Die aanspraak van lewende wesens – de nieuwste roman van Ingrid Winterbach
Maart 19, 2013
Nieuwe Taalwet Zuid-Afrika: implicaties
Maart 19, 2013

Piet Retief , Hendrik Potgieter , Louis Tregardt , het zijn bekende voortrekkerleiders die nu op facebook herleven. 2013 Is in Zuid-Afrika namelijk het jaar van de herdenking van de Groot Trek. Precies 175 jaar geleden trokken de eerste boeren vanuit de West-Kaap met ossenwagens het vrijwel onbekende binnenland in. Wilde dieren en tropische ziekten eisten hun tol. Onbegrip tussen de voortrekkers en andere bevolkingsgroepen leidden niet zelden tot bloedige aanvaringen. De bekendste confrontatie is misschien wel de Slag bij Bloedrivier, waarbij 470 voortrekkers aangevallen werden door minstens 10.000 Zoeloes. Dankzij moderne wapens wonnen de voortrekkers en ze droegen de overwinning op aan God en legden de gelofte af om deze dag, 16 december voortaan als een sabbat te vieren.

De Groot Trek wordt op verschillende manieren herdacht: lezingen, boeken (waaronder Trekkerkinders ), een vier-bij-vier tocht waarbij in de voetsporen van de voortrekkers wordt getreden en veel meer. Op de website van de FAK  wordt gedurende het jaar verslag gedaan van activiteiten van ledeorganisaties.
Onderstaand artikel geeft beknopt en gebalanceerd overzicht van de geschiedenis van de Groot Trek:

Die Groot trek en Geloftedag

Deur Wynand Boshoff, historikus                                                                                                                                                                                 maart 2013

Aanloop tot die Groot Trek
Geloftedag gaan oor veel meer as een veldslag wat na ‘n ernstige gebedsaksie in die guns van een van die partye verloop het. Dit gaan oor ‘n geslag wat die moeite werd is om onthou te word. Hulle word onthou vir wat hulle geglo het, maar veral vir wat hulle gedoen het. Dit is die Voortrekkers, of soos hulle hulleself genoem het, die Emigrante-boere.
Die Groot Trek het begin by ‘n bevolking wat deur die staat vervreem is. Die nedersetters wat uit die Nederlandse VOC-bewind aan die Kaap dateer, het in die binneland van Suid-Afrika ‘n eie karakter ontwikkel. Van nasionalisme was daar nog lank nie sprake nie, maar wel van ‘n gedeelde kultuur en identiteit.

Die VOC, met al sy gebreke, is wat hulle gewoond was. Die Britse bewind was vasbeslote om sy nuwe aanwins te regeer en by die Britse ryk in te lyf. Alles waaroor die regering seggenskap gehad het, is daarvoor ingespan: Die beperkte onderwys wat daar was, handhawing van wet en orde, aanstelling van predikante en enige ander aksies van die owerheid. Die vervreemde bevolking het nie dadelik tot aksie oorgegaan nie. Eers na hulle fisies bedreig is en gevoel het dat hulle nie steun van die regering kon verwag nie, het dinge in beweging gekom.

Die voorste Voortrekkers
Die Groot Trek het bedrieglik maklik begin. Geselskappe onder Louis Trichardt en Hans van Rensburg het sonder bedreiging tot ver in die noorde getrek, tot naby die huidige grens met Zimbabwe. Daar is albei geselskappe egter deur tropiese siektes, wat tevore aan hulle onbekend was, geteister. Die Van Rensburg-trek se lyding is wreed beëindig toe die Bakoni-stam hulle uitgemoor het. Die Trichardt-trek is een-een aan Malaria dood, tot net enkelinge die Portugese hawe van Lourenco Marques bereik het.

