Die GHA en Volksgenote vier Van Riebeeckdag by die Voortrekkermonument
April 18, 2013
Profiel: Mnr FW De Klerk
April 25, 2013

Inleiding

’n Biografie van mnr. P.W. Botha wat gepubliseer is toe hy nog regeer het, se titel was Vegter en Hervormer. Dit was waarskynlik ’n titel wat Botha se goedkeuring weggedra het, want hy het probeer om die Suid-Afrikaanse samelewing ten goede te hervorm, maar het nie gehuiwer om die weermag en polisie teen “staatsgevaarlike” elemente in te span nie. Daarom het hy teenstand uit teenoorgestelde hoeke gekry: Aan die een kant het konserwatiewe Afrikaners gevrees dat sy hervormings tot die einde van blanke regering in Suid-Afrika sou lei, terwyl liberale wit mense en die oorwig swart mense hom as onbuigsaam en hardhandig beleef het. Sy kort humeur het nie sy reputasie goed gedoen nie.

Botha se ondersteuners kan aandui dat daar veel meer oor sy bewind te sê is. Sy regeringstyd (1978-1989) het oor die hoogtepunt van die Koue Oorlog gestrek en Suid-Afrika het sterker teenstand as in die verlede beleef – sowel binnelands as buitelands. Hy kon die uitdagings die hoof bied, sodat die noodwendige demokratisering van die land eers na die einde van die Koue Oorlog kon plaasvind. As dit vroeër was, sou grootskaalse nasionalisering en ander Marxistiese denkbeelde die land waarskynlik getref het. ’n Studie van dié leier se loopbaan behoort meer begrip vir sy regering te skep.

Biografiese gegewens

Pieter Willem Botha is op 12 Januarie 1916 naby Paul Roux in die Vrystaat gebore. Twee feite is opvallend: Hy is slegs ’n jaar later as sy voorganger, mnr. John Vorster, gebore en hy is die eerste regeringshoof wat in een van die oud-Boererepublieke gebore is. Sy pa was ’n Bittereinder en hy self het baie bewus van sy Afrikanerskap grootgeword.

Botha het na sy skoolopleiding by die Grey Universiteitskollege (tans die Universiteit van die Vrystaat) vir ’n regsgraad ingeskryf. Na sy eerste jaar is hy in 1936 genader om vir die Nasionale Party in die Kaapprovinsie as organiseerder te gaan werk. Hy het die aanbod aanvaar en het as ’n baie harde werker bekend geword. So het dit gebeur dat die enigste eerste minister wat in ’n voormalige republiek gebore is, as Kapenaar parlement toe is en as Kaapse NP-leier eerste minister geword het.

In 1946 is Botha as leier van die Nasionale Jeugbond verkies. Twee jaar later, met die verkiesing van 1948, het hy Volksraadslid vir George geword. In 1958 het dr. H.F. Verwoerd hom as adjunk-minister van binnelandse sake aangestel en in 1961 as minister van kleurlingsake. Nadat mnr. John Vorster in 1966 eerste minister geword het, het hy Botha as minister van Verdediging aangestel. Hierdie pos sou Botha selfs na sy verkiesing tot eerste minister in 1978 beklee.

In 1978, met beskuldigings rakende die sogenaamde Inligtingskandaal wat heen en weer geslinger is, het Vorster as eerste minister uitgetree. Die Nasionale Party moes ’n nuwe leier kies, wat outomaties ook eerste minister van Suid-Afrika sou wees. Die drie kandidate was die Transvaalse leier, dr. Connie Mulder, die Kaapse leier, mnr. P.W. Botha en die jong minister van buitelandse sake, mnr. Pik Botha. Mnr. Pik Botha is eerste uitgeskakel en in die uiteindelike verkiesing het Botha met 78 teen Mulder se 72 geseëvier.

Onder Botha se leiding is ’n nuwe grondwet vir Suid-Afrika voorberei, waarin bruin mense en Indiërs ook inspraak sou kry. Dit was vir hom ’n groot oorwinning toe meer as 66% van die blanke kiesers in 1983 die voorgestelde grondwet in ’n referendum aanvaar het. Die grondwet is in 1984 geïmplementeer en het onder andere bepaal dat die eerste minister (regeringshoof) en staatspresident (staatshoof) in ’n uitvoerende staatspresident verenig is. Botha was die eerste persoon om hierdie amp te beklee.

