Die Leuens Van ’n Vergete Geskiedenis
Junie 25, 2013
Monument Vir Kaapse Rebelle Op Laborie In Die Paarl
Junie 25, 2013

Cecil John Rhodes, dr. Leander Starr Jameson en lord Alfred Milner: massamoordenaars in Suidelike Afrika

clip_image001

Die Kolossus van Afrika: Cecil John Rhodes met sy ideologie van Britse heerskappy in Afrika: Van Kaapstad tot Kaïro. Let wel dat hy hierbo as ‘n Britse soldaat uitgebeeld word.

Deur MARTHINUS VAN BART

Die name van Cecil John Rhodes, Leander Starr Jameson en Alfred Milner is onlosmaaklik verbind met Brittanje se “Scramble for Africa” van die laat 1800’s en vroeë 1900’s.

Met die ontdekking van diamante en goud in die Noordwes-Vrystaat en Transvaal het Brittanje alles in die stryd gewerp om dié rykdomme te verower. In die proses is een staatsgreeppoging en twee anneksasie-oorloë teen die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) van Transvaal gevoer. Dit het gelei tot ’n lewensverlies van duisende burgerlikes, onder wie 22 000 Afirkaner-kinders.

Die rol van veral Milner, die Britse Ryk se hoofaanstigter van die verskroeide-aarde-oorlog van 1899 tot 1902, ook die Goudoorlog genoem, is oorbekend. Hy het ná die vredesluiting van 31 Mei 1902 voortgegaan om ’n koue oorlog teen die Afrikaners, hul taal en kultuur te voer. Tog word talle plekke en strate in Suid-Afrika steeds na hom genoem. Hiervan is die voorstad Milnerton naby Kaapstad die bekendste.

clip_image002

Lord Alfred Milner, vurige Boere-hater wat die Anglo-Boereoorlog help aanstig het, en daarna die Afrikaanse taal en kultuur probeer uitwis het. In die oorlog is 22 000 Afrikaner-kinders in die Britse konsentrasiekampe dood. Ná die oorlog het Milner die oorlewende kinders op skoolvlak van hul moedertaal en hul kultuur probeer beroof. Hy het Engelse onderwysers ingevoer om sy doel te probeer bereik.

Rhodes, Jameson, en die Britse minister van kolonies en oorlog, Joseph Chamberlain, kan saam gegroepeer word as die beplanners van die bloedige Anglo-Boereoorlog om die Witwatersrandse goudrif te verower. Rhodes het as diamantmakelaar en aandelespekulant sy fortuin op die diamantvelde van Kimberley gemaak. Met sy geld, gekoppel aan sy dinamiese persoonlikheid, ambisie en briljante verstand, kon hy invloed en mag koop. Hy het tot die politiek toegetree en premier van die Kaapkolonie geword. Toe kon hy sy planne om die goudskat van Transvaal te bekom, met die steun van die hoogs moontlike gesag in Londen in werking stel.

Die medikus Jameson, bekend as “Doctor Jim”, was Rhodes se vertroueling en handlanger.

Omdat die eerste Britse anneksasie van Transvaal kort ná die ontdekking van goud in Noordoos-Transvaal misluk het deurdat die Afrikaners die invallers met die Slag van Majuba in 1881 beslissend verslaan het, moes Rhodes versigtiger te werk gaan om die ZAR te verower. Hy, Chamberlain, Jameson en ander in gesagsposisies het met die Randse liberale kapitaliste saamgesweer om die regering van president Paul Kruger in ’n staatsgreep omver te werp.

Maar eers moes Transvaal geïsoleer word voordat dit vanuit die gebiede ten noorde en noordweste daarvan, Betsjoeanaland, Masjonaland en Matabeleland, binnegeval kon word.

clip_image003

Heel regs sit Leander Starr Jameson, ook bekend as Doctor Jim, op die stoep van Groote Schuur by Kaapstad. Hy was ‘n medikus. Langs hom sit Cecil John Rhodes, premier van die Kaapkolonie en die magtigste man in Afrika.

In 1885 is Betsjoeanaland as protektoraat van Brittanje geannekseer en Jameson daar as administrateur aangestel.

Maar met Masjonaland en Matabeleland het dit ietwat moeiliker gegaan: Lobengula, seun van die Zoeloe-krygsman Mzilikazi, wat teen Shaka gerebelleer het, was in beheer van die landstreek. Sy krygslustige Matabeles het die vredeliewende Sjonas, die oorspronklike inwoners, onderdruk en oorheers. Lobengula was skrander, politiek uitgeslape en ingelig.

