Monument Vir Kaapse Rebelle Op Laborie In Die Paarl

Massamoordenaars Van Suid-Afrika Vereer
Junie 25, 2013
Olive Schreiner Het Cecil John Rhodes Ontmasker
Junie 25, 2013

Unieke opelug-museum vir ABO-Rebelle op Labori in Paarl

clip_image001

Die uitleg van Labori soos geteken deur die argitek Louw. Die Eikebos-piekniekterrein is links bo en word met ‘n pyltjie aangedui.

Deur MARTHINUS VAN BART

Op 17 September 2005 is op die historiese wynlandgoed Labori in die Paarl geskiedenis gemaak toe die eerste Anglo-Boereoorlog-monument toegewy aan die Kaapse Rebelle onthul is.

Die plegtigheid is deur meer as 300 mense van oor die hele land bygewoon. Onder hulle was vyf verteenwoordigers van die familie Jabavu van die Oos-Kaap, almal regsteekse afstammelinge van die prominente swart Kaapse Rebel, John Ntengo Jabavu, redakteur van die eerste Xhosa-koerant, Imvu Zabantsundu. Jabavu was teen die Britse imperialistiese oorlog gekant en het die Boere-saak ondersteun. Daarom het die Britte die koerant gesluit en Jabavu ’n tyd lank aangehou. Hy was later die stigter van die Universiteit van Fort Hare en ’n pionier vir swart bemagtiging – wat gelei het tot die stigting van die ANC.

clip_image002

Die pad na die ABO-Rebelle-monumnet op Labori in die Paarl. Die granietkoppie is dig begroei met olyfbome en eikeboom. Foto’s: MARTHINUS VAN BART

Sy agter-agterkleinseun, mnr. Siyabonga Jabavu, ’n stadsraadslid van Buffalo City (Oos-Londen), het in sy kort toespraak gesê dit is ’n heuglike dag vir die familie dat J.N. Jabavu ook deur die monument vereer word. Die Jabavu’s se reis- en verblyfkoste is deur Naspers en Die Burger gefinansier.

Die inwyding van die monument het saamgeval met die jaarlikse FAK-kongres wat die eerste keer in 76 jaar in die Paarl gehou is.

Die monument is ter ere van alle kolonialers wat alles opgeoffer het in hul rebellering teen die Britse Imperialistiese oorlog, ook bekend as die Anglo-Boereoorlog, wat van 1899 tot 1902 gewoed en twee derdes van Suid-Afrika in puin gelê het.

clip_image003

John Ntengo Jabavu, Oos-Kaapse Rebel wat die Britse Empire en sy goudoorlog teen die Boererepublieke in sy koerant beveg het.

Dié monument, ingerig in ’n granietkoppie omring deur wingerd, is nou ’n besoekplek vir stille bepeinsing oor die demokratiese beginsels van vryheid en reg, én oor daardie helde wat daarvoor gestry het.
Die ABO Monument-trust het R550 000 vir die monument betaal. Die grootste gedeelte van die geld was afkomstig van ‘n erflating van oudstryder P.R. (Paul) de Villiers van Coetzenburg, Stellenbosch, wie se testament deur Sanlam-Trust behartig is. Ook is ‘n groot geldskenking deur wyle mev. Huberte Rupert van Stellenbosch gegee.

clip_image004

Hierdie Voortrekkermeisie poseer langs die brons beeld van die vroulike Kaapse Rebel. Foto: Marthinus van Bart 2011

Die terrein is deur die KWV aan die ABO Monument-trust, ’n geregistreerde organisasie sonder winsoogmerke, oorgedra.
Die stigtingstrustees was dr. C.H. (Carel) Stander, voorsitter (direkteur FAK en ander Afrikaanse kultuurorganisasies), mnr. H.H. (Hennie) Smit (Het Jan Marais Nationale Fonds), Marthinus van Bart (kultuurredakteur van Die Burger), D.J.J. (Danie) de Villiers (prokureur) en Willie Struwig van Sanlam Trust.
Die beskermheer en -vrou was onderskeidelik mnr. Ton Vosloo, voorsitter van Naspers, en mev. Huberte Rupert, patrones van kuns, musiek en Afrikanerkultuur.
Die professionele bouspan was mnr. Andries Domburg, argitek, Arnold Bestbier, bourekenaar, Spencer Dreyer, landmeter en stadsbeplanner. Raadgewers was dr. Pieter Bingle, kultuurleier, dr. Johan Neethling, omgewingskundige, en prof. Keith Dietrich, hoof van die US se departement beeldende kunste. Die beeldhouer was Johann Moolman van Groot-Marico.