Aan die begin van 1989 het Botha ’n beroerte beleef. Hy moes vir ’n paar weke rus, maar het merkwaardig herstel. Hy het nietemin besluit om sy werksaamhede af te skaal deur te bedank as leier van die regerende Nasionale Party. Die opvolgingstryd was tussen die Transvaalse partyleier, mnr. F.W. de Klerk, en die minister van finansies, mnr. Barend du Plessis. De Klerk het bo uitgekom en ’n tydperk van interne spanning in die regering het gevolg.

In Augustus 1989 konfronteer De Klerk en die res van die kabinet vir Botha daarmee dat hy nie meer op hulle ondersteuning kon reken nie. Botha was woedend, maar het geen keuse gehad as om as staatspresident te bedank nie.

Botha het by sy landgoed De Anker naby Wildernis in die omgewing van George afgetree. Na die oorname van die ANC is Botha gedagvaar om voor die Waarheids- en Versoeningskommissie te getuig. Hy het geweier en is in sy afwesigheid ’n opgeskorte vonnis vir die weiering opgelê.

Botha is in 1943 met Elize Rossouw getroud. Hulle het 5 kinders gehad en was getroud tot met haar dood in 1997. Hy is daarna in 1998 met Barbara Robertson getroud. Op 31 Oktober 2006, op 90-jarige ouderdom, is Botha op sy landgoed aan ’n hartaanval oorlede.

Openbare lewe

Mnr. P.W. Botha is een van min politici wat geen loopbaan buite die politiek gehad het nie. Toe hy in 1936 as organiseerder van die Nasionale Party in Kaapland aangestel is, het hy ’n reputasie as ’n ywerige partywerker opgebou.

Die “gesuiwerde” Nasionale Party het bestaan uit dié lede van die NP wat nie kans gesien het om in 1934 hulle party met die Suid-Afrikaanse Party van generaal Jan Smuts in die Verenigde Party (VP) te laat saamsmelt nie. Die meerderheid NP’s het hulle leier, generaal J.B.M. Hertzog, gevolg in die samesmelting waarin Hertzog die eerste minister en Smuts sy adjunk was. Terwyl Hertzog geglo het dat Suid-Afrika se selfstandigheid bo twyfel gestaan het, het die “gesuiwerdes” steeds na ’n republiek gestreef. Hulle leier was die Kaaplandse leier van die NP, dr. D.F. Malan.

Malan was die enigste senior politikus wat Hertzog nié gesteun het nie. Die “gesuiwerde” Nasionale Party is in 1934 met 20 parlementslede onder Malan se leiding gestig. Die party het sterk op Afrikaners se belange gefokus en hom vir Suid-Afrika se republiekwording beywer. Die jare wat voorgelê het, was baie moeilik. Die jong leierskorps van die NP moes eers vertroue onder kiesers verdien en ’n landswye struktuur moes van voor af opgebou word. Dit is vir hierdie doel dat die jong P.W. Botha in 1936 sy studies gestaak en vir die party gaan werk het.

Die feit dat Botha in 1946 leier van die Nasionale Jeugbond geword het, is belangrik. Die NP was ’n party wat veral deur jongmense gesteun is en erkenning op dié vlak was belangrik. Sy groot deurbraak was in 1948, toe hy die kiesafdeling George verower het. Sy skerp debatsvermoë is van plaaslike vergaderings tot die hoogste wetgewer van die land bevorder. Hy het ook gesorg dat hy sy vinger op die pols van die party se provinsiale organisasie hou.

In 1958 het die nuwe eerste minister, dr. Hendrik Verwoerd, die pos van adjunkminister geskep om jong, begaafde politici geleidelik in die verantwoordelikhede van ’n minister in te lei. Dit was bekend dat Botha teen Verwoerd se verkiesing as NP-leier (en dus eerste minister van Suid-Afrika) georganiseer het, maar dit het Verwoerd nie gepla nie. Hy het Botha as ’n bekwame politikus en administrateur raakgesien en as adjunkminister van binnelandse sake aangestel.

