Ons Vir Jou
Junie 25, 2013
Terreur En Konsentrasiekampe
Junie 25, 2013

John Ntengo Jabavu was swart Kaapse rebel gedurende die Anglo-Boereoorlog

clip_image001

John Ntengo Jabavu, eerste swart koerantredakteur in Suid-Afrika en Kaapse Rebel.

Deur MARTHINUS VAN BART

Die eerste swart koerant­redakteur in Suid-Afrika, John Ntengo Jabavu, wat hom sy lewe lank vir die demokrasie beywer het, is op 20 April 2006 in die Uniegebou in Pretoria deur pres. Thabo Mbeki postuum vereer met die Orde van Luthuli (goud).

Dit is Suid-Afrika se hoogste eerbewys aan landsburgers wat ’n betekenisvolle bydrae tot die stryd om demokrasie, menseregte, nasiebou, geregtigheid en vrede, asook konflikbylegging, gelewer het.

Dié nadoodse eerbewys aan Jabavu, ‘n Fingo-intellektueel, is vir sy bydrae tot die bevordering van swart joernalistiek en koerantwese, asook vir sy lewenslange, vreedsame beywering om ’n demokratiese bestel, sonder diskriminasie teen ras of geslag, in Suid-Afrika gevestig te kry.

clip_image002

Die Orde van Luthuli wat postuum aan John Ntengo Jabavu toegeken is.

Luidens ’n motivering van die president se kantoor word Jabavu beskou as ’n dapper intellektueel en pionier vir die regte van swart mense. Sy politieke insigte het ’n belangrike bydrae gelewer tot die vestiging van swart politieke denke.

Sy kleindogter Noni Jabavu (86), ’n biograaf uit eie reg, is versoek om die orde namens hom in ontvangs te neem. Omdat sy sorgbehoewend is, is spesiale reëlings getref om haar van haar woonplek, ’n tehuis vir bejaardes in Oos-Londen, na Pretoria te bring.

clip_image003

John Ntengo Jabavu

TENGO JABAVU is in Augustus 2005 as prominente swart Kaapse Rebel in die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) vereer toe die Rebelle-monument op Laborie in die Paarl ook aan hóm opgedra is. Hy was ’n Boere-ondersteuner en sterk teen die Britse imperialisme en kolonialisme gekant. ahy het dus ook vir die regte van wit mense opgekom, en nie net vir dié van swart mense, soos Mbeki se oorkonde lui nie.

Jabavu was goed bevriend met liberale Afrikaner-intellektuele soos (Onze) Jan Hofmeyr van die Afrikaner Bond en het die saak van die Boererepublieke in hul oorlog teen Brittanje in sy koerant Imvo Zabantsundu, wat in Xhosa en Engels verskyn het, verdedig. Ook het hy sy lesers gemaan om nie as handlangers van die Britte by die oorlog betrokke te raak nie. Die Britse militêre het ingevolge hul krygswet en op bevel van die leërowerste, generaal H.H. Kitchener, die koerant in 1901 gesluit en hy is weens verraad teen die Britse Ryk vervolg.

clip_image004

Imvo Zabantsundu, wat deur John Ntengo Jabavu as die eerste volwaardige Xhosa-koerant op die been gebring is

Jabavu het ’n grondige wantroue in die Britse koloniale owerheid gehad en het die Britse sendelinge as politieke handlangers van die Britse Ryk beskou. By geleentheid het hy in dié verband ’n algemene spreuk onder sy mense opgehaal: “Eers het ons die grond gehad en hulle die Bybel. Toe leer die sendelinge ons om te bid, en terwyl ons oë toe was, het hulle ons grond gegryp en ons net met die Bybel gelaat.”

Wat hom ook van die Britse sendelinge gegrief het, was dat die opvoedingsmedium vir swart mense aan hul sendingstasies slegs Engels was. Hy het sy seun Don dus na Basotholand (nou Lesotho) gestuur waar hy aan die Morija-opleidingskollege van die Protestantse Paryse Evangeliese Sendinggenootskap (deur Franse en Switsers bedryf) in Sotho onderrig ontvang het.

