Vrouemonument Is Vir Almal Wat Saam Met Boere Gely Het

Terreur En Konsentrasiekampe
Junie 25, 2013
Moet ’n mens Engels ken om Afrikaans te verstaan?
Augustus 7, 2013

Die Vrouemonument is vir almal wat in die Anglo-Boereoorlog saam met Boere-gesinne gely en gesterf het

clip_image001

Die Vrouemonument in Bloemfontein. Foto: Marthinus van Bart

Deur MARTHINUS VAN BART

DIE minister van kuns en kultuur, dr. Pallo Jordan, het groot rimpelings in Afrikaner-kultuurkringe veroorsaak toe hy op 7 Maart 2006 in Kaapstad aangekondig het dat die regering veranderings aan die Vrouemonument in Bloemfontein beoog omdat dit nie erkenning gee aan die duisende swart vroue en kinders in Britse konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO) nie.

“Geen veranderings sal egter aangebring word voordat met die Afrikaner-gemeenskap beraadslaag is nie, omdat dit hul monument is,” was Jordan se woorde.

MET die inwyding van die Vrouemonument op 16 Desember 1913 op ’n heuwelagtige terrein in Bloemfontein, het die voormalige staatspresident van die Oranje Vrijstaat, pres. M.T. Steyn, in sy inwydingsrede onder meer die volgende toekomsgerigte woorde gesê: “ Dit monument staat hier, niet om haat aan te wakkeren, maar om de liefde te bevorderen; want ik zie de dag dat ieder deel van het Zuidafrikaanse volk, van welke oorsprong het ook moge zijn, indien met de ware zuidafrikaanse geest bezield, de deugden – door dit monument vereeuwigd – als zijn gemeenschappelik erfdeel zal beschouwen.”

clip_image002

Anton van Wouw se sentrale vrouebeeldgroep. Foto: Marthinus van Bart

Dr. Pallo Jordan het op ’n vraag van die media – naamlik hoe die departement van kuns en kultuur beoog om uitvoering te gee aan sy gedagte dat hulde gebring word aan die lydende swart vroue en kinders in die konsentrasiekampe van die ABO? – gesê ’n monument kan in die omgewing van die terreine waar die konsentrasiekampe was, opgerig word. “Dit sal egter beter wees as só ’n monument by die Vrouemonument ingesluit word.”
Jordan het dit beklemtoon dat met die Afrikaner-gemeenskap oorleg gepleeg moet word deur te sê: “Ons sal moet hoor wat hul gevoel oor die saak is.”
In reaksie hierop het prof. Piet Strauss, hoofleier van die Voortrekkers en lid van die Vrouemonumentkommissie, in ’n brief aan die media gesê die lyding van die swart vroue en kinders word nie ontken nie en hy “steun die gedagte aan een of ander vorm van erkenning vir die lyding wat hulle moes deurmaak.”

clip_image003

Anton van Wouw se vrouebeeldgroep van naderby afgeneem. Foto: Marthinus van Bart

Strauss meen egter dat ’n monument by die Vrouemonument nie gepas sal wees nie.
“Die simboliek van die vrouemonument fokus op die duisende vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe en elders gely en gesterf het in die vryheidstryd van die destydse Boere­republieke van die Vrystaat en Transvaal. Dit gaan hier dus ook om Boerevroue en -kinders as vryheidstryders.

Hierdie gedagte word onderstreep deur die woorde Aan onze Heldinnen en lieve kinderen, wat op die naald aangebring is,” lui Strauss se brief.

Oor die swart lydendes meen Strauss die oorgrote meerderheid was “bloot die onwillige slagoffers van die oorlog.” Hy beskou die “Nasionale Vrouemonument” as ’n “Afrikanermonument met ’n uni­versele boodskap.” Om nou aan die monument te torring, misken die historiese bestaansrede daarvoor én bevraagteken die beyweraar (Jordan) se respek vir die kultuurverskeidenheid, wat deur die Grondwet erken word. Hy betreur dit dat die minister nie vooraf met die Vrouemonumentkommissie same­sprekings oor sy idees gevoer het nie.

clip_image004

Mevv. Beukes en Breytenbach en hul kinders, en die huishulp Tombi, voor, in die Volksrust-konsentrasiekamp in die ABO.

