FAK seminaar “Identiteitspolitiek en kulturele ondernemerskap in Europa”.
Mei 14, 2013
FAK Sangbundel Volume II skole kompetisie skop af.
Mei 14, 2013

deur Russel Kirk

Wat is konserwatief? In Suid-Afrika het is die woord “konserwatief” vanweë ʼn politieke verlede geëtiketteer as regs of verkramp. Tog bevind Prof. Pierre du Toit van Stellenbosch met die gesaghebbende “World value survey” dat verreweg die meerderheid Suid-Afrikaners, bykans 80%+ uit alle bevolkingsgroepe, swart, wit, bruin en Indiër, sosiaal-konserwatiewe waardes deel. In Brittanje is die Konserwatiewe Party van David Cameron aan bewind. In die VSA beskryf die invloedryke Heritage Foundation konserwatisme met die woorde gelykheid, diversiteit en volhoubaarheid. Miskien het dit tyd geword dat ons die woord konserwatief weer afstof in ʼn poging om by die kern daarvan uit te kom. Die NP van Wyk Louw-sentrum het by, seker die belangrikste Amerikaanse konserwatiewe denker, Russell Kirk, gaan kers opsteek. Hy het die konserwatiewe idee in tien punte saamgevat. Ons wil graag u mening oor die saak hoor. Stuur asseblief u standpunt na fak@fak.org.za

’n Vriendin van my wat ons mej. Waardes sal noem, het in gesprek geraak met ʼn buurvrou – sê maar mev. Willemse, wat die dag tevore ʼn pragtige ou gebou, lank in besit van haar familie, verkoop het om afgebreek en deur ʼn perseel vir handel in gebruikte motors vervang te word. Sy het bepaalde bedenkinge daaroor gehad, maar volstaan met die slotsom, “Jy kan vooruitgang nie keer nie.”

Sy was onthuts deur mej. Waardes se antwoord, wat gelui het: “Nee, dikwels nie; maar jy kan probeer.” Mej. Waardes het nie geglo dat Vooruitgang, met ʼn hoofletter V, op sigself ʼn goeie ding is nie. Vooruitgang kan óf goed, óf sleg wees, afhangende van die bestemming van jou vooruitgang. Dit is heel moontlik, en nie seldsaam nie, dat ʼn mens se vooruitgang jou tot op die randjie van ʼn afgrond kan lei.

Die denkende konserwatiefgesinde, jonk of oud, glo dat ons almal die universele wet van verandering moet gehoorsaam; maar dat dit dikwels binne ons beheer is om te kies watter veranderings ons gaan aanvaar en watter ons gaan verwerp. Die konserwatiefgesinde is iemand wat trag om die beste uit ons tradisies en ons instellings te bewaar en daardie beste met verloop van tyd en na gelang van noodsaaklikheid met hervorming te versoen. “Om te bewaar” beteken “om te behou.”…[Dink aan] die vloek van Kupido (vry vertaal):Die wat ʼn ou liefde met ʼn nuwe vervang, verander dikwels na iets slegters.’n Konserwatiefgesinde is nie per definisie ʼn selfsugtige of stompsinnige persoon nie, maar eerder iemand wat glo dat daar in ons lewe iets is wat werd is om bewaar te word. Konserwatisme is inderdaad ʼn woord met ʼn ou en eerbare betekenis – maar ʼn betekenis wat tot redelik onlangs byna deur Amerikaners vergeet is. Abraham Lincoln wou graag as konserwatiefgesinde onthou word. “Wat is Konserwatisme?” het hy gevra. “Is dit nie voorkeur van die ou en beproefde bo die nuwe en ongetoetste nie?” Dit is so, en daarbenewens ʼn massa etiese en maatskaplike oortuigings. Die woord liberalisme” is egter vir twee of drie dekades reeds gewild onder ons. Selfs vandag, alhoewel daar ʼn goeie klomp konserwatiefgesindes in sowel nasionale as staatspolitiek is, is daar in geen van die grootste partye veel leidende politici wat hulself as “konserwatiefgesind” beskryf nie.” Paradoksaal het die mense van die Verenigde State die belangrikste konserwatiewe nasie ter wêreld geword, juis in die tyd toe hulle opgehou het om hulleself tuis konserwatief te noem.