clip_image005

Paul de Villiers, laaste tesourier-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaalse Boererepubliek) wat geld in sy testament nagelaat het vir die oprigting van ‘n Anglo-Boereoorlog-monument. Die droom is verwesenlik toe die monumnet vir die Kaapse Rebelle op die wynlandgoed Labori op ‘n klein granietkoppie omring deur wingerd opgerig en in 2005 ingewy is.

Die testament van wyle Paul de Villiers, laaste tesourier-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek het gelui: ‘‘Vir Anglo-Boer Oorlog monument nog te worde opgerig 50 (vyftig) jaar vanaf hede £5 000 (vyfduisend pond).’’ Die datum is 14 November 1951.
In die tyd van die ABO was die Eikebos-piekniekterrein op Laborie die plek van samekoms vir duisende Kapenaars, hoofsaaklik vroue, wat by twee geleenthede teen die Britse aanslag op die Boererepublieke betoog het. Die granietkoppie waarby die monument geïntegreer is, is in dieselfde omgewing waar die eikebos eens was. Daar is nou net wingerde. Die koppie is aan die voet van die Paarlberg reg onder die Afrikaanse Taalmonument.
Op 16 Desember 1940 het dr. D.F. Malan by die inhuldiging van die Hildebrand-grafmonument op Kraalbosdam, Darling, ’n monument vir die Kaapse Rebel bepleit. Hy het verwys na die opofferende rol van die Kapenaars en gesê hulle was ‘‘dapper manne en vroue in die vryheidstryd van die Boererepublieke. Daar is ’n ereskuld om vereffen te word.’’

clip_image006

Paul de Villiers toe hy nog ‘n jong man was. Hy is in die Paarl gebore en het later na Transvaal gegaan om ‘n nuwe lewe in die Boererepubliek te begin. Die oorlog het al sy drome vernietig en hy het na afloop daarvan na die Kaap teruggekeer. Hy het sy laaste jare op Coetzenburg by Stelllenbosch deurgebring

In die beplanning van die monument en sy simboliek is ook die advies van verskeie historici, kultuurhistorici en ander kundiges, soos proff. Tienie van Schoor, Leopold Scholtz, Pieter Kapp, Marius Swart, Frans-Johan Pretorius en mev. E.S. van Bart, ingewin.
Die prosedure vir die goedkeuring van die perseel, hersonering, omgewingsimpakstudie, serwituut en bouplanne deur sewe owerheidsinstansies en statutêre liggame, het sowat 4 jaar in beslag geneem.

Die aanwysing van plek vir die monument en die identifisering van almal aan wie dit opgedra moet word, soos naas die gewapende stryders ook die talle vroue en nie-vegtende joernaliste, koerantredakteurs en mediese dokters, asook die belangrikheid van die erfenisterrein, is deur Marthinus van Bart op uitnodiging van die FAK voorgestel. Sy voorstelle en die motivering daarvan is eenparig aanvaar.

DIE simboliek van die monument is volgens die beeldhouer, Johann Moolman, in ooreenstemming met die kontemporêre idioom van ’n stellingname oor die universele menseregte-beginsels van vryheid en reg – wat tot die mens van die 21ste eeu en geslagte vorentoe in die toekoms sal spreek.

clip_image007

Die argitekstekening van die ABO-Rebelle-monument op Labori deur die argitek van die monument, Andries Domburg van die Paarl. Die monument behels sewe brons plakette en twee brons standbeelde wat op die granietkoppie, omring deur wingerd, ingerig is.

