Profiel: Generaal JBM Hertzog
Maart 11, 2013
Profiel: Adv JG Strydom
Maart 12, 2013

Inleiding
Generaal Piet Joubert het ’n prominente rol in die ZAR se hele geskiedenis gespeel, veral in die herwinning van vryheid in 1881. Hy was ook die sterkste politieke teenstander van president Paul Kruger, hoewel hy terselfdertyd hoof van die republiek se militêre magte was. Met sy dood was sy loopbaan op ’n laagtepunt, aangesien hy nie doeltreffende leiding aan die begin van die Tweede Vryheidsoorlog gegee het nie. Dit is die moeite werd om na hierdie lewe in al sy skakerings te kyk.

Biografiese gegewens
Petrus Jacobus Joubert is op 20 Januarie 1834 in die Kaapkolonie, in die omgewing tussen Prins Albert en Oudtshoorn, gebore. Sy ma sterf kort na sy geboorte en hy word by sy grootouers groot en neem saam met hulle aan die Groot Trek deel.

Soos baie mense van sy ouderdom, het Joubert lank geneem om na die Trek tot ruste te kom. Hy het eers naby Pretoria in die Irene-omgewing geboer, waar hy sy vrou, ook ’n Voortrekkerdogter, ontmoet het. Hulle het in verskillende dele van die republiek geboer, maar uiteindelik in die suidoostelike hoek, in die Wakkerstroom-distrik, gevestig.

Piet Joubert was ’n intelligente persoon wat vir sy gebrek aan skoolopleiding vergoed het deur wyd te lees, veral in die regte. Hy was ’n suksesvolle boer, wat spoedig welvarend geword het – iets uitsonderlik in ’n samelewing waar boere meestal bloot selfversorgend was. Gedurende die 1860’s is hy vir die Wakkerstroom-kiesafdeling tot die Volksraad van die ZAR verkies. Hy het ook vir ’n tyd lank as prokureur-generaal van die republiek diens gedoen.

Toe Brittanje die ZAR in 1877 geannekseer het, was Joubert konsekwent in sy weerstand daarteen. Toe die weerstand op oorlog uitgeloop het, is hy as kommandant-generaal van die republikeinse magte aangewys. In dié hoedanigheid was hy aanvoerder van die Boeremagte by die slag van Majuba.

Met die herwinning van onafhanklikheid het Joubert kommandant-generaal van die republiek se magte gebly, tot hy in 1900 oorlede is. Met elke presidentsverkiesing van 1883 tot 1898 het hy teen Paul Kruger gestaan, maar nooit gewen nie.

Vroeg in die Tweede Vryheidsoorlog het Joubert tydens ’n veldslag van sy perd afgeval en inwendige beserings opgedoen. Hy het nooit ten volle herstel nie en is op 28 Februarie 1900 in Pretoria oorlede.
Openbare lewe

Toe Andries Pretorius in 1852 die Sandrivierkonvensie met Brittanje gesluit het, het die gebied noord van die Vaalrivier as die Zuid-Afrikaansche Republiek onafhanklik geword. Dit het die chaotiese toestand in dié wêrelddeel verdoesel. In die verre noorde, in die Soutpansberggebied, het volgelinge van die trekleier Hendrik Potgieter gewoon. Hulle het nie Pretorius se gesag aanvaar nie en daarom ook nie die Volksraad, wat na die konvensie verkies is, erken nie. In die ooste het die Lydenburg-distrik hulleself voor 1852 as ’n eie republiek beskou. Hulle gebied was rofweg van Lydenburg in die noorde tot by die grens met Zoeloeland in die suide. Hulle het ook nie altyd die gesag van die Volksraad, wat in Potchefstroom gesetel was, erken nie. Die derde groep was die volgelinge van Pretorius. Hulle het hoofsaaklik in die Potchefstroom-Rustenburg-omgewing gewoon en was die enigste groep wat die Volksraad se gesag ten volle aanvaar het.

