eerste minister, met Smuts as sy adjunk. In die vyf jaar wat daarop gevolg het, het Hertzog die steun gehad wat nodig was vir wetgewing wat vir hom ontsettend belangrik was. Sommige NP-lede was nie ten gunste van die samesmelting nie en het die party voortgesit. Soms is na hulle as die “Gesuiwerdes” verwys.

In 1939 het oorlog in Europa weereens uitgebreek en die vraag was weer of Suid-Afrika saam met Engeland moes deelneem, of neutraal bly. Hertzog het neutraliteit gesteun, maar die kabinet het met 7 teen 6 vir deelname gestem. In die parlement is met 80 teen 67 stemme besluit dat Suid-Afrika wel moes deelneem. Hertzog het as eerste minister bedank en die goewerneur-generaal (sir Patrick Duncan) gevra om ’n algemene verkiesing uit te skryf. Duncan het geweier en liewer vir Smuts gevra om ’n nuwe regering saam te stel.

Hertzog het na sy nederlaag oor oorlogsdeelname uit die VP bedank en met sommige volgelinge die Volksparty gestig. Die het weer met die NP saamgesmelt om die Herenigde Nasionale Party te stig. Hertzog was die leier daarvan, maar van sy standpunte rondom die verhouding tussen Afrikaners, Engelse en ’n republiek, is deur die partykongresse in Transvaal en die Vrystaat verwerp. Van sy ondersteuners het die Afrikanerparty gestig, maar Hertzog self het hom uit die politiek onttrek.

In 1942, op 76-jarige ouderdom is generaal J.B.M. Hertzog op sy plaas buite Witbank oorlede.

Openbare lewe

Die openbare lewe van J.B.M. Hertzog het begin toe hy regter in die Vrystaat geword het. Vroeër, as student, was hy reeds sterk bewus van sy Afrikanerskap en het negatief gevoel oor die maklike manier waarop talle Kaapse Afrikaners Engels as openbare taal aanvaar het. Daarom het hy besluit om in Nederland, en nie Engeland nie, te studeer. Dit is ook hoekom hy na sy studies in Pretoria gaan praktiseer het. Al twee republieke was daarop gesteld om bekwame jong manne wat aan die republieke se vryheid toegewyd was, in belangrike poste aan te stel. Daarom was Hertzog ’n besonder geskikte kandidaat vir regter, al was hy nog baie jonk. Tydens die oorlog was Hertzog ’n gewilde aanvoerder.

Na die oorlog was Hertzog vasbeslote dat Afrikaners nie aan vreemdes in hulle eie land ondergeskik moes wees nie. Terwyl dit vir die Britse owerhede vanselfsprekend was dat Engels die taal van onderwys, regspraak en die staatsdiens moes wees, het Hertzog op gelykheid tussen Engels en Nederlands aangedring.

As ons daaraan dink dat die Afrikaanse letterkundige toekenning met die hoogste status die Hertzogprys is, is dit ironies dat generaal Hertzog nooit ’n voorstander van Afrikaans was nie. Volgens hom moes Afrikaners die Nederlandse taal met Nederlanders en Vlaminge deel, soos wat Engelse, Amerikaners en Australiërs die Engelse taal deel. Dit is dus vir Nederlandse onderwys en gelykheid tussen Nederlands wat Hertzog hom beywer het.

Met gesprekke wat tot uniewording sou lei, het Hertzog en president M.T. Steyn reeds verskille tussen hulleself en hulle Transvaalse kollegas opgemerk. Botha en Smuts was ywerig om die unie as deel van die Britse ryk uit te bou. Volgens hulle moes ’n nuwe “Suid-Afrikaanse volk” uit Afrikaners en Engelssprekende Suid-Afrikaners ontwikkel, wie se taal onvermydelik Engels sou wees. Nederlands kon ter wille van diegene wat nie Engels magtig was nie, ’n tydelike posisie behou. Dit het teen Hertzog se grein gegaan. Hy en Steyn het seker gemaak dat die nuwe grondwet uitdruklik volle gelykheid tussen die twee tale voorskryf. Sy beleid het mettertyd as die “twee strome”-beleid bekend geword.