Die voorsitter van die Vroue­monumentkommissie en voormalige rektor van die Vrystaatse Universiteit, prof. Francois Retief, het by navraag aan KultuurKroniek gesê die dagbestuur vergader op 14 April oor die aangeleentheid en hy wil die saak nie nou vooruitloop nie. Die direkteur van die Oorlogs­museum van die Boererepublieke (op die perseel langs dié van die Vrouemonument), kol. Frik Jacobs, is ook na die vergadering genooi. Die museum staan op staatsgrond en word deur die staat gesubsidieer.

clip_image005

Die sentrale element van die Vrouemonument. Foto: Marthinus van Bart

Retief meen dat dit baie nodig is om aan Jordan se idees aandag te gee. Daar moet egter ook gewaak word teen skending van die Vrouemonument deur onvanpaste veranderings.
Hy is ook van mening dat die swart vlugtelingkampe nie dieselfde was as die konsentrasiekampe vir die Boerevroue en -kinders nie. Daar kan ook nie gesê word dat die swart en bruin bediendes wat saam in die konsentrasiekampe was, noodwendig simpatiseerders met die Boere-saak was nie.
Retief het gesê op Middelburg (Kaap), byvoorbeeld, was ’n groot kamp vir swartes, waar ’n gepaste monument nou opgerig kan word. Op Brandfort is reeds ’n soortgelyke monument in die 100-jaar- herdenkingstyd van die ABO deur pres. Thabo Mbeki onthul.

clip_image006

‘n Jong swart meisie, links, in die Bloemfonteinse konsentrasiekamp in die Anglo-Boereoorlog. Talle swart vroue en kinders is saam met die wit gesinne na die kampe ontvoer, waar hulle saam honger gely, siek geword en gesterf het. Die Britse goudoorlog het ook hulle as slagoffers opgeëis.

Dr. Carel Stander, direkteur van die FAK en voorsitter van dié kultuurorganisasie se Wes-Kaapse gebiedsraad, het gesê: “Met die oog op nasiebou en die ideaal van die reënboognasie is dit nodig dat Suid-Afrikaners wedersydse respek toon vir mekaar se kultuurgoedere en mekaar ’n plek in die son gun sonder om inbreuk te maak op wedersydse regte.
“ ’n Mens kan nie saamstem met die manier en die proses wat deur minister Pallo Jordan gevolg is met sy verklaring oor byvoegings tot die Vrouemonument nie.
“Dis so ’n sensitiewe kwessie dat daar vooraf eers met al die betrokke partye behoorlik oorleg gepleeg moes gewees het, onder andere met die Vrouemonumentkommissie, wat die monument besit en in beheer daarvan is, voordat die minister sy aankondiging oor die ondersoek na die wenslikheid om ook swartmense by die Vrouemonument in Bloemfontein te vereer, gemaak het.
“Wat die Oorlogsmuseum en sy grond betref, ontvang hy na die beste van my wete geld van die staat, en mag die staat dus ’n versoek aan die kommissie rig om ’n standbeeld of gedenkteken daar op te rig. Dit sal aanmatigend wees om namens die kommissie voorskriftelik te wil wees.

clip_image007

Danie de Jager, beeldhouer wat die beelde “Afskeid en Vertrek”, “Die Bittereinder” en “Die Banneling” geskep het wat op die terrein digby die Vrouemonument en die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein versier, het ook ‘n maket gemaak vir die beeld “Die Agterryer”. Hy is egter op 28 Maart 2003 oorlede voordat die beeld gemaak kon word.

“In belang van nasiebou word voorgestel dat al die betrokke partye bymekaarkom en die saak behoorlik bespreek ten einde ’n wen-wen-oplossing te probeer vind, lui Stander se brief.
“Sonder om voorskriftelik te probeer wees, het die trusteeraad van die Anglo-Boereoorlog-monument (Rebelle-monument) op Laborie in die Paarl uit dure ervaring geleer, nadat die projek deur nie minder nie as nege staatsinstansies, sommige drie keer, en verskeie private instansies en gesaghebbendes goedgekeur moes word, dat onderhandeling met al die partye om ’n wen-wen-uitkoms te verkry uiteindelik die beste opsie is,” het Stander gesê.

clip_image008

Een van die brons panele wat die konsentrasiekamp-lyding uitbeeld. Foto: Marthinus van Bart