Dit het daartoe gelei dat Tengo Jabavu hom vir die totstandkoming van die eerste volwaardige swart universiteit, die Fort Hare-universiteit op Alice in die Oos-Kaap, beywer het. Don was daar aangestel as die eerste swart professor in Afrika-tale, Latyn en Europese geskiedenis. Hy het ook daar die eerste leerstoel in Afrika-tale in Suid-Afrika beklee.

clip_image005

John Ntengo Jabavu en sy seun Don.

JOHN NTENGO JABAVU is in 1859 op Tyatyora gebore as die seun van Ntwanambi Jabavu en Mary Mpinda, bekeerde Christene. Hulle was van die Kuze-familie in die Ama-Zizi-stam, deel van die Intlangwini aan die oewer van die Umzimkulurivier naby Riverside op die grens tussen Transkei en KwaZulu-Natal. Hulle was Fingo’s (Mfengu) of Aba-Mbo van Zoeloe-afkoms.

Die oorspronklike familienaam was Citywa, maar dit is verander na Jabavu, wat kampioen-kryger beteken, omdat Ntwanambi ’n dapper kryger was wat aan die oorlogsfront uitgeblink het. Ten tyde van die Mfecane, die algehele oorlog tussen die onderskeie swart volke van Suider-Afrika in die tweede dekade van die 19de eeu, moes die Fingo’s van Zoeloeland na Transkei vlug om te oorleef. Britse sendelinge wat hierdie geskiedenis die eerste te boek gestel het, het beweer dat die Fingo’s toe die slawe van die Xhosas geword het.

Tengo Jabavu se oudste seun, prof. D.D.T. (Don) Jabavu, het hierdie slawerny-weergawe bestempel as tipies van die Britse divide et empera– (verdeel-en-heers-) propaganda, wat daarop gerig was om onmin tussen die Fingo’s en die Xhosas te saai. Hy het die hele geskiedenis daarvan in 1952 herskryf in sy boek Imbumba yamaNyama (Eendrag maak mag). Don was een van die grondleggers van die ANC deurdat hy die vreedsame bevrydingspad na demokrasie geloop het wat deur sy vader aangewys is.

clip_image006

John Ntengo Jabavu saam met invloedryke Engelse politici in die tyd toe Cecil John Rhodes hom wou oorhaal om hom deur sy koerant te steun.

TENGO JABAVU het sy opvoeding aan die Healdtown Missionary Institution in 1875 (in Engels) voltooi, waarna hy op Somerset-Oos onderwys gegee het.

Ondertussen het hy sy matrieksertifikaat met universiteitsvrystelling aan die Lovedale Missionary Institution (ook in Engels) verwerf. Van 1881 tot 1884 was hy redakteur van die sendingskool se joernaal, Isigidimi Sama Xosa, maar hy is uit die skool geskors toe hy sy eie, kritiese politieke kommentaar oor die Kaapse parlement daarin gepubliseer het.

clip_image007

Toe John Ntengo Jabavu aan die Lovedale Missionary Institution studeer het, het hy die redakteur van die Oos-Kaapse sendingstasie se lyfblad, Isigidimi Sama-Xosa, geword.

Hoewel die Oos-Kaapse swart mense indertyd stemreg gehad het, is hulle deur wittes in die parlement verteenwoordig. Die Rose Innes-broers, James en Richard, was indertyd Kaapse liberale met Onze Jan Hofmeyr van die Afrikaner Bond as bondgenoot. Hulle het Tengo Jabavu omgehaal om sy ondersteuners te vra om vir hulle te stem. James Rose Innes het met dié swart steun die setel Victoria-Oos gewen.

Richard en ’n sakeman van King William’s Town, James Wilson Weir, het daarop besluit om Jabavu geldelik te help om sy eie koerant, Imvo Zabantsundu, te stig. Die eerste uitgawe het op 3 November 1884 verskyn. Dié blad, in Xhosa en Engels, was die eerste swart koerant met ’n swart redakteur in Suid-Afrika.