M.W. Pretorius, een van Andries Pretorius se seuns, het president van die ZAR geword het. Een van sy planne om die bevolking tot ’n eenheid saam te snoer, was om ’n nuwe hoofstad te vestig. Nie een groep sou kon sê dat ’n ander groep sy hoofstad op almal wou afdwing nie. So is Pretoria (vernoem na Andries Pretorius) gestig. Sterk figure wat eenheid help bewerkstellig het, was Paul Kruger (deel van die Potgieter-groep, maar in Rustenburg woonagtig) en Piet Joubert, uit die ou Lydenburg-republiek.

Een van die ZAR se mees akute probleme was ’n gebrek aan kundigheid. Min Voortrekkers het kennis gehad van landsadministrasie en regspraak. Drie Trekleiers het talent in daardie rigting gehad, maar al drie is oorlede: Gerrit Maritz en Piet Retief tydens die trek, en Andries Pretorius wat te vroeg dood is om aan die opbou van die staat deel te neem. Op daardie stadium kon die staat ook nie goeie salarisse betaal om mense van buite te lok nie.

Iemand soos Piet Joubert was onder hierdie omstandighede van onskatbare waarde. Hy het goeie besigheidsaanvoeling gehad en kon welvarend raak in ’n tyd wat die meeste mense net kop bo water gehou het. Die staat se vermoë om hom vir sy dienste te betaal, was vir hom nie deurslaggewend nie. Toe die republiek geen ander keuse gehad het nie, kon Joubert met die kennis wat hy self opgedoen het, as prokureur-generaal diens doen.

Die groot aantal onafhanklike swart stamme het dele van die ZAR kort-kort bedreig. Joubert het in verskeie veldtogte deelgeneem en homself as ’n sterk militêre leier bewys. In die 1860’s is Joubert deur die Wakkerstroom kiesafdeling, waar hy permanent gewoon het, tot die Volksraad verkies. Hy was in die politiek, soos in besigheid en militêre sake, uitgeslape en baie versigtig. Daarom het hy weldra as “Slim Piet” bekend gestaan.

As gevolg van Joubert se reputasie het hy, wanneer president Thomas Francois Burgers oorsee was, as president waargeneem. Die ander sterk leier, Paul Kruger, was sterk teen Burgers gekant en wou niks met sy regering te doen hê nie.

Na Brittanje die ZAR in 1877 geannekseer het, het hulle probeer om soveel moontlik erkende Boereleiers in die regering te betrek. Piet Joubert het konsekwent geweier om daaraan deel te neem en so sy geloofwaardigheid as Boereleier gevestig. Dit was in later jare ’n geskil tussen hom en Kruger dat laasgenoemde wel in die Britse administrasie gedien het.

Dit het aan die begin gelyk of die meeste burgers van die ZAR hulle met Britse anneksasie sou versoen. Joubert was een van ’n klein groepie wat onvermoeid geywer het om die land se onafhanklikheid te herstel. Hy was oortuig dat deelname aan die Britse Ryk tot die verdwyning van ’n eie Boere-identiteit (die woord Afrikaner is toe nog selde gebruik) sou lei.

Dit het gou geblyk dat die meeste burgers nie die anneksasie verwelkom het nie. Paul Kruger, M.W. Pretorius en Piet Joubert was die sogenaamde Driemanskap wat die protes georganiseer het, met die Britse owerhede geskakel het en weer aan die burgers verslag gedoen het. Toe dit blyk dat hulle niks met die koloniale owerhede in Suid-Afrika kon uitrig nie, het hulle twee maal met die regering in Engeland gaan onderhandel. Die Liberale Party het intussen in Engeland aan bewind gekom. Hulle was teen die anneksasie gekant, maar het nie kans gesien dat die magtige Britse Ryk stert tussen die bene uit ’n kolonie padgee nie.

Die Driemanskap het hierdie onbevredigende resultaat aan ’n volksvergadering by Paardeberg (in die huidige Krugersdorp) bekend gemaak. Die burgers het besluit om hulle republiek eensydig te herstel, wel wetende dat dit tot oorlog teen Brittanje sou lei. Paul Kruger is as president aangewys en Piet Joubert as kommandant-generaal. Die belangrikste dorpe, Pretoria, Potchefstroom en Lydenburg was almal in Britse hande. Daarom sou Heidelberg as hoofstad gebruik word.