Na uniewording het Hertzog minister van justisie en naturellesake in Botha se kabinet geword. Met Botha se beleid van “konsiliasie” (versoening) het hy alle groepe in sy kabinet opgeneem. In toesprake by Nylstroom en De Wildt het Hertzog duidelik gemaak dat Suid-Afrika vir hom eerste was en nie die Britse ryk nie. Dit het soveel spanning in die kabinet geskep dat Botha hom met ’n kabinetskommeling uitgelaat het. Hertzog het nie dadelik ’n nuwe party gestig nie, maar toe hy naderhand uitgevind het dat die SAP sy denkbeelde uitgesluit het, het hy die NP gestig. Die regering het graag na Hertzog se volgelinge as die “Ou Boere” verwys, om daarmee te sê dat hulle na iets teruggegryp het waarvan die tyd eintlik al verbygegaan het. In werklikheid was Afrikanernasionalisme iets van die toekoms.

Met die krisis van die Eerste Wêreldoorlog het Hertzog geglo dat Suid-Afrika neutraal moes bly. Hy het nie die Rebellie van leiers soos generaals De Wet, Maritz en Beyers gesteun nie, hoewel hy simpatie daarmee gehad het. In 1915 was daar ’n algemene verkiesing waarin die NP homself deeglik gevestig het, maar nog nie die regering bedreig het nie.

Met Botha se dood in 1919 het generaal Smuts eerste minister geword. Hy was minder geliefd as Botha. As twee hoog aangeskrewe regsgeleerdes van ongeveer dieselfde ouderdom was Hertzog en Smuts gelyke teenstanders. Afrikaners was tussen die SAP en die NP verdeel, terwyl heelwat Engelse ook die SAP gesteun het. Welvarende Engelse het hoofsaaklik vir die Unioniste gestem. Daar was ook ’n groot Engelse werkersklas, wat hoofsaaklik vir die Arbeidersparty van kolonel F.H.P. Creswell gestem het. In 1921 is weer ’n algemene verkiesing gehou waarin die NP die grootste party geword het, maar die Unioniste het by die SAP aangesluit en Smuts in staat gestel om verder te regeer.

Op hierdie punt het die groot mynwerkerstaking van 1922 plaasgevind. Mynbase het begin om goedkoper swart arbeid in die plek van laaggeskoolde blankes in diens te neem. Mynbase het begin om goedkoper swart arbeid in die plek van laaggeskoolde blankes in diens te neem. Blanke werkers wou dit stopsit en het die grootste staking gereël wat Suid-Afrika tot op daardie stadium gesien het. Hoewel die leiers Engels was, was ’n groot deel van die stakers Afrikaners. Dit het Engelse en Afrikaanse werkers nader aan mekaar gebring. Die staking is beëindig toe Smuts die mynbase se kant gekies het en die weermag ingeroep het om die staking met groot geweld te onderdruk.

Generaal Hertzog het besef dat die hoofsaaklik Engelssprekende Arbeiders Party ’n goeie bondgenoot kon wees. Hulle ondersteuners se ekonomiese behoeftes was dieselfde as arm Afrikaners s’n. Daarom is ’n “pakt” (ooreenkoms) tussen die twee partye gesluit om mekaar nie teen te staan nie. In kiesafdelings waar die Arbeiders sterk was (hoofsaaklik aan die Rand) sou die NP nie ’n kandidaat stel nie. Met ’n volgende verkiesing in 1924 het die ooreenkoms so goed gewerk, dat die pakt gewen het. Hertzog was daarna eerste minister en Creswell sy minister van arbeid. Nog ’n Arbeider is in die kabinet opgeneem.

As eerste minister het Hertzog geglo sy politieke en ekonomiese beleid moes mekaar aanvul. “Suid-Afrika Eerste” is op albei terreine nagestreef.