Bostaande dui daarop dat die Afrikaner-kultuurleiers met die meeste seggenskap oor die Vrouemonument veel sterker klem wil lê op die Afrikaner-simboliek wat hulle meen die monument verteenwoordig as op die toekomsgerigtheid van pres. Steyn by die inwydingsplegtigheid.
Vir Steyn was dit belangrik dat die monument eendag die gemeenskaplike besit van die hele Suid-Afrikaanse gemeenskap sal wees. Die benaming “Na­sio­nale Vrouemonument” dui juis daarop. Maar vir die huidige bewakers daarvan gaan dit kennelik eerder oor die behoud van Afrikaner-identiteit binne die konteks van soewereiniteit in eie kulturele kring, gewaarborg deur die Grondwet van Suid-Afrika.
Die belangrike onderskeid tussen vlugtelingkampe vir die swart bevolking en die konsentrasiekampe kan nie weggeredeneer word nie. Die hele Suid-Afrika is deur die Britse militêre tydens die verskroeide-aarde-veldtog letterlik met behulp van doringdraagversperrings en blokhuise in kampe verdeel. Derduisende swartmense in die Vrystaat en Transvaal is in lokasies vasgekeer. Die konsentrasiekampe vir die Boerevroue en -kinders was egter niks anders nie as swaar bewaakte tronke.

clip_image009

Danie de Jager se treffende beeld “Afskeid” wat voor die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein staan. Dit is in 1982 opgerig. De Jager is op 28 maart 2003 oorlede. Foto: Marthinus van Bart

Waaroor nou egter diep besin sal moet word, is die werklikheid van die beduidende getalle swart bediendes wat saam met die Boere-huisgesinne opgeruim en in die konsentrasiekampe gevange gehou is. Die plaaswerkers kon tydens die opruimingsoperasies kies of hulle op die plase wou agterbly. Talle het egter hul eie lewe onafskeidbaar van dié van die Boere-gesinne beskou en verkies om eerder saam weggevoer en opgesluit te word.

clip_image010

Die lyding van die Boerevroue in brons uitgebeeld. Die kunstenaar was Anton van Wouw. Foto: Marthinus van Bart

Hoewel daar vanweë die eng politieke redes van die verlede nog betreklik min navorsing óf boekstawing oor hierdie aspek van die oorlog gedoen is, kan dit nie ontken word nie dat groot getalle swart vroue vanweë hul lojaliteit en medemenslikheid saam met die Boerevroue en -kinders gely het. Foto’s van hierdie mense word nóú eers, ná 100 jaar, uit die argiewe ontgin en te boek gestel. Die bekendste publikasies hiervan is Paul Alberts van Kraal-uitgewers se foto-bundels Suffering of War en Die smarte van oorlog wat in die eeu-herdenkingstyd verskyn het.

clip_image011

“Die Banneling” deur Danie de Jager. Foto: Marthinus van Bart

Ook is sulke foto’s die eerste keer in die openbaar (wêreldwyd) vertoon met die regeringsgesteunde foto-uitstalling “Suffering of War”/“Lyding van Oorlog”, saamgestel uit die argief van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein.

OM van die ongekunstelde plattelandse swart vroue te verwag het om besliste politieke besluite oor hul lewe te neem, of dit aan hulle toe te dig, is vergesog. Hul besluite was kennelik instinktief-medemenslik: “Dit is mý mense, en ek hóórt by hulle.” Daar is talle gevalle bekend van waar hierdie swart vroue hul wit huismense in die konsentrasiekampe tot die dood toe help versorg en verpleeg het. In die proses het hulle self honger gely en aan siektes gesterf.

clip_image012

“Die Banneling” deur Danie de Jager.

Op 4 Mei 2006 het FREDERIK DE JAGER van Rosendal, Durbanville, aan Die Burger se meningskolomme ‘n brief gerig. Dit lui: “Martiens van Bart is ’n gesoute en geagte kommentator oor historiese gedenkwaardighede, hoewel ’n mens hom nie van bloeiende-hart-altruïsme kan beskuldig as dit kom by kultuurgoedere nie. Juis dit gee sy oorredende pleidooie in Die Burger des te meer geloofwaardigheid. Stof word opgeskop oor die kultuurminister, Pallo Jordan, se wens dat die Vrouemonument meer omvattend gemaak word sodat ook swart en bruin vroue en kinders se lyding in die Anglo-Boereoorlog gedenk word. ’n Mens kry die indruk mense is onthuts omdat hy so iets gesê het sonder om Afrikanerorganisasies eers te raadpleeg (lees: toestemming te vra).

clip_image013

Phil Minnaar, beeldhouer van Pretoria, se maket vir Die Agterryer wat uit verskeie inskrywings gekies is om in brons en een en ‘n kwart lewensgroote gebeeldhou te word. Dit word einde Junie 2012 op die terrein van die oorlogsmuseum opgerig en onthul.

