Die GHA en Volksgenote vier Van Riebeeckdag by die Voortrekkermonument

Die GHA se jaarlikse gedigtekompetisie
April 17, 2013
Profiel: Mnr PW Botha
April 25, 2013

Pieter Oosthuizen

6 April is deesdae vir die algemene persoon in die Nuwe Suid-Afrika net ʼn doodgewone dag soos enige ander. Vir diegene meer ingelig oor die datum is dit egter moontlik die belangrikste gedenkdag in die geskiedenis van die Afrikanervolk – naas Geloftedag.

Natuurlik herdenk ons op 6 April volksplanting toe Jan van Riebeeck met sy vloot van drie skepe die Drommedaris, Reyger en Goede Hoop anker gegooi het in die Kaap van Goeie Hoop en voet aan wal gesit het.

Op 6 April 2013, 361 jaar later het die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) met ʼn amptelike program, ʼn skip en ʼn lewende Jan -en Maria van Riebeeck wéér die dag herdenk saam met volksgenote by die Voortrekkermonument in Pretoria. As deel van die jaar se Groot Trek 175 feesprogram het die GHA die geleentheid georganiseer met dr. Dan Roodt as gasspreker. Dr. Roodt het ʼn treffende toespraak in sy bekende verhalende vertelstyl gelewer aan almal wat die plaasfees van 6 April bygewoon het. Mev. Lucia van Wyk, uitvoerende hoof van die BCVO het tydens haar toespraak verwys na die behoefte aan onderrig in volksgeskiedenis op skoolvlak. Selfs Jan en Maria het ʼn beurt gekry om te vertel hoe hul die tog na die Kaap afgelê het om ʼn verversingspos te stig, min wetend dat dié eenvoudige taak ʼn nuwe wêreld tot stand sou bring.

Die amptelike bekendstelling van die GHA se Groot Trek 175 Afrikaanse Dagboek 2013 het ook tydens die feesvieringe plaas gevind. Hierdie unieke geskiedkundige dagboek bevat volblad foto’s van 52 dinamiese Afrikanerleiers tesame met 40 boodskappe van Hoop deur die publiek asook die verhaal van die Groot Trek soos geskryf deur dr. Dan Roodt in sy unieke skryfstyl.

Sommiges mag dalk wonder wat dié datum in 1652 te doen het met die Groot Trek, maar inderwaarheid is dit tog waar die Groot Trek vir baie Afrikaners begin het toe ons voorvaders van Europa getrek het na die Suidpunt van Afrika om eerder die ongekende wildernis aan te durf as om verder onderdruk te word deur onregverdige oppergesag in hul tuislande.

 

Comments are closed.

error: Content is protected !!