Profiel: Adv JG Strydom
Maart 12, 2013
Profiel: Adv BJ Vorster
Maart 13, 2013

Inleiding

Dr. H.F. Verwoerd is een van die mees omstrede figure in die Suid-Afrikaanse politiek. Tydens sy regering het hy teenstanders en ondersteuners verbaas met die risiko’s wat hy bereid was om te loop. Een daarvan was die referendum met die vraag na republiekwording. Nog een was die toekenning van selfregering aan die sogenaamde tuislande, in ’n poging om afsonderlike ontwikkeling die antwoord op Suid-Afrika se probleme te maak. Vandag word hy dikwels die “argitek van apartheid” genoem en vir baie van vandag se vraagstukke verantwoordelik gehou. Ten spyte van jare se negatiewe kommentaar, is hy in 2004 deur deelnemers aan ’n opname deur ’n televisieprogram as nommer 19 in die lys van grootste Suid-Afrikaners geplaas.

In hierdie artikel gaan ons kyk na Suid-Afrika se eerste regeringshoof wat nie in Suid-Afrika gebore is nie, asook die enigste een wat in ’n sluipmoordaanval gesterf het.

Biografiese gegewens

Hendrik Frensch Verwoerd is in 1901 in Nederland gebore. Sy ouers het sterk met die Boere tydens die Anglo-Boereoorlog gesimpatiseer en besluit om na Suider-Afrika te verhuis. Hulle het eers in Kaapstad gewoon en binne ’n paar jaar na Rhodesië (huidige Zimbabwe) verhuis. In 1917 het hulle na Brandfort in die Vrystaat verhuis. Verwoerd snr was deurentyd met verskillende sakebedrywighede en sendingwerk bedrywig.

Na matriek het die jong Hendrik aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer. Hoewel hy eers predikant wou word, het hy besluit om liewer in die sielkunde verder te studeer. Hy was voorsitter van die studenteraad en het ook die eerste persoon geword om al sy studies tot op doktorale vlak in Suid-Afrika en in Afrikaans te voltooi. Dit het hy reeds op 23-jarige leeftyd voltooi. Hy het ’n studiereis na Nederland, Duitsland en die VSA onderneem, waartydens hy met sy studenteliefde, Elizabeth (Betsie) getroud is. In 1928 het hy na Stellenbosch teruggekeer en professor in sielkunde geword. Later sou hy die departement van sosiologie aan dieselfde universiteit tot stand bring.

In 1937 het Verwoerd die akademie vaarwel toegeroep om redakteur van die NP-gesinde koerant, Die Transvaler, in Johannesburg te word. In 1950 is hy as senator aangewys en het so lid van die parlement geword. In 1950 is hy as minister van naturellesake aangestel. In 1958 is hy, as relatiewe junior lid van die kabinet, tot eerste minister verkies.

Die eerste paar jaar van sy bewind was opspraakwekkend. Op 21 Maart 1960 het die Sharpeville-opstand en polisiereaksie daarop, wêreldwyd weerklink. Op 9 April sou hy die Witwatersrandse landbouskou open, maar is op kort afstand met ’n rewolwer in sy kop geskiet. ’n Welvarende boer van Magaliesburg, David Pratt, het dit gedoen. Hy is egter nooit verhoor nie, omdat hy selfmoord in aanhouding gepleeg het. Verwoerd het sodanig herstel dat hy binne ses weke sy pligte weer kon opneem. Die referendum oor ’n republiek en republiekwording was volgende.

Die jare 1961 tot 1966 was ’n tyd van ongekende ekonomiese groei in Suid-Afrika. In 1966 is Verwoerd in die parlement deur ’n bode met ’n dolk aangeval. Die keer het hy nie oorleef nie.

Openbare lewe

Hoewel Verwoerd as skrander student en jong akademikus reeds aandag getrek het, was dit met die ondersoek na die armblankevraagstuk wat hy die eerste keer werklik prominent geword het. Die Amerikaanse staalmagnaat, Dale Carnegie, het geld vir ’n ondersoek na dié sosiale ramp bewillig. Verwoerd, as sosioloog, het ’n belangrike rol daarin gespeel. Daarmee het hy gewys dat hy nie net ’n akademikus was nie, maar iemand wat aan die oplossing van alledaagse probleme toegewyd was.

