Olive Schreiner Het Cecil John Rhodes Ontmasker

Monument Vir Kaapse Rebelle Op Laborie In Die Paarl
Junie 25, 2013
Olive Schreiner Maak Voorspraak Vir Afrikaners En Afrikaans
Junie 25, 2013

clip_image001

Olive Schreiner, afgeneem in die tyd dat sy Trooper Peter Halket of Mashonaland geskryf het.

Deur MARTHINUS VAN BART

In 1896 het die Kaapse skrywer en intellektueel Olive Schreiner wêreldwyd opslae gemaak toe sy die Empire-ikoon Cecil John Rhodes ontmasker het as ’n massamoordenaar en gewetenlose boef. Maar ses jaar tevore het sy gemeen dat hy die nuwe argitek vir die ongekende voorspoed vir Afrika was.

Toe Olive in 1890 Rhodes, pas aangestelde premier van die Kaapkolonie, op Matjiesfontein in die Groot-Karoo ontmoet, was sy beïndruk. Hy het haar gekomplimenteer oor haar jingoïstiese roman Story of an African Farm, waarin sy ongure karikature van die Afrikaners en die Iere maak, die bruin mense as hul slagoffers uitbeeld en die Britte tot ridderlikheid verhef.

Vir Rhodes was sulke boeke ’n wenresep om die opperheerskappy van die Britse Ryk op voetsoolvlak te vestig. Hy het haar verseker dat hy altyd ’n eksemplaar daarvan byderhand het, en dat dit aantoon hoe ’n diepsinnige, geniale vrou sy is. Toe hy haar boonop nooi om by hom op Groote Schuur te kom kuier, was sy in die sewende hemel.

clip_image002

Joseph Chamberlain en sy skatryk Amerikaanse vrou. Hulle het verskeie wapen- en ammunisiefabrieke in Birmingham, sy tuisdorp in Engeland, besit en die Britse leër wêreldwyd van oorlogstuig voorsien. As minister van oorlog en kolonies het hy gesorg dat die staatstenders na sy maatskappye gaan. Hulle het skatryk geword uit die bloedige oorloë wat Engeland wêreldwyd gevoer het om die Britse Ryk te vestig. Die Anglo-Boereoorlog het daaronder getel.

Schreiner se politikus-broer en senior advokaat, William, was van 1889 in diens van Rhodes se De Beers-diamantmaatskappy, en van 1893 prokureur-generaal in die Rhodes-kabinet. Van 1898 was hy Rhodes se opvolger as Kaapse premier.

Olive het gemeen dat Rhodes die briljantste man in Suid- Afrika was en dat sy imperialistiese ideologie, “From Cape to Cairo”, iets groots was. “Rhodes is die enigste groot en geniale man in die land, en sy Chartered Company is die grootse skepping op die vasteland,” het sy gesê.

In haar somervakansies in Kaapstad was sy gereeld ’n gas op Groote Schuur, en Rhodes het haar aan al sy invloedryke vriende voorgestel, onder wie die medikus dr. Leander Starr Jameson, en haar op uitstappies na Houtbaai saamgeneem.

clip_image003

Cecil John Rhodes, naasregs, Leander Starr Jameson, heel regs, en ander samesweerders op die stoep van Groote Schuur in Kaapstad besig om die besonderhede van die inval in die Transvaalse Boererepubliek te bespreek. Hulle wou die ZAR bekom om eienaarskap van die ryk goudrif van die Witwatersrand te bekom. In Londen het die Britse regering van Joseph Chamberlain die staatsgreep gesteun. Van links sit K. Kineaid-Smith, Alfred Beit, Frank Rhodes, Cecil John Rhodes en Leander Starr Jameson.

In 1890 het Rhodes in die Kaapse parlement ’n wetsontwerp ter tafel gelê ingevolge waarvan elke wit werkgewer die reg sou verkry om na eie oordeel sy swart en bruin werkers met ’n sambok te straf, die “Strop Bill”. Olive het ernstige bedenkinge oor sy integriteit begin kry.

In daardie jare het sy weinig kontak met Afrikaners gehad en was sy sterk Engels georiënteer. Dit het haar gepla dat Rhodes op vriendskaplike voet met die leiers van die Afrikanerbond verkeer het en die Afrikaanse gemeenskap ter wille was.

Sy het nie besef dat hy as politikus maar net hul vertroue wou wen om hul politieke steun te kry, en dat dit belowende implikasies vir die bestendiging van sy politieke loopbaan sou inhou nie.

