Agterryers Van Die ABO Met Beeld Vereer
Junie 25, 2013
Massamoordenaars Van Suid-Afrika Vereer
Junie 25, 2013

Deur MARTHINUS VAN BART

clip_image001

Onderskrif: Die boekomslag toon ’n beestrok waarin honderde swart mense deur die Britse soldate gedwing is om hulle na die konsentrasiekampe te verwyder.

Met die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog van 1999 tot 2002 het beduidende getalle nuwe boeke met vars insigte oor die driejarige konflik tussen Boer en Brit, van 1899 tot 1902, verskyn. Een daarvan was die gedenkboek Verskroeide ­aarde onder redaksie van prof. Fransjohan Pretorius wat by Human & Rousseau verskyn het.

Dié hardebandboek het bestaan uit twaalf hoofstukke wat almal op die Britse konsentrasiekampe gefokus het. Een daarvan was “Die konsentrasiekampe vir swartes en kleurlinge” deur Stowell V. Kessler, wat die eerste keer in meer as ’n eeu die sluier gelig het oor hierdie faset van die reeks Britse oorlogsmisdade in Suid-Afrika gepleeg tydens die grootste goudrooftog in die geskiedenis, naamlik Brittanje se driejarige aanslag om die goudrif van die Witwatersrand te bekom.

Stowell het aanvanklike bereken dat 18 003 swart en bruin mense in die konsentrasiekampe gesterf het, maar deur sy voortgesette navorsing het hy gevind dat dit meer as 21 000 was. Sy bevindings het wêreldwyd die oë laat rek.
Nie eens die swart gemeenskappe, wat staatmaak op die mondelinge oordrag van hul volkeregeskiedenis het dit geweet nie. Maar hulle het toe daarvan kennis geneem. Julius Malema het juis van sy kortstondige politieke verhoog af groot gewag daarvan gemaak dat die wit mense die Afrikane se goud gesteel het, en dat dit wat ná ’n eeu se plundering daarvan oor is, nou deur “die mense” gevat moet word. As hy mooi daaroor nagedink het hoeveel bloed reeds vir die goud moes vloei en hoeveel vroue en kinders van alle rasse – 34 000 was Afrikaners, volgens die jongste navorsing – in die kampe gesterf het, was hy straks nie so breedsprakig nie, want “geld wat stom is, maak reg wat krom is.”

Die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein het pas deur ’n ruim skenking van R60 000 van die Nasionale Erfenisraad van Suid-Afrika en R200 000 van die Nasionale Lotery Verspreidingstrustfonds Stowell se volledige doktorale verhandeling, The Black Concentration Camps of the Anglo-Boer War 1899-1902, gepubliseer in groot-formaat-hardeband met glanspapier en ruim geïllustreer deur meer as 100 argieffoto’s.

Die pragtig versorgde werk wat onder toesig van Tokkie Pretorius, direkteur van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, die lig gesien het, is ’n waardige monument vir Kess­ler. Hy het egter nie die geluk kon smaak om die verskyning daarvan self te ervaar nie, want hy is reeds in 2007 op 73 jaar oorlede.

Dat daar 43 konsentrasiekampe vir Afrikaners oor die hele land was, is reeds lank bekend, maar dat daar 65 kampe vir swart en bruin mense was, kom eers deur Stowell se navorsing na vore. En dan voeg hy by dat dié syfer nie tydelike en oorplasingskampe insluit nie.

Aan die begin van die boek verskyn ’n landkaart in volkleur wat die ligging van die kampe aandui – die meerderheid al langs die hoofspoortrajekte vanaf De Aar tot by Pretoria en die vertakkings na Lourenço Marques, ooswaarts, en die Noord-Kaap, weswaarts.

In die inleiding stel Kessler die saak duidelik: “Die Anglo-Boereoorlog is soms die laaste van die gentlemen’s oorloë beskryf. Maar wanneer die rookwolke van afgebrande plase en krale van die slagvelde begin lig het en al die oorlewende soldate huis toe is, het die dodetal onthul dat byna twee keer soveel vroue en kinders gedurende die Anglo-Boereoorlog gesterf het as die getal soldate op die slagveld.
Swart en wit moeders, en veral hul kinders, het in groot getalle gesterf in die konsentrasiekampe wat die Britse leër gedurende die oorlog opgerig het.”