Die “gesuiwerde” Nasionale Party het in 1934 tot stand gekom toe ’n groep parlementslede (hoofsaaklik Kapenaars) onder dr. D.F. Malan se leiding nie met die samesmelting tussen generaals Hertzog en Smuts se Nasionale en Suid-Afrikaanse Partye wou meedoen nie. Hulle het dit as ’n valse eenheid beskou en op republikeinse grondslag aan die politiek deelgeneem. Vanweë Hertzog se geweldige aanhang in die noordelike provinsies, was daar slegs een NP-parlementslid in Transvaal, advokaat J.G. Strydom van Waterberg. Ten spyte van baie harde werk, kon die NP nie sy steun in dié provinsie, waarheen Afrikaners uit elke oord gestroom het, opstoot nie.

Die Nasionale Pers het besluit om, na aanleiding van hulle sukses met die dagblad Die Burger in die Kaap, ’n soortgelyke koerant in Transvaal te stig. Die Transvaler is in 1937 opgerig, met Verwoerd as redakteur. Hierdie koerant het die republikeinse boodskap van die NP ywerig bevorder en Verwoerd se hoofartikels het belangrike perspektief op baie sake gegee. Tog was dit te kort voor die 1938-verkiesing om ’n verandering in stempatrone te bring.

Die Tweede Wêreldoorlog was ’n moeilike tyd vir die NP, Die Transvaler en Verwoerd. Hulle het hulle teen deelname aan die oorlog uitgespreek, maar was ook nie Duitsgesind nie. Die Smuts-regering was agterdogtig teen alle opposisie, terwyl militante lede van die Ossewabrandwag (OB) en ander groepe, teenstanders soms ontvoer en aangerand het. Verwoerd het een so ’n aanval net-net vrygespring.

Met die verkiesing van 1948 was Verwoerd die NP se kandidaat in ’n veilige VP-setel, Alberton. Die verrassing was nie dat hy verloor het nie, maar dat dit met net 54 stemme was. Twee jaar later is hy deur die NP tot die Senaat verkies. Die senaat was tot 1984 ’n tweede huis van die parlement, na die voorbeeld van die Britse Hoër Huis of “House of Lords”. Elke party kon, in verhouding tot sy verteenwoordiging in die direk verkose Volksraad, ’n aantal senatore benoem. Verwoerd sou ’n senator bly tot hy in 1958 deur die kiesafdeling Heidelberg tot die Volksraad verkies is.

Verwoerd was een van die vurige jong republikeine wat toenemend met die eerste minister, dr. Malan, haaks was oor sy louwarm toewyding aan dié ideaal. Verwoerd is die pos as ambassadeur in Nederland aangebied, wat destyds ’n baie senior pos was. Hy het dit egter van die hand gewys, omdat hy deel van die aktiewe politiek wou bly. In 1952 is hy as minister van naturellesake aangestel.

As minister het Verwoerd op uitgebreide toere gegaan om die toestande in die sogenaamde reservate te ondersoek. Sy lang werksure en vermoë om besonderhede te onthou, het indruk gemaak. Die taak om formele behuising vir die honderdduisende swart mense wat gedurende en na die oorlogsjare stede toe getrek het, te voorsien, het hy ook aangepak. Hy het ook gepoog om die Verteenwoordigende Naturelle Raad, wat reeds voor 1948 opgehou het om te funksioneer, in gesprekke te betrek. Dié raad het hoofsaaklik die meer gegoede stedelike swart mense verteenwoordig.

Die praktyk om swart mense in “blanke” gebiede te verplig om passe te dra, het met die Britse bewind aan die Kaap, vroeg in die negentiende eeu begin. Die doel was om slegs swart mense wat vir die ekonomie noodsaaklik was, in “blanke” gebied toe te laat. Alle Suid-Afrikaanse regerings het hierdie maatreëls as noodsaaklik beskou, maar dit is van tyd tot tyd aangepas. Teen 1950 moes swart mense ’n reeks dokumente by hulle dra, om aan verskillende wette te voldoen. Verwoerd het alle bestaande wetgewing met ’n enkele en eenvoudiger wet vervang, wat ook net een dokument vereis het. Aangesien swart vroue die eerste keer in noemenswaardige getalle stede toe gestroom het, is hulle die eerste keer by die wetgewing ingesluit. Dit het tot ernstige protesaksies gelei, maar is nogtans deurgevoer.