Die sjarmante Rhodes het inderdaad daarin geslaag om die leier van die Afrikanerbond, J.H. (Onze Jan) Hofmeyr, en ds. S.J. du Toit, teoloog, Afrikaanse taalstryder en leidende bondslid, te beïndruk en hulle op Groote Schuur te onthaal. Die Paarlse dominee het mettertyd ’n vertroueling en lojale onder-steuner van Rhodes geword. Dat Rhodes ’n selfverklaarde ateïs was, het Du Toit geensins van stryk gebring nie. Rhodes was ’n aanhanger van Winwood Reade, eksponent van die Darwinisme en skrywer van ’n indertyd opspraakwekkende boek oor die ateïsme, The Martyrdom of Man. “That book has made me what I am,” het Rhodes verklaar.

clip_image004

Cecil John Rhodes in 1890 afgeneem toe hy premier van die Kaapkolonie geword het. Hy was ook voorsitter van die Chartered Company, ook bekend as The British South Africa Company. Die diamantmaatskappy De Beers was daarby inbegrepe. Hy was toe die magtigste man in Afrika.

Op ’n dag het Olive hom gevra waarom hy bevriend raak met mense soos die Afrikanerbonders. Sy antwoord was: “Those men my friends? They are not my friends! They are my tools; and when I have done with them, I throw them away!”

Toe tref dit Olive soos ’n donderslag: Ook sy was een van daardie werktuie in sy hande wat hy sal wegsmyt as haar rol in sy grandieuse Ryksplan uitgedien was.

“The perception of what his character really was in its inmost depths was one of the most terrible revelations of my life. Rhodes, with all his gifts of genius – and below the fascinating surface, the worms of falsehood and corruption creeping,” het Schreiner gesê.

In 1895 het die Chartered Company sy uitwissingsoorloë in Masjonaland en Matabeleland (Zimbabwe) begin. Dit was nadat Lobengula, die Matabele-koning, deur “Doctor Jim” Jameson met morfien vir jig “behandel’’ is totdat hy ’n traktaat met die Chartered Company onderteken en so sy land aan Rhodes en Brittanje afgestaan het.

En toe die swart bevolking teen Rhodes in opstand kom, is hulle met masjiengewere en kanonne “soos koring voor die sens” afgemaai. Die indoenas is by Harare aan ’n groot msasa-boom, Brachystegia spiciformis, opgehang, nou ‘n nasionale gedenkwaardigheid van Zimbabwe.

Een van Rhodes se huursoldate het ’n foto van die “Hanging Tree” met die swaaiende lyke geneem. ’n Vergrote afdruk is in Kimberley in ’n kroeg of barbierswinkel vertoon tot vermaak van die diamantdelwers. Daar het Olive se man, Cron Cronwright-Schreiner, dit gesien, gekoop en huis toe geneem om vir Olive te wys.

Die foto en die verhaal van die massamoorde op die Matabeles en Sjonas van Rhodes se geroofde land, Rhodesië, haar só geskok en slapelose nagte besorg dat sy ’n allegoriese verhaal, Trooper Peter Halket of Mashonaland, geskryf het waarin sy die boosheid van Rhodes, sy huurlinge en sy Chartered Company onthul. “I saw that he had deliberately chosen evil,” het sy van Rhodes gesê, en ’n skip na Brittanje gehaal sodat die uitgewer T. Fisher Unwin die boek kon publiseer. Die foto van die boom met die hangende lyke moes voorin verskyn.

clip_image005

Die foto wat een van Rhodes se huursoldate van die “Hanging Tree” by Harare geneem het toe Lobengula se indoenas daar opgehang is. Die foto is in Kimberley in ‘n kroeg of barbierswinkel ten toon gestel tot vermaak van die diamantdelwers. Toe Olive Schreiner dit sien, was sy hewig ontsteld, en toe sy verneem wat Rhodes en sy bende moordenaars alles in Masjonaland en Matabeleland aanvang, het sy die allegoriese verhaal, Trooper Peter Halket of Mashonaland, geskryf en alles onthul. Die foto het sy voorin die boek laat plaas. Dit is in 1897 in Londen gepubliseer.

Tussen Kersfees 1895 en Nuwejaar 1896 val die Chartered Company se huursoldate onder bevel van dr. Leander Starr Jameson die Transvaalse Boererepubliek (ZAR) binne om pres. Paul Kruger se regering omver te werp. By Doornkop, op die plaas Vlakfontein in Roodepoort-Suid, word die invallers deur die Boere se burgermag vasgekeer en tot oorgawe gedwing. Nadat die samesweerders in Pretoria verhoor en aan hoogverraad skuldig bevind is, is hulle na Brittanje gestuur om gestraf te word. Die Britse regering onder Joseph Chamberlain het alle aandeel aan die mislukte staatsgreep ontken, hoewel dit juis hy en Rhodes was wat dit beplan het sodat die ryk goudreserwes aan die Witwatersrand vir die Britse Ryk verkry kon word.

clip_image006

Leander Starr Jameson, 5de van links met die kep, en sy mede-samesweerders aan boord van ‘n skip onderweg na Londen om ‘n strafverhoor te ondergaan weens die mislukte Jameson-inval in die Zuid-Afrikaansche Republiek van president Paul Kruger. Olive Schreiner was heel toevalling ook aan boord van hierdie skip. Sy was onderweg na Londen om haar manuskrip vir Trooper Peter Halket of Mashonaland by die uitgewer T Fisher Unwin te laat publiseer.

