DIE DORSLANDTREK – VOORTSETTING VAN DIE GROOT TREK?

Kerkenberg tot Bloedrivier
Maart 25, 2013
Groot Trek-herdenking: Kinders slaag met rekord vir langste Voortrekker-stokbrood
Maart 25, 2013

Dr Callie Opperman – Windhoek (Voorsitter: Dorslandtrek Gedenkfees 2013)

Die Afrikanervolk se geskiedenis is deurspek van trekke. Nadat die Transvaalse Republiek gevestig is deur Trekkers wat daar hulle heenkome gevind het, was daar weer ʼn groep wat wou trek. In die geskiedenisboeke word dit die Dorslandtrek genoem. Soos baie van die ander trekke in die geskiedenis was dit egter nie een trek nie, maar ʼn hele aantal trekke van Afrikaners tussen 1874 en 1905. Hulle het almal min of meer van die Krokodilrivier af (net Noord van Lobatsi, Botswana) die destydse Betsjoenaland binnegetrek en die dorsland aangedurf. Na baie ongevalle en beproewinge is hulle in Angola gevestig. Maar dit was ook nie die laaste trek nie. Na ongeveer 50 jaar was daar weer in 1928-29 ʼn groot volksverhuising, die gedwonge trek uit Angola na Suidwes-Afrika.

Sommige geskiedskrywers beoordeel die Dorslandtrekkers se motiewe baie negatief. Daar was nie ʼn duidelike rede vir die trek nie. Was die grootste rede werklik net “die roerende trekgees” of “treklus” van die Afrikaners, soos die trekleier Gert Alberts opgemerk het? Daar was wel ook sommige wat ontevrede was met president Frederick Burgers se liberale godsdienssiening. Ander het die Britte se belangstelling in Transvaal nadat goud ontdek is as bedreiging beskou.

Daar word DRIE TREKKE onderskei. Die EERSTE het in Mei 1875 met 13 gesinne vertrek onder leiding van G.J.S. van der Merwe, Louw du Plessis en Gert A.J. Alberts. Dit was die bes beplande en gedissiplineerde trek, te danke aan die bekwame leierskap van Gert Alberts. Maar ten spyte daarvan het die trek, wat aanvanklik in die rigting van die Ngami meer getrek het, baie ellende ervaar. Van die meer af is die waterlose dorsland aangedurf, waar honderde beeste aan longsiekte gevrek het. Nadat ʼn tyd in Ghanzi vertoef is, is verder getrek om 28 Januarie 1876 in Rietfontein (naby die huidige Gobabis in Suidwes-Afrika) aan te kom.

Die TWEEDE TREK se geskiedenis lees soos ʼn riller. Dit is ʼn intense verhaal van lyding, ontbering en smart. Grotendeels vanweë ʼn kortsigtige en hardkoppige leierskapstyl van Jan Greyling. In April 1877 is uit Transvaal vertrek. Die trek was baie groot, 128 waens en 480 mense, duisende beeste, asook skape, bokke, perde en donkies, wat die trek bemoeilik het. Te veel vir die min water vir mens en dier in die dorsland. Louw du Plessis word na ontevredenheid met Greyling as kommandant verkies. Daarna vererg Greyling hom en trek saam met ʼn groep ondersteuners vooruit. Geweldige dors en malaria het mens en dier die bitterste lyding laat deurmaak. ʼn Engelse sendeling, J.D. Hepburn, het op die trek afgekom en verligting vir die mense se dors gebring. Uiteindelik het die twee trekke mekaar weer aan die oewer van die Botletle rivier ontmoet.

Die DERDE TREK het onder leiding van J.F.Botha teen die middel van 1877 Betsjoeanaland binnegetrek. Hulle was slegs 8 waens met 40 mense. Hulle het die oorblyfsel van die tweede trek by die Botletle rivier gekry. Daar is ʼn tyd langs die Ngami meer vertoef om te herstel. Hulp is vanaf Rietfontein deur Gert Alberts se trek na hulle gestuur. Maar steeds was daar verdeeldheid. Du Plessis en sy groep het na Rietfontein getrek en by Alberts se groep aangesluit. Greyling het die dwase besluit geneem om sy mense langs die Kavango rivier te laat trek, omdat hulle nie vir die dors kans gesien het nie. Talle mense het egter aan malaria gesterf en diere van die Tsetsevlieg. Gert Alberts het ook na hierdie groep toe hulp gestuur om hulle na Rietfontein te bring.