Die politiek het soos volg gewerk: Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Australië en Kanada was Britse kolonies wat hulleself regeer het. Die lande is “dominiums” genoem, oftewel, lande wat deur Engeland gedomineer word. Die Eerste Wêreldoorlog het Brittanje aansienlik verswak en hy kon nie bekostig om sy dominiums te vervreem deur eise aan hulle te stel nie. Hulle is dus beleefd om hulp versoek en hulle regeringshoofde as gelykes behandel. Na die oorlog was dit nie maklik om Britse gesag weer te laat geld nie, maar Hertzog wou meer as net ’n nuwe manier van doen hê. By die jaarlikse Rykskonferensies (tussen Engeland en al die dominiums) het Hertog aangedring dat die nuwe status amptelik verklaar moes word.

Die verantwoordelike minister, Lord Balfour het in 1926 ’n verklaring uitgereik dat Engeland en die dominiums aan mekaar gelyk was en daar nie een was wat oor die ander kon heers nie. Hulle is verenig deurdat hulle almal die Britse koning/in aanvaar het, met ander woorde, verenig deur gedeelde trou aan die Britse Kroon. Hulle sou ook saamwerk in die Britse Gemenebes van Nasies (Statebond), wat die Rykskonferensie vervang het.

Dit was ’n groot stap, maar vir Hertzog nog nie genoeg nie. ’n Volgende minister kon maar net die verklaring herroep, dan was alles weer soos tevore. Hertzog het aangedring dat die Britse parlement dit in wetgewing vaslê, wat hulle toe inderdaad in 1931 met die Statuut van Westminster gedoen het.

Dit was steeds nodig dat die nuwe onafhanklikheid in Suid-Afrika wet moes word, anders kon ’n imperialistiesgesinde regering van sy kant weer onderhorigheid aan Engeland verklaar. ’n Sterk Britsgesinde element van die bevolking was glad nie ten gunste van die verwikkeling nie. Dit was een van die redes waarom Hertzog die koalisieregering en samesmelting met die SAP gesluit het. In 1934 is die “Status- en Seëlwette” van Suid-Afrika met ’n groot meerderheid aanvaar. Volgens Hertzog was Suid-Afrika van toe af ’n onafhanklike land en die strewe na ’n republiek het onnodig geraak. Op dié punt het die “gesuiwerdes” sterk van hom verskil.

Gedurende Hertzog se era as eerste minister is nog simboliese stappe geneem om Suid-Afrika as onafhanklike land te vestig. Die land het ’n eie vlag gekry, hoewel dit ’n kompromis-vlag was en boonop saam met die Union Jack gehys moes word. Daar is ook ’n departement van buitelandse sake gestig en Suid-Afrika het sy eie diplomate na Nederland en die VSA gestuur. Nog ’n simboliese stap was die aanstelling van die eerste Suid-Afrikaner, sir Patrick Duncan, as goewerneur-generaal, dit wil sê, verteenwoordiger van die Britse ryk. Hierdie stappe lyk nou vanselfsprekend, maar op daardie stadium was dit groot waagstukke.

Ekonomiese beleid was die ander manier om Suid-Afrika se onafhanklikheid te vestig. Teen 1924 het die ekonomie op bestaansboerdery en mynbou gesteun. Bitter min is in Suid-Afrika vervaardig en die sakeleiers van die tyd het geglo dat Suid-Afrika niks moes doen as dit nie in belang van Engeland sou wees nie. In teenstelling daarmee is ’n aantal staatskorporasies gestig, met die doel om die ekonomie sterk en selfstandig te maak. EVKOM (ook ESCOM en later ESKOM) moes die ryk steenkoolreserwes gebruik om elektrisiteit op te wek en beskikbaar te stel, Yskor moes ystererts na staal verwerk en die Suid-Afrikaanse Spoorweë en – Hawens (vandag Transnet) moes ’n vervoernetwerk skep om die ekonomiese moontlikhede van verafgeleë dele te ontsluit. Damme is gebou en besproeiingskemas aangelê om werk oor die kort termyn te skep terwyl nuwe geleenthede in die landbou geopen is. Daar is reeds verwys na die tydelike weiering om van die goudstandaard af te stap, wat ook ter wille van ekonomiese “Suid-Afrika Eerste” gedoen is.

