Profiel: Dr HF Verwoerd
Maart 12, 2013
Die aanspraak van lewende wesens – de nieuwste roman van Ingrid Winterbach
Maart 19, 2013

Inleiding

Advokaat BJ (John) Vorster is die enigste persoon wat sowel die regeringshoof (eerste minister) as staatshoof (staatspresident) van Suid-Afrika was. Sedert 1983 is die twee poste verenig, maar tot op daardie stadium was die staatspresident ’n seremoniële hoof buite die aktiewe politiek. Hy het ’n loopbaan vol hoogtepunte gehad, wat ongelukkig op ’n laagtepunt met die sogenaamde inligtingskandaal geëindig het. In hierdie profiel gaan ons meer leer van dié gewilde leier wat dikwels deur sy ondersteuners Oom John genoem is.

Biografiese gegewens

Balthazar Johannes Vorster is op 13 Desember 1915 naby Uitenhage in die Oos-Kaap gebore, waar sy pa ’n welvarende skaapboer was. Na hy gematrikuleer het, het hy aan die Universiteit van Stellenbosch in die regte gestudeer. Hy het in 1938 in die staatsdiens begin werk, maar kort daarna sy eie regspraktyk begin; eers in Port Elizabeth, maar na ’n jaar het hy na Brakpan aan die Oosrand verskuif.

Vorster was ’n ywerige ondersteuner van die Ossewa Brandwag (OB), wat selfs ’n generaal in hulle “Stormjaers”, ’n semi-militêre afdeling van die OB, geword het. As gevolg daarvan is hy van 1942 tot 1944 geïnterneer (gevange gehou weens ’n vermoede dat hy die staat bedreig het, sonder hofverskyning).

Na die einde van die Tweede Wêreldoorlog het Vorster weer by die Nasionale Party (NP) aangesluit. Hy het as kandidaat in ’n Oosrandse kiesafdeling in die 1948-verkiesing gestaan, maar naelskraap verloor. In 1953 is hy tot LV vir Nigel verkies. In 1958 was hy een van ’n paar jong adjunk-ministers wat aangestel is. In 1961 het hy minister van justisie geword, terwyl polisie en gevangenisdienste later in die jaar ook aan hom toevertrou is.

Met die moord op dr Verwoerd in 1966 is Vorster tot partyleier en eerste minister van Suid-Afrika verkies. In sy bewindstyd het die internasionale veldtog teen Suid-Afrika momentum gekry en swart ontevredenheid het in die Soweto-opstande van 1976 tot uitbarsting gekom. Hy het ook teenstand uit sekere Afrikanerkringe gekry, toe die Herstigte Nasionale Party (HNP) in 1969 gestig is.

In 1977 het Vorster ’n rekordoorwinning by die stembus verkry. Daarna het sy probleme egter vinnig meer geword, toe bewerings oor die sogenaamde inligtingskandaal na vore gekom het. Sy gesondheid het ook agteruit gegaan, sodat hy in 1978 as eerste minister uitgetree het en as staatspresident verkies is. Dit het met verloop van tyd geblyk dat hy van meer besonderhede rondom inligting bewus was as wat hy wou toegee en moes ook dié pos ontruim.

Op 10 September 1983 is Vorster oorlede.

Openbare lewe

John Vorster se politieke loopbaan het reeds op universiteit begin, toe hy ’n ywerige deelnemer aan debatte en ander politieke gesprekke was. Hy was onder andere onder-voorsitter van die Studenteraad. Dit is opmerklik dat al die eerste ministers na generaal Botha, tot by Vorster, oudstudente van die Universiteit van Stellenbosch was.

Met die honderdjarige herdenking van die Groot Trek in 1938 was daar ’n geweldige oplewing in Afrikanernasionalisme. Om hierdie gees in stand te hou, is die Ossewa Brandwag (OB) gestig. Aanvanklik was dit ’n kultuurorganisasie, maar na die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het dit ’n sterk politieke karakter ontwikkel. Dit het tot ’n massa-beweging ontwikkel, wat op ’n semi-militêre grondslag ontwikkel is. Daar was gewone lede, maar ’n para-militêre mag, die Stormjaers, het ook ontstaan. Die Stormjaers het Suid-Afrikaanse deelname aan die oorlog ondermyn deur strategiese teikens aan te val. Kragstasies, kragdrade en poskantore was dikwels die teikens.