Om in 1961 minister van kleurlingsake te word, was vir Botha ’n belangrike aanstelling. Hy was voortaan volle kabinetslid, maar juis van ’n portefeulje wat nie maklik was nie. Bruin mense het tot in 1956 gekwalifiseerde stemreg gehad. In daardie jaar is hulle egter van die gemeenskaplike kiesersrol na hulle eie oorgeplaas. Hulle sou voortaan vier lede van die volksraad en drie van die Kaaplandse provinsiale raad kon verkies, hoewel die verteenwoordigers blankes sou wees. ’n “Uniale Kleurlingraad” is in vooruitsig gestel. Ingevolge die groepsgebiedewet het duisende bruin mense hulle verblyfreg verloor, omdat hulle tuistes in “blanke groepsgebiede” geval het. Die belangrikste hiervan was Distrik 6, ’n bruin woonbuurt naby die hartjie van Kaapstad wat reeds vir eeue deur hulle bewoon is. Botha het die politieke hoof geword wat al hierdie sake moes hanteer.

Toe mnr. John Vorster in 1966 eerste minister geword het, het hy besluit dat verdediging die regte portefeulje vir Botha sou wees. Die Suid-Afrikaanse Weermag was tydens die Tweede Wêreldoorlog van 1939 tot 1945 op ’n hoë vlak en kon met onderskeiding aan die Verenigde Nasies se Koreaanse veldtog van 1950 tot 1953 deelneem. Dit het egter in die tussentyd min aandag ontvang en was nie vir ’n oorlogsituasie voorbereid nie. In 1966 het vereistes verander toe SWAPO-magte oorlog teen die Suid-Afrikaanse regering oor Suidwes-Afrika (SWA, vandag Namibië) verklaar het.

Botha het binne ’n kort tyd twee belangrike poste aangeneem. Hy is in 1966 tot die senior kabinetspos van verdediging bevorder en het ook leier van die NP in die Kaapprovinsie geword. Hy het albei posisies gebruik om een van die magtigste mense in die regering te word. In die Kaapse NP het hy goeie organisasie en streng dissipline gehandhaaf. In geval van ’n magstryd sou hy op byna elke Kaapse parlementslid van sy party kon reken. In die toekoms sou dit belangrik word.

As minister van verdediging het Botha gesorg dat ’n groter deel van die begroting as tevore daarvoor beskikbaar gestel word. Die weermag is uitgebrei met ’n dienspligstelsel waarvolgens elke blanke man na afloop van skool of naskoolse studie ’n jaar lank lid van die leër, lugmag, of vloot moes wees. Na hy eerste minister geword het, is dit tot twee jaar verleng.

Aangesien daar reeds ’n internasionale wapenboikot teen Suid-Afrika was, moes die land self in sy behoeftes voorsien. ’n Aansienlike bedrag is elke jaar bestee om ’n omvattende wapenbedryf onder die vaandel van Krygkor (Krygstuig Korporasie) te ontwikkel. Vorster het hom nie met die besonderhede van verdediging opgehou nie en Botha het byna ’n vrye hand gehad. Teen 1974 was die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) ’n gedugte oorlogsmasjien.

’n Weermag kan net in ’n oorlog werklik getoets word. So ’n geleentheid het hom in 1975 en 1976 voorgedoen toe ’n magstryd in Angola ontstaan het. Dié land, net noord van Namibië, het in 1974 na meer as 500 jaar Portugese oorheersing, onafhanklik geword. Drie organisasies wat vir onafhanklikheid geveg het, het om oppermag gekompeteer: Die Marxisties-gesinde MPLA wat die land deel van die kommunistiese blok sou maak, en die FNLA en Unita wat Westersgesind was. Daar was aanduidings dat Suid-Afrika steun van die VSA sou ontvang, om die skaal in die guns van Unita en die FNLA te swaai. Botha wou die kans aangryp en Vorster het dit toegelaat.