Joubert het onmiddellik begin om alle voorbereidings vir oorlog te tref. Om optrede te voorkom, is die Britse mag in Pretoria vasgekeer. ’n Mag wat hulle van Lydenburg te hulp gesnel het, is by Bronkhorstspruit voorgelê en bykans vernietig. Terwyl die binnelandse mag lamgelê was, het Joubert geweet die eintlike bedreiging sou ’n inval uit Natal wees. Hy het die omgewing goed geken en kon sy magte goed ingrawe om al die moontlike deurgange te stuit.

Die Britse magte het twee maal deur die Boerelinies probeer druk: By Schuinshoogte (of Ingogo) en Laingsnek. Al twee kere is hulle met groot verliese teruggedryf. Die Britse aanvoerder, Colley, het besluit om die Boere heeltemal te fnuik, deur van die gebaande weë af te wyk. Gedurende die nag van 26 Februarie 1881 is ‘n groot kop, wat beheer oor ’n groot omgewing sou bied, bestyg. Dit was Majuba. Mevrou Joubert, ’n formidabele vrou wat haar man dikwels op militêre ekspedisies vergesel het en van groot hulp was, was die eerste om Britse soldate op die berg waar te neem. Joubert, wat self van die strategiese waarde van die kop bewus was, kon dit byna nie glo nie. Hy het wagte spesiaal by die plekke waar die berg bestyg kon word, geplaas. Hulle het ongelukkig hulle taak nie baie ernstig opgeneem nie en gaan slaap. Die verhaal sê dat Joubert aan sy vrou gesê het dat dit onmoontlik was; dit was seker maar bergbokke wat sy sien. Haar antwoord was: “En van wanneer af dra die bergbokke rooi baadjies?”

Joubert se antwoord op hierdie Britse uitdaging was om die Britse mag aan te val voor hulle hulleself goed kon ingrawe. Hy het die terrein baie goed uitgekies, sodat die Boere die berg bykans ongesiens kon bestyg. Die Britse soldate, wat na die uitputtende nagmars gaan slaap het, was totaal uit die veld geslaan toe die Boere hulle op die berg verras. ’n Kort, bloedige slag het gevolg, waartydens Colley self gesneuwel het. Die militêre vernuf van Piet Joubert en sy burgers se vasberadenheid het die Britse owerhede oortuig dat dit nie so maklik sou wees om die “rebellie” in Transvaal te onderdruk nie. ’n Skikking is bereik, waarvolgens die ZAR sy onafhanklikheid gedeeltelik herwin het. Dit sou voortaan slegs wat buitelandse verhoudings betref, aan Brittanje ondergeskik wees.

Die periode tussen die twee Vryheidsoorloë word deur Paul Kruger oorheers, met Joubert wat altyd tweede viool gespeel het. Hulle het albei vir president gestaan, maar Kruger het met ’n aansienlike meerderheid gewen. In die ZAR was daar nie politieke partye nie. Kiesers het tussen persone gestem vir sowel president as volksraadslede. ’n Mens sou byvoorbeeld weet dat oom Willem ’n Kruger-man was en oom Koos ’n Joubert-man, maar dit het nie beteken dat die een wat verkies word, sy leier in alle opsigte moes volg nie. Om die een te steun, het nie noodwendig beteken om teen die ander gekant te wees nie. Daarom kon die onsuksesvolle kandidaat vir president die tweede belangrikste pos in die republiek, die van kommandant-generaal, vul.

Tot voor die ontdekking van goud was die verskille tussen Joubert en Kruger nie baie ernstig nie. Met goud het egter ’n toestroming van “Uitlanders,” hoofsaaklik vanuit Engeland, die ZAR binne gestroom. Kruger was bang dat Uitlanders, as hulle politieke regte ontvang, die regering sou oorneem en die republiek by die Britse Ryk laat inskakel. Daarom het hy dit veel moeiliker gemaak om burgerskap te verkry, wat die Uitlanders veronreg laat voel het.

Nog ’n kwessie was Kruger se ekonomiese beleid. Dit is voor die ontdekking van goud geformuleer, toe dit baie moeilik was om enigeen te oortuig om in die ZAR te belê. Hy het “konsessies” of alleenreg vir die vervaardiging van byvoorbeeld seep, drank en dinamiet teen geringe koste aan sekere mense toegestaan. In ’n omgewing waar niemand werklik wou belê nie, was dit ‘n goeie idee, maar na die ontdekking van goud was daar skielik ’n groot binnelandse mark en talle ondernemers wou in vervaardiging belê.