Swart stedelike behuising het aan ’n agterstand van ongeveer vyftien jaar gelei. Die gevolg was oorbevolking en onveilige lewensomstandighede. Geskikte terrein vir nuwe woongebiede, veral aan die Witwatersrand, moes gevind word. Verwoerd het een maal in die parlement gesê dat dit ’n moeilike proses was, aangesien elkeen sy arbeid naby aan hom wil hê, maar die woongebiede ver.

Die moeisame proses om die stede te orden het die onvolhoubare aard van Suid-Afrika se tradisionele politiek uitgewys: Alle blanke politieke partye het voortgesette blanke heerskappy bepleit. Hulle wou swart arbeid gebruik, sonder om te aanvaar dat die groot getalle swart mense uiteindelik politieke regte moes kry. Die benadering in ander Britse kolonies in Afrika was om ’n klein groepie swart mense te verwesters en politieke regte aan hulle toe te staan. Hulle moes dan gebruik word om die res van die swart bevolking namens Brittanje te regeer. Sendingskole moes die belangrike taak verrig om swart kinders wat belofte getoon het, uit hulle omstandighede te neem en hulle stamgebonde identiteit met die Westerse kultuur te vervang. Generaal Smuts se regering het soms in daardie rigting geneig, maar dit nie doelgerig nagevolg nie. Sendingskole is wel aangemoedig om swart kinders te ontstam.

Afrikaners se tradisionele beskouing was om duidelike grense tussen hulleself en swart stamme te stel, en hulle so min moontlik daar in te meng. Daar was egter nie sprake van opbouende betrokkenheid nie. Dit is die siening wat in die beleid van “apartheid” herbevestig is. Verwoerd het geglo dat ’n omvattend herontwerpte vorm van apartheid, wat hy afsonderlike ontwikkeling genoem het, die probleem kon oplos. Ingevolge wetgewing wat Generaal Hertzog in 1913 en 1936 deurgevoer het, is sekere dele van die land vir swart vestiging gereserveer – vandaar die woord “reservate”. Dit moes die basis vir afsonderlike ontwikkeling wees.

Verwoerd was ten nouste gemoeid met die kulturele herlewing en ekonomiese opkoms van Afrikaners in die twintigste eeu. Hy het gesien hoe verstommende vooruitgang moontlik was, as die welvarende en goed opgeleide deel van ’n volk hulle lot by minderbevoorregtes ingegooi het. Die nasionalistiese dryfveer vir ontwikkeling het die Afrikaner in staat gestel om binne een geslag ’n proses van sosiale en ekonomiese agteruitgang om te keer. In daardie proses is welvarende Afrikaners wat ter wille van eie voordeel liewers by die Engelssprekende samelewing wou  inskakel, ernstig kwalik geneem.

Volgens Verwoerd se siening, moes die onderskeie swart stamme in volksgroepe saamgesnoer word, wat dieselfde nasionalistiese dryfveer vir ontwikkeling sou ontwikkel. Die regering moes bystand verleen, maar dit moes nie die soort bystand wees om ’n taak vir mense uit te voer nie, dit moes hulle oplei om dit self te doen. Terwyl die departement van naturellesake gewoond was om projekte in die reservate te beplan en stamme dan daaroor in te lig, het hy opdrag gegee dat hulle uit die staanspoor deel van die beplanning moes wees. Vir sommige amptenare was dit ’n moeilike oorgang.

Die ontwikkeling van die tuislande, soos die reservate voortaan genoem is, sou die belangrikste taak van Verwoerd se loopbaan wees. Die wetlike ontwikkeling daarvan het behels dat tradisionele stamowerhede eers erken is. Die poging was om die tradisionele politieke strukture met moderne regering te versmelt om ’n unieke Afrika-vorm van regering te ontwikkel. Verwoerd het vas geglo dat blote oorname van Westerse regeringstrukture ontwrigtend en onsuksesvol sou wees. In 1959 het hy almal verbaas deur ’n stap verder te gaan, deur wette in te stel wat die tuislande die reg sou gee om oor hulleself te regeer. In 1963 was Transkei die eerste tuisland om selfregering te aanvaar. Teen 1966 was hy in gesprek met Basotholand om na onafhanklikheid op dieselfde grondslag as tuislande met Suid-Afrika saam te werk. Hy is egter oorlede voor dit ’n werklikheid kon word.

