Profiel: Piet Retief
Mei 17, 2013
Die Leuens Van ’n Vergete Geskiedenis
Junie 25, 2013

Agterryers van die Anglo-Boereoorlog met ’n standbeeld op die beeldeterrein van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein gehuldig.

clip_image001

Phil Minnaar, beeldhouer van Pretoria, se maket van Die Agterryer, wat uit talle inskrywings verkies is. Die beeld word in brons en een en ‘n kwart lewensgrootte gemaak om op 16 Desember 2013 op die terrein van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein onhul te word.

Deur MARTHINUS VAN BART

Toe die eerste nasionale gedenkbeeld vir die Boerestryders van die Anglo-Boereoorlog in 1982 op die terrein van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein – langs die terrein van die Vrouemonument – opgerig is, is ’n lank gekoesterde ideaal verwesenlik.

Genl. N.N. Webster, voorsitter van die Raad van Organisasies vir Militêre Veterane van die Republiek van Suid-Afrika, het in sy navorsing oor die nasionale monumente in die land daarvan bewus geword dat die burgers te velde vergete gebly het, terwyl die vroue en kinders van die Britse konsentrasiekampe reeds in 1913 met die ontsagwekkende Vrouemonument vereer is. Deur sy volgehoue ywer en samewerking met die Nasionale Vrouemonumentkommissie en die SA Raad van Oorlogsgrafte, is geld ingesamel om die beeldhouer Danie de Jager opdrag te kan gee om ’n bronsbeeld, Afskeid, te beeldhou. Dit is van ’n burger te perd wat van sy vrou afskeid neem om in die oorlog te gaan veg.

clip_image002

Die eerste beeld wat op die terrein van die oorlogsmuseum opgerig is, is Afskeid, gebeeldhou deur Danie de Jager. Die beeld is in 1982 opgerig. De Jager is op 28 Maart 2003 oorlede. Foto: Marthinus van Bart

Hieruit het die besef voortgevloei dat ook die bannelinge en die bittereinders met beelde vereer moes word, en is De Jager opdrag gegee om die beelde Die Banneling en Die Bittereinder te skep. Dit was pas klaar, toe daar besluit is dat ook die agterryers, daardie bruines en swartes wat die rydiere van die Boere te velde versorg het, met ’n beeld vereer moes word.

De Jager het in opdrag ’n maket vir Die Agterryer geskep en voorgelê, maar toe is hy skielik op 28 Maart 2003 oorlede, en hierdie projek het toe tydelik doodgeloop.

clip_image003

Die Vrouemonument in Bloemfontein. Foto: Marthinus van Bart

Volgens die direkteur van die oorlogsmuseum, mnr. Tokkie Pretorius, is R1,5 miljoen van die nasionale lotery-verspreidingstrustfonds, Lotto, ontvang, waarna verskeie beeldhouers genooi is om voorleggings vir ’n agterryer-beeld te doen. Die maket van die beeldhouer Phil Minnaar van Pretoria is gekies en hy is in Augustus aangestel om Die Agterryer te skep. Die beeld, 1¼ lewensgrootte en in brons, word op 16 Desember 2013 amptelik onthul. Celestè Reynolds se boek oor die Britse konsentrasiekampe en ’n Gedenkboek vir die Nasionale Vrouemonument word dan ook uitgegee. Dit sal dan presies 100 jaar wees sedert die monument op 16 Desember 1913 onthul is.

clip_image004

Die Bittereinder, gebeeldhou deur Danie de Jager. Foto: Marthinus van Bart

Minnaar se openbare kunswerke – hy het reeds 68 monumente en 165 borsbeelde geskep – is wyd bekend. Sy grootste beeld is ’n lewensgroot olifant vir die Nasionale Krugerwildtuin. Sy uitbeelding van die Boere-verkenner Danie Theron, wat jare lank by die Danie Theron-krygskool in Kimberley gestaan het, is ’n tyd gelede na die Erfenissentrum by die Voortrekkermonument in Pretoria verskuif. Onder die borsbeelde van Boere-leiers wat hy al gemaak het, is dié van genls. J.C. Smuts en Koos de la Rey. Die een van Smuts is in die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, en laasgenoemde is in die besit van mnr. Jannie Mouton van PSG.