Hy verwys na die profetiese aanklag van Emily Hobhouse, in 1911, toe sy oorloë in die algemeen betreur het, maar meer spesifiek verwys het na haar ervaring van die Boerevroue en -kinders in die konsentrasiekampe: “Vir vroue is oorlog ’n bittere tyd; die opwinding en die glorie wat mans so aantreklik vind, vorm nie deel van hul ervaring nie, maar slegs die geestelike lyding en die lang, stadige dae van swaarkry. Dit val die swaarste op die kinders.”

Stowell skryf die doel van sy studie is om ’n omvattende geskiedenis van swart konsentrasiekampe daar te stel, en om hul rol gedurende die Anglo-Boereoorlog uit te stippel. Dit is ook om die tragiese siektes, dood en lyding wat die gevolg was van die ontberings in die kampe te boekstaaf.

Die fokus van die boek val daarop, en nie op die algemene rol van swart mense in die oorlog nie.
Wel kyk hy ook na die verraad wat die Britte ná die oorlog gepleeg het teenoor daardie swart mense wat hulle gedurende die oorlog teen die Boere gesteun het, en na die verbreking van daardie beloftes wat hulle aan die lojales gedurende die oorlog gemaak het.

En dan tik Stowell historici oor die vingers wat breedvoerig oor die wit konsentrasiekampe geskryf het waarin ook aansienlike getalle swart mense saam met die Boerevroue en -kinders opgeneem is, maar niks oor hul teenwoordigheid vermeld het nie.
“Hulle het op beduidende wyse die akkuraatheid van die geskiedskrywing van die oorlog verswak,” skryf hy.

Ook onthul Stowell die leuens wat verkondig is deur historici wat wel na die swart kampe verwys het, maar uitgemaak het dat dit bloot huisvesting vir arbeiders in diens van die Britse leër was.
Ook is daar gelieg, sê hy, oor die oorsake van die wanvoeding, hongersnood, siektes en ontbering in hierdie kampe deurdat aangevoer is dat die Britse leër nie by magte was om soveel mense te versorg nie. Ook dat die slagoffers vrywillig daar gewoon het, dat die sterftesyfer van die swart mense nie naby so hoog was as dié in die wit kampe nie, en dat die konsentrasiekampe vir wit en swart niks anders was as vlugtelingkampe wat om humanitêre redes geskep is.

Hy vertel hoedat sommige argivarisse openlik vyandiggesind teenoor hom was, en dat hulle voorgegee het dat daar geen inligting oor swart kampe in hul argiewe is nie. Ook dít was ’n leuen.

In sewe hoofstukke oor 352 bladsye bewys Kessler aan die hand van harde navorsingsgetuienis hoedat die konsentrasiekampe inderdaad ’n misdaad teen die mensdom was. Dit was berekende oorlogvoering teen die burgerlike bevolking van Suid-Afrika, want die Britte wou so maklik, so goedkoop en so gou moontlik hul doel, naamlik die anneksasie van die Boere- republieke van Transvaal en die Oranje Vrystaat, bereik. Die trofee was van die ryk minerale rykdomme, vernaamlik die Witwatersrandse goudrif, wat die Britse Ryk so nodig gehad het om sy meesterplan vir wêreldoorheersing te kon uitvoer.

Stowell sluit af met ’n aanhaling uit Emily Hobhouse se toespraak van 1913 by die inhuldig­ing van die Vrouemonument in Bloemfontein waarin sy na die lyding van ook duisende swart Suid-Afrikaners in die konsentrasiekampe verwys het, en ’n pleidooi gelewer het vir vreed-same naasbestaan tussen rasse.

Stowell se eie afsluitingswoorde is ook treffend: “It has been correctly said that a history book should not be emotional. That in scholarly writing there must be total objectivity. I believe that is true. Yet the myth makers have been allowed to rise to great heights of emotion in the writing of the sacred history. There are some things that have been done to poor miserable humankind that demand our ­tears.”

§ Die artikel het op 2 Junie 2012 in Erfenis, in die naweekbylae BY van Die Burger verskyn.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!