Die hoofelemente van die monument is ’n lewensgroot man en vrou in brons wat teenoor mekaar staan. Hulle word deur sewe simboliese reliëfpanele, asook ander elemente, op strategiese plekke op die koppie omring. Die manlike figuur beeld die Kaapse Rebel uit wat teen onreg in opstand kom. Die vroulike Rebel is die steunpilaar van haar mense wat in haar maatskaplike beperktheid tog meer as haar deel gedoen het om teen onreg te rebelleer en vir vryheid en reg te stry.Die Victoriaanse vrou was sonder stemreg en dus polities geneutraliseer.
Die sewe reliëfpanele beeld onderskeidelik die volgende uit: Die 16 massavergaderings – ook in die Eikebos, die verskroeide-aarde-veldtog, die inperking van Kolonialers, doringdraad en blokhuis, onderdrukking deur krygswet, Kaapse Rebelle gefusilleer en konsentrasiekamp-lyding.
Op ’n aanbeveling van die direksie van die FAK wat deur die ABO Monument-trusteeraad aanvaar is, sal ’n tweede fase van die projek die oprigting van ’n gepaste standbeeld vir die Kaapse Rebel by die Nasionale Vrouemonument en Oorlogsmuseum vir die Boererepublieke in Bloemfontein wees.

clip_image008

Die manlike Rebel in brons. Gestroop van al sy besittings en regte, behou hy steeds sy waardigheid. Die beeldhouer was Johann Moolman.

clip_image009

Die vroulike Kaapse Rebel. Sy is magteloos, sonder enige regte en sonder enige aansien. Maar sy is trots Afrikaner en stry saam met haar broers en susters van die Boererepublieke van Transvaal en die Oranje Vrijstaat. Sy staan op teen die onderdrukkende Britse Empire wat haar selfs van haar taal beroof het.

Die monument op Laborie is inklusief vir alle Kaaplanders, wit, bruin en swart, wie se huistaal Afrikaans, Engels, Xhosa of ’n ander taal was, wat teen die imperialistiese oorlogspoging van Brittanje gerebelleer het.
Dié opstandelinge is op negatiewe wyse ‘‘Cape Rebels’’ deur die Britte genoem. Die Afrikaanse term Kaapse Rebelle het na aanleiding daarvan ‘n positiewe eretitel in die volksmond geword. Die Voortrekkerleier Andries Pretorius was die eerste amptelike Kaapse Rebel in die geskiedenis. Die eerste Kaapse Rebel wat gefusilleer is, was die Voortrekker Thomas Dreyer, wat in die Slag van Boomplaats in 1848 krygsgevangene geneem en deur die Britte na Bloemfontein geneem en voor die stadhuis doodgeskiet is.
As sambreelterm sluit Kaapse Rebelle vegtende kommandolede sowel as burgerlikes in. Laasgenoemde omvat vroue van alle neringe, joernaliste en koerantredakteurs, dokters, skoolmeesters, studente, leerlinge, plaasboere en ander.
By die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het die Kaaplandse vroue – Afrikaans, Engels en ook van ander nasionaliteite – in beduidende getalle op dramatiese wyse tot die stryd toegetree deur 16 protesvergaderings oor die hele Kaapkolonie te organiseer.

clip_image010

Een van die 16 massavergaderings wat deur vroue georganiseer is. Hulle het geprotesteer teen die onderdrukkende Britse Empire met sy bloedige anneksasieoorloë, sy verskroeide-aarde-beleid en sy verdrukking van almal wat nie pro-Brits was nie.

Die leier van die vroue was mev. Maria Koopmans-De Wet van Strandstraat, Kaapstad. Sy is bygestaan deur vooraanstaande vroue soos Elizabeth Roos, J.W. Sauer, Theophilia (van der Lingen) de Villiers, mev. ds. A.I. Steytler en Christina Deliana (van Warmelo) Cloete van Alphen. Cloete en Koopmans-De Wet was ook spioene van die Boere se geheime diens. Hul afdeling was bekend as die Kappiekommando.
Onder die Engelse vroue wat om dieselfde redes in noue samewerking met Koopmans- De Wet en kie. opgetree het, was Olive Schreiner, Mary Sauer, Anna Purcell, Betty Molteno, Alice Greene, Caroline Beck Fichard en talle ander. Deur hul toedoen het Emily Hobhouse na Suid-Afrika gekom om die toestande in die konsentrasiekampet te ondersoek, Hulle het haar op haar reis bygestaan en verder gehelp om die haglike toestande in die konsentrasiekampe te laat verbeter.