clip_image005

Die Banneling deur Danie de Jager. Foto: Marthinus van Bart

Twee monument-tablette van onderskeidelik grys en swart graniet is betreklik onlangs reg voor die hoofgebou van die Oorlogsmuseum opgerig:

Die grys tablet, met gegraveerde en vergulde bewoording in Afrikaans, Engels en Sotho, lui dat gedurende die Anglo-Boereoorlog 19 Britse konsentrasiekampe in Suid-Afrika was waarin 144 944 burgerlikes aangehou is en waarvan 27 927 wit vroue en kinders gesterf het. Altesaam 22 074 kinders onder 16 jaar het gesterf, asook 4 177 vroue en 1 676 mans, waarvan 1 421 bejaardes was.

Die swart tablet, ook in Afrikaans, Engels en Sotho en met vergulde graveerwerk, lui dat daar 65 kampe vir swartes was waarin 140 514 aangehou en minstens 24 000 mans, vroue en kinders gesterf het. Dus het nagenoeg 52 000 Suid-Afrikaners in die Britse konsentrasiekampe weens honger, siekte en ontbering gesterf.

clip_image006

Die tablet van swart graniet met vergulde graveerwerk bevat die gegewens van die swart konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog. Die tablet staan voor die Oorlogsmuseum in Bloemfontein.

Die Oorlogsmuseum het twee DVD’s laat vervaardig om die werksaamhede van die museum en die betekenis van die naasliggende Vrouemonument breër bekend te stel. Documentary Overview: War Museum of the Boer Republics, Bloemfontein, South Africa, in Engels, is veral op swart en buitelandse besoekers gerig, terwyl die ander een, Die Nasionale Vrouemonument – Verlede, hede, toekoms, op die Afrikaanse gemeenskap gerig is.

Pretorius sê die oorlog tussen Brittanje en die twee Boererepublieke, Transvaal en die Oranje Vrijstaat, het ingrypende gevolge vir Suid-Afrika ingehou. Die lewe van die burgerlikes en hul gemeenskappe is verwoes, en die infrastruktuur, landbou en ekonomie vernietig.

clip_image007

Die tablet van grys graniet bevat die besonderhede oor die konsentrasiekampe vir Boerevroue- en -kinders gedurende die Anglo-Boereoorlog. Die graveerwerk is verguld.

Ná die oorlog het oud-pres. M.T. Steyn hom beywer vir die oprigting van die Vrouemonument ter ere van die vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe omgekom het. Genls. Louis Botha en Jan Smuts, wat agtereenvolgend as premiers namens die Britse Ryk opgetree het, was egter daarteen gekant. Maar Steyn het die steun van die Afrikanerbevolking gehad wat in groot armoede tóg die geld daarvoor gevind het en dié wens is vervul. Die argitek was Frans Soff en die beeldhouer Anton van Wouw.

Deur die jare het die monument ’n plek met ’n baie besonderse betekenis vir veral Afrikaners geword. Vandag het dra dit ’n sinvolle boodskap van versoening vir alle Suid-Afrikaners uit. Die Walliese welsynwerker wat baie vermag het om die lyding in die kampe te verlig, Emily Hobhouse, het die monument as ’n universele simbool vir vrouwees en die lyding van vroue in alle oorloë bestempel.

clip_image008

Die DVD vertel die verhaal van die Vrouemonument in Bloemfontein.

 Die DVD’s kan bestel word by tel. 051 447 3447 of e-pos: museum@anglo-boer.co.za.

Die museum se web-adres is www.anglo-boer.co.za.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!