Met ons sterk verset teen die radikalisme van die Sowjetblok en ons nasionale afkeer van kollektivisme in al sy gedaantes twyfel ʼn groot groep Amerikaners deesdae sterk of hulle liberaal of radikaal genoem wil word. Oor ʼn geruimte tyd het die liberaalgesindes na links gedryf in die rigting van hul radikale neefs en niggies; terwyl liberalisme in die jongste tyd ʼn verbintenis tot die gesentraliseerde staat en die droë onpersoonlikheid van Huxley se Brave New World of Orwell se 1984 impliseer. Mans en vroue wat aanvoel dat hulle nie liberaal- of radikaalgesind is nie, begin hulleself afvra presies wat hulle glo en wat hulle hulself behoort te noem. Die ideologiese sisteem wat teenoor liberalisme en radikalisme staan, is die konserwatiewe politieke filosofie.

Wat is konserwatisme?

Moderne konserwatisme het omstreeks die aanvang van die Franse Revolusie vorm aangeneem, toe vooruitsiende manne in Engeland en Amerika besef het dat die mensdom, om die elemente van beskawing te bewaar wat die lewe die moeite werd maak, die een of ander koherente massa van idees moet hê om die gelykmakende en vernietigende momentum van fanatieke revolusionêres teen te staan. In Engeland was die stigter van ware konserwatisme Edmund Burke, van wie Reflections on the Revolution in France die gety van Britse opinie laat draai en onberekenbare invloed op die gemeenskapsleiers in die Europese Kontinent en in Amerika gehad het. In die pas gevestigde Verenigde State was die vaders van die Republiek, vanuit opleiding en praktiese ervaring konserwatief, vasberade om grondwette te vestig wat hul nageslag op blywende weë van geregtigheid en vryheid sou lei. Die Amerikaanse Vryheidsoorlog was nie ʼn werklike revolusie nie, maar eerder ʼn afstigting van Engeland; staatsmanne van Massachusetts en Virginia het geen behoefte gehad om die samelewing om te keer nie. In hulle geskrifte, veral in die werke van John Adams, Alexander Hamilton en James Madison tref ons ʼn sober en deurwinterde konserwatisme aan wat in ʼn begrip van die geskiedenis en die menslike natuur gefundeer is. Die grondwet wat die leiers van daardie geslag opgestel het, is proefondervindelik as die suksesvolste in die ganse geskiedenis bewys.

Sedert Burke en Adams het konserwatiewe leiers bepaalde algemene idees onderskryf wat ons by wyse van definisie kortliks weergee. Konserwatiefgesindes wantrou dit wat Burke “abstraksies” genoem het – dit wil sê, absolute politieke dogmas wat los staan van praktiese ervaring en besondere omstandighede. Nogtans glo hulle in die bestaan van bepaalde blywende waardes wat die gedrag van die menslike samelewing bestuur. Moontlik is die hoofbeginsels wat die Amerikaanse konserwatiewe denke gekenmerk het, die volgende:

(1) Mense en nasies word deur morele wette regeer; en daardie wette het hul oorsprong in ʼn wysheid wat meer as menslik is – in goddelike geregtigheid. Politieke probleme is ten diepste morele en religieuse probleme. Die wyse staatsman probeer die morele reg deurgrond en sy optrede dienooreenkomstig rig. Ons het ʼn morele skuld teenoor ons voorouers, wat ons beskawing aan ons nagelaat het, en ʼn morele verpligting teenoor die geslagte wat na ons volg. Hierdie skuld is ʼn verordening van God. Ons het dus nie die reg om disrespekvol jeens die menslike natuur op te tree of met die delikate weefsel van ons burgerlike maatskaplike orde te peuter nie.

(2) Verskeidenheid en diversiteit is die kenmerke van ʼn ontwikkelde beskawing. Eenvormigheid en absolute gelykheid is die doodsklok van alle ware lewensdrif en bestaansvryheid. Konserwatiewes weerstaan met die krag van onpartydigheid die eenvormigheid van ʼn tirannie of oligargie, soos ook die eenvormigheid van wat Tocqueville “demokratiese despotisme” genoem het.