Dit was nie net Uitlanders wat teen Kruger se beleid oor stemreg en konsessies gekant was nie. ’n Groot groep Boere, onder leiding van Piet Joubert, het mettertyd as die Progressiewes bekend geword. Hulle wou ’n vryer ekonomie tot stand bring en het geglo dat Kruger se onbuigsame beleid oor Uitlanderstemreg die republiek juis in gevaar gestel het. Hulle het geglo dat min Uitlanders hulle eie burgerskap vir ZAR-burgerskap sou verruil. Dit sou beter wees om die keuse aan Uitlanders te stel, en die wat wel burgerskap wou hê, aktief in te skakel. Dit sou volgens hulle keer dat opstandigheid breekpunt bereik en Brittanje sou nie rede hê om in te gryp nie.

Joubert kon nooit die meerderheid burgers van sy siening oortuig nie. In 1893 het hy met slegs ’n paar honderd stemme teen Kruger verloor, maar teen 1898 was die stemming tussen Boere en Uitlanders so vyandig, dat Joubert se siening deur baie as verraad beskou is. Hy het dus skaars meer as ’n kwart van die stemme ontvang.
Sedert die mislukte Jameson-inval van 1897 het oorlog tussen die ZAR en die Britse Ryk al meer waarskynlik gelyk. Joubert was verantwoordelik vir die uitbou van die republiek se weermag en oorlogsvoorbereidings. Hy was versigtig, want openlike voorbereidings kon dit laat lyk of die ZAR die aggressiewe party was en Brittanje ’n voorwendsel gee om oorlog te verklaar. Aan die ander kant, as Brittanje op oorlog afgestuur het, moes die ZAR voorbereid wees. Joubert het hom dus aan die politiek onttrek (waar hy steeds geglo het dat Kruger ’n noodlottige beleid gevolg het) en aan militêre voorbereidings toegewy.

Die vlak van gereedheid van die ZAR teen 1899 was ’n groot prestasie van Joubert. Die permanente weermag is vergroot en van goeie wapentuig voorsien. Van alle soorte wapentuig is die beste uit Europa ingevoer. Creusot kanonne uit Frankryk kon groter verwoesting saai as enigiets tot die Engelse se beskikking. Mausergewere uit Duitsland was verreweg die mees gevorderde ter wêreld. Dit was oor ’n lang afstand akkuraat en het afgevuur sonder om ’n rookwolkie te veroorsaak. Dit het uitstekend by die Boere se taktiek om hulle agter bosse en klippe te versteek, gepas. Forte is reg rondom Pretoria opgerig, hoewel dit nooit gebruik is nie. Oproepinstruksies is aan alle burgers gestuur, in afwagting op die naderende krisis.

Teen 1899 was Piet Joubert reeds 65 jaar oud, ’n heel gevorderde leeftyd vir daardie tyd. Toe die oorlog op 11 Oktober uitgebreek het, het Joubert bevel oorgeneem. In teenstelling met die voorbereidings wat hy professioneel en met toewyding aangepak het, was hy ’n lustelose aanvoerder toe die oorlog eers uitgebreek het. Sy hele strategie was op verdediging ingestel. Britse magte is in die grensdorpe Ladysmith in Natal en Kimberley en Mafeking in die Kaapkolonie vasgekeer. Die spoorweë en ander moontlike roetes vir versterkings is geblokkeer. Daar is egter geen poging aangewend om die Boers se aanvanklike oormag en meerderwaardige wapentuig te gebruik om tot die aanval oor te gaan nie.

Britse pogings om die grensdorpe te ontset het tot skitterende oorwinnings vir die Boere gelei. Die Britte was totaal onkant betrap en met doelgerigte aanvalstaktiek kon die Britse magte honderde kilometers ver teruggedryf word. Jonger generaals soos Botha, De la Rey (in Transvaal) en De Wet (in die Vrystaat) het hulle daarvoor beywer, maar Joubert het vasgeskop. Volgens ’n verhaal het hy gesê dat as God ’n mens die pinkie gee, jy nie die hele hand gryp nie. Wat ook al sy rede was, hy het ’n gulde kans deur sy vingers laat glip. Die Britse magte het geduldig op versterkings gewag en toe alle weerstand voor hulle weggevee.