Diegene aan die Oosgrens wat nog beplan het om te trek, het besef dat hulle mooier moes beplan. Sogenaamde kommissietrekke is na die streek noordwes van die Kaapse grens, na die gebied noord van die Vaalrivier en na die streek noord van Xhosaland, die streek wat deur die Portugese Natal gedoop is, gestuur. Die noordweste was te droog na die grootvee- en saaiboere se sin, maar sowel die Overvaal as Natal het groot belofte getoon. Die klimaat en plantegroei was geskik, groot dele van die landskap was onbewoon en swart stamhoofde was vriendskaplik. Voorlopige ooreenkomste oor grondtransaksies is gemaak.

Die Trek kry momentum
Teen 1836 het die Trek in beweging gekom. Hendrik Potgieter was ‘n gesiene boer wat reeds met ‘n geselskap vertrek het. Gerrit Maritz was ‘n welvarende sakeman en moontlik die Trekkers se grootste intellektuele bate. Sy geselskap het ook “oor die limiete” getrek. Hy was nie net welvarend nie, maar ook in regsgeleerdheid en regeerkunde wyd belese. Met sy helderblou waens het ander geselskappe hom soms as iets van ‘n windmaker beleef. Piet Retief, nie ‘n man met wie jy graag wou besigheid doen nie, maar tog charismaties en baie gewild, het met nog ‘n groep getrek.

Bewerings dat die Voortrekkers mense was met geen groot liefde vir wet en orde nie, wat deur die doeltreffende Engelse bestuur geknel is, wat nie veel gehad het om te verloor nie, wat vry wou wees om swart stamme te verdruk en mishandel soos hulle wou, wat nie juis hardwerkend was nie en van dié beskawingsvereiste gevlug het, is alles al gemaak. Hoewel elke bewering in enkele gevalle waar kon wees, was dit nie die oorwegende werklikheid nie.

By Thaba ‘Nchu, Oos van vandag se Bloemfontein, het die Trekkers op mekaar gewag. Daar het hulle ‘n grondwet opgetrek en owerhede verkies. Nie sleg vir ‘n samelewing van oorwegend pionierboere met min geleerdheid en nog minder politieke ervaring nie.

Voortrekkers, swart stamme, grond en arbeid
Die verhouding met swart stamme wat oor die volgende dekades sou ontvou, is deur ‘n paar opvallende faktore bepaal:
Daar was teenstellende opvattings oor grondbesit. Die Voortrekkers se siening hiervan het sy oorsprong in Europa met sy betroubare klimaat en vrugbare bodem. Duidelik gedefinieerde grondbesit was die basis van ‘n geordende samelewing. Om ‘n grondtransaksie te onteer, was die toppunt van kwade trou.

Swartmense se opvatting het uit Afrika se onbetroubare klimaat en uitputbare bodem gegroei. Elke stam het ‘n vaag omlynde invloedsgebied gehad. Binne dié gebied het die stamhoof-in-rade besluit waar om nedersettings te bou. Vee het gemeenskaplik gewei, terwyl aan elke vrou ‘n gedeelte vir gewasverbouing toegeken is. Strukture moes vervoerbaar wees, of agtergelaat kon word. Droogtes, sprinkane, oorstromings en ander rampe slaan dikwels net in ‘n bepaalde gedeelte toe. Vanjaar se prima-boerderygrond kan volgende jaar se bankrotlappie wees. Daarom moes jy kon skuif as omstandighede dit vereis.
Klein groepies van ander stamme, of in die geval Trekkers, kon in die stamgebied vestig as hulle wou. Dit sou ‘n ooreenkoms met die stamhoof en ‘n vorm van betaling behels. Die grond het nie aan die stamhoof behoort nie en hy kon dit nie verkoop nie. Hy kon net gebruiksreg toeken.

Hierdie verskil was die grondslag van opvolgende konflikte. Blanke boere dink hulle koop permanente eiendomsreg, terwyl stamhoofde voel die regte wat hulle toeken word grof oorskry.