Gewone OB-lede is eerder deur die organisasie se bruisende geesdrif meegevoer en deur ’n anti-Britse gevoel gemotiveer as wat hulle pro-Nazi of selfs pro-Duitsland was. Die geweldige lyding en vernietiging van die Tweede Vryheidsoorlog, toe 27 000 Afrikaner vroue en kinders in konsentrasiekampe gesterf het, plase afgebrand, vee en oeste vernietig is en talle Kaapse burgers wat vir die republieke geveg het, tereggestel is, was nog vars in die Afrikanergeheue.

Die top-leierskap onder dr. Hans van Rensburg daarenteen, was diep met die suksesse van Nazi-Duitsland beïndruk. Volgens hulle was die meeste van Afrikaners se probleme aan ’n gierige klas van kapitaliste (wat soms met Jode geassosieer is) te wyte. Hulle het geglo dat demokrasie dit vir dié mense moontlik maak om beheer oor die land en sy hulpbronne te kry. Duitsland se suksesse tot ongeveer 1944 het hulle oortuig dat demokratiese lande binnekort die knie voor lande soos Duitsland, Italië en Japan sou moes buig. In Suid-Afrika sou die OB gereedstaan om beheer oor die land op ’n nasionaal-sosialistiese grondslag oor te neem.

Dit is verstaanbaar dat die OB met die Nasionale Party, wat steeds in parlementêre demokrasie geglo het en onomwonde gestel het dat Duitse oorheersing selfs nog meer onwenslik as Britse oorheersing sou wees, gebots het. Die OB het sy lede met die verkiesing van 1943 aangeraai om nie te gaan stem nie, wat veroorsaak het dat die NP ’n aantal wenbare setels verloor het.

Die botsing met die regering was ernstiger. Die OB se ideologie was in die oë van die regering staatsgevaarlik en die Stormjaers het dit met dade van sabotasie bevestig. Die regering kon nie waag om die OB te verbied nie, want die organisasie was te gewild. Daar is wel genadeloos teen mense opgetree wat van betrokkenheid by sabotasie verdink is. Hulle is geïnterneer, wat beteken het dat hulle aangehou is sonder om verhoor te word. ’n Interneringskamp is by Koffiefontein in die suid-Vrystaat vir dié doel ingerig.

As jong, nasionalistiese Afrikaner, het John Vorster sy gewig by die OB ingegooi. Weens sy geesdrif en harde werk het hy ’n generaal in dié organisasie geword, wat ook beteken het dat hy fyn dopgehou is. Die jare wat hy geïnterneer is, moes sekerlik ’n invloed op die res van sy loopbaan gehad het.

Met die verval van die OB na die Tweede Wêreldoorlog, was dit vir prominente lede moeilik om na die NP terug te keer. Hulle het dan liewer die Afrikanerparty van N.C. Havenga ondersteun. Een van hierdie persone was John Vorster. Na die 1948-verkiesing het die twee partye tog saamgesmelt en oud-OB’s moes noodgedwonge deel van die NP word. Die versoening het vinnig plaasgevind en in die verkiesing van 1953 is Vorster tot LV vir die kiesafdeling Nigel verkies. Slegs vyf jaar later is hy as adjunk-minister aangestel.

Die krisis rondom Sharpeville en die onrus wat daarop gevolg het, was deurslaggewend in John Vorster se loopbaan. Hy het minister van justisie, polisie en gevangenisdienste geword, wat beteken het dat al die veiligheidsdienste, buiten die weermag, voortaan onder hom sou val. Hy het omvangryke veiligheidswetgewing deur die parlement geloods, wat die polisie onder buitengewone omstandighede byna onbeperkte mag gegee het. Nadat die onmiddellike krisis ontlont is, is die noodtoestand opgehef, maar veiligheidswetgewing was steeds so sterk dat die land deur sy teenstanders as ’n polisiestaat bestempel is. Vorster se eie reputasie het gegroei tot ’n persoon wat onwrikbaar in die beleid van afsonderlike ontwikkeling en die veiligheid van die staat geglo het.

Toe Verwoerd in 1966 vermoor is, was daar nie ’n vanselfsprekende opvolger nie. Twee name is genoem, die van Vorster en mnr. Ben Schoeman, ’n senior kabinetslid. In die atmosfeer van onsekerheid en verslaentheid na die eerste moord op ’n Suid-Afrikaanse regeringsleier, het mense veilig gevoel met ’n kandidaat wat vir sy genadelose optrede teen teenstanders van die regering bekend was; Vorster was boonop jonk en op die oog af vol energie. Schoeman het hom nie beskikbaar gestel nie en Vorster is eenparig tot eerste minister verkies.