Rhodes, stigter en hoof van die magtige Chartered Company, het dus eers Britse sendelinge ingestuur om op Lobengula te spioeneer en hom geestelik en polities te bearbei. Terselfdertyd moes hulle die strategiese terrein van waar die ZAR binnegeval sou word, verken. Die tweede linie was sy sogenaamde goud- en diamantprospekteerders, inderdaad huur- soldate, wat toe na Lobengula gestuur is met die vroom belofte dat indien daar groot vondste gemaak sou word, hy en sy volk in die welvaart sou deel. Hy moes net ’n traktaat onderteken wat prospekteerregte aan die Chartered Company toeken. ’n Besending van 1 000 Martini-Henry-gewere en ammunisie, altyd gewild by Afrika-despote, is as omkoopgeskenk afgelewer. Lobengula was egter nie bereid om sy handslag op papier te plaas nie. Hy en sy indoenas het, heel korrek, vermoed dat die traktaat Brittanje die reg op anneksasie sou gee.

clip_image004

Lobengula, die koning van die Matabeles in Matabeleland (Zimbabwe). Hy was die seun van Silkaats, rebel teen die magtige Zoeloe-koning Tsjaka. Lobengula het die hele gebied noord van die Limpopo en suid van die Zambesi regeer. Maar Cecil John Rhgodes het hom uitoorlê, sy grond geroof en dit Rhodesië genoem. Toe is die Matabeles en Sjonas met kanonne en masjiengewere by die duisende afgemaai. Die doel met die verkryging van hierdie grondgebied was om ‘n afspringplek te hê vir die inval in die Transvaalse Boererepubliek van pres. Paul Kruger om die ryk goudbronne van die Witwatersrand in te palm. Lobengula het selfmoord gepleeg toe hy besef het dat hy alles verloor het en uiteindelik deur Rhodes se moordbende uitgewis sou word.

Rhodes moes nou ’n ander plan bedink. Een van die sendeling-spioene het gerapporteer dat Lobengula aan ernstige jig ly wat hom by tye groot pyn besorg het. “Doctor Jim” is toe na die Matabele-koning gestuur om hom te genees.

Die dokter het, soos Rhodes, ’n innemende persoonlikheid gehad waarmee hy ander se vertroue maklik gewen het. Hy besoek Lobengula as administrateur van Betsjoeanaland en vra uit na sy gesondheid. Lobengula kla oor die jig. Jameson bied aan om hom te genees; en toe Lobengula inwillig, spuit Jameson hom oor ’n tydperk van verskeie weke gereeld met dosisse morfien in. Dit was tydens hierdie “behandeling” dat Lobengula aan druk van Jameson toegee en die traktaat met die Chartered Company onderteken het. Dit is ’n mediese feit dat morfien die gebruiker se weerstand en goeie oordeel ernstig belemmer. En soos Lobengula vermoed het, was die traktaat só bewoord dat hy met die ondertekening daarvan sy hele koninkryk aan Brittanje afgestaan het.

Op 12 September 1890 is Rhodes se eie ontwerp van die Union Jack gehys en die grondgebied in die naam van Brittanje en die British South Africa Company geproklameer. Rhodes noem die landstreek na homself – Rhodesië – en stel Jameson as administrateur aan. (Van 1979 word dit Zimbabwe genoem.)

Het “Doctor Jim”, met die hulp van morfien, nie Lobengula se ryk bekom nie, sou Rhodes se alternatiewe plan in werking tree: ’n Huursoldaat, Frank Johnson, het met 500 man gereed gestaan om ’n moordaanslag op die koning se kraal, Gubulawayo, uit te voer. Sy beloning sou £150 000 en ’n plaas van 40 468 ha wees. Omdat die aanslag nie nodig was nie, het hy £87 000 as troosprys ontvang.

Drie jaar later besluit Jameson om Lobengula, wat heeltyd laag gelê het, tóg uit die weg te ruim. In Oktober 1893 val hy met sowat 700 huursoldate, gewapen met vyf Maxim-snelvuurkanonne, drie Gatling-masjiengewere en twee 7-ponder-veldkanonne, Lobengula se vesting aan die oewer van die Shangani-rivier aan. Meer as drieduisend Matabeles word afgemaai. Gewondes word een vir een doodgeskiet, en Gubulawayo word afgebrand. Lobengula kan die vernedering van gevangenskap en fusillering deur ’n Britse vuurpeloton nie aanvaar nie en pleeg selfmoord deur gif te drink.

Van die Matabeles se 300 000 gebuite beeste is 40 000 onder Lobengula se Sjona-teenstanders uitgedeel. Jameson en sy bende het die res vir hulle gevat.

In 1896 kom die inheemse bevolking, ook die Sjonas, in opstand teen die Chartered Company, wat hulle as slawe misbruik. Die rebellie word met die hulp van ingevoerde Britse soldate, onder wie kol. Robert Baden-Powell, bloedig onderdruk. Rhodes se opdrag was ondubbelsinnig: Doen die meeste skade aan die swart mense wat julle kan doen. Maak elkeen binne bereik dood, en betoon geen genade nie; ook nie aan diegene wat wil oorgee nie.