“Die argument vir eksklusiwiteit soos aangevoer deur die Voortrekkers se Piet Strauss is deursigtig. Om hom te parafraseer: Die Vrouemonument is eksklusief, daarom moet dit eksklusief bly.
“As mens dit regkry om onbevange verby jou eie kulturele ego te kyk, en Van Bart saamlees met Jordan se gedagte (waarin hy onderneem om eers te hoor wat die Afrikanergemeenskap se gevoel oor die saak is), behoort dit duidelik te wees dat ’n pad hier vurk: Ons kry ’n historiese geleentheid om ’n klinkende en ruimhartige daad te voeg tot alles waarvoor die Vrouemonument staan, of ons kan voortstap op ons aparte doodlooppaadjie terug die geskiedenis in.

clip_image014

“Die Bittereinder” deur Danie de Jager

“Toe die koningin van Engeland in 1995 in Suid-Afrika was, die eerste keer sedert 1947, is ’n beroep op haar gedoen om die Vrouemonument te besoek. Sy het nie.
In plaas daarvan het sy in haar rigiede pakkie, hoed en handsak al kleiner wordend langs haar gekose paadjie van historiese absolutisme aangeskuifel.
“Besoek die Vrouemonument, enige van die konsentrasiekampbegraafplase, of lees die korrespondensie van Emily Hobhouse daar rondom, en jy kan nie aan ’n sin vir die ontsaglike ontkom nie. Maar moet daardie geskiedenis nou so krampagtig aan die maag van die Afrikanergemeenskap vasgehou word dat dit ’n maagsweer word? Hoekom ons ervaring so in beton gegote hou dat dit verstar? Hoe ruim, hoe groots sou dit nie wees as juis ons, die “eerste mense” van die Vrouemonument, die inisiatief neem en diegene omarm wat, dikwels in pligstrou, saam met ons voorsate gely en gesterf het, al was hulle nie wit en Afrikaans nie.
“Ek beweer nie dat so ’n daad die Afrikanerge­meenskap nog nooit deurlug het nie, maar sulke dade van nasionale grootsheid kom in ’n konteks, en soos kontekste verander, kry sulke dade ook ’n ander inhoud. Hier is weer so ’n geleentheid. Waarvoor is ons bang? Raka?”

clip_image015

“Die Bittereinder” deur Danie de Jager. Foto: Marthinus van Bart

5 Comments

  1. Cobie Steyn sê:

    Beste Marthinus,

    Ek sê maar so aangename kennis via die tegnologie. Ek is die redakteur van Die Gereformeerde Kerk se Vroueblad en ek het een van die lidmate in Bloemfontein gevra om vir ons blad vir November se uitgawe ‘n artikel te skryf oor die Vrouemonument wat nou 100 jaar oud geword het. Die artikel gaan baie oor haar persoonlike belewenis toe sy die museum besoek het onder die opskrif: “Ons onthou”.

    Sou dit moontlik wees dat jy goedgunstlik vir my ‘n paar van jou foto’s sal beskikbaar stel vir die artikel? Ek sien hier op die webwerf pragtige foto’s.

    Groete
    Cobie Steyn

  2. David van Niekerk sê:

    Graag doen ek navraag. Die eeufees van die Vrouemonument wanneer word, òf is dit al gehou?
    Dankie.
    David v Niekerk
    Wellington.

  3. Beste Danie,

    Die honderdjarige nerdenking van die onthulling van die Nasionale Vrouemonument is op 16 Desember gehou. ‘n Gedenkboek is toe ook bekend gestel wat deur die FAK bemark word. Doen navraag by Chrisna Nel per epos: chrisna@fak.org.za

    Beste groete,

    Marthinus van Bart, redakteur van Die Nasionale Vrouemonument

  4. Die volle titel van die gedenkboek is Die Nasionale Vrouemonument Honderdjarige Herdenking: Verlede – Hede – Toekoms. Nege van SA se voorste kultuurhistorici het daaraan meegewerk: Hermann Giliomee, Jaap steyn, Victor d’Assonville, Leopold Scholtz, Christo Viljoen, Wium van Zyl, Celeste Reynolds, ES van Bart en Marthinus van Bart.
    Bestel by chrisna@fak.org.za

  5. Beste Cobie,

    Kontak my asb per epos by kultuurkroniek@gmail.com

    Groete,

    Marthinus van Bart

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!