Nog ‘n misverstand het oor die status van ontvolkte grond gegaan. Suider-Afrika buite die Kaapkolonie was nog in die nadraai van die Difaqane of Uitdelgingsoorloë. Die tydperk, wat ongeveer 1815 begin het, het behels dat magtige stamme ‘n skrikbewind onder naburige stamme, en strooptogte op stamme verder weg, gevoer het. Op die manier het Shaka die Zoeloevolk uit ‘n groot aantal noordelike Nguni-stamme gesmee. Een van sy aanvoerders, Mzilikazi, het weggebreek en dieselfde soort bewind op die Transvaalse hoëveld gevoer.

Die lot van ander stamme was een van drie: Hulle is uitgewis, hulle is by die magtige stamme ingelyf, of hulle het in berge of woestyne geskuil. Die derde groep het nie gevoel dat aanspraak op die grond prysgegee het toe hulle gaan skuil het nie. Toe die Voortrekkers onderdrukkende stamme se mag gebreek het, het hulle hulleself die wettige eienaars daarvan geag. Stamme wat dit vroeër bewoon het, het bloot gevoel dat een grondroof met ‘n ander vervang is.

Nog ‘n opvallende kenmerk is dat Voortrekkers geen begeerte gehad het om oor swart stamgebiede gesag uit te oefen nie, maar ook nie té streng gebiedskeiding nagestreef het nie. Hulle het geglo dat swartmense vir hulle moes werk en allerhande maatreëls is getref om dit af te dwing. Bewerings van slawerny is grootliks ongegrond, maar die kiem van 1994 se nederlaag was reeds goed gevestig. Voortrekkers het geglo dat hulle swart arbeid sonder enige politieke gevolge kon gebruik.

Die Overvaal vir Voortrekkers beveilig
Terug na die die Groot Trek. Terwyl die Voortrekkers nog by Thaba ‘Nchu oorgestaan het, het Potgieter se geselskap die binneland verken. Brittanje het daarop aanspraak gemaak dat sy invloed tot die 33 grade breedtelyn gestrek het. Verder was dit algemene kennis dat Engeland ‘n seemoondheid was. Potgieter het dus geoordeel dat permanente vryheid weg van die see en noord van genoemde lyn gevestig kon word.
Mzilikazi was nie gerus oor die Voortrekkers se omswerwinge in sy gebied nie. Tereg het hy vermoed dat hulle nie hulleself aan sy gesag sou onderwerp nie. Enkele familiegroepe wat van die hooflaer afgedwaal het, is vermoor. Die hooflaer is ook buite die huidige Heilbron, by Vegkop, aangeval.

Die slag van Vegkop was die 12-jarige Paul Kruger se eerste militêre ondervinding. Die Trekkers kon die geweldige aanslag afslaan, maar die vyand het al hulle vee gebuit. Dit het gedreig om ‘n noodlottige oorwinning te word. Die Barolong van Thaba ‘Nchu het tot hulle redding gekom, deur trekvee Vegkop toe te bring.
Nadat Potgieter se laer hergroepeer het en deur Maritz se trek aangevul is, is opgetrek om Mzilikazi en sy Matabeles te straf. Uiteindelik is hulle mag volledig gebreek en het hulle met groot ontwrigting na die huidige Zimbabwe verhuis.

Die Trek trek Natal toe
Potgieter het geglo dat die Trek se bestemming oopgelê het. Maritz, Retief en ander Trekleiers wat intussen by Thaba ‘Nchu aangesluit het, was oortuig dat Natal ‘n beter keuse sou wees. Die saak is demokraties beslis en Potgieter het hom by die meerderheidsbesluit neergelê.