Toe die uitgerekte slagting oplaas verby was en alle tekens van ’n opstand onderdruk, het Rhodes die oorlewende leiers laat vang en aan die takke van ’n groot msasa-boom (Brachystegia spiciformis) in Harare laat ophang. (Op 4 Desember verlede jaar het dié boom, sowat 200 jaar oud, omgeval toe ’n vragwa daarteen gebots het. Dit was een van Zimbabwe se nasionale gedenkwaardighede en is in 1996 op ’n eeu-herdenkingsposseël afgebeeld.)

clip_image005

Cecil John Rhodes se “Hanging Tree” by Harare. Die msasa-boom (Brachystegia spiciformis) is nou ‘n nasionale gedenkwaardigheid van Zimbabwe. Die boom is in Desember 2011 erg beskadig toe ‘n vragwa daarteen gebots het. Hierdie foto is deur een van Rhodes se huursoldate geneem. ‘n Vegroting het in ‘n kroeg of barbierswinkel in Kimberley gehang tot vermaak van die diamantdelwers. Daar het Olive Schreiner se man, Cron Cronwriight-Schreiner, dit gesien en gekoop. Hy het dit vir Olive gegee. So geskok was sy, dat sy ‘n boek oor Rhodes se misdade teen die mensdom in Zimbabwe te boek gestel het, naamlik Trooper Peter Halket of Mashonaland. Die foto is voorin die boek geplaas. Dit is in 1897 in Londen by T. Fisher Unwin uitgegee. Dit het Rhodes se masker afgeruk en hom ontbloot vir die gewetenlose monster wat hy was. Die Engelse gemeenskap in Brittanje en Suid-Afrika het egter hul rug op Olive Schreiner gedraai. Sy het toe ‘n tuiste by die Afrikaners gevind.

In sy bloedbad-euforie steek Jameson op 29 Desember 1895 die Transvaalse grens met ’n swaar gewapende invalsmag van 567 huursoldate oor. Hy wil, in opdrag van Rhodes en Chamberlain, die ZAR van pres. Paul Kruger tot ’n val bring.

Op Nuwejaarsdag en 2 Januarie keer kommando’s van Rustenburg, Krugersdorp en Potchefstroom die invalsmag by Doornkop, op die plaas Vlakfontein, Roodepoort-Suid, vas en dwing hulle tot oorgawe.

In die daaropvolgende hofsaak in Pretoria is Rhodes, Jameson en 64 kapitaliste aan die onwettige inval skuldig bevind. Rhodes moes sy premierspos bedank. Daarna is Jameson en 14 van sy offisiere na Londen gestuur om (ligweg) gestraf te word.

Jameson, wat tronkstraf kry, word glo siek en in die tronkhospitaal behandel. Maar enkele weke later word hy vrygelaat – ’n oëverblindende diplomatieke spel om Chamberlain en sy regering te beskerm.

Kort daarna annekseer die Britte die grondgebied Zimbaansland aan die Transvaalse oosgrens en bekom Swaziland as protektoraat. Die omsingeling van Transvaal is voltooi. Britse soldate word toe al langs die grense van die ZAR ontplooi, en die Transvalers word gedwing om tot die dood toe vir hul vryheid en reg te veg. Die koste aan lewens en eiendom was enorm. Ná die oorlog word Jameson aangestel as eerste minister van die Kaapprovinisie. Sy goue handdruk vir die mislukte inval van 1896 by Doornkop wat die Anglo-Boereoorlog aan die gang gesit het.

clip_image006

Hierdie monument vir die helde van die Slag van Doornkop, 1 en 2 Januarie 1896, is nooit gebou nie. Die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het dit voorkom. Die ontwerp is waarskynlik deur Anton van Wouw gedoen. Dit toon ‘n groot ooreenkoms met sy oorspronklike ontwerp vir die Paul Kruger-standbeeldgroep in Pretoria. Die Kerkplein-monument wat later deur Gordon Leith opgerig is, lyk egter anders as Van Wouw se ontwerp.

Onder die Boere-generaals wat die Britte in die oorlog teengestaan het, was J.B.M. Hertzog en Jan Smuts – stryders na wie strate in die Kaapse metropool genome is. Hul name is in 2012 en 2013 deur die Stad Kaapstad se DP-stadsraad geskrap en deur ANC-strugglehelde s’n vervang. Ook is Jan Smuts-lughawe al geruime tyd gelede vernoem na Oliver Tambo, nog ’n ANC-struggle-held.

Dié straatvernoemings van Rhodes en Jameson word nie deur die skrapspan oorweeg nie. Ook sal Rhodes se standbeeld in die Kompanjietuin bly pryk, en sy reusagtige monument bokant die Universiteit Kaapstad sal steeds bly staan. En Milnerton sal voortgaan om Milner te vereer.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!