DIÉ koerant het gou die mondstuk van swart meningsvormers in die Oos-Kaap geword, en hulle het hulle beywer vir die verkryging van politieke regte van die swart mense sonder geweldpleging. In die woorde van die swart digter Isaac Wauchope (sy digtersnaam was I.W.W. Citashe): Laat die agterlaaier staan / en draai na die pen. / Neem papier en ink, / Want dit is jou skild.

Hul strategie was die verbetering van maatskaplike moraliteit en die algemene welsyn van swart mense deur opvoeding. Die uiteindelike doel was die verbetering en opheffing van swart mense en die vereniging van hulle in “die stryd om nasionale regte”.
Tengo Jabavu was ’n diep gelowige Christen en lekeprediker van die Wesleyaanse Metodistekerk. Hy het nooit sterk drank gebruik of gerook nie, en sy morele integriteit was van die hoogste orde. “Indien die Metodiste beskermheiliges gehad het, kon hy gekanoniseer gewees het,” het Don van sy vader gesê.

Hy het ook ’n goeie sin vir humor en ’n natuurlike aanvoeling vir melodrama gehad. Hy het herhaaldelik aan Don gesê: “My seun, ek laat jou opvoed sodat jy ’n dienskneg van jou mense kan wees.” Don het sy naskoolse opleiding van 11 jaar in Brittanje (Opleidingsinstituut van Colwyn Bay, Wallis, en die universiteite van Birmingham en Londen) en Amerika (Tuskegee, Alabama) ontvang.

clip_image008

In die digbundel Songs of the Veld and Other Poems wat in 2008 deur Cederberg Publishers van Kaapstad heruitgegee is nadat die oorspronklike van 1902 deur die Britte Suid-Afrika verbied is, word ook John Ntengo Jabavu se verhaal as Kaapse Rebel vertel.

(Vir bestellings van die boek besoek gerus die webtuiste: www.cederbergpublishers.co.za)

KORT voor Uniewording in 1910 het Tengo sterk voorspraak gemaak vir die politieke regte van die swart mense van Suid-Afrika as deelgenote in die bestuur van die land. Sy pleidooie het op dowe ore geval, en hy het in 1909 ’n swart afvaardiging na Londen gelei om die uitsluiting van swart burgers in die besluitnemingsproses te keer. Suid-Afrika was toe nog onder die Britse vlag.

Ook dáár kon hy geen deurbraak vir sy mense maak nie.

Jabavu se regstreekse beywering vir die opvoeding van sy mense het gelei tot die stigting van die Fort Hare-universi­teit, formeel bekend as die South African Native College, wat op 8 Februarie 1916 deur die indertydse premier van die Unie, genl. Louis Botha, geopen is. Tengu Jabavu is verkies tot lid van die universi­teitsraad, en Don – in seremoniële aka­de­miese drag (wat opwinding in die geledere van die swart gaste gewek het) – is aangestel as die eerste professor met ’n leerstoel in Afrika-tale.

John Ntengo Jabavu het in sy laaste jare, toe hy nie meer as opvoedkundige kon werk nie, as lekeprediker sy mense bearbei en opgevoed. Hy is in 1921 oorlede en op King William’s Town begrawe.

clip_image009

By die ABO Monument vir Kaapse Rebelle op Laborie in die Paarl word onder meer uitgebeeld hoedat die Rebelle gedurende die Anglo-Boereoorlog in tronke aangehou is. John Ntengo Jabavu was een van hulle.

Op 17 Augustus 2005 is die ABO-monument vir die Kaapse Rebelle op Laborie in die Paarl luisterryk onthul. Die plegtigheid is deur meer as 300 mense van oor die hele land bygewoon. Onder hulle was vyf verteenwoordigers van die familie Jabavu van die Oos-Kaap, almal regsteekse afstammelinge van die prominente swart Kaapse Rebel John Ntengo Jabavu, redakteur van die eerste Xhosa-koerant, Imvu Zabantsundu.