Onder groot geheimhouding het Suid-Afrika Angola binnegeval. Merkwaardige vordering is gemaak, maar die MPLA is deur Kuba en selfs Rusland gesteun. Toe Suid-Afrikaanse deelname bekend geword het, het dit ’n internasionaal teenstand gewek. Die VSA het alle betrokkenheid ontken en aan die Suid-Afrikaanse regering duidelik gemaak dat hulle geen hulp uit daardie oord moes verwag nie. Suid-Afrika moes terugtrek en die weermag het hom in die noorde van die destydse SWA ingegrawe. SWAPO is van toe af deur Angola en Kuba gehelp om die grensgebied, wat in werklikheid die noordgrens van Suid-Afrika geword het, te destabiliseer.

Die oorlog in die noorde van SWA en in Angola, wat mettertyd as die Grensoorlog of die Bosoorlog bekend geword het, was vir die Suid-Afrikaanse regering ’n groot verleentheid. Die eerste minister, mnr. Vorster, was juis besig om goeie verhoudings met ander Afrikastate te vestig en wou graag bewys dat Afrika niks van Suid-Afrika te vrees gehad het nie. Hierdie aggressiewe optrede het dit teengespreek en lede van die Organisasie vir Afrika Eenheid (OAE) wou Suid-Afrika daarvoor straf. Dit is merkwaardig dat ’n veroordeling van Suid-Afrika nie op daardie stadium aanvaar is nie, omdat 22 state aan elke kant gestem het. Dit wys hoe suksesvol Suid-Afrikaanse diplomasie op daardie stadium was.

Die feit dat Suid-Afrika oorhaastig by ’n internasionale konflik betrokke geraak het en gedwing is om daaruit te onttrek, het nie Botha se steun in Suid-Afrika aangetas nie. Hy is eerder as ’n sterk figuur in ’n internasionale aanslag teen die land beskou. Sy siening van binnelandse beleid was dat Suid-Afrika die sosio-ekonomiese omstandighede van swart Suid-Afrikaners moes verbeter om die aanslag teen blanke regering te verswak.

Tydens die 1970’s het die regering ’n ambisieuse inligtingsveldtog gevoer. Fondse is uit die begroting van verdediging na die van die departement van inligting gekanaliseer. Dié departement het byvoorbeeld publikasies gesubsidieer wat positief oor Suid-Afrika verslag gedoen het. Dit is in die geheim gedoen, sodat die publikasies in die openbare oog geloofwaardig sou wees.

Toe die eerste bewerings oor ongemagtigde uitgawes gemaak is, het die regering dit ontken. In ’n vroeë stadium van die ontrafeling van hierdie “Inligtingskandaal” het mnr. Vorster as eerste minister bedank. Hy het gesondheidsredes aangevoer en is tot die seremoniële pos van staatspresident verkies. Dit het tot ’n opvolgingstryd binne die NP gelei. Volgens die Suid-Afrikaanse grondwet was die leier van die grootste party in die parlement ook die eerste minister. Dit is hierdie pos wat gevul moes word.

Die twee sterkste kandidate was dr. Connie Mulder, leier van die NP in Transvaal en minister van inligting en mnr. PW Botha, leier van die NP in die Kaapprovinsie en minister van verdediging. Botha is met ’n meerderheid van 78 teen 72 verkies.

Botha was aan die een kant tot die ontwikkeling van Suid-Afrika se swart tuislande as politieke tuiste vir swart mense verbind, maar wou ook die omstandighede van swart mense in “blanke” stede verbeter. Hy het geglo dat dit hulle ywer vir politieke regte in Suid-Afrika sou laat afneem. Daarvoor het hy geglo dat sterk ekonomiese groei noodsaaklik was.

Die “Goeie Hoop-beraad” was een van Botha se eerste stappe om Suid-Afrika te “normaliseer”. Hy het die land se voorste sakeleiers vir ’n beraad na die Goeie Hoop-sentrum in Kaapstad genooi om hulle menings te hoor. Sakeleiers was daaroor eens dat die beleid van afsonderlike ontwikkeling die land te duur gekos het. Uitgawes aan die sogenaamde nasionale en onafhanklike state (swart “tuislande” op weg na onafhanklikheid) was te groot. Beheer oor die bewegings van swart mense (’n poging om te keer dat “blanke” stede vol swart mense word) het dit vir nywerhede moeilik gemaak om voldoende arbeid te kry. ’n Bondgenootskap om blanke beheer van Suid-Afrika te verseker deur swart mense se algemene omstandighede te verbeter, het tussen Botha en die sakeleiers ontstaan. Eers later in sy loopbaan was daar verwydering tussen hulle.

