Swart Kaapse rebel van Die ABO
Junie 25, 2013
Vrouemonument Is Vir Almal Wat Saam Met Boere Gely Het
Junie 25, 2013

Terreur, kampe en erf-trauma

Deur MARTHINUS VAN BART

Die Britse terreur van September 1900 tot Mei 1902 in die Anglo-Boereoorlog het 34 051 lewens in 124 konsentrasiekampe geëis. Die trauma van die oorlewendes is nooit afgesluit nie, maar aan die nageslag oorgedra.

clip_image001

Celeste Reynolds

Celeste Reynolds, argivaris van die Noordwes-Universiteit wat dié sterftesyfers opdateer het, vertel soos volg oor haar navorsing:

Met die koms van die moderne rekenaartegnologie en die internet het die belangstelling in familiegeskiedenis ingrypend toegeneem, en daarmee gelyklopend ’n belangstelling in die driejarige Anglo-Boereoorlog (1899-1902) wat 110 jaar gelede ten einde geloop het. Dít het navorsing oor die kampsterftes aansienlik vergemaklik.

Gedurende die honderdjarige herdenking van die oorlog het verskeie publikasies oor die kampsterftes die lig gesien, en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het in samewerking met die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein ’n seminaar, asook ’n kranslegging by die Nasionale Vrouemonument daar naby, gereël.

By die seminaar is die gedagte geopper dat ’n gedenkmuur met die 27 800 name van konsentrasiekampslagoffers op die terrein opgerig word. Dit het toe aan die lig gekom dat daar geen finale, gesentraliseerde naamlys van konsentrasiekampslagoffers was nie, sê sy.
Die verskroeide-aarde-beleid van die Britse leër het soveel sterftes, ellende en ontwrigting teweeggebring, maar nogtans is ’n opgedateerde, samevattende sterftelys nooit opgestel nie. Om dus ’n gedenkmuur te kon oprig, sou vereis dat die aangeleentheid grondig nagevors word sodat ’n gesentraliseerde naamlys saamgestel kon word.

Reynolds het in 2002 dit op haar geneem om dié kampnavorsingstaak te onderneem en die lys op te stel. Die doel met die studie was om soveel moontlik inligting oor die konsentrasiekampsterftes te dokumenteer. Haar vertrekpunt was om ’n genealogiese opname te doen deur aanvanklik van die reeds bestaande bronne van die SA Erfenishulpbronagentskap (Saeha) se afdeling oorlogsgrafte gebruik te maak.

Die opname van oorlogsgrafte is deur die eertydse SA Monumenteraad begin en voortgesit deur die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede, wat in April 2000 deur die Saeha oorgeneem is.

Dit het lyste van gedenkmonumente en naamplate van kampslagoffers ingesluit. Ook is naamlyste, sommige alfabeties, wat deur die oorlogstydse Britse kampadministrasie opgestel is, bekom. (Emily Hobhouse haal daaruit aan in haar boek The Brunt of the War and Where it Fell.)

Ook is in die Transvaalse Argiefbewaarplek naamlyste opgespoor van die sogenaamde “Director of Burgher Camps, 1900-1905” en die “Superintendent of the Refugee Camps”. Korrespondensieleggers insake foutiewe naamspelling en weggelate name is ook nagegaan. Lyste saamgestel deur die staatsargivaris P.L.A. Goldman is in berekening gebring, asook die mees resente navorsing van die Amerikaanse navorser eerw. Stowell Kessler oor die swart en bruin kampe (onlangs by Kraal Uitgewers gepubliseer as The Black Concentration Camps of the Anglo-Boer War 1899-1902).

Deurgaans is gelet op die verskillende spelwyses van veral familiename, persoonsname en plekname. Hoewel sterfdatums in sommige gevalle van bron tot bron verskil, word die bronne in die Transvaalse Argiefbewaarplek, te wete “TA 25-27: Gegewens van sterfgevalle in die Republikeinse magte en onder burgerlikes 1899-1902”, algemeen as die volledigste aanvaar. Wanneer gevalle gevind is wat na herhaling lyk, is die uniekheid daarvan nagegaan. Met ’n duidelike verskil, byvoorbeeld in die sterfdatum en plek van herkoms, is die inskrywings as uniek in die huidige databasis opgeneem. Ter volledigheid is 832 name uit Kessler se navorsing oorgeneem.