Jabavu was teen die Britse imperialistiese oorlog gekant en het die Boere-saak ondersteun. Daarom het die Britse owerheid die koerant gesluit en Jabavu ’n tyd lank aangehou. Hy was later die stigter van die Universiteit van Fort Hare en ’n pionier van swart bemagtiging wat gelei het tot die stigting van die ANC.

Sy agter-agterkleinseun, mnr. Siyabonga Jabavu, ’n stadsraadslid van Buffalo City (Oos-Londen), het in sy kort toespraak gesê dit is ’n heuglike dag vir die familie dat J.N. Jabavu ook deur die monument vereer word. Die Jabavu’s is huisvriende van Mandela, wat daaroor ingelig is en wie se goedkeuring dit ten volle wegdra. Die inwyding van die monument het saamgeval met die jaarlikse FAK-kongres wat die eerste keer in 76 jaar in die Paarl gehou is. Die Jabavu’s se reis- en verblyfkoste is deur Naspers en Die Burger gefinansier.

’n Ou Afrikaanse spreekwoord lui: “Die pen is magtiger is as die swaard”. Dat die Britse owerheid van die Kaapkolonie in die Anglo-Boereoorlog hierdie waarheid baie ernstig opgeneem het, kan verskeie koerantmanne wat hulle aan die verkeerde kant van die Empire bevind het, van getuig.

Twee van die voorste koerantbase in daardie jare, John Ntengo Jabavu en F.S. Malan, was inderdaad swart-wit-spieëlbeeld-slagoffers van die Britse imperialistiese oorlog. In die oë van hul medestryders was hulle egter vryheidstryders met die pen – en daarom egte Kaapse Rebelle.

Die verhaal van J.N. Jabavu as prominente swart Kaapse Rebel wat ’n baie duur prys moes betaal vir sy steun aan die saak van die Boererepublieke se demokratiese beginsels van vryheid en reg, en sy teenstand teen die Britte se oorlogsaanslag van 1899 tot 1902 op die Boererepublieke, is een van die merkwaardigstes van daardie tydperk.

Wat dit nog merkwaardiger maak, is dat die intimidasie en vervolging van Jabavu in die Oos-Kaap deur die Britse militêre owerheid die spieëlbeeld van die lotgevalle van die Afrikaner-koerantredakteur Francois Stephanus Malan van Ons Land wat in dieselfde tyd en om dieselfde redes deur die Britse owerheid in Kaapstad vervolg is.

Albei persmanne was stryders met die pen vir die Boeresaak. Albei se koerante is deur die Britse owerheid gesluit en albei is vir hul oortuiging gestraf. Malan is in die Roelandstraatse en Tokaise tronke opgesluit, terwyl Jabavu sy koerant en heenkome verloor het. Die Britte het hom ook by die Xhosas verdag gemaak sodat hy die openbare lewe vermy het.

clip_image010

F.S. Malan, redakteur van Ons Land, is hier in die Roelandstraatse tronk afgeneem waar hy deur die Britte gevange gehou is omdat hy ‘n Kaapse Rebel was wat met die pen teen die Empire geveg het

Jabavu was die stigter, eienaar en redakteur van die eerste Xhosa-talige koerant, Imvu Zabantsundu (Mening van die Mense), en F.S. Malan, ’n boorling van Bovlei, Wellington, redakteur van Ons Land.

Malan is op 28 Maart 1901 deur die Britse owerheid daarvan aangekla dat hy ‘‘die bevolking tot ongehoorsaamheid opstook’’ en dat hy ’n Britse militêre bevelvoerder, genl. J.D.P. French, “kwaadwillig en gevaarlik belaster het’’ deur hom in sy koerant van oorlogsmisdade te beskuldig.

Die verhoor was volgens alle standaarde van regverdigheid uiters onregverdig. Hy is nie toegelaat om getuies na die hof te bring nie en die jurie was uitsluitlik Engelssprekendes. Malan is tot kort voor die einde van die oorlog eers in die Roelandstraatse en later in die Tokaise tronk opgesluit gehou.