Die trek na Natal het belowend gelyk. Sommige Trekkers kon hulle oë nie glo oor die geil weiding en grootte van riviere nie. Piet Retief, as verkose “goewerneur” het onderhandelings met koning Dingaan van die Zoeloes geopen. ‘n Grondtransaksie het moontlik gelyk, hoewel ons met terugskouende wysheid die gebreke aan so ‘n transaksie kan herken. Retief moes nog net ‘n aantal beeste wat hoofman Sekonyela van die Batlokwa, ‘n Suid-Sothostam in die omgewing van Witsieshoek, van Dingaan gesteel het, terugbesorg. Die Batlokwa se bergskuiling was vir die Zoeloes onneembaar.

Moord op Retief en ander Trekkers
Terwyl Retief met die finale voorwaarde besig was, het etlike familiegroepe die opdrag om in een laer bymekaar te bly, geïgnoreer. Retief het met die vee en ‘n aantal burgers na Dingaan se hoofstad teruggekeer. Dit was Februarie 1838. Die verrigtinge het feestelik verloop, maar Retief het nie geweet watter verrassing Dingaan vir hom voorberei het nie. Toe alles verby was, is Retief en sy manne genooi om in die kraal te kom bier drink en na krygsdanse te kyk. Hulle moes hulle wapens buite los. Toe die onderhandelaars vasgekeer was, het Dingaan die opdrag gegee om hulle te vermoor. Die opdrag was: “Maak dood die towenaars!”
Na die moord op Retief en sy manne het die Zoeloe-impi’s uitgegaan om die Voortrekkers in hulle laers te verras en te vermoor. Hulle het eers die geïsoleerde groepies uitgemoor, van wie enkelinge ontvlug het om die hooflaer, waar Maritz en Potgieter in beheer was, te waarsku. Met die min tyd tot hulle beskikking het hulle voorbereidings getref en die aanval afgeslaan. Die ervaring van Vegkop het hulle geleer om die vee beter te beskerm en hulle kon dit behou.
Hierdie optrede van Dingaan is al baie bespreek. Natuurlik het Dingaan in sy posisie bedreig gevoel. Die Batlokwa en Matabele was gedugte vyande, maar die Trekkers het met albei afgereken. Verder is daar getuienis dat Retief se optrede nie alte diplomaties was nie.

Mislukte vergelding: Italeni
By die laer is koorsagtig vir vergelding beplan. Die leiers kon nie ooreenkom wie dit moes lei nie. Maritz sou vir beskerming en orde in die laer self sorg. Maar moes die strafkommando deur Potgieter, of Piet Uys, nog ‘n trekleier, gelei word? Uiteindelik is op dubbele leierskap besluit. In effek het dit beteken dat twee kommando’s, elk onder sy eie bevel, uitgetrek het.
Die toets vir die dubbele bevel het gekom toe die kommando op ‘n groepie Zoeloe-verkenners afgekom het. Hulle het in ‘n digte kloof ingevlug. Uys wou die Zoeloes agtervolg en oorweldig. Potgieter het gevrees dat dit ‘n hinderlaag was en wou hulle liewer laat gaan. Dit het op ‘n breekspul uitgeloop met Uys en sy manne wat die Zoeloes in die kloof agtervolg het en Potgieter en sy manne wat buite gebly het.

Dit het gou geblyk dat Potgieter reg was. Slegs met die grootste moeite kon hy die toegang tot die kloof oophou, sodat Uys se manne kon ontvlug. Piet en sy seun Dirkie Uys is in die skermutseling dood. Die Uys-mense het Potgieter van lafhartigheid beskuldig. Dit was vir hom genoeg. Hy was steeds oortuig dat die toekoms in die gebied anderkant die Vaalrivier gelê het en het Natal verlaat.