Omdat Botha dit moeilik gevind het om geloofwaardige swart leiers in die stede te vind wat met die regering wou saamwerk, het hy besluit om eers die politieke toekoms van die bruin mense en Indiërs aan te pak. Voor daar nog enige voorstelle was, het die NP se lyfblad al van “magsdeling” begin praat.

Dr. Andries Treurnicht, die nuwe leier van die NP in Transvaal en informele leier van die party se meer konserwatiewe lede, het ernstig hiervan verskil. Volgens hom sou magsdeling die land op ’n glybaan na swart oorheersing plaas, met ander woorde, die een toegewing sou tot die volgende lei, totdat mag finaal prysgegee sou moes word. Na ’n kort stryd binne die NP het Treurnicht en nog 16 NP-parlementslede die party in 1982 verlaat en die Konserwatiewe Party (KP) gestig. Vir die res van sy politieke loopbaan sou dié party Botha se sterkste opposisie wees.

In 1983 is grondwetlike voorstelle vir ’n nuwe bedeling in Suid-Afrika bekend gemaak. Die Volksraad sou voortaan net een huis van die parlement wees. Daar sou ook ’n Huis van Verteenwoordigers vir bruin mense en ’n Huis van Afgevaardigdes vir Indiërs wees. Elke huis sou na sy “eie sake” omsien, terwyl die drie huise saam na “algemene sake” sou omsien. Die blanke huis was groter as die twee ander huise saam. Dit het beteken dat al die belangrike sake, insluitend die keuse van president, deur die blanke huis geneem kon word. Die president sou die uitvoerende pos van die eerste minister en die seremoniële pos van die staatspresident kombineer.

Hierdie grondwet is teen die einde van 1983 deur ’n referendum aan die blanke kiesers voorgelê. Die uitslag was ’n groot oorwinning vir Botha, omdat ’n oorwinning van meer as tweederdes behaal is. Die grondwet kon in 1984 in werking gestel word, maar eers moes verkiesings vir die Huise van Verteenwoordigers en Afgevaardigdes gehou word.

Onder die bruin mense en Indiërs was daar onenigheid oor deelname aan die nuwe bedeling. Party het dit as ’n geleentheid om groter regte, ook vir swart Suid-Afrikaners, te beding, terwyl ander dit wou boikot, omdat dit nog nie gelyke regte vir almal beteken het nie. Die uitslae van hierdie verkiesings was vir Botha ’n teleurstelling, omdat stempersentasies van minder as 20% behaal is. Daar is nietemin voortgegaan om die grondwet te implementeer.

Swart mense was ontevrede oor die nuwe grondwet, omdat dit regte aan bruin mense en Indiërs toegeken het, wat hulle nie gehad het nie. Daarom het onrus in swart woongebiede in 1984 uitgebreek, wat eers met die demokratisering van 1994 tot ruste gekom het. Die woongebiede is so ver moontlik onregeerbaar gemaak deur huurboikotte en versperrings wat die polisie uit die woongebiede moes hou. Skole het ’n sentrale rol gespeel, want die gedagte van politieke bevryding het soos ’n veldbrand onder skoliere versprei. Klasse is dikwels geboikot en met ’n eis van pass one pass all opgevolg.

Swart mense wat met die regering geïdentifiseer is, is geïntimideer. Talle swart polisielede en lede van plaaslike bestuursrade se huise is afgebrand. Vermeende polisie-informante is deur people’s courts verhoor. “Skuldiges is hulle met die sogenaamde necklace of halssnoer tereggestel. ’n Buiteband is oor so ’n persoon se kop en skouers gedruk, sodat die arms ook vasgedruk is. Die band en die persoon se klere is met petrol deurdrenk en dan aan die brand gesteek. Toestande in die swart woongebiede het buite beheer geraak.