Op ekonomiese terrein is ontwikkelingskorporasies gestig. Die Bantoe Ontwikkelingskorporasie het infrastruktuur, finansiering en opleiding aan ondernemers verskaf. Die Bantoe Beleggingskorporasie moes finansiële dienste aan mense en in gebiede waar banke dit nie wou doen nie, verskaf. Die Bantoe Mynboukorporasie het ontginbare mineralebronne in die tuislandgebiede gesoek en so ontwikkel dat die voordeel na die stam op wie se grond dit was, sou oorgaan. Swart mense is deur die korporasie beurse gegee om in elke aspek van mynbou opgelei te word. Talle swart myningenieurs het hulle opleiding met dié fondse betaal.

Reaksies op die tuislandbeleid was uiteenlopend. Baie blankes was glad nie ingenome daarmee nie. Hulle kon nie sien dat dit nodig was om seggenskap oor dele van die land aan swart mense af te staan nie. Boere was ook ontevrede omdat hulle op markte met produkte van staatsgesteunde tuislandprodukte moes meeding. Die Verenigde Party het hom in die opsig regs van die NP geposisioneer, omdat hulle die tuislande as ’n bedreiging vir blanke oppergesag en moontlike kanaal vir kommunistiese insypeling beskou het.

Stedelike swart mense het nie aanvaar dat hulle politieke regte tot die tuislande beperk sou wees nie. Nogtans was hulle onkant betrap met die vinniger as verwagte vordering in Verwoerd se bewindstyd. Aanvanklik het hulle geglo dat die tuislande geen werklike gesag sou ontvang nie en was verbaas toe dit anders blyk. Die grootste probleem met die tuislandbeleid was dat swart “volke” dit hoogstens passief aanvaar het. Vir die nasionalistiese dryfveer om die soort resultate te behaal wat Verwoerd in gedagte gehad het, moes hulle dit geesdriftig aangegryp het. Dit het nie gebeur nie, hoewel die beleid eers in die 1990’s geskrap is.

Die buiteland was versigtig oor die beleid. Eers in die 1970’s is dit algemeen verwerp.

Nog ’n aspek van Verwoerd se beleid wat reeds tydens sy termyn as minister van naturellesake begin het, was die berugte “Bantoe onderwys”. Die regering het hom voor 1950 nie veel aan swart onderwys gesteur nie. Sendingskole is deur die staat gesubsidieer en het Westerse onderwys aan ’n klein aantal swart leerlinge voorsien. Verwoerd het in 1956 met massaskoling vir swart kinders begin. Onderwys het vinnig uitgebrei, maar die geweldige bevolkingsgroei het dit moeilik gemaak om ou agterstande in te haal. Tot in 1994 is aansienlik meer op elke wit kind spandeer as op elke swart kind.

Daar was sterk blanke teenstand teen die groot besteding op swart onderwys. Blankes het glad nie geglo dat hulle eie onderwys al op die standaard was wat hulle wou hê nie. Wydverspreide teenstand onder swart geledere sou eers in 1976 tot uitbarsting kom. Vir die eerste twintig jaar na die beleid ingestel is, het sake glad verloop en is nuwe geleenthede deur swart kinders aangegryp. In akademiese kringe was daar teenstand teen die feit dat swart kinders volgens ’n ander kurrikulum as wit kinders sou skoolgaan, maar toe dit gepubliseer is, moes teenstanders erken dat dit nie op ’n laer standaard was nie.

Die negatiefste deel van Bantoe-onderwys was sekere opmerkings wat Verwoerd gemaak het terwyl hy die wet in die parlement verdedig het. Hy het gesê dat daar vir swart mense bo ’n sekere vlak binne die blanke samelewing geen plek was nie, maar dat in hulle eie samelewings daar geen beperking was nie. Die laaste deel word gewoonlik uitgelaat, om dit te laat lyk of hy minderwaardige onderwys wou voorsien om te verseker dat swart mense permanent ondergeskik sou wees.