Die nuwe databasis bestaan uit die volgende kategorieë: Familienaam, voorname of voorletters, geslag, ouderdom, geboortedatum, sterfdatum, plek van afkoms, oorsaak van sterfte, lokaliteit van sterfte, en bron. Reynolds het in haar navorsing inligting oor 142 Britse konsentrasiekampe opgespoor (in 1913 is slegs 43 geïdentifiseer, en in Die Konsentrasiekampe, wat J.C. Otto in 1954 saamgestel het, word 50 aangedui). Hierdie totale syfer sluit tydelike en deurgangskampe in.

Die gegewens van byna elke bron oor die kampe, vir wittes, sowel as bruines en swartes, verskil van mekaar, en dit moes gevolglik sorgvuldig uitgepluis word.

“Syfers en statistieke is so klinies, maar wanneer die inligting met betrekking tot ’n spesifieke familienaam uitgelig word, tref die volle omvang van die konsentrasiekampsterftes ’n mens en word die verlede ’n emosionele werklikheid,” sê Reynolds. Haar navorsingsdokument word tans voorberei met die oog op algemene publikasie.

’n Boek oor Celestè Reynolds se kampnavorsing verskyn op 16 Desember vanjaar (2013) by geleentheid van die honderdjarige herdenking van die onthulling van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein. ’n CD-ROM word by die boek ingesluit met ’n inventaris van al die kampbewoners wat gesterf het en wie se persoonlike besonderhede opgespoor kon word. Dit werd deur die FAK uitgegee.

******** ******** ******* ****** ****** ****** ****** *******

clip_image002

Elma Venter Ross

Verskroeide-aarde-veldtog was terrorisme:

’n Belangwekkende publikasie oor die medies-sielkundige impak van die Britse verskroeide-aarde-veldtog en die gepaardgaande konsentrasiekampe op die Boere-slagoffers én hul nasate, British Terrorism Against Boer Cilvilians, het in 2012 uit die pen van ’n Afrikaanse opvoedkundige dr. Elma Ross (’n nooi Venter) op die internet verskyn.

Meer as 1 000 eksemplare is reeds wêreldwyd as e-boek op Kindle en Amazon.com versprei.

Die Amerikaanse Library of Congress het ook ’n eksemplaar bekom.

Ross, wat doktorsgrade in die opvoedkunde en die sielkunde verwerf het, is as afstammeling van Boere-konsentrasiekampslagoffers deeglik onderlê in al die aspekte daarvan. Maar as skrywer was haar eerste bydrae vyf kinderverse in Tafelberg se Groot Kinderverseboek van 2009.

Die gedagte aan ’n oorlogsboek het ontstaan toe sy van 2008 tot verlede jaar sielkunde-dosent aan die Bin Fahd-universiteit in Saoedi-Arabië was. Sy het agtergekom dat min Midde-Oosterlinge enigiets van die Suid-Afrikaanse geskiedenis buiten die ANC-revolusie en Nelson Mandela weet. Die stryd tussen Boer en Brit, en laasgenoemde se verskroeide-aarde-uitwissingsveldtog, ’n misdaad teen die mensdom, is daar totaal onbekend.

Aanvanklik het sy inligtingspraatjies gehou, wat groot skares gelok – en groot ongeloof ontlok – het. Die Midde-Oosterse koloniale en ook resente geskiedenis is deurtrek van Britse militêre vergrype teen burgerlikes, maar dat dieselfde én erger maar 110 jaar gelede in Suid-Afrika plaasgevind het, was nuus vir hulle.
Dit is toe dat sy haar hand aan die pen geslaan en British Terrorism Against Boer Cilvilians geskryf het. Dat meer as 1 000 eksemplare in minder as ’n jaar verkoop is, dui op potensiële blitsverkoperstatus.
Haar resep is eenvoudig, maar oorspronklik: Sy het beëdigde verklarings van Boerevroue wat die kampe oorleef het (dit word in die argief van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein bewaar) geneem en dit onder spesifieke temas georden.

Die vertaling van die teks uit Afrikaans na Engels is eenvoudig gehou sodat die betekenis van die oorspronklike woorde behoue bly. Vir algemene toeganklikheid is die aanslag nie akademies nie. Die teks word plek-plek onderbreek vir medies-sielkundige kommentaar en om die beskrywings van die vroue in ’n verstaanbare perspektief vir die hedendaagse leser te stel.

clip_image003

BRITISH TERRORISM

In ’n onderhoud met Erfenis het Ross gesê resente mediese publikasies oor die ABO is klinies-beskrywend van aard, en na haar wete is daar nog geen sielkundige ontledings van oorlogstrauma weens dié oorlog gepubliseer nie. Hierdie tekortkoming lei daartoe dat die hedendaagse leser nie naastenby ’n realistiese beeld kan vorm van die liggaamlike én geestelike lyding wat die Britse verskroeide-aarde-veldtog en die konsentrasiekampe vir die burgerlike bevolking én hul nasate meegebring het nie.