Onder leiding van Koopmans-De Wet is meer as £100 000 kontant, mediese voorraad, voedsel en kleding wêreldwyd ingesamel om die lyding te verlig en krygsgevangenes oorsee by te staan. Haar woning, Koopmans De Wet-Huis in Strandstraat, Kaapstad, vandag ‘n museum, is indertyd as pakhuis vir die noodvoorrade gebruik.

clip_image011

Hierdie granietsteen by die ingang na die monument bevat die woorde van mev. Maria Koopmans De Wet, neergepen op 9 Julie 1900, toe die Anglo-Boereoorlog in volle gang was: “Lojaliteit is diep in die hart van die Afrikaner gegrif. Dit kom omdat hy God vrees. Ons broers wat in die oorlog geval het, met die Bybel in die een hand en die Mauser in die ander, en die veld laat weergalm het met die psalms wat hulle gesing het; Wie kan anders as om hulle te eer? God en die geskiedenis sal hul geregtigheid laat geskied. Wat ons susters aangaan, wat onophoudelik gebid het, die weduwees en die wese het vir hul land gely; en God alleen weet wat dit beteken. Daardie manne sowel as vroue in die afstammelinge van die fiere Nederlanders wat met die seën van God sig vry geveg het van die magtige Spanje, en van die Hugenote wat aan die wêreld gewys het dat geloof krag gee om wondere te doen. Die oorlog het die vereniging van Afrikaners van hierdie land tot stand gebring. Vroeër het ons dit geweet dat ons broers en susters was, nou voel ons dit. Daardie gevoel sal nooit uitsterf nie, want die wortels daarvan is in ons lewende siel gevestig.”

Die eerste twee protesvergaderings was op 4 April en 9 Julie 1900 in Kaapstad. ’n Volkskongres is op 31 Mei 1900 op Graaff-Reinet gehou wat deur minstens 1 500 mense, meestal vroue, bygewoon is. Olive Schreiner, suster van die Kaapse premier Will Schreiner, het in haar toespraak daarop gewys dat die gehoor uit mense van Duitse, Britse, Franse en Afri-kaanse herkoms is.

Op 27 Junie 1900 is die eerste massavergadering van sowat 500 vroue op die Eikebos-piekniekterrein op Laborie, gehou. Op 9 Julie 1900 is weer ’n byeenkoms in Kaapstad gehou wat deur Maria Koopmans-De Wet georganiseer is. Sauer het Koopmans-De Wet, wat siek was, se toespraak voorgelees. ’n Treffende uittreksel daaruit is in ’n granietsteen gegraveer en by die monument op Laborie opgerig.
Op 1 September 1900 was daar ’n reuse-saamtrek van hoofsaaklik vroue op Cradock, en op 12 Oktober 1900 een op Somerset-Oos, waar ’n toespraak deur die Lutherse predikantsdogter Olive Schreiner voorgelees is.

clip_image012

C. Louis Leipoldt in 1900 toe hy ‘n jong joernalis by die South African News van Kaapstad was. Hy het geheime verslae oor die oorlogswreedhede van die Britte na al die uithoeke van die beskaafde wêreld uitgestuur. Hy het selfs gedigte in Engels geskryf en anoniem laat publiseer. Hierdie gedigte het van die Britse wreedhede in die Anglo-Boereoorlog vertel. Die digbundel Songs of the Veld and Other Poems bevat een van sy gedigte. Hy het ook ander joernaliste aangespoor om soortgelyke gedigte te skryf en na Engeland te stuur waar The New Age dit gepubliseer het. Verskeie daarvan is in die digbundel opgeneem. Dit is Suid-Afrika verbied toe dit in 1902 gepubliseer is. Eers in 2008 het Cederberg Uitgewers van Kaapstad dit in Suid-Afrika bekend gestel. Leipoldt se koerantartikels wat in Nederland opgespoor kon word, is in die boek Hierdie land van leuens, saamgestel deur prof. Wium van Zyl, deur Africana Boeke uitgegee.