Teen hierdie agtergrond het Botha ’n dubbele strategie gevolg. Aan die een kant is wette wat op aanstootlike manier op rassegrondslag onderskeid gemaak het, afgeskaf of minder streng toegepas. Hy het verklaar dat hy met geloofwaardige swart leiers sou onderhandel oor ’n manier waarop swart mense aan die landsregering sou kon deelneem. In 1985 het hy met die sogenaamde Rubicon-toespraak verklaar dat daar geen omdraaikans meer in die toekenning van swart politieke regte was nie. Op die nippertjie het hy konkrete voorstelle uit sy toespraak vervang deur daarop aan te dring dat sy regering deur niemand aangejaag sou word nie. Hy het hom verskillende kere bereid verklaar om die ANC-leier, mnr. Nelson Mandela, uit die tronk vry te laat en hom by onderhandelings in te sluit, mits hy geweld afsweer. Onder groot geheimhouding het hy in die laaste jaar van sy effektiewe bewind (1988), Mandela meer as een maal in sy kantoor vir gesprekke ontvang. Mandela het egter onwrikbaar daarby gestaan dat alle beperkings op die ANC (destyds ’n verbode organisasie) opgehef moes word, voor hy bereid sou wees om te onderhandel. Tog het die twee leiers ’n soort verstandhouding bereik.

Aan die ander kant het Botha se regering genadeloos teen sy teenstanders opgetree. ’n Noodtoestand is uitgeroep, wat die polisie uitgebreide magte gegee het om enige opstandigheid te onderdruk. Mense is maande lank sonder verhoor aangehou en die weermag het gereeld ingegryp om die orde in swart woongebiede te herstel. Spesiale eenhede in die polisie, waarvan die “Burgerlike Samewerkingsburo” op Vlakplaas die bekendste was, het byna ’n wet op sy eie geword. Suid-Afrika het werklik, veral uit die oogpunt van ’n inwoner van ’n swart woonbuurt, ’n polisiestaat geword. Die meeste gruweldade waarvan blanke Suid-Afrikaners later met skok en verbasing gehoor het, het in hierdie tydperk plaasgevind.

Nog ’n kenmerk van Botha se bewind was die belangrike rol van die sogenaamde Staatsveiligheidsraad. Dit het uit die president, sekere top-amptenare in die verskillende veiligheidsmagte en enkele senior kabinetsministers bestaan. Die doel daarmee was eintlik om goeie koördinasie tussen die regering en veiligheidsmagte te bewerkstellig. Dit het egter soveel mag verkry, dat belangrike besluite deur dié raad in plaas van die kabinet geneem is. Dit het toenemend die indruk geskep dat Botha nie in verkose politieke liggame geïnteresseerd was nie.

Die beroerte wat Botha vroeg in 1989 gehad het, het hom tydelik van die politieke toneel verwyder. Hoewel hy nog ’n aantal maande aan die presidentskap kon vashou, het hy die steun van sy party en kabinet verloor, en daarmee saam alle betekenisvolle mag. Sy uittrede later die jaar het die proses net voltooi.

Die aktiwiteite van die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) het Botha vir oulaas die openbare oog laat vang. Dié kommissie het hom gedagvaar om sy oor sy rol in die onderdrukking van opstand teen sy regering te getuig. Baie mense (ondersteuners en teenstanders) het geglo dat hy oorhoofse verantwoordelikheid vir die aksies van die veiligheidsmagte sou neem, aangesien hy hulle politieke hoof was. Daar is ook geglo dat hy die regering se interpretasie van die bedreiging teen hom, gesaghebbend sou kon verduidelik. Sy weiering om te getuig is wyd veroordeel, maar baie Afrikaners het dit verwelkom. Vir hulle was die WVK ’n eensydige proses en hulle wou nie hê dat Botha aan die proses onderwerp word nie.

Slot

P.W. Botha was ’n sterk leier, wat geglo het dat hy politieke hervorming onder sy beheer kon hou. Hy wou dus soveel regte aan swart mense toeken as wat moontlik was sonder om die mag te verloor. Hoewel sy pogings deur swak gesondheid kort geknip is, is dit ‘ n ope vraag of dit moontlik sou wees.

Comments are closed.

error: Content is protected !!