Ook die skepping van swart universiteite word in daardie lig voorgestel. Dit word soms “bush colleges” genoem. ’n Mens moet in aanmerking neem dat groot bedrae op hierdie universiteite gespandeer is. Daar is voldoende getuienis dat die regering se begeerte was om dié universiteite op die hoogste moontlike vlak te bedryf. Dit was aanvanklik nie gewild onder blanke kiesers nie.

Aangesien Verwoerd se beleid van afsonderlike ontwikkeling ’n eenheid vorm, is die periode tot 1966 as ’n eenheid hanteer. Nou is dit eers nodig om te verduidelik hoe Verwoerd van minister van naturellesake tot eerste minister gevorder het.

Met advokaat J.G. Strydom se dood in 1958 was daar geen eenstemmigheid oor wie hom as leier van die NP en dus eerste minister van Suid-Afrika moes opvolg nie. Dr. T.E. Dönges, vertroueling van dr. Malan en minister van binnelandse sake, was ’n sterk gunsteling. Hy was verantwoordelik vir die instelling van apartheidswetgewing soos aparte woongebiede, bevolkingsregistrasie en verwydering van bruin mense van die gemeenskaplike kieserslys. Hy het nie oor ’n republiek so sterk soos Strydom of Verwoerd gevoel nie. Adv. C.R. Swart was Vrystaatse leier van die NP en besonder sterk republikeinsgesind. Hy was minister van Justisie en ’n geliefde persoonlikheid. Verwoerd was die derde kandidaat. Hy het ’n reputasie as sterk republikein gehad, maar is eerder om sy werkywer gerespekteer as wat hy gewild was. Sy visie van afsonderlike ontwikkeling het party mense geesdriftig gemaak, maar ander was versigtig daarvoor. Uiteindelik was dit tog Verwoerd wat aangewys is.

Die eerste jaar van sy bewind het rustig verloop, maar 1960 sou ’n dramatiese jaar wees. Onrus oor die implementering van apartheidsmaatreëls het stadig maar seker onder swart mense opgebou. Die ANC het geleidelik meer radikaal geword en die PAC, ’n splintergroep van die ANC het hom vir Suid-Afrika sonder blanke inwoners beywer. ’n Veldtog is byvoorbeeld beplan om vanuit die swart woongebied buite Wellington te begin om alle blankes te vermoor. Die polisie was onervare in die hantering van oproerige skares en polisiestasies was swak omhein.

Die eerste dramatiese gebeurtenis van die jaar is deur Verwoerd self aangekondig, toe hy op 20 Januarie 1960 aangekondig het dat die kiesers in ’n referendum sou stem oor die vraag of Suid-Afrika ’n republiek sou word. Kort voor die tyd het hy ’n opname deur NP-kantore landwyd laat doen om te skat wat die uitslag van so ’n referendum sou wees. Die terugvoer was dat die republiek nie sou wen nie. Verwoerd het dus sy politieke loopbaan op die spel geplaas.

In Februarie het die Britse eerste minister, Harold Macmillan, sy toer aan Britse besittings in Afrika in Suid-Afrika afgesluit. In die sogenaamde Winde van Verandering-toespraak het hy gesê dat swart bevryding die winde van verandering is wat oor Afrika gewaai het en dat Brittanje dit nie sou teenstaan nie. Verwoerd het in sy reaksie aangedring dat afsonderlike ontwikkeling nie teenstrydig met dié veranderings is nie, maar in lyn daarmee. Hy het ook gesê dat geregtigheid nie net aan die swart mense van Afrika gegee moet word nie, maar ook aan die witmense. Die toespraak het sy opvatting bevestig dat deelwees van die Britse ryk vir blankes in Suid-Afrika geen beveiliging sou wees, soos talle Engelssprekendes geglo het nie. Die twee taalgroepe sou op mekaar moes steun, teen ’n vyandige wêreld. Dit is juis hoekom hy geglo het dat republiekwording so belangrik was.