Rasseverhoudinge het regoor die wêreld tydens die 1960’s verander. Die Burgerregte veldtog (Civil Rights Campaigns) in die VSA onder leiers soos Martin Luther King jr. was uiters suksesvol. Hulle het in groot getalle die wette wat swart en wit mense van verskillende geriewe, vervoer en skole laat gebruik maak het, doelbewus oortree. Dit het polisie-optrede uitgelok, wat weer media-aandag getrek het. Uiteindelik is die Amerikaanse regering gedwing om alle diskriminerende wette af te skaf. Dit het na die res van die wêreld oorgespoel, sodat onderskeid op grond van ras heeltemal onwettig geraak het. Oor die algemeen was lande meer vyandig teenoor Suid-Afrika se binnelandse beleid.

Sommige mense het gepraat van klein en groot apartheid. Klein apartheid het gegaan oor aparte geriewe, woongebiede, besighede, ensovoorts. Groot apartheid (afsonderlike ontwikkeling) het gegaan oor die vrymaking van swart mense in hulle eie gebiede, sodat dit wit mense se vryheid en oorheersing van die res van Suid-Afrika nie sou beïnvloed nie.

Vorster het besef dat Suid-Afrika by die internasionale klimaat moes aanpas. Hy het beperkings wat moeilik verdedigbaar was, afgeskaf. Buitelandse sportspanne sou voortaan vry wees om nie-blanke lede in hulle toere na Suid-Afrika in te sluit. Diplomate van swart Afrikastate sou toegelaat word om in Suid-Afrika se blanke woonbuurte te woon, soos enige Westerse land se diplomate. Hy het seker gemaak dat sy besoeke aan swart woongebiede publisiteit geniet het.

Hierdie rigting is deur sekere lede van die NP as ’n afwyking van die beleid van sy voorgangers beskou. Ontevredenheid het sover ontwikkel dat vier NP-parlementslede uitgestap en hulle eie party, die Herstigte Nasionale Party (HNP), gestig het. Hoewel dit vir Vorster ’n gevoelige slag was, het die NP die uitdaging doeltreffend die hoof gebied. Dit het ingesluit dat HNP-vergaderings ontwrig en sprekers met eiers en tamaties gegooi is. In Vorster se tyd kon die HNP geen setels wen nie.

Terwyl Verwoerd die land gereeld verras het met ’n nuwe wending rondom die beleid van afsonderlike ontwikkeling, het Vorster dit as ’n uitgewerkte beleid beskou, wat bloot uitgevoer moes word. ’n Aansienlike deel van die staatsbegroting is aan die ontwikkeling van tuislande afgestaan. Politieke ontwikkeling het voortgegaan met nog tuislande wat selfregering ontvang het, terwyl Transkei in 1976 volle onafhanklikheid aanvaar het. Die nuwe onafhanklike staat is egter net deur Suid-Afrika erken en die impak daarvan was nie groot genoeg om politieke eise in die res van Suid-Afrika te laat afneem nie.

Tydens Vorster se bewind is moeite gedoen om lewensomstandighede van stedelike swart mense te verbeter. Swart mense is toegelaat om hulleself in vakbonde te organiseer en die wette waarvolgens sekere beroepe vir wit mense uitgehou is (veral in die myne), is geleidelik afgeskaf. Vorster se oortuiging was dat billike behandeling, stygende welvaart en die tuislande swart eise om gelyke regte binne Suid-Afrika sou laat afneem.

Die groot ontnugtering van die Vorster-regering se beleid teenoor swart mense was die Soweto-opstande van 1976. Die onmiddellike oorsaak was ’n besluit om sekere vakke in swart skole deur Afrikaansmedium te laat onderrig. Die opstand het onder skoolkinders in Soweto begin en oor die hele land versprei. Dit het meer as drie jaar geneem voor orde weer herstel is. Dit het die algemene frustrasie van politiesbewuste swart mense met hulle uitsluiting uit Suid-Afrikaanse politiek verteenwoordig.

’n Belangrike deel van Vorster se regering was sy sterk klem op buitelandse beleid. Aangesien ’n sterk diplomatieke aanslag teen Suid-Afrika geloods is, wou hy dit op dieselfde manier beveg. Goeie betrekkinge is met Israel en vriendskaplike lande in Suid-Amerika en Asië uitgebou. Hy het die Koue Oorlog tot sy voordeel probeer aanwend, deur die VSA se sterkste bondgenoot in Afrika te wees. Daar het veral ’n goeie verstandhouding tussen hom en die Amerikaanse minister vir buitelandse sake (secretary of state), Henry Kissinger, ontwikkel.