John Ntengo Jabavu was ’n lid van die Fingo- (Mfengo) stamgroep van die Xhosas van Ciskei, ’n vrydenker en gemeenskapsleier van formaat. Hy het in ’n Christelike huis grootgeword en het sy skoolopleiding aan die Healdtown-sendingstasie in Ciskei ontvang. Nadat hy die juniorsertifikaat (deesdae graad 10 genoem) behaal het, is hy as onderwyser opgelei.

Reeds as skoolseun het hy in die koerantwese belang gestel, en soggens voor skool as algemene assistent by ’n plaaslike koerant gewerk. Hy het hom gou as talentvolle skrywer bewys en is inderdaad deur die toenmalige redakteur van die Cape Argus, Saul Solomon, versoek om gereeld artikels vir dié Kaapse Engelstalige dagblad te lewer.

Op 22-jarige ouderdom het Jabavu hom op uitnodiging van dr. James Stewart as matriekleerling aan die Lovedale-opleidingsentrum, indertyd die beste opleidingskollege vir swart leerlinge in Suid-Afrika, ingeskryf. Hy is gou aangestel as redakteur van die kollege-koerant Isigidimi sama Xhosa.

Jabavu het veral in tale, veral Latyn, uitgeblink, en hy is selfs versoek om in Xhosa en Latyn klas te gee. Ná twee jaar het Jabavu sy matrieksertifikaat verwerf en daarmee die tweede swart man in die land geword wat gematrikuleer het.

In hierdie tyd het sy belangstelling, teen die wens van die rektor, in die politiek verskerp. Hy het bemerk dat die Engelse politici, wat die swart stemgeregtigdes met allerlei beloftes aangemoedig het om vir hulle vir die Kaapse parlement te stem, bloot van hul swart kiesers vergeet wanneer hulle parlementslede word. Toe hy hom hardop daaroor uitlaat, het Stewart hom die kollege verbied.

In plaas daarvan om sy skorsing as ’n terugslag te beleef, het dit Jabavu eerder aangespoor om sy eie koerant, Imvu Zabantsundu, te stig. Daarvoor het hy geldelike hulp van die parlementslid vir Victoria-Oos, James Rose Innes, dié se broer Richard, en ’n sakeman van King William’s Town, J.W. Weir, gekry.

In ruil daarvoor moes Jabavu in sy koerant voorspraak onder die Xhosas maak om vir Rose Innes as parlementêre verteenwoordiger te stem. Jabavu het sy onderneming uitgevoer, maar het hom in sy koerant ook ten gunste van gelyke geleenthede vir alle swart en wit mense in Suid-Afrika uitgespreek. Hy het swart oorheersing, asook gewelddadige betogings, sterk afgekeur.

Omdat Jabavu ’n diep gelowige Christen was, het hy ook baie plek aan Bybelbesprekings in sy koerant afgestaan.

Hoewel hy toenemend deur die Engelse politici versoek is om hul kandidatuur vir die Kaapse parlement te steun en Cecil John Rhodes se Empire-ideologie in sy koerant te verkondig, is Jabavu gaandeweg al hoe meer deur hul huigelagtigheid ontnugter.

Nadat hy op ’n persoonlike versoek van Rhodes, die se kandidaat vir Barkly-Wes in die parlementêre verkiesing van 1894 gesteun het, het Jabavu gemerk dat geeneen van die politici se beloftes aan die Xhosas van opheffing, verbeterde onderwys en belastingtoegewings nagekom is nie.

In 1896 is Rhodes as premier van die Kaapkolonie van sy amp onthef weens sy betrokkenheid by die mislukte staatsgreep op die Transvaalse Boererepubliek deur sy vertroueling Leander Starr Jameson en sy gewapende huursoldate van Masjonaland, later Rhodesië.

Dié skandaal het ook ’n finale breuk veroorsaak tussen Rhodes en die Afrikaner Bond, wat Rhodes deur sy vriendskap met ds. S.J. du Toit probeer misbruik het om sy politieke loopbaan te bevorder.