Wat behels hierdie oorlogstrauma presies, en wat was die uitwerking daarvan op die volgende geslagte? Na haar mening was apartheidstelsel een van die negatiewe gevolge van daardie onopgeloste lyding. Ontleders van apartheid bring dit nooit in berekening nie.
Ook wonder sy of daarin ook dalk vir navorsers van die genetika ’n veld braak lê. Om hierdie oorlog, met terreur as hoofbestanddeel, te oorleef het, beteken dat daardie slagoffers oor ’n tydperk van minstens vyf jaar – met inbegrip van die aanloop en afloop van die oorlog – uitermate aan stres blootgestel was. Die langdurige biologies-chemiese wanbalans wat dit teweeggebring het, het dalk selfs permanente DNS-versteurings tot gevolg gehad. Dit is straks op die nageslag oorgedra, en is dalk een van die belangrikste oorsake van die wydverspreide voorkoms van kliniese depressie by na-oorlogse Afrikaners tot die huidige geslagte. Biologies is 110 jaar nie ’n lang tyd nie.
Die gebrek aan katarsis (afsluiting/closing) van dié psigotrauma is deels te wyte aan die Brittse leierskap se volgehoue ontkenning van dié massale oorlogsmisdaad.

*  Rig navrae aan Elma Ross by tel  021 762 3717 of per e-pos: Dr.ElmaRoss@­yahoo.com of op Facebook: elma ross Skype: elma.ross3.

In die boek verskyn verskeie gedigte oor die oorlogslyding van die Boerevroue en -kinders uit Dr. Ross se eie pen. Nadat sy op TV gesien het hoedat die Amerikaanse president, Barak Obama, by die afloop van sy besoek aan die Nazi-konsentrasiekamp by Buchenwald sy hande omhoog gooi en tot die mensdom uitroep: “How did we get to Buchenwald?”, het sy ’n gedig, “Letter to Mr. Obama on his visit to Buchenwald”, geskryf en aan Obama opgedra. Ook hierdie gedig verskyn in haar boek:

LETTER TO MR. OBAMA ON HIS VISIT TO BUCHENWALD

Dear Mr. Obama, with respect, I hear you ask,

How did we get to Buchenwald?

Please grant me the honour, Mr. Obama,

To answer you question.

We got to Buchenwald by forgetting

The Anglo-Boer War: The camps of starvation

Of Boer children – indeed of their future nation.

We got to Buchenwald by ignoring

Those in the British camps: their fear and pain

As their cold bodies paid for British gain.

We got to Buchenwald by the British monarchy

Promoting Kitchener for selling a trend

That future psychopath leaders would follow:

Sending soldiers to attack the disabled, the weak

The elderly, desperate mothers,

and babies trusting and meek.

Destroying their livestock, their homes

everything they had

Not blinking when the mothers were consumed

With fright and sad;

Transporting the defenceless in soiled wagons

of trains built for cattle

What the heck: fight the children, and win the battle!

Locking up the Boer kids to die of hunger and thirst

As their bodies gave up and the cells would burst.

Raping and terrorising Boer kids in every way

And then, stepping back, to simply say:

We, The British, will not pay proper restitution

We wipe our hands off the pain and confusion;

We won’t say sorry as we have no regret

The Boers and their offspring should deny the pain,

And forget –

This is how we got to Buchenwald, Mr Obama.

– DR. ELMA (VENTER) ROSS

* Hierdie artikel het op 8 September 2012 in die kultuurrubriek Erfenis van die naweekbylae BY in Die Burger verskyn.

0 Comments

  1. Nico Botha sê:

    Ek stem honderd persent saam met wat Dr. Elma Ross in haar brief “LETTER TO MR. OBAMA ON HIS VISIT TO BUCHENWALD” skryf. As ons vroue , kinders, ou mense …. nie so wreed vermoor is nie ,hoe groot sou ons Afrikaner bevolking nie gewees het vandag nie. Is daar iemand wat dalk n syfer kon gee van hoe groot ons volk sou wees .

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!