Nog ’n belangrike bydrae van generaal Hertzog was sy denke oor Suid-Afrika se rassevraagstuk. Voor uniewording het Suider-Afrika se swart stamme hulle sake nog tradisioneel bestuur, maar dit het onder al groter druk gekom. Polities was hulle onder Britse beheer en veral in sekere dele is gepoog om stamhoofde se gesag aan blanke “magistrate” oor te dra. Hoewel daar suksesvolle swart kommersiële boere was, was daar ook gewetenlose grondspekulante wat stamgrond opgekoop het. Dit is dikwels weer aan stamlede uitverhuur, sodat die spekulant (die meeste van hulle was buitelanders) groot passiewe inkomste gekry het. Hierdie stamlede kon egter enige tyd van die grond afgesit word, indien die spekulant dit teen ’n wins kon verkoop. Koloniale uitbreiding het destyds tot onteiening van swart grond in Kenia, Zambië en Zimbabwe gelei. Al meer Suid-Afrikaanse stamgrond is deur dieselfde uitbreiding ingesluk. Aanwas in stamgebiede was hoog, wat beteken het dat daar al minder grond vir al meer mense beskikbaar was.

Om ’n dreigende krisis te voorkom, is die Naturelle Grond Wet in 1913 deur Hertzog deur die parlement gevoer. Dit was die resultaat van ’n uitgebreide ondersoek wat reeds voor uniewording begin het en vasgestel het watter grond in werklikheid aan swart stamme en indiwidue behoort het. Die wet het bepaal dat blankes nie verdere grond in die dele kon bekom nie. Dit was ongewilde wetgewing, want die persepsie dat “swart” grond onproduktief was, was algemeen onder blankes. Om dit deur te voer, was die teenkant dat swart mense ook nie meer grond in “blanke” gebied kon besit nie. As gevolg hiervan is honderde swart deelsaaiers (mense wat selfstandig op ’n ander persoon se grond boer in ruil vir ’n deel van die opbrengs) van plase afgesit.

Beëindiging van swart deelsaaiery het die mense sonder heenkome en partykeer in groot ellende gelaat. Die wetgewing word vandag voorgehou asof dit die doel daarmee was. Dit is onmoontlik om te bewys wat sou gebeur het as die wetgewing nie aangeneem is nie, maar in ander Britse kolonies is swart grond tot so laat as die 1950’s nog onteien. Selfs grond wat uitdruklik aan swart stamme toegeken is, is onteien as belowende mineraalreserwes daar gevind is.

Generaal Hertzog het reeds in 1913 aangedring dat meer grond vir swart vestiging opsygesit word, maar kon nie steun daarvoor onder Afrikaans- óf Engelssprekende blankes (die kieserspubliek) kry nie. Vir hom was dit ’n belangrike oorweging om met die SAP in koalisie te gaan. Teen 1936 kon hy genoeg steun kry om swart grond te verdubbel. Dit het van 7% na 13% van Suid-Afrika se oppervlak toegeneem. Swart mense wat volgens wetgewing van voor 1910 vir stemreg in die Kaapkolonie gekwalifiseer het, het dit verloor. In die plek daarvan is ’n “Naturelle Verteenwoordigende Raad” ingestel, met ’n groter basis van swart kiesers.

Die verdeling van grond tussen swart en wit is vandag een van die mees omstrede aspekte van die geskiedenis. ’n Paar faktore word deesdae selde in gedagte gehou:

Suid-Afrikaanse grond kan, weens verskille in vrugbaarheid en klimaat, nie hektaar vir hektaar vergelyk word nie. Swart stamgebiede is hoofsaaklik in die noorde en ooste, waar grond vrugbaar en reën volop is. Die huidige Noord-Kaapprovinsie, byvoorbeeld, was amper volledig “blanke” grond. Dit is ongeveer 30% van Suid-Afrika se oppervlak, maar slegs 2,5% van die bevolking woon daar.