Voorbereidings vir nog ‘n strafkommando
Maritz was die laaste erkende leier wat in Natal oor was. Hy het besef hoe kwesbaar die Trekkers se posisie was en het met voorbereidings vir nog ‘n kommando teen Dingaan begin. Volgens sy oordeel moes dit nie ‘n perdekommando wees nie, maar ‘n walaer. Wanneer laer getrek word, kon dit ‘n fisiese hindernis teen die Zoeloes wees en hulle strategiese voordeel grootliks neutraliseer. Die proses van laer trek kon bespoedig word deur veghekke vooraf te vervaardig. ‘n Ossewa se disselboom het gemaak dat dit nie teenaan die ander getrek kon word nie. Dit het dus oop gate in die walaer gelaat, wat gewoonlik met doringtakke toegepak is. Dit moes elke dag opnuut gepak word en het die proses vertraag. Maritz het opdrag gegee dat veghekke vervaardig moes word wat op die waens gelaai en binne oomblikke in posisie geplaas kon word. Verder was sy mening dat die geskikte terrein ‘n deurslaggewende besluit sou wees. Voor die kommando kon uittrek, is Maritz na ‘n kort siekbed oorlede.
Leierloosheid het ‘n gevoel van moedeloosheid gekweek. Tog is met die voorbereidings wat Maritz voorgeskryf het, voortgegaan. ‘n Boodskap is aan Andries Pretorius, wat reeds in aantog was, gestuur, sodat hy hom Natal toe kon haas. Hy het aangekom en die strafkommando het vertrek. Die Trekkers was diep onder die indruk van hulle benarde posisie. ‘n Voorlaaier het nie vinnig geskiet nie en kon ook net vier skote afvuur voor dit gelos moes word om af te koel. Omdat dit met loskruit gewerk het, was dit boonop gevoelig vir vogtigheid – iets wat in Natal nie skaars is nie. Met die grootte van die Zoeloes se oormag in gedagte, het die Trekkers gevoel hulle stuur op ‘n ramp af. Dit is teen hierdie agtergrond wat die Gelofte afgelê is.

Bloedrivier en die Gelofte
Die Gelofte was nie ‘n teken van vermetele toe-eiening van God nie. Dit was ‘n groep wat bitter diep onder die indruk van hulle ellende was, wat besef het dat hulle eie krag nie veel sou beteken nie, wat hulle in afhanklikheid voor God verneder het.
Die Slag van Bloedrivier het vroeg Sondagoggend 16 Desember begin toe die Zoeloe-mag op die Boerelaer afgestorm het. Al was dit heelnag mistig, het die kruit maklik ontbrand. Die Trekkers se laer was aan die binnekant van ‘n diep sloot se aansluiting by die Ncomerivier, in die rigting van die aanstormende impi’s. Hulle moes dus deur die rivier of sloot gaan voor hulle die walaer kon binnedring en die Trekkers met hulle gevreesde steekassegaaie aanval. Eers na verskeie aanvalle afgeweer is, het hulle besluit om die assegaaie te gooi, om dit as werpspiese te gebruik. Dit is die enigste aanval wat die Trekkers negatief beïnvloed het en Pretorius self is gewond.

In die afloop van Bloedrivier kon die Trekkers die Republiek van Natalia vestig. Dit was egter nie lank voor die Britse ryk ook hierdie juweel in die koningin se kroon moes plaas nie. Natal is verower en Pretorius se mense moes terug oor die Drakensberge om by Potgieter aan te sluit. Deur onderhandeling het hulle uiteindelik vryheid verwerf wat deur Brittanje erken is.

Vryheid word verspeel
Hoe die Boere dié vryheid byna deur verdeeldheid en dwarstrekkery verspeel het, is ‘n ander verhaal. Dit is ‘n verhaal wat nie dikwels vertel word nie, want dit is eintlik ‘n verleentheid. Dit is die verhaal van ‘n geslag wat nie juis die moeite werd was om onthou te word nie. ‘n Geslag wat dit wat hulle geërf het, nie na waarde geskat het nie. Gelukkig het volgende geslagte opgestaan wat die roemryke hoofstukke van die Eerste en Tweede Vryheidsoorloë geskryf het. Daardie geslagte was die moeite werd om te onthou.

Comments are closed.

error: Content is protected !!