Vorster het ook geoordeel dat Suid-Afrika se weg na die wêreld deur die res van Afrika sou loop. Indien Afrika-lande Suid-Afrika se binnelandse beleid sou aanvaar, sou die res van die wêreld nie ’n keuse hê nie. Suid-Afrika was (soos dit steeds is) ’n ekonomiese reus in Suider-Afrika. Die hefboomkrag daarvan sou gebruik word om diplomatieke resultate te behaal. Verskeie lande het betrekkinge met Suid-Afrika aangeknoop, waarvan Zambië die belangrikste was. Die Zambiese president, Kenneth Kaunda, is wyd in Afrika gerespekteer en was van mening dat Suid-Afrika ’n kans gegun moes word. Van sy kant af, het Vorster dit makliker gemaak deur nie die bevryding van die laaste kolonies teen te staan nie. Toe die Portugese kolonies, Mosambiek en Angola, in 1974-5 onafhanklik geword het, het Vorster hom nie daarby ingelaat nie. Hy het selfs die nodige druk op Rhodesië geplaas om wit minderheidsregering te laat vaar. Kort na sy uittrede het Rhodesië ’n demokratiese verkiesing gehou en Zimbabwe geword.

In Mosambiek het sake met min probleme verloop. In Angola, aan die ander kant, was daar drie bevrydingsorganisasies wat teen die Portugese geveg het, die MPLA, FNLA en Unita. Die MPLA was Marxisties-gesind en is deur die Sowjet-Unie gesteun. Die FNLA en Unita was Westers-gesind en is in die geheim deur die VSA gesteun. Hierdie hulp is deur ander Westers-gesinde Afrika-state gekanaliseer. Suid-Afrika, wat reeds sedert 1966 ’n terreuraanslag op sy beheer oor Suidwes-Afrika (vandag Namibië) die hoof gebied het, het ook by die Angolese stryd betrokke geraak. Dit sou mettertyd lei tot ’n stryd tussen die MPLA deur Kubaanse magte gesteun en Unita deur Suid-Afrikaanse magte gesteun. Hierdie stryd het verder uitgekring is wat op daardie stadium verwag is. Vorster was nie die dryfkrag agter hierdie aggressiewe verdedigingsbeleid nie, maar het die minister van verdediging, mnr. PW Botha, toegelaat om sy eie program te volg.

Met die inval in Angola in 1975 was Vorster se Afrika-diplomasie op ’n hoogtepunt. In die Organisasie vir Afrika Eenheid (OAE, voorloper van die Afrika Unie) het Nigerië voorgestel dat Suid-Afrika se deelname veroordeel word. Lande soos die Ivoorkus en Senegal het goeie betrekkinge met Suid-Afrika gehad en was agterdogtig oor die gevolge wat ’n Marxistiese Kubaans-Russies gesteunde MPLA-oorname in Angola sou hê. Nigerië se voorstel is uiteindelik deur 22 lande gesteun en deur 22 lande teengestaan. As sake binne Suid-Afrika gunstiger verloop het, kon dit veel groter en permanente gevolge gehad het.

Met die onafhanklikheid van Transkei het Vorster geglo dat die regering se oplossing vir swart mense se politieke aspirasies op koers was. Daarom wou hy dié van Kleurlinge (bruin mense) en Indiërs volgende aanpak. Grondwetlike voorstelle met die oog op drie parlemente, een elk vir blankes, Kleurlinge en Indiërs, is gemaak. Dit was nie finale voorstelle nie, maar Vorster het besluit dat hy op daardie stadium sy steun onder kiesers wou toets. ’n Vervroegde verkiesing is in 1977 uitgeskryf, wat op ’n rekord oorwinning uitgeloop het. Vorster se loopbaan was op ’n hoogtepunt. Kort daarna het ’n belangrike deel van sy regeringsbeleid egter probleme geskep.