Toe Olive Schreiner met haar manuskrip van Trooper Peter Halket of Mashonaland aan boord van ’n skip in die Kaapse hawe gaan, het sy tot haar ontsteltenis ontdek dat Rhodes en kie. ook aan boord was onderweg na Londen vir hul strafverhoor. Rhodes se kajuit was reg langs hare. Sy het gedurende die twee weke lange skeepsreis nie een keer met Rhodes gekommunikeer nie.

In Londen is sy na T. Fisher Unwin om haar boek gepubliseer te kry, en dit het in 1897 onder groot verontwaardiging van die publiek verskyn. Hulle kon en wou dit nie glo nie. Die foto was ’n vervalsing, het hulle getier. En Schreiner was die een met duistere motiewe.

Toe Rhodes weens sy bewese betrokkenheid by die Jameson-inval as eerste minister en parlementslid moes bedank, het Schreiner geskryf: “It is an almost awful sense of relief that the terrible power which was threatening to crush all South Africa is broken.”

Trooper Peter Halket of Mashonaland het die Engelse gemeenskap van Suid-Afrika soos ’n bom geruk. Maar in plaas daarvan dat hulle Olive vereer het omdat sy Rhodes se masker afgeruk en sy boosheid ontbloot het, het hulle haar verafsku en verwyt omdat sy aandadig was dat hul held van die Britse Ryk aan die kaak gestel is.

Toe Olive van Londen af tuiskom, het sy haar teen ’n klipmuur van verwyte en beskuldigings van die Engelse gemeenskap vasgeloop. Sy was nou ’n uitgeworpene. Vir haar was dit die aakligste, neerdrukkendste tyd van eensaamheid. Nie een van haar vorige vriende was bereid om by haar te staan nie. “Wanneer ek sterf, moet hulle slegs op my grafsteen skryf: ‘She wrote Peter Halket’. Geen naam of enigiets anders nie. Niemand sal verstaan waarom nie; dit is nie die artistieke waarde van die boek nie, want dit is die swakste werk wat ek nog geskryf het. Maar dit is oor wat dit my gekos het. Niemand sal ooit weet watter prys ek daarvoor betaal het nie,” het Olive gesê.

 

Olive Schreiner se onthullende allegorie Trooper Peter Halket of Mashonaland. Rhodes se “Hanging Tree” met die lyke van Lobengula se indoenas swaaiende aan die takke waaraan hulle gehang is, het voor die die boek verskyn. Die Eneglse gemeenskappe van Brittanje en Suid-Afrika het geweier om die verhaal te glo en hulle het gesê die foto was ‘n vervalsing. Hulle kon en wou nie glo dat die ikoon van die Britse Ryk ‘n misdadiger teen die mensdom was nie. Tot vandag toe word in daardie geledere nie graag na hierdie boek verwys nie. Olive Schreiner het ‘n duur prys daarvoor betaal. Sy is deur haar gemeenskap verwerp en verloën. En toe eers het sy die Afrikaners ontdek en gesien dat hulle mense net soos sy was wat deur die Britse Ryksbouers geviktmiseer was. Sy het toe ‘n voorvegter vir die Afrikaanse taal, die Afrikaanse kultuur en die Afrikaners geword.

Toe John X. Merriman, parlementslid en vriend van William Schreiner, aan Olive skryf om haar te komplimenteer met Trooper Peter Halket of Mashonaland, het sy teruggeskryf: “Dit was die enigste woorde van simpatie wat ek ooit van enige Suid-Afrikaner oor die boek gekry het, en dit het groter waarde vir my gehad as enige blyk van simpatie wat ooit teenoor my uitgespreek is vir enigiets wat ek geskryf het.”

Met Trooper Peter of Mashonaland het haar hele lewe dus ’n ommekeer ondergaan. Nou het haar oë oopgegaan vir die Engelse gemeenskap se wrede diskriminasie teen die Afrikaners, en die boosheid van die imperialisme.

Deurdat haar broer William getrou het met Frances Reitz, suster van pres. F.W. Reitz van die republiek van die Oranje Vrijstaat (hy was later staat­se­kre­ta­ris van die Zuid-Afrikaansche Republiek in Transvaal), het Olive Afrikaners van formaat persoonlik leer ken. F.W. Reitz het haar onder andere aan pres. Paul Kruger voorgestel, en sy persoonlike integriteit het haar geweldig beïndruk.

En so het Olive Schreiner tot haar dood in 1920 ’n kampvegter vir die Afrikaners geword – en ook dáárvoor ’n duur prys betaal.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!