FAK Sangbundel Volume II skole kompetisie skop af.
Mei 14, 2013
Agterryers Van Die ABO Met Beeld Vereer
Junie 25, 2013

PIET RETIEF

Inleiding

Piet Retief het as martelaar van die Groot Trek gesterf. Hy is in opdrag van koning Dingaan van die Zoeloes vermoor, wat hom ’n besondere plek in die Afrikanergeskiedenis gee. Hy was ’n welsprekende man en ook die enigste leier wat in besonderhede die Voortrekkers se motivering uiteengesit het. Dit gee hom ’n besondere plek in die Afrikaner se geskiedskrywing, wat ongelukkig gemaak het dat sy minder goeie punte dikwels verswyg is. Die werklikheid is dat iemand se foute nie noodwendig sy prestasies ongeldig maak nie, en andersom. Daarom is dit belangrik om ’n realistiese beeld van Piet Retief te kry.

Biografiese gegewens

Pieter Mauritz Retief is op 12 November 1780 in die destydse Wagenmakersvalley, later Wellington, in die Boland gebore. Hy het uit ’n familie van Franse Hugenote afgestam en steeds op die familiegrond gewoon. Tot op 27 het hy vir sy pa op die plaas gewerk. Daar is hy met die weduwee Magdalena Johanna Greyling (gebore De Wet) getroud. Uit die huwelik is uiteindelik vier kinders gebore.

Nadat ’n aantal saketransaksies vir Retief in die Boland skeefgeloop het, het hy na Grahamstad verhuis. Hy het verskeie besighede in die dorp self en in die boerdery-omgewing aangepak. Hoewel hy op die oog af ’n suksesvolle sakeman was, het sy besighede ook hier in duie gestort met bewerings van swak vakmanskap en selfs oneerlikheid teen hom. Daarop het hy ’n plaas in die Winterberg (omgewing van die huidige Fort Beaufort) aangeskaf en met vee geboer.

Na die Sesde Grensoorlog van 1836, waarin hy as ’n burgerkommandant opgetree het, het hy oortuig geraak dat sy mense nooit ’n rustige lewe in die Kaapkolonie sou kon lei nie. In die volgende afdeling word na die redes vir hierdie oortuiging teruggekom. In 1837 het hy dus met ’n geselskap van sowat dertig gesinne uit die Winterberggebied padgegee en by ander Voortrekkers noord van die Oranjerivier aangesluit. Thaba’Nchu (of Blesberg), ’n sendingstasie van die Amerikaanse sendeling Archbell onder die Barolong, was die plek waar Voortrekkers op mekaar gewag het. Hoewel geselskappe van daar af die binneland verken het, sou dit hulle basis wees tot hulle genoeg was om ’n regering te kies en op ’n bestemming te besluit.

Na Retief se aankoms by Thaba’Nchu is hy tot “Gouverneur van den emigranten Boeren” verkies. Die Trek het van daar na die huidige KwaZulu-Natal vertrek, waar Retief met die Zoeloekoning, Dingaan, oor grond onderhandel het. Nadat Retief eers, volgens ooreenkoms, vee moes terugwen wat die BaTlokwa van Dingaan gebuit het, is die ooreenkoms beklink.

Nadat die Retief-Dingaan-ooreenkoms (dikwels ’n “traktaat” genoem) op 6 Februarie 1838 gesluit is, is Retief en sy hele geselskap vermoor. Op hierdie moord word ook teruggekom. Piet Retief het dus op 57-jarige leeftyd ’n gewelddadige dood gesterf, wat deur uitgebreide aanvalle op losstaande Voortrekkers gelei het. Dit het egter ook tot weerwraak van die Voortrekkers gelei, wat uiteindelik die einde van Dingaan se bewind sou beteken.

Openbare lewe

Die belangrikste kenmerk wat van Piet Retief ’n openbare figuur gemaak het, was sy vermoë om mense te oortuig en om sy woord goed te doen. Dit het ook ’n skadukant gehad, in die sin dat party mense hom as arrogant beleef het en dat hy geneig was om meer aan te pak as wat hy kon voltooi.