(3) Geregtigheid beteken dat elke man en elke vrou die reg het op wat sy eie besit is – op die dinge wat die mees gepaste is vir sy eie aard, op die vergoeding van hul vermoëns en integriteit, op hul besittings en eie persoonlikheid. ʼn Beskaafde samelewing vereis dat alle mans en vroue gelyke regte onder die wet het, maar dat gelykheid nie tot gelyke dinge strek nie. Dit wil sê, die samelewing is ʼn groot vennootskap waarin almal gelyke regte het, maar nie gelyke dinge nie. Die regverdige samelewing verg deurdagte, regverdige leierskap, verskillende belonings vir verskillende vermoëns, en ʼn sin vir respek en plig.

(4) Eiendom en vryheid is onlosmaaklik met mekaar verbind; ekonomiese gelykmaking is nie gelyk aan ekonomiese vooruitgang nie. Konserwatiewes heg natuurlik waarde aan eiendom vir die (intrinsieke) waarde daarvan, maar bowenal omdat alle mans en vroue daarsonder aan die genade van ʼn almagtige, despotiese regering oorgelaat sou wees.

(5) Mag is gevaarlik; daarom is ʼn goeie staat een waarin mag begrens en gebalanseer en deur weldeurdagte, oorwoë grondwette en gewoontes in toom gehou word. Vir sover moontlik behoort politieke mag in die hande van private individue en plaaslike instansies gehou te word. Sentralisasie is gewoonlik ʼn teken van maatskaplike agteruitgang.

(6) Die verlede is ʼn groot pakhuis van wysheid; soos Burke verklaar het, “die individu is dwaas, maar die spesie is wys.” Die konserwatiewe mens glo dat ons onsself moet laat lei deur die morele tradisies, die sosiale ervaring en die ganse komplekse pakket van kennis wat ons voorouers aan ons nagelaat het. Die konserwatiefdenkende beroep hom, verby die onbekookte opinie van die oomblik, op dit wat Chesterton die “demokrasie van die gestorwenes” genoem het – dit wil sê, die deurwinterde menings van die wyse manne en vroue wat voor ons tyd gesterf het; die ervaring van die ras. Kortweg, die konserwatiewe besef dat hy nie gister gebore is nie.

(7) Die moderne samelewing het ʼn dringende behoefte aan ware gemeenskap: en ware gemeenskap is ligjare verwyderd van kollektivisme. Ware gemeenskap word gedryf deur liefde en liefdadigheid, nie deur verpligting nie. Deur kerke, vrywilligerverenigings, plaaslike regerings en ʼn verskeidenheid instansies poog konserwatiewes om die gemeenskap gesond te hou. Konserwatiewes is nie selfsugtig nie, maar maatskappygedrewe. Hulle weet dat kollektivisme, wat verskeidenheid deur eenvormigheid en vrywillige samewerking deur mag vervang, die einde van ware gemeenskap beteken.

(8) In die handelinge van nasies voel die Amerikaanse konserwatiewe dat sy land ʼn voorbeeld aan die wêreld behoort te stel, maar sonder om die wêreld volgens sy patroon te probeer hervorm. Dit is ʼn wet van beide die staatkunde en die biologie dat elke lewende wese bo alles – selfs bo sy eie lewe – sy eiesoortige identiteit liefhet wat hom van alle ander wesens onderskei. Die konserwatiewe mens aspireer nie om die wêreld te oorheers nie, nog minder is hy aangetrokke tot die vooruitsig van ʼn wêreld wat tot ʼn enkele patroon van regering en beskawing verskraal is.