Die tweede Paarlse massavergadering van meestal vroue op Laborie was op 10 November 1900. Daar was tussen 1 500 en 2 000 vroue, skryf C. Louis Leipoldt. Dit was die eerste vrouekongres in die land. Die tweede was op 1 Desember 1900 op Cradock.  ’n Volkskongres, op 6 Desember 1900 op Worcester, is deur 10 000 meestal vroue bygewoon. Dit was die grootste saamtrek in Kaapland in die ABO. ’n Derde protesvergadering op Cradock is op 19 Januarie 1901 gehou.

clip_image013

Toe die Britse leër nie die Boere te velde kon baasraak nie, het hulle ‘n verskroeide-aarde-veldtog van stapel laat loop. Duisende plase is afgebrand en miljoene vee is wreedaardig doodgemaak. Die vroue, kinders en lojale werkers is in konsentrasiekampe opgehok en tot die dood toe uitgejonger. Selfs vrugtebome is uitgekap en gesaaides en weiding afgebrand. Dooie veekarkasse is in waterputte en riviere gegooi om die water te vergiftig. Dit was ‘n misdaad teen die mensdom wat totaal ongestraf gebly het. Die bronspaneel is deur Johann Moolman.

clip_image014

Beslaglegging op die besittings van veral Afrikaanse Kapenaars deur die Britse leër het groot bitterheid onder die kolonialers tot gevolg gehad. So het 16 750 by die republikeinse kommando’s aangesluit en teen die Britte geveg. Johann Moolman het die brons plaket geskep.

clip_image015

Die Britte het oor die hele Suid-Afrika konsentrasiekampe opgerig om die Afrikanervroue en hul kinders op te hok sodat hulle nie hul mans op kommando kon bystaan nie. Ook is duisende swart plaaswerkers wat nie die Britte wou help om die Boere te beveg nie, in konsentrasiekampe gevange gehou. Byna 30 000 Afrikaners het in die kampe gesterf, asook sowat 20 000 swartes en bruines. Johann Moolman het hierdie konsentrasiekamptoneel geskep.

clip_image016

Met blokhuise en doringdraad het die Britte die hele land probeer afkamp om die Boerekommando’s aan bande te lê. ook in die Boland is dit toegepas. op Labori het twee blokhuise gestaan. Die brons plaket is deur Johann Moolman

clip_image017

Kaapse Rebelle is deur die Britte in tronke opgesluit omdat hulle vir vryheid en reg geveg het. Johann Moolman het hierdie werk geskep.

clip_image018

Hierdie brons plaket beeld die protesterende vroue op die Eikebos-piekniekterrein op Labori in 1900 uit. Dit is een van sewe wat Johann Moolman geskep het.

clip_image019

Een van die sewe brons plakette van die ABO-Rebelle-monument op Labori. Dit beeld die fussilering van Kaapse Rebelle deur Britse vuurpelotons uit. Die skepper hiervan was Johann Moolman van Groot-Marico.

Die vroue onder Koopmans De Wet het ‘n petisie teen die Britse oorlog in Suid-Afrika aan koningin Victoria van Engelnad gestuur. Dit is deur 64 000 vroue onderteken. Victoria het nooit ontvangs daarvan erken nie, en tot op haar sterfbed het sy na die welstand van haar soldate op die slagvelde van Suid-Afrika verneem. Hulle moes die Slag van Majuba in die Eerste Vryheidsoorlog van 1882, toe die Boere die Britse leër vernederend verslaan het, wreek. Dit het Victoria min geskeel dat die Kaapse Afrikaners haar ook as hul koningin beskou het en dat haar portret in talle Afrikanerhuise gehang het. Duisende Afrikanerfamilies was verslae dat “hul” koningin toegelaat het dat meer as 27 000 Afrikanervroue en kinders in die Britse konsentrasiekampe van die ABO van honger, siektes en blootstelling omgekom het. Dat hul koningin ook deel gehad het aan hierdie roofoorlog vir Transvaalse goud, was vir hulle ondenkbaar. Dit was egter die tragiese waarheid.

Altesame 16 750 manlike Kapenaars het as Rebelle saam met die republikeine teen die Britse leër geveg. Van die wat gevang is, is 44 deur vuurpelotons doodgeskiet, of hulle is aan windpompe en galge opgehang. Baie is op onbekende plekke, dikwels in swart woonbuurte tussen die hutte, begrawe sodat hul naasbestaandes ook daardeur in hul hart en gees gestraf kon word. Dit was die peil waarop Brittanje sy anneksasie-oorloë gevoer het.

Lees ook Karin Roodt se resensie van Songs of the Veld and Other Poems: Engelse gedigte oor die Anglo-Boereoorlog op Praag.co.za: http://www.praag.co.za/index.php/vermaak-magazine-256/boeke-magazine-267/4366-n-boek-om-nie-mis-te-loop-nie.html

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!