Nadat Retief op 27-jarige leeftyd vir homself begin werk het, het hy verskillende saketransaksie, veral in die boubedryf, aangepak. Bronne is nie eenstemmig oor wat die oorsaak was nie, maar wel dat dit misluk het. Sommige skryf dit aan ongelukkige sameloop van omstandighede toe, ander aan nalatigheid, terwyl ander beweer dat hy oneerlik was.

Retief het na Grahamstad aan die oosgrens van die Kaapkolonie verskuif. Daar het hy etlike transaksies met die Britse owerheid gesluit, onder andere om geboue op te rig. Weereens het dit nie uitgewerk nie en nadat beslag op al sy bates gelê is, het hy in die Winterberggebied as boer gevestig. Dit is merkwaardig dat hy tydens sy verblyf in Grahamstad deur mede-Afrikaners as ’n gesiene burger erken is, terwyl hy ook agting en vriendskap van invloedryke Engelse gewen het, onder andere die redakteur van die Grahamstown Journal.

As boer in die Winterberg was Retief baie gewild. Met die Sesde Grensoorlog in 1835 is hy deur die Britse owerheid as ’n burgerkommandant aangestel en het ’n belangrike rol gespeel om die oorlog te beëindig. Agterna was hy diep ontevrede met die Engelse se vredesooreenkoms met die Xhosas. Volgens hom het dit burgers in ’n byna onmoontlike posisie gestel om hulleself teen aanvalle te beskerm en hulle eie vee terug te vind. Hy het veral met die luitenant-goewerneur, Andries Stockenstrom, gebots. Retief het die gevoelens van die meeste grensboere verwoord.

Teen 1836 was dit vir Retief duidelik dat gunstige omstandighede nie na die Oosgrens sou terugkeer nie. Volgens hom is die regering te sterk deur sendelinge en ander mense beïnvloed, wat nie die grensboere se belange kon of wou verstaan nie. Hy het geglo dat ’n bestaan buite die kolonie se grense aan hulle die geleentheid sou bied om volgens hulle eie aard en behoeftes oor hulleself te regeer. Daarom het hy met sowat dertig gesinne wat hom gevolg het, oor die Oranjerivier getrek. Hy was een van die trekleiers wat die owerhede laat besef het dat hierdie ’n beweging was om mee rekening te hou, en nie net eindelose rondswerwery nie.

Retief was die enigste trekleier wat dit nodig gevind het om hulle beweegredes vir die owerheid en ander belangstellendes op skrif te stel. Dit het hy gedoen deur ’n sogenaamde Manifes vir publikasie aan die Grahamstown Journal te stuur. Hy was bewus van die Britse owerheid se vrese rakende die Groot Trek (wat eers jare later so genoem is).

Die Engelse het vermoed dat die Boere weer slawerny sou instel en dat hulle onbeheersde geweld teenoor die binnelandse swart stamme sou pleeg. Dit het nie alleen met hulle sin vir regverdigheid gebots nie, hulle was ook bang dat onrus in die binneland na die Kaapkolonie sou uitbrei. Dit het reeds tevore gebeur toe stamme wat voor Shaka se magte gevlug het, Transkei binnegetrek het en druk op die grens met die Kaap geplaas het.

Retief het twee dinge duidelik gemaak: Die Trek was ’n daad van opstand en nie net die voortsetting van ’n swerwersgees nie en die Trekkers wou ’n geordende samelewing opbou. Diep bewus van die Britse owerheid se vrees dat hulle slawerny sou instel en swart stamme op roekelose manier teister en onderdruk, het hulle vrese probeer besweer. Hy het waarskynlik grotendeels daarin geslaag, omdat die owerheid andersins meer moeite sou doen om die Trek te stuit. Hulle het wel meer as een keer verteenwoordigers gestuur, wat Retief se aansprake bevestig het. Retief se bydrae was dus dat hy geweet het watter boodskap om oor te dra, maar dat hy hom nie aan misleiding skuldig gemaak het nie.

Voor Retief by die ander Trekkers by Thaba ’Nchu aangesluit het, was Gerrit Maritz en Hendrik Potgieter reeds tot leiersposisies verkies. Sy geselskap was groot en ook nie almal was gewillig om onder ander leiers te staan nie. ’n Nuwe leiersverkiesing het gevolg, waarvolgens Retief as “Goewerneur” aangewys is. Maritz is ook in die “regering” opgeneem, maar Potgieter is tot geen posisie verkies nie. Dit het sy ondersteuners van Retief vervreem.