In ooreenstemming met Vorster se gedagte dat Suid-Afrika ’n goeie oplossing gehad het wat net deurgevoer moes word, is besluit om dié boodskap meer aggressief aan die wêreld uit te dra. Die departement van inligting, wat lank reeds bestaan het, is opgegradeer om Suid-Afrika se internasionale beeld te verbeter. Onder leiding van die minister, dr. Connie Mulder en die sekretaris van inligting (hoof van die departement), dr. Eschel Rhoodie, is ’n uiters ambisieuse veldtog in 1972 van stapel gestuur. Joernaliste is ruim vergoed om gunstige artikels oor Suid-Afrika te skryf, publikasies wat positief oor die land was, is in Suid-Afrika en die buiteland geloods en frontorganisasies is gestig om sekere aspekte van Suid-Afrika se isolasie teen te werk.

Inligtingsprojekte sou minder doeltreffend wees as almal geweet het dat dit deur die Suid-Afrikaanse staat befonds is. Daarom is dit geheim gehou en geld wat volgens die begroting vir verdediging bestem is, het dit befonds. Vanselfsprekend is nie op die normale manier boek gehou of verslag van die departement se bedrywighede en uitgawes gedoen nie. Die manier van doen was tot op daardie stadium vreemd aan die regering se werkswyse.

Die projek wat die hele netwerk laat uitrafel het, was ’n Suid-Afrikaanse Engelstalige koerant, The Citizen. Daar is voorgegee dat die multi-miljoenêr, mnr. Louis Luyt, die koerant gestig het om Suid-Afrika se buitelandse beeld te verbeter. Die redenasie was dat buitelandse waarnemers net uit Engelse koerante wat die regering vyandig gesind was, kon leer wat in die land aangaan. Ander Engelse koerante het oor die ware befondsing van The Citizen begin vrae vra, tot dit ook in die parlement ter sprake gekom het. Op ’n vraag aan die minister van inligting, het hy ontken dat die koerant deur die staat befonds is. Kort daarna is bewyse tot die teendeel gepubliseer. Verdere onthullings oor die departement se bedrywighede het gevolg. Daar was talle bewerings van bedrog en selfverryking.

Vorster het in 1978 besluit dat sy program gesondheidsredes minder veeleisend moes wees. Toe die destydse staatspresident, dr. Nic Diederichs oorlede is, het hy homself vir die pos beskikbaar gestel. In ’n bitter opvolgingstryd tussen die minister vir verdediging, mnr. PW Botha en die minister vir inligting, dr. Connie Mulder, is bepaalde besonderhede uitgelek, wat Mulder se posisie benadeel het. Botha is uiteindelik verkies en Mulder is kort daarna gevra om uit die kabinet te bedank. Terselfdertyd is Rhoodie deur die polisie gesoek op klagte van bedrog. Hy is later skuldig bevind, maar die appèlhof het hom onskuldig bevind.

Die groot vraag was of Vorster, as eerste minister, van al die bedrywighede bewus was. Hy het dit ontken, maar mettertyd het geblyk dat hy wel deurentyd op hoogte gehou is. Trouens, hy het self opdrag gegee dat betrokkenheid by The Citizen ontken word. Die feit dat die eerste minister in die parlement nie die waarheid gepraat het nie, was vir die meeste Afrikaners ’n geweldige teleurstelling. Vorster moes ook as staatspresident bedank.

Toe al die bewerings en beskuldigings rondom die departement van inligting, wat as die Inligtingskandaal bekend geword het, het dit geblyk dat nie een van die sleutelpersone hulleself verryk het nie. Die regering kon, toe die eerste bewerings gemaak is, alles bekend gemaak het en aan die kiesers verduidelik het dat sulke drastiese maatreëls noodsaaklik geag is in die lig van die internasionale aanslag teen Suid-Afrika. Die “skandaal” het eerder in die ontkenning van ware feite gelê, as in die feite self. Deel van die NP se binnegevegte was om sekere inligting te “lek” om die loopbane van bepaalde persone (by uitstek Vorster en Mulder) te verongeluk.

Minder as drie jaar na Vorster die grootste oorwinning wat enige leier tot op daardie stadium in ’n Suid-Afrikaanse verkiesing behaal het, is hy geheel en al uit die openbare lewe gedwing. Toe hy in 1983 op 67-jarige ouderdom oorlede is, was hy ’n diep teleurgestelde man.

Slot

Die wolk waaronder mnr. Vorster se politieke loopbaan geëindig het, maak dat mense dikwels uit die oog verloor hoe suksesvol sy diplomatieke beleid in ’n moeilike tyd was. Die grootste probleem van sy regering was egter dat hy nie ’n bevredigende oplossing vir die botsende politieke ambisies van wit en swart Suid-Afrikaners gebied het nie.

Comments are closed.

error: Content is protected !!