Jabavu se ervare wantroue in die imperialiste is hierdeur verder bevestig en hy het gesprekke met die leier van die Afrikaner Bond, J.H. (Onze Jan) Hofmeyr, aangeknoop. Jabavu het hom meer tuis in die geledere van liberale Afrikaners as by die Britse Empirebouers gevoel.

In 1898 is weer ’n parlementsverkiesing gehou. Rhodes wou na die politieke arena terugkeer en het Jabavu genader om die steun van sy Xhosa-lesers vir die Oos-Kaapse parlementêre kandidaat vir die Progressiewe Party op te kommandeer. Jabavu het egter botweg geweier. Rhodes het daarop wraak geneem deur sy volle geldelike steun aan ’n pas gestigte swart koerant, Izwi Labantu (Stem van die Mense), toe te sê en sy invloed te gebruik om die koerant as aktiewe teenstander vir Imvu Zabantsundu te laat optree.

In die verkiesingstryd het Jabavu sy steun toegesê aan die Bondskandidate vir die Oos-Kaap, John X. Merriman, J.W. Sauer en ander. Die Afrikaner Bond het besonder goed gevaar en die imperialiste oorskadu.

Toe die Anglo-Boereoorlog ’n jaar later op 11 Oktober 1899 uitbreek, het Jabavu aanvanklik die gedagte gepropageer dat die oorlog die geleentheid aan die swartes van Suid-Afrika bied om die juk van blanke baasskap af te werp. Die Britte se verskroeide-aarde-beleid het hom egter sodanig ontstel dat hy teen die oorlog en die gepaardgaande volksmoord op die Boerevrou en -kinders begin skryf het. Hy het Alfred Milner vir hierdie oorlogsmidade in die veld en in die konsentrasiekampe verantwoordelik gehou.

John se seun, Don, het die verskroeide-aarde-veldtog self sien gebeur toe hy gedurende die oorlog van die sendingstasie in Basoetoeland, waar hy opgelei is, na Ciskei gereis het, en sy vader daaroor ingelig.

Jabavu se anti-Britse koerantartikels was later so ’n verleentheid vir die imperialiste dat hulle Imvu Zabantsundu op 27 Augustus 1901 ingevolge die pas afgekondigde Militêre Krygswet gesluit en Jabavu aangehou het omdat hy teen die gesag van sy majesteit koning Eduard VII gerebelleer het.

Toe hy vrygelaat is, was die skade aan sy koerant onherstelbaar. Izwi Labantu het Jabavu en sy koerant Imvu Zabantsundu in sy afwesigheid verguis. Jabavu moes hom daarop noodgedwonge aan die politiek en die openbare lewe onttrek. Hy het na die onderwys teruggekeer en hom op die opvoeding van sy mense toegespits. Deur sy toewyding is die Universiteit van Fort Hare in 1916 gestig.
Kort voor die Uniewording van 1910 het Jabavu ’n afvaardiging na die Londen gelei om beswaar te maak teen die uitsluiting van swart landsburgers in die beoogde grondwet van die Unie van Suid-Afrika.

As lekeprediker van die Metodistekerk het hy tot sy dood in 1921 die Bybelse Woord onder die Xhosas verkondig.

Sy invloed en dié van sy seun, Don, het betekenisvolle bydraes gelewer tot die geleidelike politieke bemagtiging van die swart bevolking en die uiteindelike stigting van die ANC.

Op ’n volkskongres op 31 Mei 1900 op Graaff-Reinet onder voorsitterskap van N.J.P. de Villiers, broer van die Kaapse hoofregter, het Robert Wilhelm Mohr, vrederegter en wets-agent van Uitenhage en Aberdeen, gesê “Jabavu is ’n ware Afrikaner, want hy het in die laaste verkiesing voor die oorlog vir die Afrikanerparty gestry én hy is een van daardie mense wat Suid-Afrika as sy vaderland beskou”.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!