Kort na die aankondiging oor ’n referendum is die polisiekantoor in Cato Manor aangeval en 9 polisiemanne is vermoor. ’n Groep blanke werkers in Transkei is ook oorval en vermoor. Op 21 Maart is ’n landwye veldtog teen pasboeke beplan. In die swart woongebied Sharpeville in die Vaaldriehoek het ’n groot skare om die polisiestasie saamgedrom om hulle pasboeke te verbrand. Die polisie het paniekerig geraak en in die skietery wat gevolg het, is 69 mense dood. Dit het tot internasionale verdoeming en verdere protes in Suid-Afrika gelei. Die regering het met ’n noodtoestand gereageer en die opstande betreklik gou onderdruk. Beide die ANC en PAC is tot verbode organisasies verklaar.

In die tussentyd moes Verwoerd die Randse Paasskou se landbouskou op 9 April open, toe die eerste aanslag op sy lewe uitgevoer is. Mnr. Paul Sauer, wat as eerste minister waargeneem het, het gestel dat die dramatiese gebeure ’n koersverandering noodsaaklik gemaak het. Verwoerd het egter spoedig herstel en aangekondig dat geen koersverandering nodig was nie, slegs meer doelgerigte leierskap.

Die veldtog om die referendum het voortgeduur en Verwoerd het onderneem om hom vir voortgesette lidmaatskap van die Britse Statebond te beywer. Die uitslag was ’n oorwinning, met ’n meerderheid van sowat 75 000 stemme. Dit was naelskraap, maar voldoende.

Vroeg in 1961 was daar ’n premierskonferensie van regeringshoofde van die Britse Statebond. Indië, Ghana en Kanada het sterk daarop aangedring dat Suid-Afrika sy binnelandse beleid moes verander indien die land binne die Statebond wou bly. Uiteindelik het Verwoerd die versoek teruggetrek. Selfs die VP het dié stap gesteun.

Republiekwording op 31 Mei 1961 was die hoogtepunt van ’n stryd wat vir party mense reeds op 31 Mei 1902, toe die Boererepublieke aan die Britse owerheid oorgegee het, begin het. Vir Verwoerd was dit die teken dat Afrikaners en Engelssprekende Suid-Afrikaners voortaan Suid-Afrika as enigste tuiste sou hê en moes saamwerk om die Westerse erfenis te handhaaf. Daarom het hy kort daarna twee Engelssprekende ministers in sy kabinet aangestel. In 1966 het die NP die eerste keer ’n noemenswaardige hoeveelheid Engelssprekende stemme gekry.

Hoewel die opposisiepers en ander doemprofete voorspel het dat republiekwording, veral buite die Statebond, ’n ekonomiese ramp sou wees, het die teenoorgestelde waar geword. Suid-Afrika het die langste groeitermyn in die geskiedenis binnegegaan, wat met lae rentekoerse, lae inflasie en sterk groei in werksgeleenthede gepaard gegaan het.

Suid-Afrika se administrasie van Suidwes-Afrika het internasionale betrekkinge belemmer. Die gebied is kragtens die vredesverdrag na die Eerste Wêreldoorlog aan Suid-Afrika as mandaatgebied oorgedra. Suid-Afrika het dié mandaat as geldend beskou, terwyl oud-kolonies in Afrika en Asië van mening was dat dit na die Tweede Wêreldoorlog verval het. ’n Uitgerekte hofsaak in die Wêreldhof in Den Haag het in 1966 geëindig, toe Suid-Afrika gelyk gegee is.

Dit was op hierdie punt dat die land geskok is deur nog ’n poging om Verwoerd te vermoor – die keer suksesvol. ’n Parlementêre bode het kort voor ’n belangrike toespraak op Verwoerd geval en hom drie keer met ’n dolk gesteek. Die wonde is só geplaas dat oorlewing onmoontlik was. Hoewel dit óf ’n hoë mate van kundigheid, óf ’n buitengewone toeval vereis het, is bevind dat die moordenaar, Dimitrio Tsavendas, op sy eie gehandel het. Hy is as sielkundig onstabiel verklaar en nooit verhoor nie. ’n Regterlike kommissie het die saak ondersoek en bevind dat daar geen sprake van ’n sameswering was nie.

Slot

Dr. H.F. Verwoerd is ’n hoogs omstrede figuur. Oor sy loopbaan sal nog lank gedebatteer word.

Comments are closed.

error: Content is protected !!