Terwyl Retief steeds gewild was, het sekere besluite waarby hy hardkoppig gestaan het, hom steun gekos. Die belangrikste was dat hy daarop aangedring het dat eerwaarde Erasmus Smit die Trekkers se geestelike leier moes wees. Smit was ’n Nederlander en is deur die Londense Sendinggenootskap na die Kaap gestuur. Van die genootskap se ander predikante het die oosgrensboere in Engeland beswadder. Boonop het die dokumente wat bewys het dat Smit deur hulle georden is, verlore geraak. Die grootste probleem was dat sy persoonlikheid en persoonlike lewe baie mense aanstoot gegee het, onder andere vir Gerrit Maritz, sy eie swaer. Retief wou niks hiervan hoor nie en het aangedring dat alle Trekkers sy geestelike leiding moes aanvaar.

Al die leiers, buiten Potgieter, het geglo dat hy die Trek na die huidige KwaZulu-Natal moes lei. Retief het op so ’n manier daarop aangedring, dat selfs mense wat met hom saamgestem het, nie van sy manier gehou het nie. Later sou die meningsverskil met Maritz ernstig raak.

Nadat die Trek laat in 1837 aan die voet van die Drakensberg aangekom het, is die grondslae vir ’n nuwe republiek gelê. Dit sou die Republiek van Natalia wees, na aanleiding van die Portugese seevaarders wat dit so genoem het, toe hulle die landstreek op Kersdag raakgesien het. Betrekkinge is met die Engelse handelaars in Port Natal (vandag Durban) aangeknoop en die terrein vir ’n toekomstige hoofstad is aangewys waar Pietermaritzburg vandag lê. Belangrikste van alles: Retief het onderhandelinge met Dingaan, die Zoeloekoning, aangeknoop.

Retief het Dingaan ten volle vertrou. Hulle het ooreengekom dat die Voortrekkers die grond tussen die Tugelarivier in die noorde en die Umzimvuburivier in die suide kon koop. Retief is deur ’n sendeling wat onder Dingaan se mense gewerk het, gewaarsku om versigtig te wees. Dit blyk egter dat Retief nie net vir Dingaan vertrou het nie, hy het hom ook met krygsdemonstrasies probeer beïndruk. Party verslae noem dat hy arrogant teenoor Dingaan opgetree het.

Dingaan het besluit om Retief se betroubaarheid en mag te toets, deur die terugvind van vee as ’n voorwaarde vir die grondtransaksie te stel. Die vee is deur hoofman Sekonjella van die BaTlokwa, wat hoog in die berge gewoon het, gesteel. Dingaan se voetsoldate het vergeefs probeer om dit terug te vind. Met sy perdekommando het Retief dit redelik maklik reggekry en in Februarie 1838 was hy terug by Dingaan met sy vee. Gerrit Maritz het die vrede nie vertrou nie en Retief byna gepleit om nie na Dingaan terug te gaan nie. Daarna het hy hom probeer oortuig om met ’n klein afvaardiging te gaan, om die gevolge van Dingaan se moontlike reaksie te beperk. Retief het egter van selfvertroue oorgeloop en op sy noodlottige sending vertrek.

Die vinnige resultate het Dingaan nie net beïndruk nie, dit het hom ook bang gemaak. Daarom het hy besluit om Retief en sy afvaardiging te vermoor en daarna sy troepe uit te stuur om al die Voortrekkers in hulle laers uit te wis. Retief se hele afvaardiging, honderd man in totaal, is gevang en voor sy oë tereggestel, voor hy self ook vermoor is. Daarna het die “impi’s” op ’n veldtog vertrek om alle Voortrekkers uit te wis. Enkelinge het uit geïsoleerde groepies ontvlug en die hooflaer gewaarsku. Hierdie laer kon die aanval afslaan, maar die verliese was groot. Dit was nie die einde van die Groot Trek nie, maar wel die einde van Retief se rol daarin.

Slot

Dit is belangrik om ’n man soos Piet Retief met al sy bekwaamhede en foute raak te sien. Terwyl sy geesdrif en aanvoeling om die Britse owerheid gerus te stel bewonder kan word, geld dieselfde nie vir sy aanvoeling vir die Zoeloes se denkwyse nie.

Comments are closed.

error: Content is protected !!