Daar is ’n interessante bewering dat Joubert nie werklik van siekte gesterf het nie, maar weens verraad tereggestel is. Die verhaal gaan ongeveer soos volg: Nadat die beleërde dorpe deur Britse magte ontset is en die Boere se verdediging in duie gestort het, is Joubert deur ’n krygsraad, onder leiding van generaal Louis Botha, weens sy gebrekkige leiding verhoor. Hy is aan verraad skuldig bevind. ’n Gifkapsule en ’n patroon is voor hom neergesit, sodat hy ’n keuse van teregstelling kon maak. Volgens die verhaal het hy die kapsule gekies en die voorwaarde gestel dat sy vrou nooit van sy teregstelling of lafhartigheid moes hoor nie.

Hierdie verhaal klink uiters onwaarskynlik. Botha was op daardie stadium nog ’n junior offisier. Dit is eers na Joubert se dood dat hy tot ’n hoë pos (die nuwe aanvoerder in Joubert se plek) aangewys is. Voor Joubert se dood was hy in geen posisie om prominent in ’n krygsraad te wees nie. Ons kan ook nie uit enkele jonger generaals se aandrang op aanvallende oorlogvoering aflei dat dit ’n algemene mening was nie. Vir die Boere was elke man se lewe goud werd en daar is bykans geen voorbeeld van riskante, aanvallende oorlogvoering in hulle militêre tradisie nie. Dit is waarom die Britte op die Boere as lafhartige soldate neergesien het, en seker was dat hulle binne ’n kort tyd ’n klinkende oorwinning sou behaal. Majuba was in 1881 die uitsondering. In veldtogte teen swart stamme voor en na 1881 is die stam in ’n vesting vasgekeer, totdat hulle oorgegee het. ’n Mens kan eintlik sê die Boere het geen ander vorm van oorlogvoering geken nie. Dit is met terugskoue dat die versuim om aan te val na só ’n ernstige flater lyk, dat dit aan verraad grens. Nog ’n rede is dat die Boereleiers op daardie stadium verslae en radeloos was. Sommige leiers wou die oorlog net daar beëindig. Selfs die onverskrokke generaal de Wet het sy burgers vir ’n tyd lank huis toe gestuur om die oeste in te samel en slegs terug te keer as hulle werklik vir die oorlog kans gesien het. In daardie tyd het hy self vertwyfeling beleef. Dit is nie ’n gemoedstoestand waarin ’n ingrypende besluit soos teregstelling van die hoogste bevelvoerder maklik geneem word nie. Ons kan aanneem dat die amptelike verklaring vir sy dood waarskynlik nader aan die waarheid is.

Besondere bydrae
Daar is in die geskiedenis soveel faktore wat ’n belangrike rol speel, dat dit onmoontlik is om te sê hoe sake sou verloop het as byvoorbeeld, Joubert in 1893 vir Kruger as president verslaan het. Joubert se finale mislukking as aanvoerder van die Boeremagte, moet ’n mens nie sy ander prestasies uit die oog laat verloor nie. Die simboliese waarde van die oorwinning by Majuba het ’n belangrike rol in die opkoms van bewuste Afrikanerskap gehad. Hy het ’n ander soort Afrikanerskap as Kruger s’n verteenwoordig, wat belangrik is, al het dit nooit die botoon gevoer nie. Verder het sy voorbereidings vir die oorlog ’n belangrike grondslag gelê vir die heldhaftige stryd wat die Boere later gevoer het. ’n Mens moet nie vergeet nie dat Joubert vir baie jare die leier was van ’n groep wat Louis Botha, Koos de la Rey, Christiaan Beyers en Danie Theron ingesluit het.

Slot
Generaal Piet Joubert is een van die Boereleiers wat somtyds in die vergetelheid verdwyn. ’n Deegliker ondersoek wys dat hy op ’n bepaalde tyd ’n deurslaggewende rol in sy volk se lewe gespeel het.

Comments are closed.

error: Content is protected !!