(9) Konserwatiewes weet dat manne en vroue net so min vervolmaakbaar is as politieke instellings. Ons kan nie ʼn hemel op aarde maak nie, maar ons kan wel ʼn hel hier maak. Ons is almal skepsels in wie die goeie en die bose vermeng is; en wanneer goeie instellings verwaarloos en antieke morele beginsels verontagsaam word, kry die boosheid in ons die oorhand. Daarom is die konserwatiewe wantrouig jeens alle utopiese skemas. Hy glo nie dat ons deur die mag van positiewe wetgewing al die probleme van die mensheid kan oplos nie. Ons kan ten beste hoop om ons wêreld draaglik te maak, maar ons kan dit nie perfek maak nie. Wanneer vooruitgang vermag word, geskied dit deur wyse erkenning van die beperkings van die menslike natuur.

(10) Verander en hervorm, glo konserwatiewes, is nie identies nie: morele en politieke innovering kan sowel vernietigend as voordelig wees; en indien innovering in ʼn gees van aanmatiging en geesdrif aangepak word, gaan dit heelwaarskynlik rampspoedig wees. Alle menslike instellings verander in die een of ander mate van die een tydvak na die ander, want geleidelike verandering is die bewaringsmedium van die samelewing, soos dit eweneens die middel tot vernuwing van die menslike liggaam is. Maar Amerikaanse konserwatiewes poog om die groei en wysiging wat wesensnodig vir ons lewe is, met die krag van ons maatskaplike en morele tradisie te versoen. Saam met Lord Falkland sê hulle, “As dit nie nodig is om te verander nie, is dit nodig om nie te verander nie.” Hulle verstaan dat manne en vroue die hoogste tevredenheid smaak wanneer hulle kan aanvoel dat hulle in ʼn stabiele wêreld met blywende waardes leef.

Konserwatisme is dus nie slegs in die belang van diegene wat baie besittings en invloed het nie; dis nie bloot die verdediging van voorregte en status nie. Die meerderheid van konserwatiewes is nóg welgesteld, nóg invloedryk. Maar selfs die nederigste in hul geledere put groot voordeel uit ons gevestigde Republiek. Hulle het vryheid, veiligheid van die persoon en woonplek, gelyke beskerming van die wette, die reg op die opbrengs van hul arbeid, en die geleentheid om die allerbeste te lewer waaroor hulle beskik. Hulle het ʼn reg op persoonlikheid in die lewe, en ʼn reg op vertroosting in die dood. Konserwatiewe beginsels beskerm die verwagtings van elke individu in ʼn samelewing. En konserwatisme is ʼn sosiale konsep wat belangrik is vir elkeen wat gelyke geregtigheid en persoonlike vryheid verlang, saam met al die geliefde ou tradisies van die mensheid. Konserwatisme is nie ʼn blote verdediging van “kapitalisme” nie. (“Kapitalisme” is inderdaad ʼn woord wat deur Karl Marx geskep is, en uit die staanspoor bestem was om te impliseer dat die enigste ding wat konserwatiewes verdedig, enorme oppotting van private kapitaal is.) Maar die ware konserwatiewe verdedig energiek en onwrikbaar sy persoonlike besit en ʼn vrye ekonomie, eweseer om sy eie onthalwe as omdat hierdie dinge die middele tot groot doelwitte is.

Hierdie groot doelwitte is meer as ekonomies en meer as polities. Dit behels menswaardigheid, menslike persoonlikheid, menslike geluk. Dit behels selfs die verhouding tussen God en die mens. Want die radikale kollektivisme van ons tyd is hewig vyandiggesind jeens enige ander gesag: moderne radikalisme verpes godsdienstige geloof, private deug, tradisionele persoonlikheid, en die lewe van eenvoudige bevrediging. Alles wat werd is om bewaar te word, word in ons geslag bedreig. Bloot onnadenkende negatiewe opponering van die gebeurestroom, desperate vasgryping van wat ons nog oorhet, gaan in hierdie era nie genoeg wees nie. Konserwatisme van instink moet deur ʼn konserwatisme van denke en verbeelding versterk en gerugsteun word.

*Russell Kirk (1918 – 1994) was ‘n Amerikaanse politieke wetenskaplike, historikus, sosiale en literêre kritikus en fiksieskrywer, bekend vir sy invloed op 20ste eeuse Amerikaanse konserwatisme. Kirk word ook beskou as die hoof voorstander van tradisionele konserwatisme.

Comments are closed.

error: Content is protected !!