Voor 1910 is die vier kolonies wat provinsies geword het, Betsjoeanaland (Botswana), Basotholand (Lesotho) en Swaziland deur Britse owerhede as ’n eenheid gesien. Tog is besluit om laasgenoemde drie gebiede nie by die unie in te sluit nie, omdat Britse owerheidsinstellings nog te swak gevestig was. Daar was konsensus dat die “drie Hoë Kommissarisgebiede” te gelegener tyd by die Unie ingelyf sou word. Die gedagte is eers in die 1960’s laat vaar toe dr. H.F. Verwoerd verklaar het dat hulle onafhanklikheid in die lig van “afsonderlike ontwikkeling” wenslik was. Uit generaal Hertzog se oogpunt is die grond van 1913 en 1936 by dié bestaande swart gebiede gevoeg en was die verdeling ongeveer om die helfte.

Die einde van Hertzog se politieke loopbaan het oor sy verskil met Smuts oor Suid-Afrikaanse onafhanklikheid gegaan. Smuts het wel die onafhanklikheid aanvaar, maar in sy gemoed was Suid-Afrikaanse belange onlosmaaklik met Brittanje s’n verweef. Toe oorlog in 1939 tussen Brittanje en Duitsland uitbreek, was dit vir Hertzog belangrik dat Suid-Afrika neutraal sou bly. Hy het dit in die kabinet voorgestel, maar Smuts se betoog dat Duitsland in werklikheid ook Suid-Afrikaanse belange bedreig het, het sekere Hertzog-ondersteuners geswaai. Die uitslag was 7 teen 6 vir deelname. Hertzog het hom op die parlement beroep, maar ook daar was Smuts so oortuigend, dat sekere Hertzog-ondersteuners vir deelname gestem het.

Hertzog was so seker dat deelname teen die sin van meeste Suid-Afrikaanse kiesers was, dat hy bedank het en die goewerneur-generaal gevra het om ’n verkiesing uit te skryf. Kragtens die Britse parlementêre tradisie wat in Suid-Afrika gevolg is, moes hy dit doen. Sir Patrick Duncan het egter verkies om sy grondwetlike mag te gebruik en liewer vir Smuts te vra om ’n nuwe regering saam te stel. So het Suid-Afrika sonder ’n verkiesing ’n nuwe regering gekry.

Die gesuiwerde NP het Hertzog sterk in sy teenstand teen die oorlog gesteun. Met Hertzog se nederlaag in die parlement en sy eie party, was dit logies dat partygenote van 1933 mekaar weer sou vind. Albei groepe het egter op hulle eie leier aangedring, sodat Hertzog se groep liewer die Volksparty gestig het. Dié party het maar enkele maande bestaan, toe dr. D.F. Malan, leier van die NP, verklaar het dat hy onder sy vorige leier, generaal Hertzog, sou dien. Die “Herenigde Nasionale Party” het met groot vreugde tot stand gekom, maar spanning het kort daarna weer opgelaai. Malan se volgelinge was republikeinsgesind, terwyl Hertzog en sy mense nie veel waarde daaraan geheg het nie.

Spanning het breekpunt bereik toe beleid vir die nuwe party geformuleer moes word. Hertzog het uitgestap en finaal uit die politiek getree. Sy volgelinge het onder leiding van mnr. (NC) Klasie Havenga die Afrikaner Party gestig, maar Hertzog het op sy plaas naby Witbank afgetree. Hy het toenemend aanklank by Duitse Nasionaal-Sosialisme gevind, veral in die lig van aanvanklike Duitse oorlogsuksesse. Hy het egter nie meer groot invloed uitgeoefen nie. In 1942 is hy op sy plaas oorlede.

Slot

Latere geskiedskrywing het Hertzog en sy bydrae nie altyd na waarde aangeskryf nie. Tog was hy in verskeie opsigte een van die grootste leiers wat Suid-Afrika opgelewer het.

[1] In die parlement van 1910 tot 1994 was die land in kiesafdelings (setels) ingedeel. ’n Mens kon ’n partykandidaat wees of onafhanklik staan. Die persoon wat gewen het, al was dit met net een stem, het die hele kiesafdeling verteenwoordig. As hy gesterf of uitgetree het, is ’n tussenverkiesing gehou. Sulke tussenverkiesings het ’n goeie aanduiding gegee van hoe gewild of ongewild die regering in die middel van ’n termyn was.

 

Comments are closed.

error: Content is protected !!