WAARHEEN NOU? Die leier van die Orlams by Gobabis, Andreas Lambert, het aanvanklik toestemming gegee om langer by Rietfontein te bly. Kamaherero (leier van die Herero volk) was nie daarmee tevrede nie. Verskeie briewe van inheemse leiers, soos die Nama leier Klein Kidoo Witbooi uit die Suide, kaptein Lambert (Gobabis), Shephard (Barmen) en Kamaherero is in 1876-1877 aan die trekkers gestuur met versoeke dat hulle sal terugdraai.

ʼn Verenigde Trek is georganiseer, nuwe leiers is gekies en hulle het onseker noordwaarts in Suidwes-Afrika getrek. F.J.Botha was die kommandant, G.J.S van der Merwe veldkornet en Diederik Prinsloo die landdros en weesheer. Bakens op die trekpad was Leeupan en Olifantspan. In Februarie 1877 het die oorblyfsels van die trekbeweging saamgegroepeer by Olifantspan in die Okavango gebied. Hier het ʼn jong kleurling man, Will Jordan, hulle vanaf Rehoboth gaan besoek. Hy wou die Afrikaners oorreed om saam met die Rehoboth Basters ʼn bufferstrook te laat vorm tussen die vegtende Namas en Herero’s. Die trekkers het hulle nie hieraan verbind nie.
Vanaf Olifantspan is WESWAARTS getrek om later by die waterryke Kaoko-Otavi (naby die huidige Outjo) te vestig. Op grond van die handelaar Axel Eriksson se brief in die Kaapse koerante het Onze Jan Hofmeyr begin om noodvoorrade te versamel en oor Walvisbaai na die trekkers te laat stuur. Jordan se planne om die trekkers na Rehoboth te lok het misluk vanweë die Herero’s se suksesvolle veldslae teen die Namas.
Die volgende trek is deur Will Jordan aanbeveel – ANGOLA toe! Hy en ʼn kommissie van die trekkers is in September 1880 oor die Kunene om met die Portugese owerheid te gaan onderhandel. Grond is aangebied, omdat die Afrikaners se hulp gebruik kon word om die vyandige stamme in Angola onder bedwang te hou. In Januarie 1881 was die Dorslandtrekkers op die gesonde en waterryke hoogland by Humpata St Januario gevestig. Party trekkers het verder noord na Que, Bihe en Mambolo getrek.

Die streng Calvinistiese groep Afrikaners moes hulle in ʼn Rooms Katolieke Portugese kolonie vestig. Hulle het militêr gehelp om die land veilig te maak, landbou beoefen, gemeentes georganiseer, Afrikaanse skole gestig en so as gedissiplineerde groep hulle godsdiens en kultuur gehandhaaf. Dit was juis ook as gevolg van die bedreiging van hulle Gereformeerde godsdiens en Afrikaanse skole, tesame met die weiering om eiendomsreg van hulle plase te bekom, dat die groep Afrikaners na ongeveer 50 jaar weer moes trek. Die keer na Suidwes-Afrika, die laaste deel van die Dorslandtrek of dan die Groot Trek.
Al het die groepie Afrikaners net daarin geslaag om op die basis van die Christelike godsdiens, die Calvinistiese lewensbeskouing, die Afrikaanse taal, asook met orde en dissipline, stabiliteit onder volke en ʼn mate van infrastruktuur in ʼn onontwikkelde land te skep, dan het God hulle met ʼn doel aan daardie land geleen.

DORSLANDTREK GEDENKFEES 2013
Vanaf 23 tot 26 Augustus 2013 word weer ʼn Gedenkfees aan die oewer van die Kunene, naby Swartbooisdrift, gehou. Tydens die vyf-jaarlikse gedenkfeeste word die geskiedenis oorvertel, maar ook oor die roeping en uitdagings van die Dorslandtrekkers se nageslag in die huidige bedeling nagedink. Tot 800 mense per keer het vorige feeste bygewoon en die tydelike kampgeriewe getrotseer. Belangstellendes kan die feeskomitee kontak by die e-pos adres dorsland2013@gmail.com om registrasievorms vir die fees te bekom. Registrasie moet asb. voor die einde van Mei 2013 gedoen word.

 

Comments are closed.

error: Content is protected !!